Читать книгу Helena Hugo Eerste Keur - Helena Hugo - Страница 14

10

Оглавление

Op pad terug na Diana se meenthuis, waag Marissa dit om ’n aanmerking te maak oor die flankeerdery.

“Good, clean fun!” Diana gee ’n plesierige gilletjie. “Ag, dis net speletjies. Hy sal nooit vir my val nie.”

“Ken jy hom so goed?”

“Nie eintlik nie, maar ons sien mekaar nou en dan by bekendstellings van TV-reekse en filmpremières. Hy besit mos die maatskappy waar Vern en Gunter nou werk. Hy en sy ou Sylvia is ook oral waar sy kan shine vang. Ek dink hy doen net sy plig, always very nice, al lyk dit soms of hy nie daar wil wees nie. Hy’s eintlik nie ’n slegte catch nie, net jammer Sylvia het hom klaar gevang.”

“Ek dag hy is in die landboubedryf?”

“Invoere en uitvoere, hoor ek, maar hy konsentreer nie net op een bedryf nie. As jy wil ryk word, moet jy oral tentakels hê en kanse waag. Hy doen dit.” Al pratende vleg Diana deur Saterdag se vroegaand-verkeer. “Hy’t een keer laat val dat hy eintlik ’n buitelugmens is, glo op ’n plaas grootgeword. Ek het hom by ’n kragboot-promosie ontmoet. Dis toe ek pas hier aangeland het en alles wat na my kant toe kom, moes doen om aan die lewe te bly. Glo dit as jy wil, ek was een van daai bikini-meisies wat my oor die boot se neus moes drapeer om kopers te lok.”

“Toe probeer hy jou optel?”

“Hy hét gevra of ek saam met die boot te koop is.”

“Dis nie so nice nie!”

Marissa onthou hoe hy haar uit die water wou lok toe sy hom ontmoet het. Sy sterf liewer voor sy dit met enigiemand deel.

“Ag, ek het gesien hy terg,” sê Diana. “Ek’s ook nie so kleinserig nie. Dit was eintlik ’n kompliment.”

Sy parkeer onder die afdak voor haar meenthuis. Die toesluitgarage het sy met liefde aan Marissa afgestaan. Marissa het teëgestribbel, maar sy het haar verseker dat sy die meeste van die tyd nie daar is nie, dan staan die garage tog leeg. Sy sluit darem haar motor ingeval ’n skelm by die sekuriteit verbyglip, en al pratende stap sy voordeur toe.

“Toevallig was hy mal oor die boot wat ek promote het. Mind you, om daai bote te verkoop was nie soos in totally ’n breinlose takie nie. Ek het my boot geken asof ek hom self gebou het! Goeters soos brandstofverbruik, versnelling, spoed en balans. Ek kon dit vir hulle meganies korrek uiteensit.” Sy buk om die koerant op die drumpel op te tel. “Shame, hier was ’n tannetjie wat haar ontferm het oor die koerantverkopers en toe koop ons almal inskrywings. Mind you, ek lees myne. Tensy die bure se honde dit wegdra. Vern dink ek is agter die tyd, ek is nie, ek is op Facebook en Twitter om tred te hou met die bedryf. Waar was ek? Wat van ’n gegeurde sodawatertjie?”

“Sal lekker wees, ek is nogal dors.”

Diana pluk die yskas oop, haal uit wat sy benodig en maak hul glase vol.

“Het hy die boot gekoop?”

“Ja, my kommissie vir daai joppie was genoeg om my woonstelhuur vir drie maande te betaal plus ander uitgawes, én die maatskappy wou my permanent aanstel. Gelukkig het Jerry Green my ook raakgesien, anders het my modelling-career gesneuwel! Maar ek het goed gedoen met die bote. Net besef – hier moet ek my useless jare op universiteit inspan en geleerd klink, anders maak ek nie ’n sent nie. Ek het een boot aan ’n vet miljoenêr verkoop en toe verkoop ek die volgende een aan Theo Wessels en hy verwys sy pelle na my. Marissa, mark my words, alle miljoenêrs is nie vet en oud nie. Weet jy wat kos daai bote? R900 000 en meer! Theo het dit gekoop asof hy ’n roeibootjie vir R900 aanskaf. Ek het aangebied om vir hom te demonstreer hoe die ding op die water werk, toe selfs agter hom aan gewaterski! Ons het ’n paar trips op die Hartbeespoortdam gedoen. Om dankie te sê het hy my uitgevat vir ete. Daar betrap ou Sylvia ons een Sondagmiddag en krap amper my oë uit. Hy was so gracious, hy’t vir my blomme gestuur om te sê hy’s jammer. Ek hou hom dop tot ou Sylvia ’n ander een optel of tot hy hom finaal verveel, dan’s ek by.”

