Читать книгу Helena Hugo Eerste Keur - Helena Hugo - Страница 11

7

Оглавление

Theo stoot sy getroue BM in die dubbelgarage tussen sy Maserati Ghibli en sy afslaankap-Jaguar. Hy druk die elektroniese afstandbeheerder. Die deur sak seepglad agter hom toe, maar hy klim nie uit nie. Sit eers ’n rukkie. Wat het hom besiel om die meisie te gaan voorlê? En wat het hy nou eintlik verwag? Beslis nie die gevoel wat die verwese gesiggie in hom wakker gemaak het nie. Sou hy nou wraggies begin sag word? Hoop nie Diana bly heelnag uit nie. Marissa behoort nie alleen te wees nie. Hy bekommer hom oor haar, haar ouers is ook tereg besorg. En daar gaan belowe hy hulle hand en mond om ’n ogie oor hul dogter te hou. As hulle geweet het van sy reputasie, het hulle in hul viertrek gespring en Pretoria toe gejaag. Kwaad vir homself, pluk hy die kardeur oop en klim uit. Hy stap met lang treë deur die binnehof verby die niertjievormige swembad. Palms, broodbome, bougainvillea en hibiskus in groot erdepotte en blombakke oorlaai met kleurvolle somerblomme laat lyk dit soos die binnekant van ’n luukse-kwekery. Die beeldhouwerk van Henry Moore wat hy oorsee ten duurste gekoop het, trek soos altyd sy aandag. Die sensuele rondings en onverwagte snykante van die beeld het destyds sy hart gesteel. Die lyne is tegelykertyd sag en vroulik en hard en manlik. ’n Volmaakte versoening van liggaam en gees, het die kunshandelaar dit genoem. Theo soek na daardie perfekte eenheid, al sal hy dit nie hardop aan ander erken nie. Sy lewe is onafgerond en ver van perfek.

Te duiwel daarmee! Hy moet die Karoostof van hom afskud en koelkop bly, môre bel en seker maak of Di terug is, dan vir Marissa du Plessis uitlos. Sy is nie hulpeloos nie en hier is genoeg sake wat sy dringende aandag verg – soos Sylvia. Haar het hy twee weke laas gesien.

Sy herdershonde, Bismarck en Rommel, kom uitgelate na hom toe aangehardloop. Hul sterte swaai, hul bekke lag. Hy sal met Sylvia moet praat oor sy plan om Kersnaweek ook vir ’n paar dae van die toneel af te verdwyn. Die honde het geleer om te luister, hulle draai om hom, maar waag dit nie om teen hom op te spring nie. Soms speel hy rof met hulle, maar hulle moet wag vir sy teken. “Oubaas se honne.”

Hy sien hul afwagting, kam vlugtig met sy vingers deur die welige goed versorgde pelse, stap vinnig weer aan. Hulle bly op sy hakke, volg hom deur die skuifdeure na die ruim onthaalvertrek. Die beligting is warm en gesellig. Aan die oorkantste muur hang ’n reuse-houtpaneel deur Cecil Skotnes; hoekige vorms in helderrooi en okerbruin met spatsels geel en blou onder ligte wat reg ingestel is om die verlangde effek te kry. Sy vriende reken hy het verstokte kunssmaak, maar hy het die werk by sy pa geëerf, as kind daarmee grootgeword. Vanaand sien hy net spatsels kleur, hoofsaaklik die blou en pers van die uitgestrekte vlaktes wat hy vanoggend moes agterlaat, en haar oë soos viooltjies. Waarom kan hy haar nie uit sy kop kry nie?

Diedericks kom uit die skaduwees te voorskyn. Die lig weerkaats van sy pankop af. “Naand, meneer,” groet hy gedienstig. “Gaaf om meneer terug te hê.”

“Naand, Diedericks. Alles reg hier?”

“Geen probleme nie. Het meneer goed gery?”

“Ja, dankie. Sal jy vir Sam vra om die tasse uit die kar te haal? Enige oproepe?”

“Juffrou Sylvia het vandag drie keer gebel. Sy sê meneer se selfoon is af.”

Theo se moed sak in sy skoene. Hy was nie lus om so gou al met haar te praat nie. Nou sal hy haar moet paai voordat hy kan ontspan. “Dankie, Diedericks.”

