Читать книгу Helena Hugo Eerste Keur - Helena Hugo - Страница 5

1

Оглавление

Drie jaar later

Mart sprei haar hande oor die pakkie. Haar naels is professioneel versorg, maar nie met goeie smaak nie. Dit is gans te lank en oorversier met prentjies en blinkertjies wat juis haar breë hande en dik vingers beklemtoon.

Marissa voel skuldig, want sy sukkel al heeloggend om opgewonde te raak oor haar niggie se nuwe klere, én die ontwerpernaels! Was dit nie vir die troue nie, sou sy dalk nog kon maak of sy daarvan hou. Nou wonder sy of Dawie dink dis mooi. Sy het nog nooit sulke naels oorweeg nie en hy trou met Mart wat nie weet waar om die streep te trek nie. Dis nie Marissa nie, dis haar vriendinne wat altyd sê hulle kan nie glo sy en Mart is niggies nie. Marissa is lank en skraal en so taai soos ’n ratel, haar niggie kort, plomp en moeg gebore. Sy boer buite, Mart kan nie uit die kombuis wegkom nie. Sy is universiteit toe om te leer, Mart om man te vang. Toe kom Mart tog maar bedroë huis toe.

Nou trou sy en Dawie en sy wat Marissa is, is een van die strooimeisies.

Sy kan nie help om seergemaak, jaloers, verkeerd en aaklig te voel nie, en sy durf dit nie wys nie. Sy “Oe!” en “Aah!” saam met die ander strooimeisies oor Mart se honeymoon-klere, terwyl sy elke oomblik verpes en liewer wil huis toe. Ongelukkig moet almal die hele naweek byderhand wees. Die tante wat die rokke maak, is tydsaam en wil boonop ’n geheelbeeld kry voor hulle finaal uitmekaar mag gaan.

Marissa kreun amper toe Elsie en Grieta ’n plesierige gilletjie los.

Mart is besig om die sneespapier om die volgende pièce de résistance oop te vou.

Elsie en Grieta is Mart en Marissa se niggies. Lizel en Sandy is Mart se beste skoolmaats en Adriana het saam met Mart in die apteek op die dorp gewerk voordat sy aan Dawie verloof geraak het. Van toe af werk sy nie meer nie, sy berei haar voor vir die troue van die jaar. Jan, Hannes en Kleinjan, drie van hul neefs wat na oupa Johannes vernoem is, gaan strooijonkers wees. Dawie se neef Dawid en sy broers Frans en Chris ook. Ses strooimeisies en ses strooijonkers. Hierdie troue gaan groot wees, ’n uitgebreide familiebyeenkoms, ’n regte egte Karoo-bruilof.

Die pakkie is oop, en almal giggel en gil.

“Haal uit! Wys!”

“Ons wil sien. Ons wil sien.”

“Wat is dit?”

Mart tuit haar mond en rol haar oë. “My Fifty Shades of Grey-outfit vir ons eerste nag. Ek maak julle dood as een van julle vir Dawie vertel.”

“Ag nee, Mart, wie sal nou?”

“Wat van jou?”

“Nie ek nie.”

“Sandy, ek praat nie met jou nie.”

“Marissa! Gaan jy Mart se planne vir haar eerste nag bederf?”

Almal kyk na haar. Sy dwing haarself om presies nes hulle te giggel. “Nee! Ek sal nooit! Ek en Dawie praat anyway nie meer met mekaar nie.”

“Van wanneer af?”

“Wel, vandat ek honneurs begin het.”

“Komaan, almal weet dat Dawie selfs dwarsdeur die winter nog Stellenbosch toe gery het.”

Grieta is ’n regte geitjie, maar Marissa kan nie stry nie, Dawie het haar ses maande gelede nog naweek vir naweek gepes. “Oukei,” gee sy toe. “Dit het my die hele winter geneem om hom te oortuig dat ek nie meer elke naweek plaas toe kom nie. ”

“Toe val jy vir Meneer Karnaval. Kom hy troue toe?”

