Читать книгу Helena Hugo Eerste Keur - Helena Hugo - Страница 9
5
ОглавлениеTheo tel ’n Landbouweekblad van die koffietafel af op. Dis die een van verlede maand wat hy toevallig nie gesien het nie. Hy blaai dit stadig deur, lees ’n artikel oor slenkdalkoors. Die inligting is oorbekend en sy aandag is nie by die inhoud nie. Hy dink aan die meisie wat ’n uur gelede nog vol lewenslus was, selfs lus om te baklei, en nou uitmekaarval van skok en verwyt. Sy het haar aan haar trane oorgegee en soek nie sy simpatie nie.
Hy dag nog hy kan ’n vriendskap met haar aanknoop, vanaand saam met haar in die sandpad afstap, vir haar die sterre gaan wys, haar beter leer ken, plan maak om haar weer te sien. Hy ken vroue en sy was, ten spyte van haar houdinkie, duidelik nie onwillig nie. Ja, hy het haar dopgehou en gesien hoe loer sy vir hom aan etenstafel, haar met haar toestemming so te sê klaar in sy arms geneem – buite onder die sterre, of vannag in sy kamer. Nou is dit alles van die baan.
Hy stoot die tydskrif eenkant toe, stut sy elmboë op sy knieë en laat rus sy kop in sy hande. Die lugreëling suis saggies; dis koel, maar hy voel moeg. Hy het die afgelope week bitter min geslaap, hard gewerk saam met sy werkers om sy skaap te laai, toe van Windhoek af tot hier alleen gery, in die hotelletjies op pad nie veel ontspan nie. Toe moes hy nog ’n dag op De Aar oorlê voor die trein ingekom het Poupanstasie toe. Daar was dit hy en sy twee veewagters wat kon help met die aflaai. Hy moet onthou om met Flip du Plessis af te spreek dat hy namens hom nog wagters huur. Of Flip onder omstandighede by alles sal kan byhou, is ’n ope vraag. Die tragedie het hom ook geruk en hy moes hom nog sterk hou ter wille van die vroue.
“Meneer?”
Mieta, die vrou wat die kos bedien het en blykbaar die kombuispersoneel onder haar beheer het, staan voor hom met ’n skinkbord. “Ek het vars koffie gemaak. Die ander pot het mevrou toe skoon vergeet.”
Hy spring op en neem die skinkbord by haar. “Dankie, Mieta, ek het dit nodig om wakker te bly.”
“Hoekom gaan rus meneer nie?”
“Ek het belowe ek sal byderhand wees vir Marissa.”
“Sy slaap. Ek was voor haar kamerdeur met haar koffie, maar sy slaap. Meneer kom van ver, ek kan sien meneer wil rus.”
“Jy is baie oplettend, Mieta. Ja, ek sal my koffie drink en dan kamer toe gaan.”
“Dis die eerste deur langs die badkamer, meneer se tasse is daar. Ek wil nog vra. Bly meneer ’n paar dae?”
“Net vir vannag, ek ry môreoggend vroeg Pretoria toe.”
“Pretoria! Dis die plek waar Marissa haar werk gekry het.”
“Miskien sien ons mekaar daar.”
“Dit sal goed wees as sy ’n vriend het, noudat Dawie dood is. Hy wou nie met Mart trou nie, hy’t Marissa gesoek, te veel.” Sy skud haar kop. “Ek het Irma en Flip se dogter grootgemaak vandat sy klein was. Iemand moet haar vir my oppas, daar in Pretoria. Ek vra vir jou. Sal jy?”
Theo wil verduidelik dat dit onmoontlik is, maar Mieta is ernstig. “Ek sal my bes doen,” sê hy dan.
“Dankie, meneer, baie dankie. My hart voel nou sterker.”
Met dié draai sy om en slof die kamer uit, moeg en moedeloos.
