Читать книгу Helena Hugo Eerste Keur - Helena Hugo - Страница 13
9
ОглавлениеToe Marissa die volgende oggend wakker word, neem dit haar ’n volle minuut om agter te kom waar sy is. In haar drome was sy Butterfly en Theo haar beminde Pinkerton. Hulle was op Jakkalspoort onder die Rooivlerk-kamp se peerbome. Dit was lente en die bome het wit konfetti op die wind gestrooi. Hy het vir hulle ’n bed van kruiebos en peerboombloeisels gemaak en hulle met sy baadjie toegegooi. Styf teen mekaar het hulle gelê, diep in mekaar verstrengel, twee mense wat een geword het. Die son het rooi opgekom, sy lig gesif deur die stof in die lug bokant hulle, die legkaartstukkies tussen die peerboomtakkies rosig ingekleur. Sy gesig was teen hare. Sy kon sy oë sien oopgaan en sy mond sien glimlag. Sê dit, het sy gedink, sê dat jy my liefhet. Maar die droom was reeds verby.
Sy is in die regte lewe, in haar vriendin Diana se meenthuis-gastekamer. Die son skyn helder op die gordyne se vrolike geel tulpe en sy lê nog in die bed. Hoe laat is dit? Haar selfoon is op die bedtafeltjie. Sy skakel die skermpie aan: 13:15. Kwart oor een! Kwart oor een in die middel van die dag! Wat ’n skande. Marissa wil uit die bed spring en badkamer toe draf, maar net toe is daar ’n klop aan die deur. “Is jy wakker?” vra Diana.
“Ja, en ek het skandelik verslaap!”
Diana maak oop, buk eers om ’n skinkbord met tee en toebroodjies op te tel voor sy instap. “Troos jou daaraan, ek het my ’n halfuur gelede skoon uit die bed uit geskrik. Gebid jy slaap nog. ’n Gasvrou slaap nie heeldag en laat haar gaste wonder of sy nog leef nie! Hoop jy hou van tuna en blaarslaai, maaskaas en aarbeikonfyt? Wat nog? Lewerwors? Ek het toebroodjies gemaak, dis ons brunch.” Sy sit die skinkbord op die outydse kamferkis onder die venster neer. “Help jouself!”
Maar Marissa is klaar by die deur uit. “Ek was gou my gesig!” skreeu sy in die gang.
Toe sy vyf minute later terugkom, sit Diana pens en pootjies op die bed met ’n bord vol toebroodjies op haar skoot. “Probeer die tuna,” sê sy. “Ek het hierdie wonderlike mayo ontdek. Perfek.”
Marissa neem een en gaan sit op die voetenent van die bed.
“Lekker geslaap?” vra Diana. Sy is ook nog in haar nagklere.
“Soos ’n klip.”
“Wonder of die mans ooit betyds opgestaan het. Hulle moes sesuur in die ateljee wees.”
“Hulle is seker gewoond aan laat nagte en vroeë oggende?”
“Nie Vern nie, hy’t sy agt uur slaap nodig.”
“Hoe lank ken jy hom al?”
“Drie maande. Voel soos ’n leeftyd. Partykeer dink ek dat as ek my lewe met ’n man moet deel, sal dit iemand soos hy wees. Ander kere wonder ek weer. Hoe sal jy ooit weet of jy die regte een beet het? En die lewe is lank. Ek het nou my eie plek, nie soos laas jaar toe ek by Harry gebly het en sy wasgoed vir hom moes was nie. Hy’t nou wel gekook, maar ek moes die kombuis agter hom opruim. Ek doen nou my eie ding, kom en gaan soos ek wil wanneer ek wil. Ek werk, ek speel, ek lewe. En jy?”
“Weet nie, ek is in ’n oorgangstadium. Moet nog in my nuwe plek intrek, moet my nuwe werk begin, moet verder studeer.”
Diana klim van die bed af en gaan skink vir haar tee. Sonder om om te kyk, vra sy: “Wat van mans?”
Marissa hou haar lighartig. “Nie op die oomblik nie, nee dankie!”
Diana draai na haar, kyk haar reguit aan. “Jy moenie dat die storie met Dawie en Mart jou in ’n mannehater verander nie. Gee jouself tyd. Voor jy jou kom kry, is jy weer gehook.”
Marissa dink aan Theo, sy voel hoe sy warm word. Dis nie reg dat sy so maklik verlief kon raak nie.