“Daar is niks tussen my en Armand Joubert nie.”

“Julle is oral saam gesien.”

“Ons was verplig om die universiteit te verteenwoordig.”

“Dawie het nie daarvan gehou nie.”

“Ons het uitgemaak, ons is jare nie meer verloof nie.”

“Ter wille van Armand Joubert?”

“Hy trou oor twee weke met Chanté de Villiers.”

“Shame! Wil jy nie ook trou nie.”

“Ek sê mos nee! En nie met hom nie!”

“Oukei, moenie ’n aar bars nie.”

“Julle hou aan met moeilikheid soek.”

Elsie draai na haar. “Ons is maar net verbaas omdat jy en Dawie van skooltyd af uitgaan, toe breek jy die verlowing. Wat het jou besiel?”

Sy het benoud gevoel, vasgedruk, te gou gevang. Dis wat haar besiel het, maar sal hulle dit verstaan? “Los my nou,” sê sy, “dis Mart se dag.”

Mart kyk haar reg in die oë en nie juis vriendelik nie. “Jy wou Dawie vir ewig op sleeptou hou.”

“Miskien, maar Mart, ek gun jou jou geluk. As jy wil, sal ek selfs peetma wees vir julle eerste kind.”

Mart bloos bloedrooi. Haar oë skiet vol trane. “Ons sal sien,” sê sy en keer die trane met haar vingerpunte.

Die ander kweel in ’n koor: “Dit sal so nice wees!”

Elsie sit haar arm om Mart en gee haar ’n drukkie.

“Wys ons jou pajamas voor ons bars van nuuskierigheid,” terg Adriana.

“Is dit pajamas?”

“Ek dag Fifty Shades gaan in vir swepe en kettings.”

“Lyk dit vir jou of daar kettings in daai pakkie is?”

Die grappe is terug en Marissa kan weer asemhaal.

Mart lig ragfyn, blouerige chiffon uit die sneespapier.

“Sexy.” Adriana steek haar hand by die soom in om vir die ander te wys hoe dit deurskyn. “Nie gedink jy kan ook stout wees nie.”

“Nagrokke is nie my styl nie,” snip Grieta. “Gee my ’n T-shirt en ek’s happy.”

“Wat sê jou ouens van jou T-shirts?”

“Weet nie, ek’t dit nog nie op hulle getoets nie.”

“Wat my betref moet hy net iets hê om uit te trek en dan moet hy die lig afsit!”

“Móét hy die lig afsit?”

“Sê nou hy wil kyk?”

“Oh well, teen daai tyd worry jy seker nie meer oor jou foute nie.”

Mart vou die nagrok op. “Party mans soek sterk vroue.”

“Jou swepe en kettings, waar’s dit?”

“Dis Dawie se afdeling.”

Die gegiggel ken geen einde nie.

“Ernstig nou,” kom dit van Lizel se kant, “wat kos sulke speelgoed?”

Elsie tel ’n kantkamisool op, lees die prys op die kaartjie af en laat val dit op ’n hopie nylonbroekies. “Alles is so vrek duur, organise vir my ’n négligé-party in plaas van ’n kitchen tea.”

“Haai, Mart, ons kon vir jou ook!”

“Kan werk, maar ek moes hier en daar self aanpas.”

“XX-large vir my!” Adriana kry dit altyd reg om met haarself te spot.

“Stick around, julle kan nie glo hoe ek vir ’n nice swembroek gesoek het nie!”

Marissa wens die show wil ophou, maar dit gaan nie gebeur nie, want Mart is weer ten volle in beheer. Sy wys vir hulle haar nuwe swembroek en beduie hoe sy die verskeidenheid Indiese lappe om haar heupe gaan drapeer vir wanneer sy en Dawie op die strand is. Gewonder wat jy gaan doen om jou boude te verbloem, dink Marissa en skrik vir die venyn in haar hart. Is sy sowaar jaloers?

“Jy het darem mooi maer geword,” troos Lizel.

