Читать книгу Helena Hugo Eerste Keur - Helena Hugo - Страница 12

8

Оглавление

Toe Theo aan die voordeur van die De Wildts se gerestoureerde herehuis in Parktown klop, lyk hy uiterlik koel en kalm en onberispelik in sy duur aandpak. Hy het tot die slotsom gekom dat hy nie met Sylvia kan trou nie en het heelpad in die kar gesit en oefen aan hoe hy dit vir haar moet sê. Nou staan hy hier sonder die regte woorde met ’n bos dieprooi rose en die halssnoer wat hy as ’n Kersgeskenk bedoel het.

Doris maak die deur oop. Sy groet styf, vat die ruiker en neem hom na die ontvangskamer. Dit amuseer hom. Hy kuier al jare by Sylvia en word steeds deur Doris verwelkom, na “ontvangs” geneem en aangesê om solank te sit, juffrou De Wildt is netnou hier.

Hy sit nie, hy bly in die middel van die vertrek staan, sy hand in sy sak om die boksie met die kosbare halssnoer; een volmaak geslypte diamant van 2.46 karaat wat aan ’n platinum-ketting hang. Die huis is onnatuurlik stil. Mom en Dad is duidelik reeds uit. Die antieke staanhorlosie tik die minute af, dit wys vyf-en-twintig voor agt. Verweg hoor hy ’n deur klap, ’n ruk later die geritsel van satyn. Hy wag geduldig, sy rug na die deur.

Sylvia hou van speletjies. Hy moet haar haar sin gee, veral vanaand. Saam met die geritsel kom die bedwelmende reuk van Dior se J’Adore, glo vir sjiek en gesofistikeerde vroue, aan haar altyd ’n titseltjie te veel. Dis wat hom na haar toe aangetrek het, die oordadigheid wat haar warmbloedigheid verraai; een eienskap wat geen afrondingskool kon temper nie.

Sy kom staan agter hom, sit haar hande voor sy oë, druk haar wang teen sy slaap. Sy liggaam reageer onwillekeurig. Hy draai om, neem haar hande in syne. Al kan hy haar nie meer verdra nie, bly sy nog begeerlik met haar koeltes wat so maklik vuurwarm kan word; haar stralende glimlag, donkerrooi geverfde lippe, hare glad en blink geborsel, volmaakte lyf gegiet in ’n vollengte, styfpassende aandrok. Om haar nek pryk die skepping van ’n bekende goudsmid. Sy diamant-halssnoer sal moet wag tot later.

“Jy’s pragtig,” sê hy en bedoel dit.

Sy is beeldskoon op haar harde manier en sy het genoeg geld om haar hele lewe lank so goed te kan lyk. “Dankie, my darling. As ek jou soen, besmeer ek jou met my lipstiffie, maar ek voel lus en vreet jou op.” Sy streel met die agterkante van haar lang naels oor sy slape. “Ek het só na jou verlang, ek is lus en skip die opera, bestel vir ons ’n pizza en ’n bottel rooiwyn, dan speel ons heelaand met mekaar. Doris het vroeg af, Mom en Dad is saam met oom Uncle. Ons kan doen net wat ons wil.” Sy vlei haarself teen hom aan, haar arms om sy nek. “Love you, need you, missed you.”

Theo kry lus en skeur haar rok van haar lyf af, maar Doris beweeg soos ’n skim by die oop deur verby en hy keer homself, vat Sylvia se arms by die gewrigte vas. Vreemd dat hulle vanaand so eenders voel! Albei lus vir pizza en wyn, albei lus om die reëls te breek, weg te kom uit die kring waarin hulle skaars kan beweeg. Bog, sy bedoel nie ’n woord wat sy sê nie.

“Alas!” sug sy dan en bevestig sy vermoede. “Duty calls, and we are off to the opera.”

Sy stap voor hom uit, die swaai van haar heupe ’n lus vir die oog. Doris staan en wag met ’n deursigtige aandjakkie. Theo neem dit by haar en drapeer dit oor Sylvia se kaal skouers.

