Читать книгу Helena Hugo Tweede Keur - Helena Hugo - Страница 14
11
ОглавлениеNoeline word die volgende dag ontslaan. Die velspesialis sê die kankerselle het nie dieper as die vel ingedring nie en hy reken alle kwaadaardigheid is verwyder. Sy mag haar glad nie aan die son blootstel nie en moet oor drie maande terugkom vir evaluering.
“Van nou af gaan stap ons voor sonop en vang snags vis,” sê sy toe hulle by Magriet se ouers aankom vir tee. “Ek gaan die son mis, maar as ek wil lewe om eendag my kleinkinders te sien …”
Magriet ignoreer die skimp, maar Walter belowe om gou plan te maak.
“Ja, julle moenie te lank wag nie, ons word oud en vol kwale,” hou Noeline vol. “Of wat sê ek, Millie?”
Magriet se ma sê niks. Sy het ’n melktert gebak en baie moeite gedoen met die teetafel. Sy skuif die koppies en koekbordjies reg en hou haar besig met vurkies en teelepels. Magriet kan sien sy veg om haar selfbeheersing te behou.
Magriet self tel behoorlik die ure na die finale afskeid van Walter. Dié troupraatjies maak haar kriewelrig en sy wonder wat hy alles agter haar rug vir sy ouers vertel het.
“Ag, hoe salig,” sug haar pa toe hy die Vrydagaand die rooster met ’n stukkie skaapwors en ses varktjoppies pak. “Net ons drie!”
“Walter se ma is darem baie erg oor jou,” sê haar ma nadenkend.
“Moenie my nog slegter laat voel nie,” kreun Magriet.
Haar pa maak vir hom ’n bier oop. “Wanneer sê jy nou vir hom?”
“Pa, gee net kans. Ek kan nie op hom afkom net nadat hy soveel spanning met sy ma se siekte deurgemaak het nie. Dis harteloos.”
Haar pa gaan sit gemaklik. “Ek kry die indruk dat jy nog te lief is vir hom.”
“Ek is nie.”
“Jy kon my om die bos gelei het …”
Skielik kan Magriet nie wag om weer in haar eie huis te wees nie. “Ek hoop nie my buurvrou het vergeet om my plante nat te gooi nie,” sê sy om die onderwerp te verander, asof sy haar buurvrou nog nooit kon vertrou nie. Letsie Viljoen is ’n groen tannie wat die hele kompleks se tuine uitgelê het en so nooit as te nimmer eens ’n grasperk in die winter sal laat uitdroog nie.
“Moenie jou tuin as verskoning gebruik nie, Meis. Sê as jy wil huis toe gaan,” sê haar pa.
“Kan jy al?” vra haar ma bekommerd.
“Ek moet, ek kan nie vir die res van my lewe op julle teer nie.”
“Dis so lekker om jou weer in jou ou kamer te hê.”
“Ma sal nie weet hoe ek dit waardeer nie, maar Ma het skoon gewig verloor van al die verpleging.”
Haar ma lag skelm. “Ag, ek doen dit met voorbedagte rade. Jy is my enigste dogter en jy sal my eendag moet oppas – jy en wie ook al.”
Magriet sukkel orent, hobbel oor na haar ma en sit haar arms om haar. “Dis nog lank voor Ma opgepas moet word, maar ek belowe ek sal.”
“Dankie, my kind, ek sal intussen wegbly van trampoliens wat te lank in die son gebak het. Hoe sê hulle? Dis slimmer om uit iemand anders se slegte ondervindings te leer as uit jou eie.”
“Bly nog ’n paar dae. Dan kyk ons as alles eers af is,” sê haar pa. “Bly tot jou balans terug is.”
Nog vier dae – altans, so hoop sy. Die naweek sleep verby. Walter het baie tyd by die werk verloor en maak dus nie ’n oorlas van homself nie. Laat Sondagmiddag, toe hy wel by hulle aankom, is hy stiller as gewoonlik. Dit pla hom dat sy fikse buitelugma in ’n huishen moet verander en dat sy so na aan ’n dodelike siekte gekom het. Magriet besef hoe geheg Walter aan Noeline is. Hy kuier nie lank nie en maak al voor aandete verskoning.
“Ons was so besig by die werk, ons het teen vieruur eers ons pizzas bestel,” sê hy toe Millie hom vra of hy saameet.
“Nie eens koue skaapboud nie?”
Walter lek sy lippe, maar skud sy kop. “Ek is regtig te versadig, dankie, tannie Millie.”
