Читать книгу Helena Hugo Tweede Keur - Helena Hugo - Страница 5

2

Оглавление

Teen die tyd dat die ambulans arriveer, lê Magriet op die bank in die gesinskamer en knibbel aan ’n stukkie boerewors. Die res van die familie het hul borde behoorlik gelaai. Walter, wat hom langs haar tuisgemaak het, trek al by sy tweede bord vol.

Die ambulansmense kyk verlangend na die bakke tjops, wors, sosaties en aartappelslaai, maar beduie heel professioneel dat hulle aan diens is toe Johan en Carol hulle nooi om eers saam aan te sit.

Magriet se hartklop en bloeddruk word gemeet en dan word sy sagkens opgelig en op ’n smal ambulansbedjie gelaai. Walter staan by – tjop in die hand. Hy vra toestemming om saam agterin te ry, maar dit word geweier. Geen passasiers nie, selfs nie Magriet se ma nie. Hulle moet in hul eie motors volg.

Carol en Linda bly tuis met die kinders. Die res los hul kos, pak vier motors vol en trek saam met die ambulans weg. Magriet is maar bly sy hoef nie die optog te aanskou nie.

“Julle blaas nie toeters nie!” hoor sy Carol roep. Wie sal ooit vergeet hoe Louis en Gert in hul Hummer agter Carol en Johan aangejaag het hospitaal toe om hulle by te staan met die geboorte van die tweeling! Carol het nie hul hulp nodig gehad nie, beslis ook nie die sirkus nie, maar Johan kon nie sonder sy broers nie.

Die ambulans ry sonder die sirene. Magriet spits haar ore en hoor geen toeters nie. Die snye en skrape brand en haar gebreekte bene sing hul eie storie. Skielik sien sy uit na die hospitaal se pynmedikasie.

Een ambulansman het ’n knyperbord op sy skoot. Hy vra adresse en telefoonnommers en sy antwoord outomaties. Alles wat sy sê en dink, is omgewe van wolke pyn. Die ambulans ry teen ’n afdraand af en dit voel of haar bene van haar lyf af geskud word.

Wat het haar besiel om Johan en Carol se stokou trampolien soos ’n sweefstokarties te bespring? Magriet wil skree van pyn, maar sy byt op haar tande en hou uit.

Eindelik! Die ambulans ry stadig deur die hospitaalhekke en klim versigtig oor die spoedhobbels. Die woord “trauma” doem in rooi hoofletters voor haar op. Hulle is flink en sy word vinnig uitgelaai.

“Domestic accident. One female patient, lacerations and possible leg fractures.”

Die ontvangskamer is koel en vlekkeloos skoon. Verpleegsters in netjiese uniforms verskyn langs haar bed.

“Pyn?”

Magriet knik. Nou het sy regtig lus om te huil.

Hulle trek haar jeans versigtig uit en rol Andries se verbande van haar arms af. Dis ongelooflik seer.

“Het jy iets vir die pyn geneem?”

“Nee.”

Iemand druk ’n naald in haar arm.

“Wat het gebeur?” vra die suster simpatiek en Magriet vertel.

“Wie is al daardie mense in die portaal?” vra ’n man in die middel van haar storie oor stukkende trampoliens, lastige tweelinge en ’n mislukte verjaardagpartytjie.

“Ek sal gaan uitvind, dokter,” bied iemand aan.

Maar Magriet weet. “Dis my mense …” fluister sy vir die simpatieke suster, wat niks sê nie en net haar arm druk.

Die dokter lyk soos ’n rugbyspeler. Sy hare is kort geknip en sy hemp span oor sy skouers.

“Wat het ons hier?”

Die gawe suster praat namens Magriet. Sy word van kop tot tone ondersoek en gestuur vir X-strale. Toe die portier haar daarheen stoot, sien sy haar hele gesin in een hoek van die portaal saamgebondel, haar ma en pa en al haar broers, behalwe Hendrik, wat in Londen woon. Berdine is ook daar, en sy is dadelik by toe sy Magriet-hulle gewaar.