“My middeltjie is dun genoeg. Dis net die heupe. Ek kon dit nie afkry nie, dieet soos ek wil.”

“Ag, jong, dis ons kruis in die lewe – ouma Martha se heupe. Net Marissa het dit vrygespring, aard seker na haar ma. Marissa, was jy al ooit op dieet?”

“Ek eet wat ek wil.”

“Lucky you.”

“Ek glo jou nie.”

Marissa is nie lus om te stry nie. Sy eet wat sy wil, maar nie soveel soos hulle nie. Hulle laai hul borde met braaitjops en wors, aartappelslaai, drieboontjieslaai en penniewortels wat in die sous swem. Vieruur weer melktert by die koffie. Dan wil hulle maer wees? O, sy gaan hulle die waarheid vertel as sy ’n oomblik langer in hul geselskap vertoef. Uit, sy moet uit! “Sal julle my verskoon? Ek moet gou toilet toe.”

***

Marissa het skaars die kamerdeur agter haar toegetrek, toe raak die tonge los. “Shame, sy kan dit nie vat nie.”

“Vreemd dat sy ingestem het om vir jou te strooi.”

“Sy wil maak of sy nie omgee nie, dis hoekom.”

“Huil snags in haar kussing.”

“Waar hoor jy dit?”

“Dis net logies. Almal weet hoe sy en Dawie aan mekaar gehang het.”

“Altyd op die skoolgrond geloop en vry.”

“Saam Stellenbosch toe, seker die wêreld daar ook aan die brand gevry, till death do us part, en toe skop sy hom onder sy gat.”

“Wie sê hy het háár nie onder haar gat geskop nie!”

“Hy’t nie gras onder sy voete laat groei op pad na my toe nie!”

“Dat hy Marissa nie meer liefhet nie, is my pot sy deksel.”

“Hoekom sal hy met my wil trou as hy nog vir haar omgee?”

“Daar is iets soos … Ag, los dit.”

“Sê dit, Grieta, sê wat jy wil sê!”

“Niks, ons verander die onderwerp.”

“Jy het begin, maak nou klaar!”

Mart se stem styg hoër en harder. Sy is ontsteld en Marissa, wat staan en afluister by die deur, neem haar nie kwalik nie.

“Oukei, as jy dan wil hoor,” kom Grieta met haar antwoord. “Ek wou sê, dit het by my opgekom dat daar iets is soos ‘on the rebound’ – vir mans ook.”

“Jy is so … gemeen.”

“Haai, moenie jou goed so opbondel nie. Ons help jou om dit terug te pak.”

“Mart, moenie huil nie. Dis nie nodig om te huil nie.”

“Grieta het bedoel – mans in die algemeen, nie Dawie nie.”

“Julle weet niks … Niks.”

“Ag nee, julle ontstel haar.”

“Kom nou, Mart, jy het Dawie by Marissa afgevat. Dit wil gedoen wees!”

Marissa sluk die knop in haar keel en gee ’n groot tree van die deur af weg. As een van hulle nou moet uitkom en haar hier kom kry, so naby trane! Sy sal haar nie kan inhou nie, sy sal praat. Sy het Dawie weggestuur, sy het hom in Mart se arms ingejaag. Dis hoekom hy met haar gaan trou – “on the rebound”.

Wat maak sy hier? Sy moes nooit ingewillig het om ’n strooimeisie te wees nie. Sy behoort nie eens haar gesig op die troue te wys nie, en nou wil sy saam met Mart en Dawie voor die preekstoel staan. Dis gek, sy kan nie naby hom wees sonder om hom seer te maak nie, self ook seer te kry nie. Sy gaan haar onttrek en sy is seker Mart sal dit verwelkom.

Dankie tog, hy is nie in die omgewing nie.

Maar toe sy in die skemer gang afstap, loop sy haar teen hom vas. Dawie! Hy vang haar voordat sy kan keer, stoot haar in die rigting van die naaste oop deur, een van die baie kamers wat in die gang uitloop. Sy kan nie ’n geluid maak nie. Durf nie. Hy trek haar agter hom aan die kamer in, maak die deur toe. Draai die sleutel in die slot. “Hallo, Rissa.”

