Читать книгу Helena Hugo Eerste Keur - Helena Hugo - Страница 8

4

Оглавление

Tuis gee sy vir Prinses by die staldeur in die bekwame hande van Abram af. Dan draf sy om die huis, glip by die sydeur in en in die gang af. Sy maak haar kamerdeur agter haar toe, staan met haar rug teen die deur en haal ’n paar keer diep asem. Haar klere klou klammerig aan haar vas en sy voel warm en natgesweet. Dis so ongemaklik, sy stroop alles net daar van haar lyf af. Op pad kas toe om skoon klere uit te haal, steek sy voor die spieël vas. Wat het die verwaande man alles gesien?

Wel, daar is geen oorbodige vet aan haar nie, tog is die rondings van haar heupe en borste sag en vroulik. Oukei, sy het geen rede om haar te skaam nie. Hy was ook nie so naby nie en hy het haar seker net van agter af gesien. Sy het mos ingeduik toe hy praat. Of hoe? Wat maak dit saak, sy stel nie daarin belang om hom ooit weer te sien nie. Hy is waarskynlik ’n getroude man met ’n vet vroutjie en vier kinders, en dan waag hy dit om haar te tempteer. Maar wat ’n man! As sy weer verlief raak, hoop sy dis op een wat naastenby so is. Vreemd, sy verbeel haar sy onthou sy oë. Het sy voorheen al sulke grys oë met sulke digte swart wimpers gesien, ook die uitdrukking asof hy lus kry om vir alles wat hy sien, te lag?

Eyes I dare not meet in dreams …

Waar het sy dit gehoor? Waarskynlik by John, die skurk, seker weer probeer om haar te beïndruk met een van sy Shakespeare-agtige aanhalings. Nooit sy eie uitgedink nie, altyd met ’n ander man se kalwers geploeg. Hoekom dink sy nou aan hom? Verlang sy of het die onderonsie van netnou weer iets in haar wakker gemaak wat sy liefs wil onderdruk? Nee, hoe gouer sy haar gevoelens onder beheer kry en haar regruk, des te beter – voor haar ma uitvind sy was in die sinkdam en lastige vrae begin vra! Flink gooi sy haar kamerjapon oor, maak haar klere en toiletware bymekaar en draf in die gang af badkamer toe.

Sy het skaars die krane oopgedraai of iemand klop aan die deur en haar ma roep. “Marissa, is dit jy?”

“Wie anders?”

“Wanneer het jy teruggekom?”

“Nou net, Mamma. Ek is natgesweet van heeloggend se ry.”

“Ons kry ’n gas vir ete. Ek wil hê jy moet my help met die slaai. Die huis lyk treurig sonder blomme. Ek gaan rose pluk om ons tafel op te vrolik.”

Marissa kry ’n aardige gevoel. Almal wat vir hulle belangrik is, kuier op Poupan en haar ma sal nie praat van ’n gas as dit ’n bekende is nie. Kan dit wees? “Oukei … Wie is dit?” vra sy en probeer om doodgewoon te klink.

“Gannavlei se nuwe huurder. Maak gou, hoor!”

Huurder, nie huurders nie! Miskien het hy ’n vrou en kindertjies wat nog nie aangekom het nie. Maar wat nou? Sy kan maak of sy siek is, maar netnou laat val haar ma of pa iets oor die troue en hy begin uitvra, en kort voor lank weet hy net mooi als. Nie dat hy lank in die duister sal bly as hy en sy gesin hier intrek nie. Dis platteland, skinderstories versprei hier vinniger as enige ander plaag.

Marissa byt op haar tande en besluit sy sal maak of sy hom nog nooit voorheen gesien het nie. Sy gaan vriendelik wees met sy vet vroutjie, en terwyl die grootmense gesels, sal sy haar babaspeelgoed uit die mottegif gaan haal en die kindertjies vermaak.

