Читать книгу Helena Hugo Tweede Keur - Helena Hugo - Страница 8
5
ОглавлениеDie volgende oggend verklaar dokter Faure haar gereed om huis toe te gaan. “Is daar iemand wat jou tuis kan versorg?” vra hy.
“Ek sal by my ma-hulle bly tot ek weer reg is.”
“Bel hulle om jou te kom haal, maar wag eers tot jy jou fisioterapeut gesien het. Hy sal vir jou ’n reeks oefeninge gee om tuis te doen. Jy sal ’n maand of twee moet fisio kry. Ek wil jou weer oor ses weke sien. As jy intussen enige probleme het, bel my onmiddellik.”
Toe die dokter daar weg is, haal Magriet haar selfoon uit en bel haar ma.
“Dis goeie nuus!”
“Is Ma seker ek kan by julle plak?”
“Natuurlik, my kind! Ons sal jou ou kamer regmaak, maar ons moet by jou huis aangaan om klere en boeke en so aan te kry. Dink jy jy sal skool toe kan gaan?”
“Ek moet, Ma. Sjoe, ek’t nog nie eens my vakansietas uitgepak nie.”
“Lucy sal glad nie omgee om jou goedjies te was en te stryk nie. Dit gaan lekker wees om jou ’n slag by die huis te hê.”
Magriet praat nog met haar ma, toe verskyn hy in die deur – Pierre de Meyer in al sy glorie. Hy klop aan die oop deur en sy beduie hy moet inkom.
“Ma, ek moet gaan, my fisioterapeut is hier. Sien julle oor ’n uur.”
Pierre glimlag vir haar en sy voel dis maar goed sy sit.
“Jy lyk vanoggend baie vroliker, juffrou Vlok.”
“Ek gaan huis toe.”
“Is dit dan nie lekker hier by ons nie?”
“Ag, ek is nie gewoond aan hospitale nie.”
Hy staan rustig met sy bene uitmekaar, gespierde arms voor sy bors gevou. “Het die dokter iets gesê van fisio?”
“Twee maande, ja.”
“Waarskynlik so iets. Ons spreekkamers is in die Mayo-kliniek.” Hy maak sy boek oop en haal ’n vel papier uit. “Ek wys jou gou die oefeninge om by die huis te doen, en dan maak ons ’n afspraak vir Donderdag die twaalfde. Hoe laat?”
“Enige tyd is goed,” sê Magriet, terwyl sy eintlik weet dis ’n skooldag en die namiddag sou beter wees. Haar hart klop so opgewonde, asof Pierre vir haar ’n verrassing beplan, haar dalk iewers na ’n mooi plek wil vat waar hulle alleen en romanties kan piekniek hou. Hy kyk egter nie na haar nie, sy neus is in sy afspraakboek.
“Halftien?” sê hy saaklik.
“Dis reg.”
Hy vul ’n kaartjie met die afspraaktyd in en oorhandig dit aan haar, versigtig, asof die ink nog nat is. Hul vingerpunte raak nie en dis beter so.
“Ek wys gou jou oefeninge en demonstreer die krukke. Dis baie maklik.”
O, ja! As hy maar net weet hoe bewe haar bene, sal hy nie so seker van sy saak wees nie. Maar Magriet sê niks, sy knik net.
“Ek gaan haal gou die krukke in die stoor.”
Die oomblik toe hy sy rug draai, gryp sy haar grimeertassie en pak blitssnel haar grimering uit. Sy vee lipstiffie aan, borsel maskara deur haar wimpers en kam haar hare. Haar hand gaan na haar botteltjie Joy of Pink, maar sy keer haarself. Vars parfuum sal te sterk wees, sy moet maar reken op die vroegoggend-sproeiseltjie.
Sy is besig om die tassie toe te knip toe Pierre met die krukke inkom.
“Reg vir die strate?” vra hy. “Jy lýk reg.”
Het sy dalk nou te veel grimering aan?
“Ek wil nie my ma laat wag nie,” sê sy gemaak ongeërgd.
“Ek sou verkies het dat jy nog ’n nag hier bly, maar as dokter Faure reken dis veilig – wie is ek om te kla.”
“Ek sal meer rus kry by die huis.”
