Читать книгу Helena Hugo Tweede Keur - Helena Hugo - Страница 10
7
ОглавлениеToe sy die volgende oggend wakker skrik, lê al haar kussings op die grond. Haar bene voel soos dooie stompe met sluimerende perdebyneste daarbinne. Sy beweeg haar voete op en af en links en regs om die lewe weer terug te kry. Wat maak sy as sy vandag glad nie kan opstaan nie? Iets gebeur wel, want dit steek soos naalde onder haar vel. Sy lig haar regtervoet ’n klein entjie en krul haar tone. Dieselfde met die linkerbeen.
Haar ma bring ontbyt en pak weer kussings agter haar rug in sodat sy gemaklik regop kan sit.
“Is jy seker Walter moet jou kom haal?”
“Hy wil graag,” sê Magriet vroom.
“Wel, hy het gebel om te sê jy moenie bekommer nie, hy sal miskien ’n paar minute laat wees, maar hy is op pad. Ek en jou pa is beskikbaar.”
“Nee, laat hom sy deel doen.”
“Al gaan hy laat wees?”
“As hy langer as tien minute laat is, ry ons.”
Haar ma help haar om te stort en haar hare te was. Hulle moet vroeg begin, want dit neem lank – en dis ’n proses wat liefs nie verfilm moet word nie.
Toe Walter tien minute later opdaag as wat hulle afgespreek het, groet sy liefies.
“Jy lyk of jy vir foto’s gaan poseer,” sê hy en kyk haar aan asof sy ’n geheime agenda het.
En sy het! Millie moes al gisteraand haar toonnaels verf en Magriet het haar vanoggend sorgvuldig gegrimeer en haar hare met sorg drooggeblaas. Sy het haar klere versigtig gekies: ’n oulike oefenbroekie onder haar oorslaanromp, interessante krale om haar nek en haar mooi Italiaanse leersandale. Die krukke waaraan sy hang, is ongelukkig ’n mediese noodsaaklikheid.
Haar ma bring haar skouersak en Walter help haar in haar pa se BMW. Dis makliker om op die sitplek te kom as in Walter se Hilux. Haar pa het ’n tydjie terug na die bure toe oorgestap om kastig ’n stuk gereedskap te gaan leen. Magriet vermoed hy vermy vir Walter.
Haar ouers se huis is in Constantiakloof en nie ver van die Mayo nie. Hulle ry binne tien minute daarheen, maar soek nog tien minute lank na parkeerplek. Daar is niks naby genoeg aan Pierre se spreekkamer nie. Dis reeds vyf minute voor haar afspraak, en Walter gaan laai haar gou eers by die ingang af.
“Loop versigtig, ek kry jou nou-nou,” sê hy.
Magriet beweeg treetjie vir treetjie tot by ’n trap waar daar ’n skuinste is spesiaal vir mense soos sy. Dit lyk soos ’n berghang waarteen sy moet af. Normaalweg sou sy dit nie eens raaksien nie en vinnig met die trap aftrippel. Nou besef sy hoe belangrik dit is dat daar voorsiening gemaak moet word vir gestremde mense. Sy wik en weeg nog tussen die trap en die skuinste toe iemand haar naam sê.
“Juffrou Vlok! Dit is mos jy?”
Sy kyk oor haar skouer. Pierre de Meyer staan agter haar en lyk glad nie gelukkig nie. Sy vee vinnig die hare uit haar gesig en glimlag dapper.
“Hallo dok- … meneer De Meyer.” Ai tog, moes sy nou amper “dokter” sê!
“Juffrou Vlok, môre. Wat maak jy op jou eie hier?”
Moet hy nou met haar raas asof sy ’n kind is? Magriet trek haar regop en daar is ’n krakie in haar stem toe sy antwoord: “Ek is nie op my eie nie. My verloofde het net gou gaan parkeer.”
“Onverantwoordelik!” Pierre gee een groot tree tot by haar. “As jy val …”
“Ek loop baie stadig en ek kyk waar ek loop.”
“Tot iemand van agter kom en jou ’n ligte stampie gee.”
Hy is reg langs haar. O, die vibrasies wat van hom af uitstraal … Of is dit van haar? Of haar verbeelding? Dis asof die lug om hulle sidder en rimpelings maak. Hierteen moet sy stry, want sy is doodseker Pierre weet van niks.
“Dit kon nie anders nie,” sê sy floutjies.
“Hy kon sy kar mos hier in die stegie gelos het en jou eers boontoe gevat het.” Pierre kyk agter hom. “Waar bly hy?”
“Die plek is vreeslik vol geparkeer.”
“Ek is op pad hospitaal toe, maar ek kan eers saam met jou loop.”