Diana grinnik asof sy ’n groot ontdekking gemaak het. “Lekker bloos sy nou. So, daar is iemand en jy gaan my nie inlig nie. Sal jou sê hoekom: Dis te onseker, te heel aan die begin. Dis nie Gunter nie, anders sou jy gisteraand voor slapenstyd spraaksamer gewees het. Wie kan dit wees? Haai, moenie so geworried lyk nie. Ek sal nie instorm waar ek nie hoort nie. Jy is nog hartseer oor Dawie, of hoe? Ek weet hoe dit voel. My ma het selfdood gepleeg toe ek twaalf was en ek verlang nou nog na haar, al is my stiefma wonderlik en beslis meer gebalanseerd.”
Marissa is bewus van haar vriendin se kinderdae, sy steek haar hand na haar uit en raak aan haar skouer. Dit is genoeg om die hartseertrek op Diana se gesig weg te neem. Sy sit haar bord neer en stof die krummels van haar hande af, amper asof sy die slegte herinnerings ook wil afmaak.
“Kom ons gaan dorp toe, gaan kyk ’n comedy, lag tot ons huil. Ons kan shop ook, die winkels is heel Saterdag oop. Vern het belowe om ons vanaand Sun City toe te vat. Dalk dobbel ons die jackpot los. Dink net wat jy als kan koop met miljoene, tot ’n ryk man soos Theo Wessels. Hy sal ’n bargain wees, want hy het sy eie geld én hy’s mooi.”
Marissa durf nie ’n geluidjie maak nie. Enige verwysing na Theo Wessels sit haar hart aan die klop en haar hande aan die bewe. Sy sal hom vat al het hy nie ’n sent op sy naam nie, maar niemand mag weet nie – veral nie Diana nie. Wat is dit met Diana? Is sy ook heimlik verlief op Theo? Marissa neem haar voor dat hy die een persoon is wat sy nie met haar vriendin sal bespreek nie.
***
“Darling! Wake up!” Sylvia! Sy het ’n kort satynjakkie aan, die gordel lossies geknoop.
Hy knip sy oë en vryf oor sy stoppelbaard. “Hoe laat is dit?”
“Midday. I ordered coffee. Want some?”
“Asseblief.”
Theo rek hom uit. Hy kyk op sy horlosie. Sy is reg. Dit is kwart oor een. Dat hy sowaar in die bakkende son lê en sweet. Ook maar goed dis Saterdag en hy moet eers Maandagoggend op kantoor wees.
Sylvia skink die koffie en gee hom ’n bord met eetgoed aan. ’n Vars broodrolletjie, koue vleis, kaas. Sy maak haar tuis op die leunstoel oorkant hom en knibbel aan ’n brosbeskuitjie. Hy doop sy brood in sy koffie. Sy frons en kyk weg. “Okay,” sê sy, “last night I wasn’t ready for you. Dit gee jou nie rede om soos ’n vark te eet nie. Hier is ek nou, en ons het tyd tot drieuur. Vieruur moet ek saam met Mom na die ladies’ club.”
Dis hoe ons lewe, dink Theo, volgens ’n vaste program en per afspraak, vir seks ook. Dis nodig, maar Sylvia het ’n obsessie “om alles altyd presies reg in te pas”. Vanoggend toe sy wakker word het sy so sweerlik weer eerste ding haar naaste selfoon gegryp en haar afsprake nageslaan. Seker verlig gewees omdat hy nie meer in die bed was nie, dalk vies toe sy hom in die sitkamer ontdek, ’n nota gemaak dat sy hom afskeep en besluit om hom vandag ook nog in te pas. Hier kom dit.
Sy gee hom haar Marilyn Monroe-kyk, klim soos ’n lui kat van die stoel af, vat sy koffiebeker uit sy hand en sit dit op die tafeltjie langs hom neer. Uitdagend staan sy voor hom, maak die gordel van haar jakkie los, laat dit van haar skouers afglip. Oor haar heupe en slanke bene glip en gly dit totdat dit ’n hopie op haar voete maak. Sylvia ken haar storie. Sy troon bo hom uit, ’n uitdagende brons godin. Dan sit sy haar hande op sy skouers, begin sy hempsknope losmaak. Met moeite staal hy hom teen haar en teen sy eie swakheid, gryp haar hande vas voordat sy op sy skoot klim soos sy altyd doen. “Ek kan nie.”
“Why not?”
“Trek jou aan. Ons moet praat.”
“Ons praat dan nou.”
“Nie so nie, Sylvia.”
“Is dit oor gisteraand?” Haar arms sluit om sy nek, sy vly haar teen hom aan.
“Los my nou.”
Die ligte stampie wat hy haar wou gee, is harder as wat hy bedoel het. Sy verloor haar balans en hy moet keer of sy val. “Wat doen jy! Slaan jy my?”