Hy is nie lus vir gesels nie, veral nie om lastige vrae te beantwoord nie, en laat glip ’n CD in die speler.

By die skouburg wag die persfotograwe hulle in. Hulle staan styf langs mekaar, glimlag vir die kameras, op die oog af stralend gelukkig. Sylvia hang aan sy arm. Hulle groet bekendes links en regs. Hulle is net betyds, want die klokke lui alte dringend, oor en oor dieselfde deuntjie. Die voorportaal is vol malende mense, almal haastig op pad na hul bespreekte sitplekke. Hy en Sylvia kies die bekende paadjie na die De Wildts se losie.

Dis toe dat hy die meisie van sy drome weer sien. Hy vang net die beweging van haar skouers, die vag goue hare, ’n flitsgedagte in ’n droom. Marissa! Maar dan is sy skielik weg.

***

Die televisie-regisseur is ’n aantreklike, frisgeboude man in sy veertigs. Hy het rooi hare en groen oë. Sy gesig en hande is oortrek met roeserige sproete. Hy lag maklik en gesels net so maklik.

Marissa probeer hard om gaaf te wees, maar haar gedagtes dwaal. Diana neem in elk geval die voortou met eindelose skinderstories oor mense wat sy nie ken nie. Die fotograaf Vernon Palmer is so Afrikaans soos boerewors en biltong. Hy kry dit wonder bo wonder reg om Diana soms in die rede te val. Dit klink vir Marissa of die “bedryf”, so verwys hulle na die film- en TV-wêreld, ’n onuitputlike bron van skinderstories het. Die mense van die “bedryf” is blykbaar almal boheems of bloot net anders. Hul aweregse maniere word verskoon omdat hulle ware kunstenaars is en alles wat hulle doen tog maar larger than life is. Sy verwonder haar dus daaraan dat Gunter Winterbach en Vernon Palmer redelik normaal optree, hoewel hul aandpakke nie so konvensioneel is nie. Gunter dra ’n los baadjie van skitterende groen- en goudlamé, Vernon, ’n wyemou-syhemp, silwer kettings en ’n silwer serp om sy nek. Sy swart krulhare staan woes om sy kop en sy stoppelbaard is net ’n titsel te lank om in die mode te wees. “Ek laat groei,” maak hy verskoning.

Diana streel liefderik oor die stoppels en staan op haar tone om sy wange te soen.

Die twee is so ooglopend verlief dat Marissa en Gunter noodgedwonge ook by mekaar inhaak. Gunter sit sy hand op hare en Marissa voel sy teerheid aan. Hy lyk vir haar na ’n sagte soort mens en so bedagsaam ook, sy kan nie dink hoekom sy vrou hom gelos het nie. Kon hulle nie iets gereël het wat hulle werk betref nie? Maar dit was dalk nie al wat gehaper het nie, daar is baie misverstande wat verhoudings verongeluk. Sonder dat sy wil, dink sy aan Dawie en die sinlose daad wat hy gepleeg het. Wat het met hom verkeerd gegaan? Hy was tog nie ’n moorddadige mens nie of was hy? Was dit haar skuld? Het sy hom gedryf?

Die orkes stem hul instrumente, die laaste toeskouers neem hul plekke in. ’n Gevoel van afwagting vul die lug. “Jy lyk bekommerd,” sê Gunter hier langs haar.

Sy kyk na hom, in die skemer lyk hý bekommerd. “Hoekom vra jy?”

“Daar is iets wat jou pla.”

Sy kan voel sy bloos. “Jy is oplettend.”

“Ek is opgelei om emosies te ontleed.”

“Dalk is jy reg, dalk is ek bekommerd.”

Hy vat haar hand, druk dit een oomblik teen sy mond en los dit dan. Sy sou op sy skouer kon huil, maar liewer nie. “Die ouverture begin,” fluister hy in haar oor en dis skielik so dubbelsinnig.