“Stefan, ek wil met jou praat,” keer Berdine die fris geboude traumadokter wat saam met Magriet en die portier uitgestap het. Hy stol in sy spore, en Magriet mis die volle gesprek. Haar bed rol verby. Die dokter het gesê albei bene is sekerlik gebreek. Sy dink aan die gips … die skool …

“Die teater sal sesuur vanaand beskikbaar wees,” sê haar pa ná ’n martelsessie by X-strale toe sy in ’n gewone saal lê. Sy leun gemaklik teen die kussings. Haar mense is die hele plek vol saam met ’n horde besoekers om ander beddens.

“Het jy pyn, my kind?” vra haar ma, wat op die enigste beskikbare stoel sit.

Magriet loer na die drupsak en skud haar kop. Wat hulle ook al daar ingegooi het, dit werk.

“Ek het Ma se verjaardag bederf!”

Millie druk haar hand. “Liefie, as ek nie teen hierdie tyd gewoond is aan dié soort opwinding nie, sal ek nooit tagtig haal nie. Jy vergeet ek het sewe seuns grootgemaak.”

“Ek moes nie so hard gespring het nie.”

“Jy kan nie die horlosie terugdraai nie. Kyk nou vorentoe, oor ses weke spring jy nog harder.”

“Nie as ek dit kan verhelp nie,” brom Walter.

Asof visvang so veilig was! Die see is so onvoorspelbaar, haar voete is ’n paar keer onder haar uitgeslaan. Een keer is sy amper van die rotse af. Sy wil hom daaraan herinner, maar die saal is so vol en raserig dat sy nie die moeite wil doen om hard te praat nie.

“Ek is moeg,” sê sy.

Die saalsuster druk vir haar ’n pad oop deur die menigte. “Teater toe,” sê sy, gooi ’n jurk op die voetenent en begin die gordyne om Magriet se bed toetrek. “Wanneer laas het jy geëet?”

“Seker tweeuur se kant, ’n klein stukkie wors.”

“G’n wonder ek is al weer honger nie,” sê Walter van buite die gordyne.

“Ons wag in die restaurant,” sê haar pa.

“Dit kan laat word,” waarsku die suster hom. “Hang af van die narkotiseur.”

“Ons het tyd.”

Een na die ander praat hulle Magriet moed in. Walter bly tot laaste en soen haar asof sy vir ’n ernstige breinoperasie ingaan.

Toe hy eindelik weg is, maak sy haar oë toe. Salig om alleen te wees. ’n Verpleegster kom help haar om die jurk aan te trek.

“Jy is gelukkig om so baie kêrels te hê,” sê sy.

“Broers.”

“Die laaste ou?”

“Hy is soort van.”

Die verpleegster glimlag begrypend. “Hulle kom jou nou-nou haal vir die teater,” sê sy en trek die gordyne oop.

Dis toe dat Magriet hom sien – die aantreklikste man wat sy nog ooit aanskou het. Bruingebrand in ’n wit T-hemp, ligbruin hare met sonstrepe, ’n sterk profiel, ’n hoë voorkop en ’n perfekte neus en mond. Sekerlik ’n dokter, want hy staan en bestudeer ’n stel X-straalplate. Sy hoop nie hy is die ortopeed wat haar gaan spalk nie! Haar vel dop af van te veel sonbrand en haar toonnaels moet dringend geverf word.

Haai! Walter het skaars sy rug gedraai en sy loer klaar vir ’n mooi man – in haar toestand, nogal. Maar die beeld van ’n mens betower haar so, sy kan nie anders nie. Sy staar hom aan.

Skielik kyk hy van sy X-strale af op – reguit na haar! Sy oë is donkerbruin, met liggies wat soos klein vlammetjies in hulle dans.

Verbeel sy haar of is daar die een of ander vreemde konneksie, ’n magnetisme tussen hulle? Kan nie wees nie! Dalk is hy ’n skim, een van die engele wat in hospitale ronddwaal om siele vir die ewigheid bymekaar te maak. Hy het die mooiste hande, slanke vingers, breë skouers, die pragtigste hare. Is hy werklik of net ’n verskynsel? Maar daar praat die saalsuster met hom. Hoe kry die vrou dit reg om ’n gewone gesprek met ’n engel te voer?