Vasbeslote klim sy uit die bad, droog af, trek aan en ruim die badkamer op. In haar slaapkamer kies sy ’n kort wit rokkie en haar Indiese leersandale. Sy grimeer lig, blaas haar hare winddroog en spuit haar gunstelingparfuum aan. Staan nader aan die spieël. Nie ’n verkeerde merkie nie. Daar is selfs ’n blos op haar wange. Vir wie? Tog nie vir ’n ander vrou se man nie! Skielik voel sy skuldig. Dis wat sy doen, sukkel met ander vroue se mans! Met bewende hande, tel sy die kam op om haar hare te kam, gooi dit weer neer en maak dat sy van die spieël af wegkom kombuis toe.

Die slaaigoed lê op die tafel en wag. Sy tap ’n afspoelbak vol water, was die slaai, spoel die tamaties af, die seldery, soetrissie en komkommer. Daar is ook ’n botteltjie olywe, fetakaas en grasuie. Lyk of haar ma wil indruk maak. Aan die ander kant, elke gas wat op Jakkalspoort onthaal word, is ewe belangrik. Die assistent-stasiemeester wat leë melkkanne kom haal of die sprinkaanbeampte wat gif aflaai, word ewe deftig onthaal. Hier is min afleiding en gaste is altyd welkom. Gedwee begin sy die slaaiblare stukkend breek. ’n Deuntjie draal in haar kop, dis ’n lawwe ser-liedjie waarmee die koshuismans hulle snags wakker gesing het: “Ek wonder wat my hinder, daar’s onrus in my hart, of daar ’n bange vlinder … sag huiwer in sy smart.”

Dawie was nogal een van die voorsangers en aantreklik genoeg dat baie van die meisies haar beny het. Toe was alles perfek en kon hulle kastig treurige liedjies sing, vandag … Nee, sy wil nie nou weer aan Dawie en Mart dink nie, sy moet hulle uit haar kop sit. Dis dalk niks teen haar nuutste verleentheid nie. Hoe kyk sy die man in die oë sonder om te bloos? Kan sy op hom reken om diskreet te wees of het hy klaar sy mond verbygepraat?

Sy is besig om die komkommer in skyfies te sny toe die kombuis se sifdeur agter haar toeklap en sy haar pa se stem hoor, heel gemoedelik – en toe syne! Sy spits haar ore om te hoor of daar ’n vrou by is. Klink nie so nie. Haar pa en Theo Wessels verkeer heel gaaf met mekaar, byna soos ou vriende. Nou ja, hulle gaan bure wees en as hulle mekaar se geselskap geniet, laat dit so wees. Solank die Theo die ordentlikheid het om stil te bly oor die onderonsie wat hy met haar gedeel het, kan hulle gerus maar gesels.

“Marissa,” sê haar pa. “Het jou ma jou gesê ons het ’n gas vir ete?”

Ja, Pa, ek weet, wil sy uitroep, maar sy hou haar in en kap verwoed aan ’n selderystingel. Die mes maak diep kepies in die kapbord en mis haar vingers rakelings. Sy is bewus daarvan dat haar pa en Theo Wessels om die tafel stap sodat hulle haar in die oë kan kyk. Sy hou haarself besig, dié keer met ’n tamatie. Haar pa soen haar op haar wang. Nou moet sy opkyk.

Hy staan skuins agter hom, ’n lang man, nog langer as Flip. “Marissa, dis Theo Wessels, jou nuwe huurder.” Haar pa kyk trots van haar na Theo. “Dis my dogter Marissa. Gannavlei is haar plaas.”

Sy glimlag toe maar. “Aangename kennis,” sê sy, en hou haar hand met groentemes en al na hom toe uit.

Ewe kalm vat hy die mes by haar en sit dit op die tafel neer. Dan neem hy haar hand in syne en los dit nie. Sy ongelooflike grys oë is vol tergliggies. “Marissa? Het ons nie al ontmoet nie?”

Haar knieë knak en haar hart mis ’n slag. Gaan hy regtig die swak smaak openbaar om vanoggend se petalje op te rakel? Hoe sy dit regkry, weet sy nie, maar sy bly koel en kalm. “Meneer Wessels, ek dink jy maak ’n fout. Ek glo nie ons het mekaar al ooit gesien nie.”