Die dirigent lig sy stokkie. Die gehoor raak stil en spoedig vul die bekende musiek van Puccini se Madama Butterfly die konsertsaal. Die tragiese storie maak Marissa so neerslagtig sy moet keer om nie in trane uit te bars nie. Gelukkig maak Gunter ’n opmerking oor Pinkerton wat van noot af is en dwing haar terug tot die werklikheid. Dis nie ’n ware verhaal nie, betig sy haarself. Ruk jou reg voor jy skande maak in die geselskap.

Met die wegsterf van die neuriekoor, wanneer die skaduwees finaal oor die eensame, wagtende figuurtjie van Butterfly val, gee Marissa oor en keer nie meer haar trane nie. Waarom is liefde dikwels so tevergeefs?

Gelukkig bly die ligte ’n rukkie lank verdoof en sy kan gou ’n snesie uithaal en haar trane afvee. Gunter gee haar arm ’n bemoedigende drukkie. Sy merk op dat sy nie die enigste een is wat met betraande oë sukkel nie. Die meeste mense, veral vroue, sit met sakdoekies en snesies. Toe die ligte aangaan, sê Diana kliphard. “Ag nee, nou kan almal sien ek het gehuil!”

Vernon sit sy arms om haar en belowe dat hy nooit so met haar sal maak nie. “Jy met al jou meisies!” verwyt Diana kastig.

“Maar jy is my beste!” verklaar Vernon so hartstogtelik, almal in die omtrek lag.

Marissa gaan saam met Diana kleedkamer toe, terwyl Gunter en Vernon belowe om by die verversingstoonbank vir hulle te wag. Daar is ’n lang tou by die damestoilette. Die vroue gesels gedemp terwyl hulle wag.

“Treurig, nè?” vra Diana.

“Nie juis goed vir my gemoed nie,” sug Marissa.

Diana sit haar arms om haar en gee haar ’n susterlike drukkie. “Wat jy nodig het, is ’n lekker ou comedy. Ons kan môre sonder die mans gaan fliek. Wat dink jy van hom?”

“Gunter?”

“Wie anders?”

“Ek hou van hom,” gee Marissa toe.

Sy is bly toe die deur reg voor haar oopgaan en sy niks verder hoef te sê nie. Sy hou nie daarvan om persoonlike sake in die openbaar te bespreek nie en netnou begin Diana weer oor Dawie en Mart ook. Sy is seker almal sal stil raak en hul ore spits.

Toe sy uitkom, staan Diana voor die spieël haar grimering en opknap. Daar is net plek langs haar oop en Marissa moet daar inval. “Moenie nou kyk nie,” fluister Diana uit die hoek van haar mond. “Sylvia de Wildt staan agter jou. As sy hier is, is Theo ook hier.”

Marissa se keel trek toe. Dit ook nog! Sy probeer in die spieël kyk of sy die vrou sien, maar sy kan haar nie behoorlik in haar gesigsveld kry nie.

“Daar loop sy nou. Regs, kyk regs!” Diana gee haar ’n ligte stampie.

Sy kyk verstom na die slanke dame wat lyk of sy deur se kant toe sweef. Sylvia is gesofistikeerd, ouer, ryker en maerder as sy. As dit die soort vrou is wat Theo Wessels verkies, moet sy maar weet dat hy besig is om speletjies met haar te speel. Sylvia loop oor van selfvertroue. Iemand groet haar. Sy knik neerbuigend. Die goud om haar nek flits vir oulaas, en dan is sy weg.

“Wat dink jy van haar jy?” vra Diana toe hulle uitstap.

“Sjiek en smart. Pas seker by hom.”

“Ek dink nie so nie. Hy is ’n mens met ’n hart, sy is pure show. Nooit ’n haar uit plek nie. Hy kan nogal uitrafel as hy ’n slag van haar kan wegkom.”

“Ek dag jy sê hulle is van plan om te trou. Hoekom?”

“Geld,” sê Diana en knip haar aandsakkie toe. “Geld soek geld. Hy is een van die rykste los mans in Gauteng en sy een van die rykste los vroue. Hoekom sal hulle nie connect nie?”

“So, dis vir geld, nie liefde nie?”

“Vriendin, jy moet dat ek jou vertel hoe vals …”

“Nie hier nie!”