“Almal sê so, maar dan moet jy jou mense se samewerking hê.” Hy hou sy arm vir haar om aan vas te hou wanneer sy opstaan. “Jy moet konsentreer daarop om te balanseer. Op is jy.”
Vanoggend is haar bene nogal seer. Maar toe Pierre haar optrek, bult sy armspiere so sexy dat sy vergeet van die pyn en amper ophou asemhaal. Haar hart klop iets vreesliks. Sy manlike parfuum maak haar lighoofdig.
Hy hou een van die krukke regop en meet dit teen haar lyf. “So ja … Jy kan eers weer sit.”
Hy verstel aan die krukke se hoogte en kom sit langs haar. “Kyk gou,” sê hy, “as jy wil opstaan, draai jy jou kruk om en jy doen dit só. Sê my bietjie, daardie kindertjies wat gisteraand hier was … Is hulle joune?”
Magriet snak amper na asem. Hoor sy reg? “Ek is júffrou Vlok, nie mevrou Vlok nie!”
“Jammer, mens weet deesdae nie altyd nie, en die goedjies was die hele bed vol. Woelige spulletjie, lyk dit my.”
“Hulle is my broer s’n.”
“Julle is ’n hegte gesin, ’n groot familie?”
“Ja.” Waarna mik die man?
“Jy wonder seker hoekom raak ek so persoonlik?”
“Ek vermoed dit het dalk te doen met my krukke en so aan.”
“Jy vermoed reg, juffrou Vlok.”
Magriet vererg haar liggies. Wil hy nie maar tot die punt kom nie?
“My ma en pa het ’n groot huis. Ek gaan soontoe tot ek beter is.”
“Ek sien, mooi. Pas jou ma die kleintjies bedags op?”
“Nee, net vir spesiale geleenthede.”
“Dan is jy taamlik veilig. Wees versigtig as hulle in die omgewing is. Een stampie en jy lê op jou rug. Jy mag nie val nie.”
“Ek wil ook nie val nie.”
Genade, dink die man sy weet nie vanself om uit woelige kleintjies se pad te bly nie? Sy is immers ’n onderwyseres!
“Kan ek nou probeer om met die goed te loop?”
Hy oorhandig die krukke. Sy trek haarself regop soos hy beduie het en hulle stap saam deur toe. Dis baie maklik. Pierre gaan wys haar hoe om trappe te klim – ook verbasend maklik, al het sy twee af bene.
“Wees versigtig,” sê hy weer. “Bly weg uit die winkels, los die inkopies vir jou ma of jou vriendinne.”
“Maklik, ek haat inkopies.”
“Is dit? Julle vroumense kan dan gewoonlik nie die winkels weerstaan nie?”
Magriet is van kleins af gekondisioneer om mans se aanmerkings te ignoreer, anders sou sy nooit oorleef het tussen al die broers nie. Sy maak dus asof sy hom nie hoor nie en loop by hom verby terug na haar kamer toe.
“Hoe lank sal ek op die krukkelys wees?” vra sy toe sy weer op haar bed sit.
“So ses weke na twee maande. Jy sal gou regkom. Is jy sportief?”
“Ja, ek spring mos trampolien.”
Hy grinnik. “Goed, en wat nog?”
“Ek speel tennis en gholf en ek skopboks, en ek rig die skool se senior netbalspanne af.”
“Hoërskool?”
“Laerskool.”
“Jy sal vir jou ’n hulpafrigter moet kry.”
“Ja, klaar gedink, Santie du Preez en Walter kan help.”
“Walter?”
“My verloofde.” Waar kom sy nou daaraan? Sy het nie eens ’n ring om te wys nie! En buitendien … dis Walter!
“O.”
“My ring is by die juwelier, een van die steentjies het uitgeval,” sê sy vinnig en vryf haar leë ringvinger.
“Dit gebeur maklik,” sê Pierre en voeg by, tot haar ontsteltenis: “My verloofde se ring moes ook teruggaan. Sy’t gelukkig gesien hoe die diamant loskom, toe keer sy betyds.”