Meneer Wessels glimlag soos ’n kat wat room gesteel het. “Ek is doodseker ek het jou iewers raakgeloop.”

Marissa kan iets oorkom van angs. Haar pa is besig om seker vir koue bier in die yskas rond te soek, en hy hoor hopelik min van die simpel gesprek. “Ek dink jy misgis jou, meneer Wessels.”

“Theo.”

“Ek het jou nog nooit voorheen met ’n oog gesien nie, Theo.”

Haar pa sit die biere op die tafel neer. “Marissa was een jaar Maties se karnavalkoningin. Miskien het jy haar foto iewers in die koerant gesien?”

Sy hou asem op.

“Dis wat ek netnou wou sê,” antwoord Theo Wessels tot haar verbasing. “Ek wou nie reguit vra nie en ek kan nie van jou verwag om almal te onthou nie, maar dis waar ek jou die eerste keer gesien het – die aand van jou kroning. Jy is vandag nog mooier as toe.”

Marissa wil haar vererg vir die twak wat hy kwytraak. Waar sou hy ewe skielik haar kroning kon bygewoon het? Sy maak die oorblyfsels van die slaaimakery met een vinnige veeg van haar hand bymekaar. “Jy is reg, daar was so baie mense, ek kan jou onmoontlik onthou. Wil Pappa nie vir Theo sitkamer toe neem nie? Dis koeler daar.”

Maar Theo Wessels het hom klaar op Flip se gunsteling-stoel tuisgemaak! “Die kombuis is vir my die koelste vertrek in die huis, ek bedoel die geselligste.”

Haar pa maak geen beswaar oor sy stoel nie. Hy gaan sit op die een regoor sy nuwe buurman, een van dié sonder armleunings. “Wat dink jy van organiese skape?” troef hy sy nuwe buurman.

“Ek dink dis ’n verkeerde woordkeuse. Skape is in elk geval organies.”

“Ek stem, maar ernstig nou …”

Marissa gryp die slaaibak en dra dit eetkamer toe.

Irma is besig om die rose wat sy gepluk het, in ’n langwerpige glasbak te rangskik. “Is jou pa al hier met die gas?” vra sy.

“Hulle sit in die kombuis en gesels soos ou vriende.”

“Goed so. Hy trek netnou in.”

“Hier? In ons huis?”

“In die gastekamer. Jy weet mos daar is nie ’n huis op Gannavlei nie.”

“Die laaste huurders het hul eie karavaan saamgebring, maar hý moet hiér slaap. Wat van die res van sy gesin?”

“Hy het nie ’n gesin nie en hy is nie getroud nie.”

“Ek is nie verbaas nie.”

“Hoe lyk dit my jy hou nie van hom nie?”

“Móét ek van hom hou?”

“Hy is aantreklik genoeg.”

“Mamma, ek stel nie belang nie.”

“Wees dan tog net vriendelik.”

“Hoekom het Mamma hom vir ete genooi?”

“Ek het nie, dis jou pa, en ek gee nie om nie. Dis vir my lekker om nou en dan geselskap van buite te hê. Die Wessels-man lyk my na ’n aangename soort mens.”

“Ek hou nie van hom nie.”

“Hoekom nie?”

“Hy … Hy’s opdringerig.”

“Net vriendelik, Marissa.”

“Ja, sit en gesels in die kombuis asof hy familie is.”

“Pla dit jou?”

“Ek hou nie daarvan dat mense vir my kyk terwyl ek slaai maak nie.”

Irma maak die roosstingels bymekaar. “Dek vir ons die wynglase en probeer tog net om beskaafd op te tree. Hy is ons gas, al hou jy nie van hom nie. Ek gaan vir Mieta aansê om die ete op te dra.”

“Asof ek vandag lus is vir geselskap.”