“Ag, almal weet. Kom, daar’s ons partners.”

Marissa loop langs Diana, sit een voet voor die ander sonder om eens te kyk waar Gunter en Vernon hulle bevind. Sy soek rond na Theo, al sien sy hom net van ver af, of beter – dalk sien hy háár aan Gunter Winterbach se sy. Gunter is aantreklik en bekend in kunskringe, so ook Vernon. Om nie te praat van Diana met haar pienk hare nie! Hulle trek almal se aandag.

“Daar’s jou man,” sê Diana op haar onbeskaamde manier en wys reguit na Gunter.

Hy staan haar en inwag met die glas appelsap wat sy bestel het. “Reg vir jou?” vra hy.

Sy neem ’n slukkie. “Perfek.”

Die lagplooitjies om sy oë trek saam. “Nie so perfek soos jy nie.”

“Dankie! Vir die sap ook.” Eintlik hou sy van hom en is bly hy is haar metgesel.

Vernon kom maak hom tuis tussen haar en Diana. Hy slaan sy arms om hulle. “Ook maar goed dis nou pouse, anders het die tissues opgeraak,” terg hy. “Wat dink jy, Gunter? Jy is die kenner.”

“Oor die opera of die performance?”

“Albei.”

“Die storie en die musiek is briljant. Die ingevoerde tenoor kom nie die mas op nie. Butterfly is pragtig. Sy kan sing.”

“So treurig,” sug Diana. “Ag, al my verlore liefdes …”

Vernon kyk om hom rond. “Waar is Vernon Palmer? Het iemand vir Vernon Palmer gesien?”

“Hier! Hy is nog hier!” gil Diana en gooi haar arms om hom.

Gunter lag en druk Marissa teen hom vas. Hy voel so sag soos ’n teddiebeer, ’n ligrooi teddie met sulke gretige groen ogies.

Die klokke begin lui om die einde van die pouse aan te kondig en sy het nog nie al haar sap gedrink nie. Gunter neem die glas by haar oor en maak dit met een teug leeg. “Kom, my skat, ek vat jou sitplek toe.” Hy stuur haar in die rigting van hul ingang. “Ek moet gou ’n draai loop.”

“Gaan, ek sal oukei wees.”

“Jy seker?”

En op daardie intieme noot kyk Marissa op, reg in twee onpeilbare grys oë. Theo, met Sylvia aan sy arm, loop teen hulle verby. Hy kyk na haar en maak of hy haar nie ken nie! Maar miskien het hy haar nie herken nie, miskien is hulle te vinnig by mekaar verby. Sy was lanklaas so verward.

Diana sluit by haar aan en hulle stap saam na hul sitplekke. “Lyk of jy en Gunter regkom?” vra sy toe hulle sit.

“Hy’s gaaf.”

“Vernon sê my hy is mal oor jou.”

“Hy ken my nie eens nie.”

“Daar is so iets soos love at first sight.”

“Sjuut,” keer Marissa toe die vrou voor hulle haar kop draai asof sy luister.

Diana sit haar vinger voor haar mond en hou dit daar tot Vernon langs haar inskuif en sy sy hand vat. Die orkes stem hul instrumente en die mense gesels opgewonde. Marissa dink aan die eerste keer dat sy in Theo se oë gekyk het – by die kroning, toe hy haar met sy sjarme gevang het.

“Eyes I dare not meet in dreams.” Dis hy wat dit gesê het.

Vanmiddag, toe Diana haar aan daardie aand herinner het, is sy woorde soos neonligte in haar geheue aangeskakel en het sy goed onthou hoe hy na haar gekyk het. Haar oë is haar beste bate, soms blou, soms amper pers. Maar wat van syne? Die tweede keer dat sy in sy oë gekyk het, was in die sinkdam op Gannavlei terwyl sy water trap en haar verstom oor die kleur.

Sy is verlief op Theo Wessels, hopeloos verlief!