Hy groet Magriet met ’n piksoen en weg is hy.
“Vreemd,” sê haar ma, “dis die eerste keer vandat ek hom ken dat hy nie lus het vir koue skaapboud nie.”
“Sy ma se siekte het hom hard geslaan,” sê haar pa.
Magriet voel soos ’n skurk omdat sy Walter nie omgepraat het om te bly nie. Sy is jammer vir hom, maar agter hom aanloop, dié sal sy nie meer nie. Sy tel eerder die dae en nagte tot haar afspraak met Pierre, fantaseer bedags oor hom, droom snags van hom. Sy dink veel meer aan hom as aan Walter.
Maandagoggend teetyd klop Carol aan haar klaskamerdeur.
“Kom saam personeelkamer toe,” sê sy. “Jy sit gans te veel alleen en broei.”
“Ek broei nie, ek maak flitskaarte.”
“Ons mis jou, kom gesels ’n slag.”
Magriet is lief vir Carol en sy wil haar nie wegstuur nie. “Goed,” stem sy in, “solank my bene nie die middelpunt van die geselskap word nie!”
Sy is handig met die krukke, maar sy loop nogtans versigtig op die gladde stoep. Treetjie vir treetjie – omdat Pierre so sê.
Die ander onderwysers is bly om haar te sien. Jan Nel sleep ’n stoel nader, Carol dra tee aan en almal verneem hoe dit met haar gaan.
“Ek gaan môre dokter toe, dan sal ek weet.”
“Dis jammer van Walter se mammie wat so siek is,” sê Santie, wat haar heeltyd met groot oë sit en aankyk.
“Dis toe darem nie te ernstig nie,” sê Magriet.
“Ja, maar nou mag sy glad nie meer in die son kom nie!” roep Santie uit.
“Wat makeer haar dan?” vra Ruth, een van die graadsewe-onderwysers.
“Velkanker, selfs tussen haar tone,” antwoord Santie, diep onder die indruk.
Magriet kan nie haar vinger daarop lê nie, maar iets is hier nie pluis nie. Die res van die gesprek gaan by haar verby. Hoe op aarde weet Santie elke besonderheid oor Walter se ma?
“Moontlik by een van die atletiekoefenings gehoor,” sê Carol toe Magriet dit ná die tyd vir haar noem.
Seker maar, dink Magriet. Walter het hom so ontstel, hy sou vir almal vertel het en sy kan hom tog nie verkwalik dat hy met Santie praat nie. Ja-nee, iets anders sal uit die lug moet val om hul verhouding te verongeluk. Buitendien, sy het Walter nog eers as “verloofde” nodig om Pierre de Meyer jaloers te maak.
Het hy besef dat dit sy is toe hy haar langs Noeline se hospitaalbed gesien het, wonder sy vir die soveelste keer. Het hy haar regtig herken? Is daar selfs ’n vae moontlikheid dat sy ’n indruk op hom gemaak het, dat hy soms aan haar dink?
Sy sekretaresse dink wel aan haar, want Dinsdagoggend bel sy om Magriet daaraan te herinner dat sy die volgende dag ’n afspraak met meneer De Meyer het. Die Dinsdagmiddag moet Magriet nog eers haar dokter sien.
Sy is so opgewonde, dit voel of sy enige oomblik kan opstyg en vlieg. Haar ortopeed se spreekkamer is aan die teenoorgestelde kant van die Mayo-gebou, ver van Pierre s’n, maar die hospitaal is in die middel en daar is altyd ’n kans dat sy hom wel te siene sal kry.
“Jou wange is so rooi,” sê haar ma toe sy Magriet ná skool help om te verklee, en lê haar hand teen haar voorkop. “Jy is dan vuurwarm. Is jy koorsig?”
“Ag, seker van angs,” giggel Magriet en bind haar oorslaanromp stywer vas.
“Jy moenie bang wees nie.”
“Maar ek is!” Bang sy lyk nie mooi genoeg ingeval sy vir Pierre iewers raakloop nie.
“Die dokter is bekend vir sy operasies. Ontspan.”
Magriet pak haar grimeersakkie en ’n kam in haar handsak. “Het Ma uitgevind presies waar die spreekkamer is?”
“Ek het, kom ons ry nou. Parkering is glo ’n probleem, maar die sekretaresse sê soms is jy gelukkig om net langs hul deur een te kry.”