Dit was nie bedoel om gehoor te word nie, maar Irma se ore is gans te goed. Sy gaan staan in die eetkamer se oop deur: “Ons het ’n blaaskansie nodig. En wat is beter as iemand soos dié man wat niks van Dawie en Mart en als weet nie? Jammer dit is nou hy en hy is ongetroud en baie aantreklik. Verduur dit maar.”

Marissa wil nog kommentaar lewer, maar Irma is klaar uit. Toe loop sy maar na die drankkabinet, haal die rooiwynglase uit en soek ’n lapservet in die buffetlaai om dit daarmee blink te vryf. Sy is nog besig met die takie toe die res van die geselskap gevolg deur Mieta, wat die skaapboud op die skottel indra, die vertrek binnekom.

Haar pa sit aan die kop van die tafel, haar ma aan sy regterkant, sy aan sy linkerkant met Theo Wessels langs haar ma. Hoe gaan sy geëet kry met die man regoor haar? En wat gaan met haar aan dat hy haar so ontstig? Is dit sy verwysing na die karnavalkroning of die voorval by die Rooivlerk-kamp? Of net die feit dat hy hier is en sy een van die slegste tye in haar lewe beleef?

Hy gedra hom soos ’n ware heer en ’n goeie Christen, beaam selfs haar pa se tafelgebed met ’n respekvolle: “Amen”.

Haar pa sny die boud, hulle skep groente in en gee skottels aan, hy komplimenteer haar en haar ma met die maaltyd, noem dit ’n Sondagmaal in die middel van die week. Hy is ’n goeie geselser, sy antwoorde op haar ouers se vrae klink reguit en eerlik. Hy bly nie op sy plaas in Namibië nie, hy het ’n bekwame bestuurder en betroubare werkers. Hy woon en werk in Pretoria, dink al meer om die besigheid daar oor te gee aan sy vennote en plaas toe te trek. Oor boerderysake raak hy so geesdriftig dat dit vir Marissa naderhand voel of hy haar glad nie meer raaksien nie.

Sy moet keer om nie soms skelm na hom te loer nie. Hy is nou eenmaal deksels aantreklik met sy heldergrys oë, digte swart wimpers en swaar wenkbroue. Sy adellike neus en manlike mond is perfek, sy tande onberispelik goed versorg, sy glimlag innemend. Die hoë voorkop spreek van intelligensie, en sy haarstyl verleen aan hom ’n ouwêreldse sjarme. Onder sy denimhemp kan sy die spiere sien span. Hy het die manier om denkbeeldige lyne op die tafeldoek te trek wanneer hy een of ander saak wil verduidelik. Sy hande fassineer haar – skraal hande met slanke vingers en goed versorgde naels, tog manlik en sterk. Tot haar skande betrap sy haarself dat sy wonder hoe dit sal voel as hy haar sou liefkoos.

“Mooi is die rose,” hoor sy hom vaagweg. “Kweek u dit self?”

“Dis my liefhebbery,” lag Irma, “alles uit my eie tuin.”

“Pragtig, maar die mooiste roos sit aan tafel.”

Marissa kan haar oë nie glo nie, maar haar ma bloos! Haar pa, wat sy tweede porsie skaapboud takel, sien dit gelukkig nie. Die sjarmante gas streel met sy vingers oor die rose. Hy kies ’n wit knop met sagte pienk kartelrandjies, haal dit versigtig tussen die ander uit. “Vir jou,” sê hy en gee dit vir Marissa oor die tafel aan.

Wat kan sy anders doen? Sy vat dit, mompel selfs ’n dankie.

Die roos lê op haar broodbordjie en toe Mieta die borde afneem, gaan dit saam kombuis toe. Hulle eet malvapoeding en dik geel vla. Hy bedank hulle vir die heerlike ete en die gasvryheid, nooi hulle om op Steinheim te kom kuier sodra dit weer gereën het.

Hulle verskuif sitkamer toe vir koffie en kaas.

Marissa, wat onthou dat sy nog nie vir Leandra gebel het nie, bied aan om die koffie te gaan haal. “Ek wil nog gou vir Leandra bel voor dit te laat word,” sê sy vir haar ma wat haar probeer keer.