Gunter daag net betyds op. Hy het sjokolade gekoop wat hy vir haar aanbied. Die musiek begin en die gordyne gaan oop. Die storie op die verhoog stuur af op die onafwendbare einde. Nie lank nie of sy veg weer teen haar trane. Hoe kan sy aan liefde dink nadat sy Dawie se dood veroorsaak het? Sy is niks beter as luitenant Pinkerton nie.

Op die swaard waarmee Butterfly selfdood pleeg, staan geskryf: To die with honour when one can no longer live with honour. Is dit wat in Dawie se kop aangegaan het?

***

Theo wens hy kan huis toe ry en sy sorge verdrink. Wat soek Marissa in die geselskap van Gunter Winterbach? Dit lyk boonop of hulle ou bekendes is. Seker vanselfsprekend aangesien sy en Diana vriendinne is. Hulle het natuurlik afgespreek om mekaar vanaand te ontmoet en hy gaan maak so ’n gek van homself om te dink Marissa het sy ondersteuning nodig. Hoekom het Diana hom nie ingelig nie? En vanaand … Sy is so ongelooflik mooi, hy kon nie help om om te kyk nie. Toe is sy besig om in Gunter se oor te fluister. Gek! Sy het ’n gek van hom gemaak en hy hou nie daarvan nie.

“Ek wens ons kan reguit huis toe gaan,” sê hy vir Sylvia toe hy die deur van die Maserati vir haar oopmaak.

“Oom Uncle onterf my as ons nie vanaand daar opdaag nie.”

Sy klim in. Die spleet aan die kant van haar rok gaan oop en haar been wys tot by haar heup. Hy buk oor, streel van haar enkel af boontoe. Sy hand verwarm oor die sygladde koelheid van haar vel.

“Nie hier nie, my darling.” keer sy. “Later …”

Oukei, dink hy, dalk help dit om my teleurstelling in Marissa du Plessis te versag. Hy gooi die deur toe en loop flink om na sy plek agter die stuurwiel.

“Is jy kwaad?” vra sy toe hy sy deur toeklap en die motor aanskakel.

“Nee, gefrustreerd.”

“Moenie alleen voel nie. Me too.”

Hy sit die CD-speler aan om verdere gesprek te vermy, probeer sy moerigheid oor die Marissa-meisie onder beheer kry, ry soos van hom vereis word reguit na oom Uncle se drieverdiepingkasteel in Houghton. Die ou skelm regeer die onderwêreld van korrupte sake met soveel sluheid, niemand durf in sy swart boekie beland nie. Vriend en vyand sal hom vanaand omring asof hy die begin en einde van hulle bestaan is, wat nie onmoontlik is nie aangesien hy baie toutjies in sy pofferhande hou en dit kan trek soos hy wil.

Ek is ook een van sy marionette, dink Theo, en ek hou nie daarvan nie. Hy pers sy lippe op mekaar. Maar dis die soort lewe wat ek gesoek het, dink hy, en een wat ek so maklik soos my luukse motors beheer. Sy Maserati, wat hy met sy pinkie kan bestuur, seil soos ’n droomskip oor hobbels en gate in die pad. Die klankstelsel is van die heel beste en die musiek is só suiwer. Wanneer hy sy oë toemaak, kan hy hom verbeel hy is terug in die konsertsaal en hoor die uitvoering eerstehands.

Musiek was destyds so deel van hul huishouding. Sy musikale susters het klavier en viool gespeel, hy nogal altviool. Hy was nie so geduldig met die lang oefentye nie, maar die musiek in hul huis het hom altyd kalmeer, soos nou ook. Dit, glo hy, is die rede waarom hy tot hiertoe die lewe wat hy gekies het, kan leef. Hy het musiek, ander luukshede ook. Vanaand of môreoggend, wanneer hy tuiskom, duik hy in sy swembad en raak ontslae van elke stukkie stres wat in sy liggaam opgebou het. Hy is in beheer. Waarom sal hy toelaat dat ’n plattelandse meisietjie soos Marissa du Plessis hom ontstig? Hy sal haar nog vasvat, maar nie vanaand nie. Vanaand is dit eers oom Uncle, en dan Sylvia.