“Nee, ek stoot jou weg! Jy’s pragtig, jy’s begeerlik, maar ek is nie lus vir jou speletjies nie. Trek jou aan. Ons moet uitkom na ’n teetuin of ’n kunsgalery, enige plek waar ons nie opgesweep kan raak nie.” Sy is kwaad, en hy kan haar nie kwalik neem nie. Hy het haar beledig en verneder. Sy veg om haar selfvertroue te herwin. Hy sien dit aan die manier hoe sy haar jakkie optel en uitskud voordat sy dit aantrek. Hy wou haar nie seermaak nie en hy het. “Ek is jammer, ek het dit nie so bedoel nie. Sal jy my kans gee om te verduidelik?”
“Ek hou nie daarvan om in openbare plekke te sit en afshow nie. Het jy vergeet ons is public property?” Sy vou die pante van haar jakkie om haar, strik die gordel met mening vas. “Ons praat hier en kry klaar. Toe, sê jou sê. Wat het ek nou weer oortree, meneer Perfek.”
Theo voel soos ’n hond. “Dis nie jy nie. Dis ek. Ek het … ruimte nodig, tyd.”
“Straf jy my? Is dit oor gisteraand?”
“Ek wou gisteraand al praat.”
“Maar eers wou jy saam met my bed toe gaan?”
“Jy weet hoe dit gisteraand was. Ek het … Jy ook … Ons het goed gevoel.”
Sylvia plak haar hande in haar heupe. “Ek het altyd gedink jy weet wat jy wil hê. Wat is dit nou met jou?”
“Ek is moeg. Ek wil uit.”
Sy skud haar vuiste in die lug. “Asseblief! Jy kan net so min uit soos ek. Het jy vergeet dat jy verantwoordelikhede het?”
“Ek wil nie my verantwoordelikhede ontduik nie, ek wil perspektief kry.”
“Dink jy dit sal jou help om sonder seks te bly? Hoe lank nogal, ’n week of ’n maand? Is jy besig om uit die kas te klim?”
“Jy verstaan my verkeerd. Dit het niks met seks te doen nie.”
Sylvia draai in die kamer rond, gryp ’n pakkie sigarette, skud dit so hard omtrent alles val uit. Hy help haar om op te tel. Hulle steek aan. Sy staan voor die venster, hy sit op die bank. Hulle rook in stilte. Eindelik draai sy om, skud sommer haar as op die mat af. “Wat stel jy voor?”
“Ek gaan volgende week tot ná Nuwejaar na ’n plek waar niemand my kan opspoor nie.”
Toe lag sy lelik. “Is dit T.C. Wesssels wat praat, die een wat ék ken?”
“Ek sal vir Colyn en vir Diedericks sê waar ek my bevind ingeval van nood.”
“Vir jou sekretaris en jou butler. Wat van my?”
“Ek wil jou ook tyd gee om te dink.”
“Ek? Ek het nie nodig om te dink nie. Ek het ’n jaar gelede my mind opgemaak – Dad ook. Ons het jou nodig, dammit! I can’t run the company without you. In any case, why can’t I go with you? I also need a break.”
“Ek moet dit alleen doen, my kop skoon kry.”
Sy druk haar sigaret dood. “Okay, then. If this is what you need, by all means go before you suffer a nervous breakdown and the company goes down with you. Why are you men so pathetic? Ek moet stort en aantrek, ek het Mom belowe om betyds te wees.”
Theo staan strammerig van die bank af op. “Ek sal jou bel voor ek gaan.”
“Ek sal vir Tom vra om my na die week se Krismispaarties te vergesel.”
Sylvia klap die badkamerdeur agter haar toe. Theo pak sy naweektassie. Hy tel sy klere oral op. In sy aandbaadjie se sak kry hy die boksie met die halssnoer. Hy sit dit op Sylvia se spieëltafel neer langs ’n geraamde foto van hulle twee. Hulle lyk uitgeknip vir mekaar. Perfek gepas. Gelukkig? Miskien is sy en Tom Duckworth ’n beter match.
***
Marissa en Diana sit laatmiddag by Irene Village in ’n buitelugkafee, elk met ’n glas Chardonnay en ’n Griekse slaai voor hulle. Hulle is op aanbeveling van Gunter na Ster-Kinekor se filmfees en het Wuthering Heights gekies. Albei is skielik rasend verlief op Ralph Fiennes se Heathcliff.