Theo voel jammer vir haar en skuldig omdat hy so ligtelik belowe het. Sy moet desperaat wees om haar grootmaakkind aan die genade van ’n vreemdeling oor te laat. Wat weet sy van sy motiewe? Maar dalk het hy nou ’n verskoning om Marissa ’n slag te bel of te besoek. Hy sal moet uitvind waar sy tuisgaan of ten minste haar selfoonnommer in die hande kry. Maklik! As sy dit nie gee nie, sal haar ma of selfs haar pa. Hulle vertrou hom. Trouens, hy is seker hulle hou van hom – veral Irma.
Vroumense. Hulle is van altyd af daar om hom sy sin te gee. Hy is nie verniet sy ma se enigste seun nie; die witbroodjie van die gesin, een seun onder ses meisies en boonop die jongste. Hy ken vroue, het nie verniet tussen hulle grootgeword nie. Hy weet hoe hulle koppe werk, wat hulle wil hê en wat hulle kan gee. Te danke aan sy oudste suster se wilde vriendin, Ziska Mencke, het hy sy onskuld ook vroeg in die hoërskool al verloor en in die proses veel meer oor hulle geleer.
Theo grinnik, hy gooi ’n titsel melk by sy koffie, roer twee lepels suiker in.
Naas sy plek in die eerste rugbyspan wat hy in graad tien losgespeel het, was Ziska een van die hoogtepunte van sy skoolloopbaan. Hul verhouding was van korte duur en hy weet vandag nie waar sy haar in die wêreld bevind nie, maar dink nog met waardering aan haar en die slag wat sy gehad het om sogenaamde sondige seks te verhef tot ’n behoefte wat sonder enige gewetenswroeging bevredig mag word. Gewillige meisies, het hy agterna uitgevind, is nie skaars nie. Buitendien kan geen man van vlees en bloed hom geheel en al van vroue onthou nie. Daar is min in die lewe begeerliker as een wat weet hoe om die spel te speel. Marissa du Plessis is so ’n vrou – vol beloftes. Ongelukkig sal sy na dese eers deur ’n rouproses moet worstel, arme meisiekind.
Al doen hy egter wát om haar by te staan en haar hart te wen, sy lot is by Sylvia de Wildt ingewerp. As en wanneer hulle die dag trou sal twee van die grootste Suider-Afrikaanse besigheidskonglomerate saamsmelt. Wessels & De Wildt sal daarna volgens alle aanduidings miljarde rand sterk wees, genoeg om saam met Elon Musk maan toe te kan gaan.
Die toekoms maak hom so opgewonde dat geen waternimf hom maklik daarvan sal laat afsien nie. Theo sit sy leë koffiebeker neer. Dis goeie koffie. Vir ’n plaaskombuis, uitstekende koffie. Ja, die lewe hier het seker heelwat voordele, maar sy sakebelange is ingewikkeld en sy teenwoordigheid op kantoor absoluut noodsaaklik. Hierdie wegbreek uit die stad, moet hy erken, is blote ontvlugting. Sy praatjies oor plaas toe kom en boer is niks anders nie as droomskuim en wit leuens om goed te lyk voor Flip du Plessis en sy vrou en dogter wat hy nie met sy ander sakebelange sal kan beïndruk nie. Altans, hy glo nie.
Die loomheid van die middag daal op hom neer ten spyte van die lugreëling. Hy tel die skinkbord met koffiegoed op en dra dit kombuis toe. Verbeel hy hom of hang die geur van die vleis en blomkool wat hulle vir middagete gehad het nog in die lug? Dis nie afstootlik nie, miskien net huislik. Die kombuis is netjies aan die kant gemaak en die blinders is toegetrek. Mieta is nêrens te sien nie. Hy los die skinkbord op die tafel en stap op sy tone uit, versigtig om nie die stilte te versteur nie.
In die gang staan hy en wonder watter kamer is hare, Marissa s’n. Al die deure is toegetrek. Was dit nie vir die portaaltjie wat na die badkamer lei nie, sou hy nie geweet het aan watter kant van die gang syne is nie. Onthou hy nou reg?