Met die aankomslag by die kasteel, besef hy weer hoeveel mag die ou skurk oor sy volgelinge het. Motors staan bankvas reg om die blok geparkeer, maar Theo huiwer nie om na die hoofhek te ry nie. Hy word deur die hekwag deurgewuif en by die voordeur deur ’n lakei ontvang wat hom verseker dat hy weet hoe om ’n Maserati te parkeer. Theo het in die verlede daarop aangedring om self sy kosbaarste motors te parkeer, maar die mannetjie lyk vir hom bekwaam en hy oorhandig sy sleutels. Met die wegstap besef hy dat dit een van sy gewese renjaervriende is. Scotty was sy naam, sy van ontgaan hom. Hy onthou dat die kêrel omtrent uitgeroei is deur slegte skuld en enige werkie doen om kos op die tafel te sit. Skielik voel hy skuldig oor sy eie lewenstyl, die blink bestaan en die oorvloed wat vir gewone mense deur televisie en sosiale media opgedis en afgeshow word. En die fotograwe wag hulle weer eens in. Hy en Sylvia moet aan weerskante van oom Uncle poseer; ’n glimlaggende, drank-benewelde oom Uncle in sy luukse rystoel met sy verpleërs in aandpakke in die agtergrond gereed om enige aanval of toeval onmiddellik te hanteer. Hy gryp na hul hande met sy koue kloue en verklaar trots: “Om julle jongmense vanaand by my te hê, is net so goed soos om weer te kan loop!”

Joviaal bestel hy nog sjampanje en wend hom tot die volgende groepie aanhangers.

Dis reeds byna elfuur in die nag, maar dis asof almal nou eers opgestaan het. Vriende en vyande in die sakewêreld, meng met ander genooides: Die premier en sy aanvallige vroutjie, ook die nuwe burgemeester van Johannesburg, sangers van die einste Madama Butterfly, TV-sepiesterre, ’n hoogaangeskrewe kunstenaar en sy model, die skryfster van ’n seksboek en haar vriendin. Mense van alle rasse en tale met een bindende faktor – geld. Hulle eet kreef en kaviaar, gesels, lag en loer onderlangs na mekaar. Die Russiese kwartet spéél, die drank vloei en oom Uncle bulder kort-kort uit sy hoek waar die slimste gaste saamkoek.

“Wanneer verras jy en Sylvia ons?” vra Dewald de Wildt toe Theo ’n drankie vir die ouer man, sy aanstaande skoonpa, aangee.

“Watse verrassing?” hou hy hom dom.

“Julle moenie die troue langer uitstel nie. Dit lyk sleg.”

Dewald sluk sy glas met een teug leeg en hou dit weer na Theo toe uit.

Hy verafsku die man, groot en uitgevreet, te ryk vir sy eie beswil. Om te dink hy sal hom “Pa” moet noem – die man wat in der ewigheid nooit in sy eie oorlede pa se skoene sal kan staan nie! Theo kry die onuitspreekbare begeerte om vir Dewald de Wildt die waarheid te vertel, maar hy sluk sy woorde en belowe om met Sylvia te praat.

“Doen dit ordentlik en maak julle gesaamslapery wettig.”

Theo kyk om hom rond, maar dit lyk nie of iemand gehoor het nie. Dis nie asof ou Dewald self so onskuldig is nie. Sy affairs het al hofsake veroorsaak, hoewel Sylvia se ma, Irene, hom telkens terugneem en haar eie affairs meer diskreet hanteer. Ons volg net jou en Irene se mooi voorbeeld, wil hy sê, maar die ou man spring hom voor.

“Ek wil my kleinkinders sien voor ek afklok,” sê hy. “As jy te vrotsig is, beter Sylvia begin rondkyk vir iemand anders. Tommy Duckworth lyk my na ’n man met ambisie. Ek hou van sy geld – nie van hom nie. Jy’s ons man, ou Theo.”

’n Kelner kom verby met ’n skinkbord vol bestellings; bonkige glase gevul met whiskey op ys. Dewald gryp vir hom een. “U kan vir u bestel,” waag die kelner dit en word so blitsig uitgeskel dat hy vinnig wegdraf.