“Ek dag jy is mal oor Vernon,” waag Marissa dit.

“Ek is, maar ek sal stupid wees as ek my kans om met ’n miljardêr te trou deur my vingers laat glip. Vriendin, daai mense leef soos gode, en hulle skaam hulle nie dat almal dit weet nie.” Sy sit haar glas neer, maak die koerant oop en blaai daardeur. “Jy kan hulle bewegings haarfyn navors, lees die koerante en hou jou oog op Facebook. Waar is die sosiale – en sakenuus? Voilà! Die opera en … die verjaardagpartytjie featuring Theo Wessels en sy verloofde, Sylvia de Wildt! Feast your eyes!”

Marissa buk oor die koerant. Ja, daar staan hy en sy Sylvia reg in die kollig. Sy lees die onderskrif hardop: “ ‘Die bekende ekonoom doktor Theo Wessels en sy verloofde Sylvia de Wildt het die De Wildts by die première van Madama Butterfly verteenwoordig.’ Doktor? Het hy ’n doktorsgraad?”

“Hy het alles, breins ook,” sug Diana. “Kyk hoe stunning is ou Sylvia. Lag net te oopmond vir sulke lang tande. Lyk of sy jou met een hap kan verorber. Nóg ’n foto: ‘Doktor Theo Wessels, Sylvia de Wildt en Frederick de Wildt van F.C. de Wildt-beleggings by meneer De Wildt se ses-en-sestigste verjaardagviering.’ O, en al die beroemdes! Weet net nie hoe die ploert van ’n Cecil Frank daar beland het nie. Seker een van sy afgryslike skilderye aan ou F.C. afgesmeer.”

“Is hulle regtig so belangrik?”

“Weet nie, maar hulle is all over. As jy ’n obsessie het, kan jy ’n plakboek maak van die een wat jou die meeste aanstaan. Ek debs vir Theo, plek-plek sal ek maar vir ou Sylvia moet afsny.”

Diana se selfoon lui en sy grawe dit uit haar handsak. “Sorry, dis Vern,” sê sy en stap daarmee uit.

Marissa bly staar na die foto’s van Theo en Sylvia, konsentreer eers op die een by die opera. Hulle lyk gelukkig, hulle lyk dolverlief, hy ook. Is hy régtig? Die foto is te klein om sy oë te sien, maar hy glimlag en hou sy verloofde se hand vas.

Sý het gisteraand nog in daai oë gekyk. Een oomblik was daar iets soos wedersydse herkenning en was hy so naby aan haar hy kon aan haar vat. Maar toe maak hy of hy haar nie ken nie en vanmiddag maak hy of hy haar glad nie gisteraand gesien het nie. Is hy skaam of spyt of terg hy haar? En sy? Moet sy haar skaam omdat sy drome droom oor ’n man wat uit die bloute haar lewe oorgeneem het? Hy was daar vir haar die middag toe hulle die tyding van Dawie se dood gekry het. Hy het haar getroos, haar vasgehou. Vroeër daardie dag het sy veld toe gery juis omdat sy haar angs wou afskud. Sy was hartseer en kwaad en deurmekaar en het besluit dat daar nêrens in die wêreld ’n man is wat haar onselfsugtig liefhet nie, een sou ook nie uit die bloute verskyn nie, beslis nie op die wye vlakte nie. Sy was klaar met mans en het probeer om haarself te oortuig. Maar sy is nie die soort meisie wat met ’n vakuum in haar hart kan leef nie. Sy wou weer iemand liefkry.

Theo het op die toneel verskyn asof hy altyd daar was, asof hy iewers in die toekoms vir haar gewag het. Was hul ontmoeting by die Rooivlerkdam deel van haar heling, wonder sy nou, of is dit deel van haar pyn?

Sy staar so intens na die foto, sy skrik toe Diana skielik agter haar praat. “Yslike teleurstelling! Ons kan nie meer Sun City toe nie. Vern sê hulle sukkel heeldag met kragonderbrekings, die opwekker gee probleme. Hulle werk vanaand oortyd om in te haal, miskien maak hulle ’n draai vir ’n laatsessie by die Blues Club. Jammer van Sun City. Ons kon Sondag gaan, maar ek moet heeldag by die kinderhuis se opedag wees. Dis my charity, help vir my image en ek’s mal oor kinders. Jy kan saamkom as jy wil?”