Op pad telefoon toe, gaan dit toevallig aan die lui. Niksvermoedend tel sy die gehoorstuk op. Dis tant Truida van Beershoek se begrafnisstem. “Marissatjie, tant Truida hier. Nou weet ek nie. Ek dink jy moet jou pa gaan roep. Ek bel hier van Poupan af. Oom Piet is ook hier.”

Tant Truida is die wyksouderling se vrou en omdat sy ’n verpleegsuster was, word sy gereeld ingeroep as daar siekte in die huis is. Wanneer oom Piet by is, is dit gewoonlik doodsake.

Daar is dood op Poupan! Marissa weet dit met ’n sekerheid wat haar bang maak.

“Wie is dit, tant Truida?” vra sy skaars hoorbaar.

“Gaan roep jou pa.”

“Kan tant Truida nie vir my sê nie?”

“Gaan roep jou pa,” kom dit onverbiddelik.

Marissa sit die gehoorstuk op die tafeltjie langs die telefoon neer. Sy stap sitkamer toe asof tant Truida haar opgewen het. In die deur bly sy staan, bang om die volgende tree te gee. Dis Theo Wessels wat eerste opkyk. Selfs op dié afstand kan sy voel dat sy blik haar regop hou. Die volgende oomblik spring al drie regop.

“Tant Truida … vir Pappa …” is al wat sy kan uitkry.

Haar pa frons. “Van waar af?”

“Poupan.”

“Het sy gesê wat aangaan?”

“Sy wil nie met my praat nie.”

Irma gee Flip ’n stampie in die rug. “Maak gou, voor sy die foon neersit. Marissa, bly hier. Ek sal die koffie gaan haal.”

Theo Wessels kom sit sy arm om haar skouers. Sy laat hom toe. Hy lei haar na die rusbank. “Kom sit,” sê hy. “Jy is so bleek soos ’n laken.” Sy hande rus liggies op haar skouers, hy kyk na haar met ’n ernstige uitdrukking op sy gesig. “Is daar siekte in die familie?” vra hy.

Sy skud haar kop. Hoe kan sy begin om vir hom te verduidelik?

Hy tree terug, maar kom sit dan langs haar, darem effens weg: “Ek wil nie inmeng nie.”

Sy haal haar skouers op, hou asem op om nie te huil nie. Op daardie oomblik hoor hulle vir Irma uitroep. “Nee!”

Marissa druk haar hande voor haar mond, voel hoe Theo haar nader trek, haar versigtig vashou. Irma se uitroep kan enigiets beteken, maar sy is seker dit het iets met Dawie te doen.

Haar pa verskyn in die deur. Sy skouers hang. “Dis ’n tragedie,” sê hy.

“Was daar ’n ongeluk?” vra Theo.

“Vriend, jy kan dit so noem. Marissa …”

“Praat reguit, Pa.”

“Dis lelik.”

“Wat, Pappa?”

“Dawie het Mart geskiet en daarna … Hy het homself om die lewe gebring.”

Marissa snak na asem. Sy gryp na haar kop en buig vooroor. Pyn skiet soos pyle deur haar hart, siel en liggaam. Iemand sit ’n hand op haar rug, vryf saggies.

“Mart leef,” las Irma by. “Oom Jan-hulle is op pad Kimberley toe met haar.”

Marissa se ore sing, haar kop draai, haar gedagtes haak vas by een woord – dood. Hy is dood, Dawie is dood. Sy huil bitterlik. Iemand gee vir haar ’n sakdoek aan. Dis nie haar pa nie. Sy snik in die sakdoek. “Alles … alles my skuld.”

Haar ma kom kniel voor haar. “Dit is nié jou skuld nie.”

Theo staan op, gee sy plek vir haar ma.

“Ek kon dit gekeer het.”

“Hy wou nie meer leef nie.”

“Ek het hom weggestuur.”

“Maande gelede al, Marissa. Hou op om jouself te verwyt.”