Hy is verloof en sy maak of sy verloof is! Wat ’n ramp. Die kanse raak ál skraler dat haar vriendskap met Pierre de Meyer verder as haar krukke en spalke sal vorder. Sy het ’n kaartjie met sy naam en telefoonnommers in haar beursie, ja, maar dis nie om piekniekafsprake mee te maak nie. Dis alles streng professioneel.
Pierre staan langs haar bed en maak aanstaltes om te loop. “Nou ja, juffrou Vlok, hierdie is geen piekniek nie.”
Amper kap sy om van die skrik. Lees die man haar gedagtes?
“Jy het jou krukke en jou lys oefeninge. Loop asof jy op eiers loop, oefen drie maal per dag en onthou jou afspraak met my volgende week.”
“Dankie,” sê sy heserig.
Hy raak liggies aan haar elmboog en stap uit. Magriet sit nog ’n rukkie in skok voordat sy die klokkie lui vir ’n verpleegster.
“Ja, wie gaan huis toe?” vra sy ewe vrolik met die intrapslag.
“Ek kan nie wag nie.”
Die verpleegster giggel. “Al die vroue is altyd spyt hulle kan nie vir Pierre de Meyer saamvat nie.”
Magriet hou haar dom. “Hoekom?”
“Hy’s so mooi! Is hy nie vir jou ook alte sexy nie?”
“Nie sleg nie,” sê Magriet.
“Net jammer van sy verloofde.”
So, hy is regtig, egtig verloof!
Die verpleegster gee Magriet se omvouromp vir haar aan. Dis al wat oor haar dik bene pas.
“Dié Alice! Jy moet haar sien,” gesels die verpleegster, “sy’s ’n skoonheidsdeskundige en model. Trek aan soos Lady Di. Trippel soms hier in die hospitaal agter hom aan. ”
Die verpleegster pak Magriet se goed en knip die tassie toe. “Wie kom jou haal?”
“My ma.”
“Wat dan van jou kêrel?”
“Walter sal seker saamkom. Hy ry ’n Hilux, groot genoeg om my stywe bene te akkommodeer.”
“Jy gaan sukkel om met daai bene so hoog in te klim.”
“Walter tel my sommer op, hy’s sterk.”
“Jy’s ’n gelukkige vrou. Is dit sy blomme daai?”
“Nee, my broer Gert het dit gebring. Julle kan dit gerus in julle teekamer of waar ook al sit.”
“Dis gaaf van jou, is jy seker?”
“As ek dit saamneem, verlep dit nog voor ons by die huis is.”
Magriet wil nog een van Walter se koeldranke drink voor haar ma haar kom haal. Maar die verpleegster is skaars uit of Walter, haar ma en die saalsuster kom ingestap.
“Reg om te ry?”
“Ja, asseblief!”
Walter soengroet haar en maak haar bagasie bymekaar terwyl sy vorms teken.
“Jy lyk moeg,” sê haar ma toe hulle eindelik op pad is.
Magriet kom mooi reg met die krukke, maar die saalsuster dring daarop aan dat sy in ’n rolstoel uitgestoot word.
“Ek kan nie wag om in my eie bed te klim en te slaap nie.”
Magriet is nie net moeg nie, sy is teleurgesteld. Sy het vanoggend weer met seepbelle gespeel, deurskynende, ontwykende seepbelle wat die een na die ander gebars het. Verlief op ’n skim, dis wat sy is.
Maak nou nie saak nie, al is Pierre haar nie beskore nie, sy kan Walter nie langer bedrieg nie, dink sy terwyl hy voor haar rolstoel uitstap met haar bagasie. Sy sal vir hom moet sê hy is gaaf en goed, maar hulle pas nie by mekaar nie. Sy hou van die see, sy hou van vakansies by die see, maar kuier is nie bly nie en sy kan eenvoudig nie sy entoesiasme vir die vissermanslewe deel nie.
Oor sy luidrugtigheid en sy harigheid en sy alewige knoffelasem sal sy eerder swyg. Moontlik is daar meisies wat daardie soort dinge onweerstaanbaar vind.
Oor Pierre de Meyer hoef sy niks te sê nie. Hy is haar aantreklike fisioterapeut, maar hy is verloof aan ’n beeldskone model. ’n Hand vol seepbelle, dis al wat sy oorhou.