Hoe op aarde wil hy dan sy afspraak met haar nakom as hy op pad is hospitaal toe?
“Ek dag ek het ’n afspraak om jou by jou spreekkamer te sien?” vra Magriet terwyl hulle by die skuinste af stap.
“Ek het ’n bekwame vennoot wat vandag die spreekkamerpasiënte behartig. Hoop nie dis ’n probleem nie?”
Magriet voel afgehaal. Is sy dan so onaantreklik, so oninteressant dat hy nie eens een halfuurtjie saam met haar wil deurbring nie? Sy voel afgeskuif, uitgeskuif en seergemaak. Kop onderstebo loop sy na die hysbak. Niks verkeerd daarmee nie, sy moet tog kyk waar sy haar voete neersit.
Dalk moes sy vrolik gelag het en hom verseker het dit maak glad nie saak nie, solank sy gehelp word. Nou bly sy egter teen die grond vaskyk, teen haar opvallend rooi toontjies in die verspotte sandale wat sy spesiaal vir hom aangetrek het.
Hy druk die hysbak se knoppie. “Ons is baie besig by die hospitaal. Drie van ons kollegas is siek en die sale is vol.”
Rede kan sy darem insien, maar ai. “Jy sê mos hy is bekwaam …”
“Sy,” sê Pierre. “Sy is hoogs gekwalifiseerd, beter as ek.”
Die hysbak stop voor hulle en maak ’n pieng-geluid. Sy! ’n Vrou, hy het ’n vrou vir ’n vennoot! Die hyserdeur gaan oop.
“Weet jou verloofde waar die spreekkamer is?” vra Pierre.
“Hy weet, ja.”
“Moet ons nie vir hom wag voor ons opgaan nie?”
“Hy sal kom.”
Magriet skuifel vooruit. Toe sy opkyk, kyk sy reg in die hysbak se spieël vas. Sy lyk soos ’n voëlverskrikker, ’n skewe een wat aan twee stokke hang. Geen wonder die mooie man kan nie gou genoeg van haar ontslae raak nie! Sy lyk of ’n stormwind haar verrinneweer het. Haar hart is ook verkeerd, so swaar soos ’n klip. Hier ry sy hysbak saam met ’n engel en die stilte hang soos ’n ystergordyn tussen hulle.
Magriet verbeel haar sy hoor glad haar eie asemhaling. Sy parfuum is vaag en tog is sy hiperbewus daarvan. Wat sê ’n meisie vir ’n man wat haar so benoud kan maak?
“Hoe gaan dit met jou bene?” vra hy skielik.
“Dis ongemaklik.”
“Nie pyn nie?”
“Ek drink pynpille en slaappille.”
“Dis goed – vir nou.”
“Ek was gister skool toe.”
Die hyser stop, die deur gaan oop en Pierre keer met sy hand dat dit weer toegaan. Sy sien hoe hy vlugtig op sy horlosie kyk, terwyl hy vir haar beduie om voor te loop.
“Jy was by die skool?”
“Van agtuur tot twaalfuur.”
“Jy het siekteverlof, het jy nie?”
Eintlik behoort hy haar te prys dat sy haarself nie by die huis sit en jammer kry nie, maar hy klink ontevrede.
“Is jy van plan om my by my dokter te verkla?”
“Nee, maar dis goed dat ek weet jy is so onverantwoordelik. Doen jy jou oefeninge?”
“Gereeld.”
“Jy moet dit nie oordoen nie.”
“Ek werk volgens jou lysie.”
“Jy behoort nog tuis te bly.”
“Ek gee klas vir graadeentjies. Hulle het hul onderwyser die eerste paar dae nodig.”
“Het jy darem hulp?”
“Die skoolhoof is baie simpatiek, my skoonsuster is in die klas langsaan én ek het ’n student wat my vir twee maande help.”
Hy lewer geen kommentaar nie, het seker nie verwag dat sy voorsorgmaatreëls sou getref het nie. ’n Naambord met sy naam wys na regs en hy beduie ook dat sy daarheen moet draai. Hulle loop ’n entjie tot by ’n staalhek met ’n klokkie, en nog ’n naambord. Pierre de Meyer en Nicola Leyden: Fisioterapeute.
Pierre druk die klokkie en die hek glip dadelik los. Dit swaai wyd oop.
“Stap deur.”
Sy moet by hom verbyskuur. Die hitte van sy lyf is soos ’n energieveld wat van ’n reusevuur af kom. Haar hart klop vinniger. Sy word bloedrooi toe haar skouer teen syne skuur. Die hek klik agter hulle toe en hulle staan in ’n ruim ontvangslokaal. Daar sit ’n bloedjong meisietjie agter ’n rekenaar.