“Ek sal met plesier môre saamgaan weeshuis toe,” sê Marissa met nadruk, “maar ek dink jy en Vernon moet vanaand alleen uitgaan. Gunter verkies hopelik ’n warm bad en ’n vroeë nag.”

“Jy blykbaar ook.”

“Ek is moeg, al het ek vanoggend heeloggend geslaap. Daar is in elk geval nie juis vuurwerke tussen my en Gunter nie. Dis nie sy skuld nie. Hy’s ’n gawe ou, maar ek is nie reg vir ’n nuwe vriendskap nie.”

“Is jy seker? Ek wil nie hê jy moet later terugdink aan die verveligste kuier van jou lewe nie.”

“Diana, ek is regtig baie moeg.”

Daar is opregte simpatie in Diana se oë. “Vriendin, ek verstaan en ek vra om verskoning. Ek vergeet dat jy ’n tragedie moet verwerk, en jy was gisteraand so gaaf om saam te gaan. Moet vir jou sê Gunter was op sy beste, maar hy kan hom nogal opwerk as hy probleme kry in die ateljee en dan wil jy hom nie ken nie. So, miskien kom Vern in elk geval alleen hier aan.”

“Maak net seker, Diana, ek sien eerlikwaar nie kans nie.”

“Hoe lyk dit my ek het jou gemoor toe ek jou gisteraand saamgesleep het?”

“Nee, die opera was lieflik. Boonop kon ek huil sonder om nog redes uit te dink.”

“Jou arme ding!” Diana slaan haar arms om haar en hou haar ’n rukkie lank vas. “Jy was altyd so vrolik en vry en lig soos ’n veertjie. Nou lyk dit asof iets jou aftrek grond toe.”

“Ek moet erken, ek is swaarmoedig.” Marissa haal diep asem. “Sal my moet regruk, anders verander ek in ’n spoilsport.”

“Onthou net – ek en Theo het vanmiddag grappe gemaak, niks anders nie.”

“Julle ken mekaar mos lank genoeg om mekaar soms te terg.”

“As jy nie so hartseer was nie, sou jy seker saam kon lag.”

Marissa knik asof sy saamstem. Sy probeer hard om ’n glimlag iewers vandaan op te tower, maar die trane is skielik so naby, die behoefte om haar hart uit te praat so intens, sy moet keer of sy gooi die hele mandjie patats net daar uit. Toevallig lui Diana se selfoon weer en die oomblik is verby. Diana gaan praat in ’n ander kamer. Marissa kyk vir oulaas na die foto’s, maak dan die koerant toe en haal haar selfoon uit om haar ma te bel.

***

“Jy moet jou oor niks bekommer nie. Ons maak oor tien dae toe vir die feesseisoen.”

“Ek is nog hier vir die laaste direksievergadering van die jaar, oor vier dae.”

“Ek en Bernie sal die fort hou.” Peter Colyn klap sy skootrekenaar toe. “Ek gun jou hierdie vakansie.”

Theo sit agteroor in sy stoel. “Hoe lank is jy nou al my assistent?”

Peter is bo-gemiddeld bekwaam en sy brein werk net so vinnig soos Google. “Vyf jaar, drie maande en twee weke,” sê hy sonder om een oomblik te twyfel.

“Voel jy nie partykeer of jy ’n verandering wil maak nie?”

Peter lyk effe van koers af en Theo kan hom nie kwalik neem nie. “Is daar iets fout met my werk?”

“Glad nie, jy sit nie ’n voet verkeerd nie. Maar hoe voel jy? Word jy nie moeg vir die roetine nie? Jy het maande se opgehoopte verlof.”

Peter frons. “Ek volg jou voorbeeld, die firma kom eerste.”

Theo knik. Peter is reg. Hy wat Theo is, neem selde vakansie en kon hom ’n maand gelede skaars van die kantoor af losskeur om sake op Steinheim te gaan regstel. Nou is hy pas terug en wil weer weg. “Ek wonder net of jy nie ook partykeer wil hardloop nie?”

Peter kyk hom aan asof hy ’n kraak in sy samestelling ontdek het. Hy verbloem sy onrus met moeite. “Sal nie kan sê nie. Ek sal nie weet waarheen nie.”

“Het jy nog nooit die behoefte gehad om alleen te wees nie?”

“Ek is soms alleen. Sommige aande as ek tuiskom, is Mercia en die kinders nog nie terug van hulle bedrywighede nie. Dan skink ek vir my ’n whiskey, gaan sit op die patio en wag. Jy kan nie dink hoe stil daai huis is sonder hulle nie.”

“Wanneer laas was jy op ’n sakereis?”

“Jy stuur deesdae vir Bernie.”