Hy gaan ’n kans waag en die deur naaste aan die eetkamer oopmaak. Naaldwerkkamer. Hoe verlang hy nou na sy ouma! Volgende een. Studeerkamer met boekrakke en ’n rekenaar op die lessenaar, nog ’n telefoon buiten die een in die gang. Flip du Plessis is nie agter die tyd nie. Theo het sy hand op die volgende deurknop toe sy gewete hom aankla: Jy is ’n gas in die huis en die eienaar vertrou jou met sy goed én met sy dogter. Gedra jou ooreenkomstig!
Hy los dit, loop na die tweede deur langs die badkamer en stoot dit oop. Sy tas staan reg voor hom op die houtbankie onder die venster. Hy trek die deur toe, gaan sit op die bed en skop sy skoene uit, onthou om sy wekker te stel. Dit sal nie deug om teen donkernag eers weer wakker te word nie.
***
“Marissa, dis aand. Ons eet oor ’n uur. Gaan jy opstaan?” Die stem kom van ver af, dofweg en baie ver. Iemand ruk en pluk aan die deur. “Marissa, dis Mamma, sluit oop, asseblief.”
Sy dwing haar oë oop. Sy is so móég.
“Moet Pappa die slot breek of gaan jy oopmaak?”
Haar kamerdeur is gesluit en sy kan nie onthou dat sy gedoen het nie. Hoekom? Sy lê ’n paar oomblikke voor sy die antwoord het. Dawie.
“Marissa … Asseblief.”
“Ek kom.” Haar stem is so sag sy glo nie haar ma het gehoor nie.
“Ek gaan jou pa roep.”
“Nee!”
Marissa val omtrent van die bed af en haal die deur in ’n grys waas van uitputting.
Sy sukkel met die sleutel, dis al of haar hande slap is. Eindelik is dit oop. Haar ma lyk gespanne en ouer as gewoonlik.
“Ag, my kind …” Sy gooi haar arms om haar, hou haar ’n rukkie lank vas voordat sy haar weer die kamer inlei, bed toe. Toe hulle sit, tel haar ma die hoofpynpille se houer op. Sy frons. “Hoeveel het jy gedrink?”
“Twee, drie, ek weet nie.”
“Dis gevaarlik.”
“Dis nie slaappille nie.”
“Dankie daarvoor.”
“Ek moes net slaap.”
Irma vat haar hande in hare. “Ek verstaan, maar jy moet versigtig wees. Ons het genoeg ellende vir een hele jaar beleef.”
Sy sluk die knop in haar keel weg. “Is hulle kwaad vir my? Oom Dawid en tant Chrissie?”
“Hulle is verslae en hartseer, nie kwaad nie.”
“Is Mamma seker?
“Hulle vergewe jou.”
“As hulle my vergewe, beteken dit hulle dink ek is skuldig en ek is nie.”
“Ek glo nie dis hoe hulle redeneer nie. Hy was maar nie reg vir die huwelik nie.”
“Hoe … Hoe gaan dit met Mart. Is sy oukei?”
“Oom Jan het laat weet dat sy geopereer word.”
“En die baba?”
“Ek het nie gevra nie.”
“Vergeet ek, ons is nie veronderstel om te weet nie.” Marissa is amper te bang om te vra, maar sy moet: “Waar is Dawie?”
“Op De Aar in die lykshuis.”
“Die begrafnis?”
“Hulle het nog nie ’n datum nie.”
“Hulle wil seker eers weet wat met Mart gaan gebeur.”
“Dalk kan sy nog die begrafnis bywoon.”
“Ek gaan nie.”
Haar ma lyk geskok, sy los haar hande. “Kind, hulle sal dink jy hardloop weg.”
“Hulle kan dink wat hulle wil. Ek gaan nie.”
“Wat sê ons?”
“Ek moes nooit ingestem het om hulle strooimeisie te wees nie. Ek moes eers Kersfees gekom het, dan het hulle getrou en Dawie het nog geleef. Ek gaan Pretoria toe, ek ry môre.”
“Jy’s te ontsteld om alleen die pad te vat.”