“Mevrou Hendricks vra of meneer vanaand hier eet?”

“Iets ligs, asseblief. Ek gaan nie weer uit nie.”

“Kom juffrou Sylvia hiernatoe?”

“Ek glo nie. Ek wil vroeg eet, dan kan julle ook vroeg klaarmaak.”

“Ja, meneer. Dankie, meneer.” Diedericks verdwyn geluidloos soos ’n spook.

Bismarck en Rommel volg Theo na die studeerkamer en gaan lê onder die lessenaar. Hy skink vir hom ’n whiskey op ys en sak in die leunstoel by die venster neer, neem die eerste sluk. Dis whiskey vir ’n fynproewer, die beste wat geld kan koop. Hy asem die geur in. Sy honde loer verlangend na hom. Kan geld alles koop? Hy wonder, kyk skuins deur die venster. Die welige varings wat bokant die patio hang, roer in die ligte bries. Hulle maak hom benoud. Hy maak sy oë toe, dink aan die duine van sy plaas in Namibië, dor en droog, maar tog mooi; die uitgestrektheid van die woestyn wat verder en verder uitkring, ’n leë landskap met geen einde nie. Hy neem die volgende sluk van sy whiskey en dink aan die vlaktes van Gannavlei, die oorvloed ná die reën, sy uitkoms, die skoonheid wat hy in sy verkyker vasgevang het, die meisie wat hom nie laat los nie!

Hiermee sit hy sy glas so hard neer, die honde ruk regop.

Hy kon nog altyd alles kry wat hy wil hê, veral vroue. Hul lywe, dis wat hy soek, en daar moet dit eindig, nie nog sy hart ook omgekrap kry nie. Sylvia weet hoe sy hom kan troos en sy doen dit maklik. Miskien moet hy tog vanaand by haar ’n draai gaan maak. Sy verwag dit en sy wag vir hom, anders sou sy nie so aanhoudend gebel het nie. Hang natuurlik af. Sy kan bedonnerd raak as sy wil.

Hy tel die telefoon op en skakel haar nommer. “Theo, darling! I’m so glad you’re back! I need you!”

Nie vir seks nie, dit kan hy aan haar stemtoon hoor, vir een of ander vervelige verpligting. “Diedericks het gesê jy soek my. Hallo, Sylvia.”

“Het jy jou sel gecheck?”

“Ek het pas hier aangekom, gou ’n whiskey geskink om die rit uit my sisteem te kry.”

“Wel, as jy nie nou teruggebel het nie, sou ek verplig gewees het om Tommy te skakel. Wat social media daarmee sal doen, is just nobody’s business.”

Sylvia is ’n produk van ’n huwelik tussen ’n verengelste Afrikaner en ’n lid van die Londense elite. Sy besprinkel haar Afrikaans met Engels en haar Engels met Afrikaans. Theo hou nie daarvan nie, maar verduur dit. Hoe leer jy ook reg praat as jy jou matriek op Afrikaans Hoër Meisies maak en jou graad aan die Universiteit van Kaapstad? Sy het, al kan hy dit nie glo nie, ’n BComHons en ’n brein so skerp soos ’n rapier. Sylvia de Wildt is haar pa se dogter, ’n gedugte sakevrou en ’n gewetenlose onderhandelaar. Sy is, as enigste erfgenaam, besig om die De Wildt-koninkryk stap vir stap by haar pa oor te neem en het Theo gekies om aan haar sy te staan. ’n Paar dae gelede het dit nog vir hom soos ’n uitdaging gelyk. Vanaand weet hy nie meer nie.

“Hoekom doen jy dit nie ’n slag nie. Bel vir Tom,” waag hy dit.

“Come on! You are my partner, Theo darling.”

Theo onderdruk ’n sug. “Waarheen nou weer?”

“Mom and Dad had to attend the opening van Madama Butterfly. Lorna made an awful mistake, gaan aanvaar die comps en vergeet dis oom Uncle se verjaardag. Hy sal Dad-hulle nooit vergewe as hulle nie héélaand saam met hom paartie nie. Hy het juis daai Russiese kwartet wat nou hier toer, spesiaal vir hulle gehuur. Darling, ek weet jy is moeg gery en die pad was lank, maar ons móét eenvoudig die De Wildts by die opera verteenwoordig.”