“As ek terugkom, stuur ek jou, maar eintlik gee ek jou ’n vakansie. Dan gaan sit jy ’n slag stokalleen iewers op ’n verlate strand, en dink.”

“Dit sal oneerlik wees teenoor Mercia en die kinders. Ek bedoel, ek kan nie sonder hulle nie.”

Theo sug. “Weet jy hoe beny ek jou jou goeie vrou en jou mooi kinders?”

“Jy hoef nie. Ek meen, jy en Sylvia is al ’n jaar of twee verloof. Trou met haar. Die huwelik is nie so sleg nie. Boonop gee jou kinders jou soveel plesier, jy sal dit vir niks anders wil verruil nie.”

“Kan jy jou vir Sylvia met kinders voorstel?”

“Sy is nie die moederlike tipe nie, maar jy sal sien hoe sy verander en sagter word. ’n Baba is dalk wat sy nodig het. Verstaan my mooi, ek kritiseer nie, ek sê net. Ons ken vir Sylvia.”

“Ja, ons ken vir Sylvia.”

Peter kyk op sy horlosie. Hy probeer dit ongemerk doen, maar slaag nie daarin nie.

“Is jy haastig?”

“My skoonouers kuier by ons en ek het gereël dat ons vanaand gaan uiteet. Daarna neem ek hulle en die kinders na die ysskaatsvertoning. Hulle kom van die platteland af en kry nie dikwels kans om sulke vertonings te sien nie. Die kinders is net so opgewonde, hulle onthou nog vir Aladdin on Ice. Ek gaan dit nie vir hulle bederf deur laat by die huis aan te kom nie. Jy en Sylvia het seker ook planne?”

Theo val hom in die rede. “Hoe laat begin die vertoning?”

“Agtuur.” Peter is rooi in die gesig en raak duidelik op sy senuwees. “Toe jy bel het ek dadelik hiernatoe uitgekom, maar ek wil hulle nie in die steek laat nie. Kan jy verstaan?”

Nee, hy kan nie verstaan hoekom Peter so verander het vandat hy met Mercia getroud is nie, maar hy sê dit nie. Hy staan agter sy lessenaar op en gaan gee sy getroue assistent ’n broederlike kloppie op die skouer. “No hard feelings! Wat van ’n loopdoppie?”

Peter sit sy skootrekenaar in sy tassie. “Ek is jammer, ek sal moet aanstoot.”

“Ek moes jou nie so lank opgehou het nie. Sê groete vir jou skoonouers en geniet die aand. Wag, ek stap saam.”

Hulle stap in stilte deur die ruim portaal, uit op die patio waar Bismarck en Rommel gehoorsaam by hulle aansluit, verby die swembad en die Henry Moore tot by die gasteparkeerarea. Die honde waai hul sterte, maar bly netjies weerskante van Theo.

Peter skud sy kop. “Jou honde is merkwaardig gehoorsaam. Ons sukkel met ons boksers.”

“Het ek toe nie die hondeskool se kaartjie vir jou gegee nie?”

“Ons was daar en ons is uitgeskop.”

Theo kan nie help om te glimlag nie. “Hoe so?”

“Die vrou sê ons moes vroeër gekom het.”

“Wat maak julle nou?”

“Ons het dit oorweeg om een van hulle weg te gee, maar die kinders wil nie.” Peter sug en klim in sy kar. “Die veearts het kalmeerpilletjies gegee. Miskien help dit. Mooi diere van jou.”

Dit lyk of hy nog iets wil sê en hom bedink. Hy klap die kardeur toe, skakel aan en ry. Theo kyk hom agterna. Peter was ’n bok onder die meisies voordat Mercia op die toneel verskyn het. Daai honde van hulle moet wild wees as selfs Mercia hulle nie kan makmaak nie!

Hy skud sy kop, draai om en stap huis se kant toe, sy gehoorsame hondekinders op sy hakke. Op die stoep wag Diedericks hom in. Hy vra of hy vanaand weer uitgaan.

Theo weet nie. Met Sylvia het hy klaar afgespreek en hy gaan nie nou hul besluit omkeer nie. Dit het al voorheen gebeur dat hulle rusie maak en sy hom wegjaag en hulle die volgende dag weer opmaak, maar hierdie keer is dit anders. Hy het self besluit om ’n blaaskans te neem. Sy was op haar manier ontsteld, maar daar was nie ’n rusie nie. En hy hét vir haar ’n geskenk gelos.