As jou liggaam al die drank kan verwerk, gee ek jou nog vyf jaar op die uiterste, dink Theo. Kanse is goed dat ek nie eendag jou skoonseun sal wees nie. Hy voel eerder verlig as beledig toe Dewald hom sonder waarskuwing los en op een van sy ou sakevyande afpyl.

Die partytjie hou aan en aan en dis byna dagbreek toe Sylvia eindelik die deur van haar tuinwoonstel oopsluit. “Nou wil ek net slaap,” sê sy en skop haar skoene in die portaal uit.

Theo se aandpak wurg hom en hy raak stuk-stuk daarvan ontslae. Sylvia het sleg uitgerafel. Haar hare is deurmekaar en haar grimering het deur die loop van die lang nag heeltemal verbleik. Dit tref hom dat sy sonder grimering ietwat alledaags lyk, anders as Marissa wat papnat en met geen grimering aan nog beeldskoon is. Verdomp, moet hy nou weer aan haar dink.

Sylvia loop voor hom uit kamer toe. Sy val op die bed neer, rok en al. Hy gaan lê langs haar, lig haar hare van haar nek af en skuur sy lippe sag oor haar skouers. “Jy kan nie met hierdie harnas aan slaap nie.”

Hy maak die knip van haar goue halssnoer los, haal dit versigtig af en sit dit op haar bedkassie neer. Sy sug ’n “thanks” en bly lê terwyl hy die rits van haar rok aftrek. Hy streel haar kaal rug, so volmaak, ook die oulike boudjies in die swart kantbroekie. Behendig stroop hy die broekie af en keer haar om sodat hy haar in die oë kan kyk. Sy giggel vaak. Klein korreltjies maskara klou hier en daar nog hardnekkig aan haar lang wimpers. So sou ek haar kon liefhê, dink hy terwyl hy op sy kant van die bed gaan lê. Die moegheid stroom uit sy lyf en maak plek vir begeerte. Hy leun oor na haar, sit sy hand op haar een bors, streel dit, volg die ronding tot dit voel of die sagtheid fermer word. Sy sug behaaglik, maar draai haar rug op hom. “Tomorrow … my darling. Let me sleep …”

Hy antwoord nie, rol van haar af weg en dink by homself: Môre is ek weg.

Sy haal ritmies asem, soos iemand wat slaap of kastig slaap.

Die drifte wat haar nakende lyf in hom opgewek het, bedaar geleidelik. Toe sy begin snork, staan hy stilletjies op en sluip badkamer toe. Daar vertoef hy seker vir vyftien of twintig minute lank onder die stort. In sy oornagtassie kry hy ’n slenterbroek en hemp. Hy trek dit aan, gaan sit in die sitkamer en steek ’n sigaret aan. Die gordyne is oopgetrek. Hy rook en kyk hoe die grys lug geleidelik ligter raak. ’n Swerm voëls vlieg uit een van die groot bome in die straat. Hy steek nog ’n sigaret aan, seker die sesde vandat hulle by oom Uncle se huis ingestap het, dít nadat hy maande gelede opgegee het.

Soos ek vandag vir Sylvia gaan opgee, dink hy, dalk net om haar ná ’n week of wat weer terug te vat. Ingedagte trek hy aan die sigaret. Hy het haar nog nooit liefgehad nie. Haar lyf kon hy geniet, haar geselskap soms, maar vir Sylvia as mens … En hulle staan op trou? Sal hy ’n leeftyd met haar kan deel sonder om te wonder of hy nie ware liefde by iemand anders kon vind nie? Marissa du Plessis miskien? Maar Sylvia sal nie maklik bes gee nie, daarvan is hy seker. As sy van Marissa weet, sal sy baklei soos ’n wildekat. Sy doen dit met elke ander vrou wat net naby hom kom. Doen sy dit omdat sy hom liefhet of omdat sy die De Wildt-erfenis beskerm?

Die dagbreek glimmer rooierig toe hy die soveelste sigaret dooddruk en op die bank in die sitkamer aan die slaap raak.

Helena Hugo Eerste Keur

Подняться наверх