Vir een onbeheerste oomblik oorweeg Theo dit om die gehoorstuk stadig op die mikkie terug te sit, sy denims aan te trek, ’n bos blomme en ’n pizza te bestel, ’n goeie bottel wyn uit sy kelder te kies en terug te gaan na Diana se woonstel. As hy dit gelukkig tref, is Di nie daar nie en kan hy en Marissa mekaar beter leer ken, ontspanne kuier oor ’n pizza en ’n bottel wyn.

“Is jy nog daar, my darling?”

Theo keer homself om geïrriteerd te raak. Sylvia kan nie help dat sy Sylvia is nie, en hy het nou eenmaal met die De Wildts deurmekaar geraak. “Ek is en ek hoor jou.”

“You sound exhausted! How was Cape Town?”

Hy was nie naby Kaapstad nie! Dus het hy nie ’n antwoord nie.

“Pak jou tas, dan slaap jy oor,” nooi sy met haar Marlene Dietrich-stem. “Ek verlang so na jou.”

“Hoe laat begin die opera?”

“Agtuur.”

“Dis kwart oor vyf. Ek kry jou twintig oor sewe by julle huis.”

“Ons sal ná die opera by oom Uncle moet inloer. Moenie stres nie, ek het ’n geskenk georganise. Love you.”

“Love you too.”

Hoe maklik val die woorde tussen hulle, en sonder enige betekenis. Hy druk die interkom se skakelaar. Diedericks antwoord dadelik. “Kry asseblief my aandpak gereed, pak ’n oornagtas vir Johannesburg. Vra mevrou Hendricks of ek sesuur kan eet en sê vir Sam hy moet kyk of die Maserati vol is.”

Diedericks vra nie vrae nie. “Ja, meneer. Goed, meneer. Ek reël dit,” sê hy saaklik.

Theo sluk sy whiskey weg, roep die honde en stap na sy kamer om sy swembroek aan te trek. Met die handdoek om sy nek en Bismarck en Rommel op sy hakke draf hy swembad toe en duik sonder huiwering in die koel water. Hy swem vyftien keer heen en weer, maar niks kan sy frustrasie hokslaan nie. Hy wil haar kaal hê, in hierdie swembad, en hy sal nie rus voor hy haar het nie. Al wat hy in die Karoo gaan soek het, was weiding vir sy vee en ’n dag of twee se rus en vrede. Toe ontdek hy haar en nou is die bietjie vrede wat hy gehad het, totaal en al daarmee heen. Sy is oral.

Sierlik kelk sy haar arms, strek sy haar bene, swaai sy haar goue hare oor haar rug, staan sy afgeteken teen die son. Hel, hy kan in ’n digter verander. Hy kan weer kind word saam met haar, vry van die bande van geld en mag, teruggaan grond toe. Uitgeput staan hy aan die vlak kant van die swembad met sy rug teen die wal. Hy is nie uitasem ná die gesonde oefening nie, maar in sy hande – so voel dit vir hom – hou hy sy sterwende hart vas. Toe hy stad toe is om sy fortuin te maak, het sy oorlede pa hom gewaarsku dat hy eendag sal terugverlang plaas toe.

“Jy was toe reg, Pa,” sê hy in die rigting van die daklig. “Nou wil ek, maar ek is vas.”

Die honde wag geduldig op die rand van die swembad vir sy teken. Hy wink vir hulle om in te spring. Hulle is nie links nie, die swemmery saam met hom is ’n hoogtepunt. Hy speel met hulle en baljaar vir seker tien minute voor hy hulle uitjaag en die volgende vyftien lengtes pak. Selfs dít kan hom nie bevredig nie. Hy moet uit sy omgewing wegkom, gaan na ’n plek waar niemand wat hom ken as dr. Theo Wessels, Sakeman van die Jaar, hom sal wil volg nie – ontslae raak van hierdie wanbalans.