“Wat soek jy hier?”

“Kyk na my.”

Sy arms sluit om haar, bly om haar soos ’n staalharnas. Sy draai haar kop weg, maar hy dwing haar. “In my oë.”

“Nee, asseblief.”

“Jy het my lief.”

“Nee.”

Hy ruk en pluk aan haar, skud haar tot haar tande klap. “Word wakker, Rissa! Dis ek, jou One and Only. Onthou jy ons song?”

“Laat my gaan, ek smeek jou.”

“Sê eers dat jy my liefhet.”

“Jy staan op trou met Mart.”

“Ek het … jóú … lief.”

Hy sê dit so stadig, so verbete, dit maak haar bang. Sy wil mooi met hom praat, hom kalmeer, maar sy lippe is klaar op hare. Hy soen haar met ’n woede wat haar met doodsangs vul en tog bewus maak van sy pyn.

“Ek is jammer,” fluister sy, toe hy sy greep verslap en van haar af wegsteier.

Hy gaan sit op die bed, sy kop in sy hande. Sy skouers ruk. Hy huil. Dawie is nie die soort man wat huil nie. Hy word kwaad, soos netnou; hy vat wat hy kan kry, hy huil nie.

Sy gaan sit langs hom, haar hand op sy rug. “Wat is dit?”

“Ek moet met haar trou.”

“Móét?”

“Mart verwag my kind.”

Marissa proe die woord “kind” in haar mond, onthou hoe Mart gebloos het toe sy aangebied het om peetma te wees. So, dit het gebeur, met hom en Mart, nadat sy hom al die jare op sy plek kon hou, tot haar eie frustrasie ook. Is sy veronderstel om hulle jammer te kry of geluk te wens?

Tyd tik verby. Die laatmiddagson skyn spookagtig deur die kantgordyne, sif sag deur strepe stof tot op die dofgeblomde mat. Dawie draai na haar, raak met die agterkant van sy hand aan haar wang. “Dit moes óns kind gewees het.”

“Nou is dit egter júlle kind.”

Hy ruk hom op, raak opeens weer driftig. “Jou skuld.”

“Hoe kan dit my skuld wees?”

“Weet jy hoe ek gevoel het nadat jy my weggejaag het?”

“Ek het jou nie weggejaag nie.”

“Soos ’n hond … Toe kerjakker jy die wêreld vol saam met Meneer Karnaval. Moenie jou onskuldig hou nie, my ma het die koerantknipsels vir my aangedra. My kom wys hoe grênd jy saam met jou nuwe vriende pronk.”

“Ek het jou gesê hoe dit werk.”

“Almal wil die mooiste meisie op die kampus date. Lekker vir jou sonder ou doodgewone Dawid van die plaas. Ek kon jou netsowel vergesel het.”

“Dit was nie prakties moontlik nie, hoeveel keer moet ek dit nog verduidelik. Ek en Armand moes dit doen of ek en iemand wat nog op universteit is. Jy was afgestudeer.”

“Soos daai professor met wie jy die ding aangehad het.”

Marissa skrik. Niemand weet van haar en John nie. “Waar kom jy nou vandaan?”

“Ek het my spioene.”

“Ek wil niks meer hoor nie! En ek loop nou.”

Sy spring op, hy ook en hy gryp haar weer vas. “Waag dit om te loop voor ek vanmiddag met jou klaar is, dan vertel ek haar die troue is af.”

“En die kind?”

“Sy kan vir hom ’n ander pa gaan soek.”

“Jy is die pa en Mart is die ma van julle kind. Los hulle op die vlakte en ek verloor al my respek vir jou.”

“Nou toe nou, jy voel nog iets vir my – respek. Jy het respek vir my, maar jy respekteer nie my gevoelens nie.”

“Moet tog nie weer begin nie!”