“Ek sal kalmeer. Ek sal rustig raak sodra ek in die kar is. Ek moet net wegkom.”
Irma sug. “Lyk my ek sal jou nie oortuig nie. Waar gaan jy heen? Vir Diana kuier? Het jy haar al gevra?”
“Sy het my genooi. Ek moet net bel en sê ek kom vroeër.”
“Ons gas ry ook môreggend. Hoekom vra jy hom nie om jou te vat nie?”
“En as ek eers daar is, wie bring my terug?”
“Jou pa kan jou gaan haal vir Kersfees.”
“Ek ry nie saam met daai man nie.”
“Wat is verkeerd met hom?”
“Ek ken hom nie.”
“Ek hou van hom.”
“Ja, hy probeer hard om Mamma te beïndruk.”
“Jou pa kom ook goed met hom oor die weg.”
“Laat ons hoop hy betaal sy huur op datum.”
“Die deposito is oorgedra.”
“Dis juis sulkes wat later versuim. Simpel mansmens.”
Irma gee ’n laggie. “Oh, the lady doth protest too much.”
“Mamma vat dinge heeltemal te ver.”
“Goed, ek vra om verskoning. Ek was onsensitief.” Sy staan op en loop deur toe. “Kom kombuis toe, dan kry jy vir jou iets om te eet.”
“Ek is nie honger nie.”
Irma skud maar haar kop. Sy staan by die deur, die deurknop in haar hand. “Jy moet onthou om Diana te bel as jy môreoggend wil ry.”
Marissa het gedink sy kan in die kamer wegkruip tot almal, Theo Wessels inkluis, gaan slaap het en dan gou ’n draai in die badkamer maak. Intussen moet sy vir Diana bel en hier is nie selfoonontvangs in die huis nie. Sy sal in die gang moet uit vir die huisfoon, of in die tuin rondstap tot sy ’n selfoonsein kry. Vir laasgenoemde sien sy nog minder kans, want sê nou Theo kom uit en kry haar daar alleen. Sy wil nie naby hom wees nie, nie nou nie, nie vandat hy sy arm om haar gesit het en haar met soveel medelye getroos het, nie noudat sy juis sy troos begeer nie!
Dis al donker en sy moet die bedliggie aanskakel.
Hoe wens sy sy kan die komberse oor haar kop trek en slaap tot Kersfees! Ongelukkig ken sy die mense van die distrik te goed. Nie lank nie of iemand kom hier aan en wil met haar simpatiseer, haar niggies met bedekte beskuldigings, of Dawie se ma vra haar of sy weet wat Dawie besiel het, of Mart kom klap haar. Nee, sy bly nie ’n dag langer nie.
Sy gaan staan voor die spieël. Die rok wat sy aanhet is so lelik gekreukel, sy vervang dit met jeans en ’n T-hemp. Haar hare staan ook alkante toe. Sy vleg dit vinnig, verwyder die grimering wat in swart trane op haar wange lê en sluip in die gang af foon toe. Tot haar ontsteltenis staan hý daar en praat! Sy wil verbysteek studeerkamer toe, maar hy sit die gehoorstuk neer. “Wil jy bel?”
Sy vertrou nie haar stem nie en knik oordrewe. Hulle staan een tree uitmekaar. Sy waag dit nie nader aan die telefoon nie. Hy, die moedswillige mansmens, gee ook nie pad nie. “Hoe voel jy nou?” vra hy en hy klink waarlikwaar so opreg, sy wil huil.
“Oukei.”
“Jou ma sê jy wil môre Pretoria toe.”
Sy knik.
“Jy kan saam met my ry. No strings attached.”
“Dankie, maar liewer nie.”
“Jy wil alleen wees.”
“Niks soos die langpad nie.”
“Miskien sien ons mekaar in Pretoria.”
“Pretoria is groot.”
“Ek gee jou my kaartjie met my nommers.”
“Ek bel nie vreemde mans nie.”
“Mag ek jou selfoonnommer kry?”
“Kan ek eers vir Diana bel?”