Die gesondheidplase en rusoorde wat hy gereeld besoek, is nie meer ’n opsie nie. Daar kruip altyd iemand uit wat hom herken en besigheid wil praat, of Sylvia volg hom, baiekeer met ma en al. Hy het min of meer twee weke oor voor die jaarlikse familiesaamtrek en hy is nie lus vir die De Wildts nie. Twee weke van suiwer, ongenadige foltering lê nog voor voordat hy kan vlug, ás hy dit regkry. Jaareindfunksies, afskeidspartytjies, familiebyeenkomste en, vir die kersie op die koek, die tradisionele Kersnaweek by die seehuis teen die hange van Gordonsbaai. Vanjaar loop hy weg Karoo toe. Maar wat sê hy? Sy skape het hom nodig? Of vertel hy haar die waarheid? Dat hy keelvol is van high society, haar salonskoonheid hom afskrik, sy huis en sy karre hom bang maak, sy kantoor en die direksie en haar pa se kantoor en sy direksie hom walg, dat sy ontwerperspakke hom knel en sy gholf-buddies hom irriteer. Sylvia sal dink hy is gek. Dalk is hy? Het hy vandag te veel gedink en sy verstand verloor op pad van die Karoo af tot hier? Woedend klap en skop hy waterstrale in alle rigtings en skreeu so hard soos hy kan. “Ek wil ontsnap!”

Die honde, wat waarskynlik dink hy is in die moeilikheid, duik in en kom skuur hul nat lywe teen hom. Hy kry trane in sy oë toe hy sy arms om hulle slaan. “Julle kom saam. Ek sal julle nie hier los nie.”

Hulle spook en spartel en speel soos lank gelede toe hy nog ’n seuntjie was, sy pa na sy geldsake omgesien het en sy ma en susters die enigste vroue in sy lewe was.

***

Toe Marissa die klop aan die deur hoor, besef sy dat sy tog ingesluimer het. Sy spring van die bed af op en draf na die voordeur. Deur die loergaatjie sien sy Diana met arms vol inkopiesakke. Sy maak dadelik vir haar oop.

“Vriendin!” gil Diana, skop die deur toe en plak haar sakke op die kombuistoonbank. Sy val Marissa om die nek. “So nice dat jy hier is! Jy lyk goed! Darem net die lieflikste hare. Hoe kry jy dit reg om dit lank te hou? Kyk myne.” Diana het haar hare kort gesny en skokkend pienk gekleur. “Pas by die somerkleure. Was en dra soos ’n droom. As ek ander hare benodig, sit ek ’n pruik op. Hoe laat het jy hier aangeland?”

“Vyfuur se kant. Ek het aan die slaap geraak. Hoe laat is dit?”

“Weet nie. Sesuur? Jy is seker nie meer moeg nie!” Sy pluk die yskasdeur oop. “Waar’s daai sodawater, ek sterf van die dors. Aha! Het jy al iets te drinke gehad of join jy my? Sodawater of ystee?” Diana spring kas toe en haal twee glase uit. “Dis kitskorrels, koop dit op die vlooimark. So ’n nice couple wat dit maak, vrek van die armoede, maar bly nice. Come to think of it, ek’s lus vir iets sterkers. Jy? Wat van sodawater-plus?”

Die jenewerbottel staan tussen die olyfolie en balsemieke asyn. Sy giet ’n goeie skoot in elke halwe glas sodawater, dan gryp sy ’n suurlemoen in die vrugtebak, sny dit in skywe. “Mint is daar ver in die tuin, anders het ek gou gaan pluk. Oeps! Eers gou ons etes versorg. Hierdie kombuis is so deurmekaar, ek sal ’n dag moet vat en regpak.” Sy grawe in haar inkopiesak, maak die vriesgedeelte van die yskas oop en gooi ’n paar pakkies in.

Marissa wil glimlag. Sy het vergeet hoe hiperaktief Diana is. Binne die volgende uur gaan sy gedaan wees van kyk en luister en sukkel om ’n woord in te kry.

“Oukei! Gryp jou glas, ons gaan sit, dan vertel jy my als. Was Theo Wessels toe hier? Nie geweet julle ken mekaar nie. Was ook te haastig toe hy bel en my vra om die sleutel te los. Vir hom doen jy wat hy vra. Een van daais wat ’n gevaarteken om sy nek moet hang, maar jy weet seker al. Sit! Ek wil alles hoor. Hoe was die troue?” Marissa neem ’n slukkie van haar gedokterde sodawater en kry nie kans om te antwoord nie.

“Gelukkig is jy nog vry soos ’n vlinder! Hoop nie jy gee om om vanaand saam met my uit te gaan nie? Hier’s die goddelikste man aan wie ek jou wil voorstel. Hy regisseer by Goue dae, soek altyd mooi meisies vir walk-ons. Dink net, jy kan sy volgende ster wees.”