Haar ma vou haar arms vertroostend om haar, vaagweg hoor sy haar pa en Theo. “Die kêreltjie was soos ’n kind in ons huis. Gedag ek ken hom. Nooit so iets van hom verwag nie. Hy en Marissa was verloof, hulle sou trou.”

“Die ander meisie? Mart?”

“Sy nuwe verloofde, my broerskind, Marissa se niggie. Die huwelik sou oor twee weke plaasvind. Ek is jammer jy word nou ingesleep by ons familiesake.”

“Julle kan tog nie help nie, dis omstandighede, ’n slegte sameloop. Sê wat ek kan doen om te help. Enigiets.”

Marissa kyk op, sy lyk seker vreeslik met haar rooi gehuilde oë en sy sien dit in die uitdrukking op Theo Wessels se gesig. Hy is geskok, seker ook jammer vir haar. So what! Sy gee nie om wat hy van haar dink nie, hy kan walg ook as hy wil.

“Ag, my kind …” sê haar pa.

“Ek kan nie glo dat hy dit gedoen het nie!”

“Hy het en ons kan dit nie verander nie.”

“Ons moet Poupan toe of bel en hoor. Waar is sy pa-hulle?”

“Seker by die huis.”

“Miskien moet jy liewer nie saamkom nie. Laat ons eers uitvind presies wat die gevoel is.”

“Ek sal nie vir altyd kan wegbly nie. Ek moet …”

“Nie vandag nie.”

“Gaan julle,” val Theo Wessels in, “ek is hier as sy iemand nodig het.”

Irma streel Marissa se hare. “Jy is nie alleen nie. Mieta is ook hier.”

“Sal Mamma haar net vertel voor julle ry. Ek sien nie kans nie.”

“Natuurlik, maar ek dink sy weet reeds.”

“Ek gaan hoor waar die Nels is,” sê haar pa. “Netnou ry ons verniet Poupan toe.”

Marissa sidder. “Ek’s nou bly ek het nog nie vir Leandra gebel nie.”

“Ja, dít het ten minste uitgewerk,” sug haar ma.

“Het tant Truida niks verder gesê nie?”

“Dawie het skuins voor middagete daar aangekom, so twaalfuur se kant. Niemand het iets vreemds aan hom bemerk nie. Hy was haastig, dis glo al. Toe vat hy vir Mart en ry uit veld toe en dreig om haar dood te maak. Sy sê sy’t losgekom en weggehardloop, toe skiet hy haar in die skouer. Veewagters in die omgewing het die skote gehoor en gaan hulp soek. Laat ons hoop Mart oorleef die aanslag.”

“Jan en Martha is albei Kimberley toe, die Nels is Kalkputs toe,” kom kondig Flip aan. “Irma, is jy reg? Kan ons dadelik ry?”

Haar ma draai na haar, sit haar hande aan weerskante van haar gesig, kyk in haar oë. “Kan ek gaan? Is jy oukei?”

“Julle moet. Sê vir hulle, ek is … hartseer.”

“Nou huil jy weer. Flip …”

“Ek ry nie alleen nie en ek het nou vir Jan gesê ons is op pad.”

“Moenie bekommer nie,” paai die Wessels-man. “Gaan julle. Ek sal haar geselskap hou.”

Maar sy is nie lus vir sy geselskap nie. Sy spring op en loop kamer toe. Agter haar rug hoor sy hoe haar ma en pa namens haar om verskoning vra.

“Ek verstaan,” sê Theo Wessels, “ek sal haar nie pla nie.”

Sy stamp haar kamerdeur oop en gooi dit agter haar toe, sluit dit al sukkel sy met die sleutel. Daar is yswater in die kraffie op haar bedtafel, ’n ou gewoonte wat hulle hier het. Sy maak haar grimeertassie oop, haal ’n houer met hoofpynpille uit, skud ’n hopie van hulle in haar handpalm, sluk drie af. Oorweeg dit om die res ook te drink, maar bedink haar. Drie is seker genoeg. Toe val sy op die bed neer. Met die kussing in haar arms vasgedruk, raak sy huilend aan die slaap.

Helena Hugo Eerste Keur

Подняться наверх