Hy frons asof iets hom tref, glimlag dan. “Nes jy wil. Ek en jou pa het ’n paar sakies om af te handel. Dan sien ek jou miskien voor jy gaan slaap?” Hy maak ’n beweging, seker om eindelik weg te stap, maar bly op sy plek en kyk vir haar. “Marissa … Moenie jouself verwyt oor die … oor Dawie nie, hy het self besluit. Moenie dat jy jóú lewe ook verwoes nie.”
Haar trane sit so naby, sy moet haar rug op hom draai. Miskien sien hy dat hy haar ontstel, want hy maak hom uit die voete. Sy ken Diana se nommer so goed, sy skakel sonder om dit op te soek. Dit lui en sy haal diep asem. Sy gaan nie ’n woord sê oor die tragedie nie. Sy sal net sê sy strooi nie meer vir Mart nie. Sy en Diana verstaan mekaar. ’n Halwe woord is al wat nodig is tot hulle deurnag gesels en hul hartsgeheime met mekaar deel. Dit bêre sy vir later, vir wanneer sy eers daar is.
Die foon lui en lui en gaan oor na Diana se stemboodskap. “Hi, Diana here, please leave a message.”
Sy wag vir die piepgeluid en hou haar vrolik. “Hallo Diana, dis Marissa, ek wil ons kuier vervroeg. Gee jy om as ek môre daar aankom? Sal seker voor spitstyd voor jou deur staan. Not to worry, ek weet waar die sleutel is. Ek sal alles verduidelik. Sien jou môre.”
Sy sit die gehoorstuk terug en wil kombuis toe loop, maar haar ma staan in haar pad. “Het jy nou ’n boodskap gelos?”
“Ja, maak dit saak?”
“Jy kan nie sommer daar uitslaan nie. Sê nou sy is weg vir ’n week?”
“Sy los die sleutel in die blombak voor die deur.”
“In ’n stad soos Pretoria?”
“Stede soos Pretoria is deesdae veiliger as plase soos Jakkalspoort, Mamma. Diana woon in ’n meenthuiskompleks met sekuriteit.”
“Touché, maar ek gaan my bekommer.”
“Daar is gastehuise en hotelle as ek nie kan inkom nie.”
“Bly hier.”
“Nee.”
Irma sug. “Hoekom sien ek my eie hardkoppigheid by jou?”
“Verstaan Mamma nou?”
“Ja, my kind. Eet gou iets, dan help ek jou met jou klere. Siena het vandag gewas en gestryk. Jou goedjies hang in die strykkamer. Ek het jou selfoonnommer vir Theo Wessels gegee, ek hoop nie jy gee om nie?”
Marissa word rooiwarm, sy weet sy bloos. Sy het gewonder of hy die moeite gaan doen om sy belofte, of is dit ’n dreigement, uit te voer – en sowaar, hy het.
“Is jy nou kwaad?” vra haar ma.
“Nee.” Wys elke emosie wat sy ervaar, so duidelik op haar gesig?
“Hy sê hy het jou ook gevra, maar hy is bang jy vergeet.”
“Ek sou nie juis agter hom aanhardloop met my nommer nie.”
“Hy sal bel. Ek dink hy wil.”
“Ek dink hy is nuuskierig, nou maak hy of hy jammer is oor ons ellendes.”
“Marissa, nie ons ellendes nie, joune. Ordentlik van hom, sou ek sê.”
“Mamma, hy ken my nie. Vergeet van hom en wat tussen ons kan gebeur. Mans soos hy is volop. Kansvatters wat hulle sedig hou tot hulle jou het. Glo vir my, ek het sedert Dawie al ’n stel of twee afgetrap.”
“Nóú sê jy my.”
“Ek is lief vir Mamma, maar ek kan nie elke keer by Mamma kom huil as iets skeef loop met ’n man nie. Moenie worry nie; Mamma het my mooi geleer. Ek kan ook goeie oordeel aan die dag lê. Theo is nie te sleg nie, maar ek kan Mamma verseker hy het klaar ’n meisie of twee, en hy is ’n kansvatter.”