Sy sal seker voor die einde van die dag bel of whatsapp om dankie te sê. Sylvia is ’n bedorwe vrou, maar sy het goeie maniere, sy sal van haar laat hoor. Miskien moet hy roekeloos raak en een van sy ander vriendinne gaan opsoek. Maar wie? Hy kan aan niemand dink nie, behalwe … Nee, Marissa hou nie van hom nie. Vanmiddag, toe hy haar met Di wou terg, het hy die indruk gekry sy verdra hom net. Wonder wat het hulle vir mekaar te sê gehad toe hy daar weg is? Marissa het skaars gegroet en Di het gelyk of sy spyt is oor haar lawwigheid.

“Meneer …?”

Diedericks kyk vraend na hom.

“Iets fout, meneer?”

“Nee, Diedericks, ek was ingedagte, dis al.”

“Meneer staan so met dieselfde gesig as …”

“Ja, Diedericks? Hoe staan ek?”

“Meneer staan soos meneer gestaan het die dag toe meneer die tyding gekry het van meneer se vader, toe hy oorlede is.”

“Jy is reg, ek voel so.”

“Meneer?”

“Dis ’n lang storie.”

Diedericks vou sy arms voor sy bors, hy wieg op sy voete asof hy vir die storie wag. “Los maar, Diedericks,” stel Theo hom gerus. “Dis nie jou probleem nie.”

Diedericks kug, nogal teleurgesteld, lei hy af. “Mag ek vra of meneer vanaand hier eet? Mevrou Hendricks …”

“Sê vir mevrou Hendricks dankie, ek sal graag.”

Diedericks is ’n goeie man, dink Theo op pad terug studeerkamer toe. Hy kan hom soms nie die lewe sonder Diedericks voorstel nie, en mevrou Hendricks. Hulle is soos die vader en moeder wat hy verloor het, soos Mieta en Abram van Jakkalspoort – getroue, onmisbare versorgers.

Net jammer hulle moet altyd alles weet wat met hom aangaan! Vanaand voel hy eensaam, meer nog omdat Peter so haastig was om by sy gesin uit te kom.

Byna outomaties skink hy vir hom ’n dubbele whiskey. Met die glas in sy hand, gaan sit hy in een van die uitskopstoele voor die televisie, sy bene lank uitgestrek. Dis stil, geen kindergelag nie, geen vrou wat hulle aanmoedig om betyds aan te trek vir die ysskaatsvertoning nie.

Dis laat, maar daar is nog lig buite. Hy kan die varingtakke van die broodbome sien. Dit krap aan die ruite soos lang groen vingers wat hom wil naderwink, uitnooi buitentoe. Wat sou die oeroue bome dink as hulle kon? Hoe voel hulle daaroor dat hulle hier in die beknopte vierkant van Theo Wessels se patio weg van hulle natuurlike habitat moet veg om moontlik ’n volgende honderd jaar te kan voortbestaan? Watse soort lewe voer hý, die een wat hulle gevange hou?

Theo grinnik: Hy is, nes hulle, bestem vir ’n leë, vervelige, stadig-sterwende bestaan.

Gisteraand het hy gelewe, vir ’n paar oomblikke die bloed in sy are voel bruis toe hy in haar oë gekyk het en iets meer as blote herkenning gesien het. Toegeneentheid? Miskien het hy hom verbeel. Vir al wat hy weet was die kyk vir Gunter Winterbach bedoel en dis toevallig dat hy in die pad gekom het. Dit sal hy moet aanvaar, dat sy en die bekende en berugte Gunter Winterbach saam was. Hulle is waarskynlik vanaand ook saam. Hy ken hom. Gunter werk vir hom, doen die regie van Goue dae. Hy is gereken in die bedryf. Hoewel bekend daarvoor dat hy tantrums gooi en soms vir maande nie werk nie, is hy bekwaam, sjarmant, pas geskei en verantwoordelik vir tientalle gebroke harte.

Jong aktrisetjies wat enigiets sal doen vir ’n hoofrol, getroude vroue wat op sy skouer huil oor onverskillige mans, sangeresse, danseresse, hoopvolle draaiboekskrywers, beginner-regisseurs en gevestigde professionele vroue, draai om een of ander rede om Gunter Winterbach. Theo weet – hy moes al ’n paar van daai hartjies heelmaak. Gunter is die gaafheid vanself tot hy verveeld raak, daarna steur hy hom min aan die gevolge. Hy was getroud toe dit begin het. Toe het dit hom die nodige selfvertroue gegee om sy vrou, die mediese spesialis, se meerdere te wees.

Marissa soek troos by die verkeerde man, maar sal sy hom glo as hy haar waarsku? Theo maak weer sy glas vol. Hy skakel die televisie aan. Daar is niks wat hom interesseer nie.

Helena Hugo Eerste Keur

Подняться наверх