Marissa sê dit nie hardop nie, maar hy lyk vir haar nes Theo. In haar enigheid wens sy sy kan die fliek weer sien, dié keer op haar eie. Emily Brontë se emosionele verhaal met al die onderliggende passie en drama is so eenders as haar eie storie; sy was soms opgewonde, soms doodsbenoud. Heathcliff se besitlikheid, sy wraakgierigheid en sy obsessie met Catherine, sy liefde en haat, die broeiende onrus, het so sterk tot haar gespreek dat sy byna haar houvas op die werklikheid verloor het. Die een oomblik was dit haar en Dawie se storie, die volgende oomblik haar en Theo s’n.
Sy het begin wens hy kan haar so liefkry soos Dawie, selfs al sou dit beteken dat sy moet seerkry. Sy begeer hom en niemand mag weet nie, allermins Diana. Dus gaan sy maar aan oor Ralph Fiennes wat aantreklik is en Heathcliff wat gevaarlik is en die fliek wat romanties is.
“Eintlik is dit ’n spookstorie,” sê Diana, “maar gee my enige tyd sulke spoke. Haai, kyk wie kom hier aan. Theo, waar loop jy rond?”
Marissa sluk ’n olyf in met pit en al. Sy hou haar servet voor haar mond en kyk opsetlik by hom verby.
Hy groet stywerig. “Hallo, Diana en Marissa. Hoe gaan dit met jou? Is jy al uitgerus?”
“Ja, dankie.” Die pit het haar keel geskraap, maar sy voel te bewerig om haar wynglas op te tel en ’n slukkie te neem.
“Uit vir ete?” vra hy.
“Ons het die filmfees ondersteun, namens Gunter en Vernon,” antwoord Diana. “Hulle skiet vandag heeldag, arme goed. Wat maak jy hier?”
“Shopping.” Hy lig ’n inkopiesak op.
“Waar is my maniere? Join ons.” Diana wys na ’n leë stoel. “Ons soek iemand om die rekening te betaal.”
Theo lag. “As ek na julle borde kyk, kan dit nie juis my bankrotskap verhaas nie. Gee julle om as ek ’n koffietjie saam met julle drink?”
“Maak jou tuis.”
Hy trek vir hom ’n stoel nader en wink ’n kelner. “Kan ek vir julle ook bestel? Ek sal koop.”
Diana stamp amper haar wynglas om. “Ek speel, man, ons het geld!”
Marissa steek ’n slaaiblaar met haar vurk raak, los dit toe sy besef dat dit te groot is om dit netjies in haar mond te kry en konsentreer liewer op ’n kersietamatie.
“Jy is stil,” sê Theo.
Sy kou en sluk die tamatie en sit haar mes en vurk neer. “Ek het nie eintlik iets om te sê nie.”
“Wat het julle gekyk?”
“Ralph … Ek bedoel Wuthering Heights.”
“Was dit die moeite werd?”
Marissa kyk benoud na Diana. Red my, sein sy woordeloos. “Vra jy nog!” roep Diana uit. “Ons is verlore.”
“Hoe so?”
“Dis so romanties en so erg.”
Theo skuif die soutpot rond, veeg ’n slag oor die tafelblad. “Di, Wuthering Heights is nie romanties nie, dis ’n Gotiese gruwelprent.”
“Dis ’n bietjie kras,” sê Diana.
“Wat dan?”
Terwyl Theo en Diana stry kry oor waar Wuthering Heights inpas en watter genre dit verteenwoordig, haal Marissa haar sakspieëltjie en lipstiffie uit en verf tydsaam haar mond.
“Ek ken ’n meisie wat dit sonder ’n spieël doen,” sê Theo. Sy oë is vol tergliggies.
“Jammer ek moet jou teleurstel.” Sy bêre haar lipstiffie, klap haar spieëltjie toe en los dit op die tafel. Dis ’n geskenk van John en sy hoop Theo kan die gravering op die dekseltjie lees.
Diana tel die spieëltjie op: “To my dearest Marissa, love you, J.” Sy glimlag: “Wie is die J?”
“Sommer iemand.”
“Kan ek raai?”
“Nee, netnou raai jy reg.”
“Is dit ’n man?”
Marissa laat glip die spieëltjie in haar handsak. “Los dit, Diana.”
Diana draai na Theo. “Weet jy hoe loop die mans agter haar aan?”
“My ma het een Kersfees vir my susters net sulkes gegee,” sê Theo droog.
“Haar ma se voorletter is I vir Irma, hierdie een is J vir Jaco of Jacob of John. Hoekom lui John ’n klokkie?”
“Lyk my soos I vir Irma,” sê Theo. “Help ons, Marissa, is dit I vir Irma of J vir John?”