“Ons het nog nooit opgehou nie!”

Hy ruk haar teen hom vas en gooi haar op die bed neer. Met sy hande om haar gewrigte hou hy haar arms bokant haar kop soos in die ou dae toe hulle mekaar nog liefgehad het, en tog nie. Want hy speel nie meer nie. Die glinstering in sy oë maak haar bang.

“Onthou jy hoe ons mekaar mal gemaak het?”

“Dawie, jy is verloof, jy gaan trou.”

“Ons was ook verloof.”

“Ek ken jou nie meer nie.”

“Jy is reg, ek weet nie wat met my aangaan nie. Help my, asseblief.”

Met ’n sug val hy op haar neer, druk haar dieper in die sagte matras. Nes in die ou dae versag sy gesigsuitdrukking, vou hy haar sagter in sy omhelsing toe, streel hy haar gesig en haar hare, haar nek, haar halslyn. Die ou passie sypel terug, sy ontspan en laat hom toe om haar te liefkoos. Hy snuffel met sy neus in haar nek. “Jy ruik nog soos jy altyd geruik het.”

Haar arms gaan om sy nek. “Dawie, ons mag nie.”

“Ek gaan van my kop af raak, ek kan nie met haar trou nie.”

Op daardie oomblik draai iemand aan die deurknop. Die strooimeisies praat in die gang. Een vra hoekom die deur nie wil oop nie. Dawie se gesig is so naby aan haar, sy kan die baard onder sy vel sien deurskyn. Sy hart klop teen hare. Hy soen haar met soveel teerheid, sy wil huil.

Iemand ruk aan die deurknop. Stemme meng soos wanklanke in ’n nagmerrie. “Gesluit.”

“Het jy die deur gesluit?”

“Hoekom sal ek die deur sluit?”

“Vra vir Grieta, sy slaap ook hier.”

“Wat nou, wat gaan aan?”

“Deur is gesluit.”

“Het jy dalk die sleutel?”

“Vir wat?”

“Om oop te sluit, stupid.”

Marissa voel sy vergaan.

Dawie fluister in haar oor. “Moenie worry nie, hulle sal nou-nou loop om die sleutel te soek.”

Sy wil wegkom, maar hy hou haar vas. Hy soen haar so hard sy kan nie asem kry nie.

“Snaaks!” sê Sandy. “Kyk hier. Die sleutel sit aan die binnekant.”

Hy lig sy kop, fluister teen haar wang. “Ek het jou lief tot in die dood.”

Iemand ratel aan die deur. “Kom uit!”

“Wie ook al daar binne is, kom nou dadelik uit.”

“Marissa? Is dit jy?”

“Hoor daar, hulle raai reg.” Dawie hou sy oor teen haar bors. “Jou hart, my hart.”

Sy kry hom jammer en vryf oor sy skouers. “Jy weet dis verkeerd. Hoekom doen jy dit?”

“Omdat …!” Hy kom so onverwags regop, sy skrik. “Ek kan nie meer omgee nie.”

Sonder om eers sy hemp in sy broek te steek, stap hy deur toe, draai die sleutel en gooi die deur wyd oop.

“Jy!” roep Grieta uit. “Well, I never.”

Hy staan in die oop deur en kyk by Grieta verby. “Dankie, Rissa, sien jou weer in ’n ander lewe.”

Sy het opgespring en die bed probeer regpluk, maar hulle vang haar nog so deurmekaar. Sy draai haar na hulle. “Dis nie wat julle dink nie.”

“Daai een het ek al gehoor.”

“Jy kan bly wees Mart is nie nou hier nie.”

Marissa trek haar klere reg, haar vingers deur haar hare. “Die een wat vir Mart vertel, vermoor ek!” sê sy en stap tussen hulle deur.

Toe sy wegstap hoor sy vir Elsie: “Ek het nie verniet gewonder hoe werk dit dat hy haar skielik nie meer liefhet nie.”

Helena Hugo Eerste Keur

Подняться наверх