Die beeld trek skeef, swem in golwe goue lig voor Magriet se oë. Hy is my engel, besluit sy net voor die voorteater-medikasie haar verlos.

Toe sy weer bykom, is haar bed aan die beweeg. Iemand stoot haar deur lang gange, by hysbakke in en uit. Sy beland in ’n saal in ’n hele ry pasiënte. Almal lyk so eenders met die blou operasiemussies, sy kan skaars die verskil tussen man en vrou eien.

Sy kyk na haar plastiekarmband. Hier is jy net ’n nommer, besluit sy. Sy voel tranerig en probeer aan iets moois dink.

Die laventelbosse in Johan-hulle se tuin vol skoenlappers. Sy kan die laventel ruik. Wat nog? Die see? Sy is lief vir die see in al sy buie, maar dis nie vir haar lekker om heeldag en aldag in sonskyn en reën te staan en visvang nie.

Walter weet sy hou nie daarvan nie en nogtans het hy haar saamgesleep – kastig met die doel om haar van haar “fobie” te genees. Nee dankie, sy het ’n oordosis in van hom en sy viskos. As sy kon kies, kies sy iemand heeltemal anders … Wat van die engel? Ja! Sy sal droom hulle loop in ’n nat woud of ry perd of dans of swem in ’n meer onder ’n bergfontein. Enigiets, solank hy haar nie hoef te spalk nie!

Die hoop beskaam nie. In die operasiesaal gekom, sien sy die dokter is ouerig. Magriet slaak ’n sug van verligting. En die narkotiseur is ’n baie gawe vrou.

“Onspan. Ons gaan jou gou aan die slaap maak.”

Toe sy wakker word, is Magriet terug in ’n saal en haar bene voel soos boomstompe. Die ligte is aan, dis al aand, en gou is besoekers aan die instroom, Walter eerste. Die laaste persoon wat sy wil sien! Hoekom kry sy die reuk van vis, al hou hy ’n bossie geel miniatuurrosies vas?

Hy buk oor haar bed en soen haar. “Hoe gaan dit?”

“Oukei.”

“Rosies.”

“Dankie.”

Hy sit dit op die bedkassie neer. Haar ma en pa en Johan en Carol kom suutjies nader.

“Ai, jong, jy is vreeslik bleek!”

“Hulle het my nou-nou net hier ingestoot. Wanneer kan ek huis toe gaan?”

“Dokter moet nog sê.”

“Moet ek dan hier slaap?”

“Dalk ’n paar nagte, Magrietjie. Ons het jou naweektassie gepak.”

“Ek sal elke dag kom kuier,” belowe Walter.

Wat het haar in die eerste plek na hom aangetrek? wonder Magriet. Was dit sy stories en grappe? Die feit dat hy die skool se graadses- en graadsewerugbyspannetjies afrig, die geduld wat hy met die seuntjies het, en met die klante wat sy sportwinkel besoek? Walter is ’n gawe ou en ’n goeie vriend vir haar broers. Miskien was dit vanselfsprekend dat hy haar kêrel sou word. Maar hoe het dit gebéúr? Sy maak haar oë toe, en probeer hul eerste soen onthou.

Niks. Dis weg. Sy dink aan die heel eerste keer wat sy hom gesien het. Ook niks.

“Sy is moeg.” Haar ma klink bekommerd. “Magriet? Magrietjie, wil jy slaap?”

“Dis die narkose,” sê haar pa.

Magriet dwing haar oë oop. “Waar is die kinders?” vra sy vir Johan en Carol. Haar stem klink vir haar snaaks en ver.

“By die bure. Ons bring hulle môre.”

“Sê vir hulle ek’s lief vir hulle.”

“Ons sal, maar jy moet nou eers rus.”

Besoektyd is verby. Magriet glimlag floutjies vir haar ma en pa, vir Johan en Carol. Walter lyk afgehaal. Sy glimlag vir hom ook. Weg is hulle.

Die nagsuster bring tee en beskuit en pille, tandeborsels en waslappe. Magriet is so moeg, dit voel of sy dwarsdeur die matras kan sak. Voor sy aan die slaap raak, verbeel sy haar hy buk oor haar, haar engel.

Sal sy hom weer sien?

Helena Hugo Tweede Keur

Подняться наверх