“Môre, mevrou!”
“Dis júffrou Vlok, Thandi!” korrigeer Pierre.
“O, jammer.”
“Sit solank, juffrou.”
Dit pla Magriet vaagweg dat hy so al die praatwerk doen. Sy gaan sit met ’n gesukkel. Haar bene is stokstyf en die krukke is al in die pad. Pierre staan by die ontvangstoonbank en praat saggies met Thandi.
Regs van Magriet staan een deur oop en een deur toe. Iemand klink ernstig, ’n helder vrouestem – die ander fisioterapeut, Magriet se voorland. Daar is afdrukke van seetonele teen die mure, uitgestrekte strande met vissersbote en seemeeue. Die rusbanke is babablou-en-wit met prente van skulpe op die kussings, herhaling op herhaling. Is Pierre oorspronklik van die kus iewers, en het hy sy kantoormeubels saamgebring?
Is hy dalk ook so vreeslik lief vir visvang? Magriet gee hom een minuspunt.
Die deurklokkie lui. Dis ’n uitasem Walter met haar skouersak, wat hy so ongemaklik aan die hingsel vashou dat dit op die grond sleep. Pierre steek sy hand na Walter uit. Walter lyk vir Magriet lomp en onafgerond teen Pierre.
“Pierre de Meyer, aangenaam.”
“Hallo.” Walter kyk hom wantrouig aan.
“Ek is Magriet se fisioterapeut, maar vandag se sessie sal by my kollega Nicola wees.” Pierre kyk Walter op en af. Dit lyk asof hy iets wil byvoeg, maar hom bedink. “Sal julle my verskoon?”
“Reg so,” sê Walter verlig. Hy gaan sit langs Magriet en oorhandig die skouersak. “Ek het agter onkologie parkeer, sal moet omry en jou kom oplaai.”
“Jy kan in die stegie langsaan stilhou om op en af te laai.” Magriet maak haar sak oop en haal haar bottel water uit. “Hy … iemand het my gesê.”
“Daar’s water,” sê Walter en wys na die groot waterbottel in die hoek.
“Hierdie is byderhand,” sê sy.
“Cool plek,” sê Walter te hard. “Cool vissersbote.”
Die meisie agter die rekenaar kyk op en frons. Magriet glimlag vir Walter, al dink sy die dekor is kitsch en onvanpas en al het haar bewondering ’n knou gekry. Pierre is nou wel aantreklik, maar sy binnehuisversiering is nié.
“Verlang jy ook see toe?” vra Walter.
Hy sit driekwart van die bank langs haar vol met sy breë lyf. Die rottang kraak as hy roer en Brut-walms styg van hom af op soos stoom uit ’n kookpot.
Nee, sy verlang nie see toe nie. Dalk as sy nie heeldag moet visvang nie. Sy glimlag net weer vir Walter.
Eindelik gaan die toe deur oop. ’n Vrou met ’n stut aan haar been kom saam met ’n man uitgestap, gevolg deur ’n ouerige vrou met ’n wilde grys boskasie.
“Donderdag oor ’n week,” groet die gryskopvrou die twee en knik in Magriet en Walter se rigting. Sy stap oor na die ontvangstoonbank.
Die hek gaan oop en toe agter die pasiënt en haar man.
“Magriet Vlok?” vra die gryskopvrou.
Sy het ’n T-hemp aan met dieselfde logo as op Pierre s’n, ’n sweetpakbroek en stapskoene. Sy lyk energiek en seningtaai. Tot Magriet se verligting is die vrou veel ouer as wat sy verwag het.
“Ek is Nicola Leyden,” sê sy en hou haar hand uit. Haar naels is blou geverf.
“Moet ek saamkom?” vra Walter.
“As jy haar met haar oefeninge gaan help, ja.”
“Dis eintlik haar ma se werk …”
“Dan moet julle haar volgende keer saambring.”
Die sessie is nie te pynlik nie. Die lys oefeninge is dieselfde as wat Pierre voorgeskryf het en Nicola stel net vas of Magriet alles verstaan en korrek uitvoer.
“Kan nie eintlik sien hoekom Pierre die afspraak gemaak het nie. Ons sal jou later harder druk. Dan kry jy liefde met gevoel, my skattie. Wanneer sien jy weer jou dokter?”
“Oor ses weke.”
“Wie’t gesê jy moet vandag hier wees?”
“Pierre, ek bedoel meneer De Meyer. Hy’t my ’n kaartjie gegee.”
“Daai man het muisneste,” grom Nicola. “Doen jou oefeninge gereeld, ons sien jou oor ses weke.”
Daarmee is dit afgehandel en begin die langste, mees troostelose ses weke in Magriet Vlok se hele lewe.