Dis reg, dink Marissa, laat hom wonder. “Maak dit saak?” vra sy.
“As ’n antwoord op ’n vraag – ja. As ’n feit – nee.”
Marissa kan nie glo wat sy hoor nie. Hy kon netsowel gesê, dit skeel hom niks dat sy bewonderaars het nie.
Diana leun oor die tafel. “Hy is jaloers,” fluister sy hard.
Theo skud sy kop. “Diana, moet jy altyd die dam onder die eend uitruk?”
“Jy kan om verskoning vra.”
“Waarvoor?”
“Jy het Marissa beledig.”
“Jammer Marissa, ek wou net seker maak dat jy weet ek respekteer jou privaatheid. Diana wil graag weet wie’s J?”
“John,” sê Marissa. “Tevrede?”
“Watter John dié keer?” vra Diana, moedswillig soos sy is.
“Van Engels,” sê Marissa.
“O, dáái John.”
Theo kyk vraend van die een na die ander. Dit lyk of hy iets gaan sê, maar genadiglik red die kelner die situasie toe hy die koffiegoed tussen hulle neersit.
“Was jy ook gisteraand by die opera?” vra Diana vir Theo.
“Watter opera?”
“Madama Butterfly. Ons het Sylvia in die kleedkamer gesien.”
“O …” Theo maak twee sakkies suiker in sy koffie leeg. “So …” En nog ’n sakkie. “Julle was ook daar?”
Marissa voel of sy kan stik. Hulle het mekaar in die oë gekyk en hy maak of hy haar nie gesien het nie. Het dit so min indruk op hom gemaak? Of is hy nou net so moedswillig soos Diana? Kan dit wees dat hy haar terg, dat hy haar terugkry oor John?
“Diana het comps gehad,” sê sy sedig. “Het julle dit geniet?”
“Die tenoor het nie die mas opgekom nie en ek het dit verwag. Sylvia moes die De Wildts verteenwoordig, anders sou ek weggebly het.”
“Ons het dit vreeslik geniet!” Diana is weer haar spontane ou self. “My trane het so gestroom, Vern moes naderhand sy sakdoek vir my gee. Marissa kan geluidloos huil, ek maak ’n geraas. Al die vrouens was in trane, Sylvia seker ook?”
“Sy is nie een wat maklik huil nie. Dis in elk geval ’n storie, Diana.”
“Wat maak dit saak? Ons huil nogtans, dwarsdeur Wuthering Heights ook. Daai Heathcliff !” Diana sit haar koffiekoppie neer en kyk met nougetrekte oë na Theo. “Jy is sy spitting image!”
Hy grynslag, ruk sy hare los en gluur na haar asof hy onweerstaanbaar gevaarlik is. Diana lag uit haar keel. “Amazing!” gil sy, “the perfect look-alike!”
Marissa speel aspris nie saam nie. Theo lyk kastig seergemaak. “Wat sê jy, Marissa?”
“My eerlike opinie?”
“Ja, ek kan dit vat.”
“Ek dink ’n man wat ’n filmster namaak en hom verbeel dit werk, het ’n probleem met sy selfbeeld.”
Theo lyk ’n oomblik lank van koers af, dan vat hy sy hare agter sy kop saam. “Waar’s my rekkie, voor my selfbeeld van sy staander afval?”
Diana het dit. “Hier,” sê sy en hou dit na hom toe uit.
“Dankie. Dalk is dit tyd vir ’n haarsny,” sug hy.
“Nee, Theo, asseblief nie.” Diana spring op, kam sy hare met haar vingers bymekaar en maak dit vir hom vas. “Moet asseblief nie jou pragtige ponytail afsny nie!”
Kameraadskaplik, vertroostend, lieftalling sit hy sy arm om haar en gee haar ’n soentjie. “Ek sal uithou tot volgende jaar, net vir jou.”
Sy soen hom terug. “Gee vir my, dan laat maak ek ’n pruik.”
Marissa weet nie waar om te kyk nie. Kan hulle so wees! Geen wonder Sylvia is so besitlik nie! Die man is ’n egosentriese narsis en beslis nie troumateriaal nie. Sy moet nou haar verliefheid onder beheer kry, vergeet van hom of enige ander man en haar teleurstelling met Dawie en John behoorlik verwerk voordat sy in die volgende kansvatter se kloue beland. Mans soos Theo Wessels is juis op loer na weerlose meisies soos sy. Hulle soek afleiding en sal nooit met een vrou tevrede wees nie. Dalk het Sylvia daarmee vrede gemaak en sal dus altyd bereid wees om hom terug te neem.