Marissa maak haar mond oop, sy wil sê sy stel nie belang in toneelspeel nie, en regtig? Moet hulle vanaand al uitgaan?

“He’s not bad. Was al getroud, sy eks is ’n mediese dokter. What an unlikely couple! Sy’t niks van sy werk verstaan nie, nêrens gegaan sonder haar stetoskoop om haar nek nie. Hy werk weer net wanneer hy die regte break kry. Mind you, Goue dae is nie juis hoë kuns nie. Kunstenaars moet ongelukkig nou en dan compromise om ’n slag te kan eet. Voorheen het mevrou die malie ingebring. Hy skilder ook. Jy sal mal wees oor sy skilderye. En musiek! Hy’t vir ons comps gekry vir die opening van Madama Butterfly in die Civic. Altyd ’n okkasie, hoewel party mense deesdae tekkies en jeans dra al gaan hulle waar. Madama Butterfly … Was ons nie eenkeer by ’n show in die Baxter nie?”

Marissa wil haar reghelp, dit was die Artscape, nie die Baxter nie.

“Al wat ek kan onthou, is dat dit vrek treurig was. Ons moet vir ons tissues inpak. Sy naam is Gunter Winterbach, maar hy’s nie Duits nie. Wat wil jy nog weet? Ek gaan uit met Vernon Palmer, fotograaf en kameraman. Ek en Schalk het nie uitgewerk nie. Mal oor Vern. Hy’t ’n huis op die wal van die Hartbeespoortdam. As my werk nie hier rond was nie, het ek my goed gepak en soontoe getrek, dis so in die natuur. Maar hy bly ook net daar as hy nie skiet nie. Nog sodawater?”

Sy skud haar kop, sy het net ’n paar slukke gedrink.

“Jy is stil.”

“Vra my ’n vraag en gee my kans om te antwoord.”

Diana gooi haar kop agteroor en lag. “Ek hoor jou loud and clear! Gee jy om as ons vanaand opera toe gaan?”

“Ek glo nie ek het die regte rok nie, vir ingeval ons moet opdress.”

“Geen probleem nie, ek leen jou een van myne. Sal jou so mooi maak, Dawie sal spyt wees. Kom ek wys jou.”

Diana wil opspring, maar Marissa keer haar. “Daar is iets wat ek jou moet vertel.”

“Jip?”

“Hulle is toe nooit getroud nie.”

“En nou?”

“Hy’t gister vir Mart geskiet en toe skiet hy homself.”

“Dood?”

“Mart leef, hy is dood.”

Diana se oë rek. “Shit …” sê sy, “shit …”

“Ek het weggehardloop, van die begrafnis.”

“Ek sou ook.”

“Mart is nog in die hospitaal.”

“Weet jy of sy oukei is?”

“Volgens my ma-hulle gaan dit goed. Ek het netnou, nadat Theo Wessels hier weg is, weer gebel.”

“Vriendin, waar kom jy aan Theo?”

“Hy huur grond by my pa, eintlik mý grond. Ek het hom gister eers ontmoet.”

“Is nie! Onthou jy nie? Hy was by met jou kroning, hy en daai aaklige ou Sylvia van hom. Simon het hom kom voorstel. Onthou jy? Die joernaliste wou met jou praat en Simon kom toe al tussenin. Nee, jy’t vergeet. Anyway, Theo kon sy oë nie van jou afhou nie, jou hand gevat en mooi woordjies gefluister. Ou Sylvia moes hom kom wegsleep. Mind you, hy steur hom nie veel aan haar nie, my ook al uitgeneem. Toe snuffel die heks my uit en wys my haar verloofring. Hy’s nicer as sy, maar pasop vir hom. Hy het ’n reputasie. Haai, jy lyk of jy wil omval. Ek kan Gunter bel as jy nie kans sien nie?”

“Nee, ek sal saamgaan. Enigiets om nie vanaand alleen te wees nie.”

“Ek moes daaraan gedink het dat jy moeg sal wees. Voel nou vir my of ek jou dwing.”

“Asseblief, Diana, jy dwing my nie. Doen my net een guns. Moenie ’n woord rep oor Mart en Dawie nie.”

Helena Hugo Eerste Keur

Подняться наверх