Magriet is altyd op haar senuwees as haar ma bestuur. Sy ry te vinnig, storm op stopstrate en robotte af en trek dan weer te stadig weg. Gelukkig is die hospitaal nie ver nie. Millie jaag met die afdraande langs die Hyperama af, wip oor spoedhobbels en slaan remme aan by die robot op die hoek van William Nicol- en Constantiastraat. Magriet klou aan haar sitplek. Sy sou met spalke en al beter gevaar het agter die stuurwiel. As sy hierdie rit saam met haar ma oorleef, is sy beslis bestem vir ’n beter toekoms.
Sy loer skuinsweg na Millie, wat die stuurwiel vasklou asof sy ’n ruimtetuig maan toe moet beheer. Ook geen wonder haar broers bestuur almal soos maniakke nie. Hulle het almal by hul ma geleer. Teen die tyd dat Magriet in graad elf was, was daar ’n bestuurskool wat by die skool kom klasse gee het.
“Ma moet nou stadig in die parkeerterrein,” waarsku sy toe hulle by die hospitaalhek indraai.
“Waar kry ek tog ’n gaatjie?” kerm Millie en ry wonder bo wonder so stadig soos ’n slak.
“Ry Ma net, ek sal kyk.”
Die uithangbord vir Pierre se praktyk spring uit na Magriet. Sy verlustig haar aan sy naam. Pierre de Meyer: sterk en sexy, die man én die naam. Sy vergeet skoon om vir parkering te soek.
“Daar’s hy!” roep haar ma uit.
Daar is ’n oop plek reg onder die bord. Dis egter gans te ver van dokter Faure se spreekkamer. Hulle kruie verder en ry twee keer deur die parkeerterrein voor iemand agteruit ry en hulle geholpe raak.
“Waar is die spreekkamer?” vra Magriet terwyl sy uit die kar sukkel. Sy hang aan haar krukke en meet die afstand na die ingang, maar ’n portier met ’n rolstoel pyl op hulle af en verseker haar dat hy haar veilig by die dokter sal besorg. Sy kry haar sit en klou aan die stoel se armleunings. As sy die rit saam met haar ma kon oorleef, sal sy dié een ook, al is dit ’n verleentheid. Millie kom agterna met die krukke en hulle albei se handsakke. Dis warm, die son bak op hulle.
Magriet se oë rek en Millie los ’n gilletjie toe die portier die rolstoel vinnig teen ’n steil afdraand af stoot. Dit voel vir Magriet of sy enige oomblik vooroor gaan val. Miskien is dit so bedoel dat sy nóg bene moet breek, weer in die teater beland, weer in ’n hospitaalbed – om elke oggend deur haar engel besoek te word. Sy berus daarin en begin selfs daarna uitsien toe die rolstoel voor ’n glasskuifdeur tot stilstand gebring word. Iemand maak die deur van binne oop. Die portier sê dankie en stoot haar in.
Millie meld hulle by die ontvangsdame aan. Magriet wonder nog hoeveel rolstoele die portier al omgekeer het toe die dokter in ’n groen teateroorjas daar inkom, haastig groet en ’n voorskrif op haar skoot laat val.
“Ons het ’n noodgeval,” sê hy uitasem. “Gaan solank vir X-strale, die portier sal jou vat.”
Maar Magriet en Millie wag tevergeefs vir die flinke kêrel van tevore. ’n Halfuur gaan verby en die ontvangsdame het al drie keer gebel om te hoor waar Matthew opgehou word. Magriet is moeg gesit.
“Ek sal haar vat,” sê Millie, tipies vasberade.
“Volg net die pyle,” sê die ontvangsdame verlig.
“Ek weet hoe gaan dit by X-strale, dis ’n miernes,” sê Millie terwyl sy Magriet deur die gange stoot. “Ek moes sewe maal sewentig keer daar sit en wag met die spul seuns se rugby- en judo-beserings. Ons sal nie voor sesuur hier wegkom nie en Johan-hulle eet vanaand by ons.”
Haar stem weergalm in die gang en die hele wêreld wat aankom en wegstap, weet presies wat sy deurmaak.
“Ma …” probeer Magriet keer. Haar ma is ’n liewe vrou, maar sy kan soms so uithaak van ongeduld. Die laaste tyd praat sy boonop dikwels so hard asof daar iets met haar gehoor skort. “Sagter, Ma.”
“Hoekom? Dis mos alles waar?”
“Ek was ook in ’n ongeluk en toe moes die mense hier ook oortyd werk.”
Millie buk oor Magriet se skouer. “Hoe sê jy?”
Dis met dié dat sy beheer verloor oor die rolstoel. Teen die skuinste in die lang gang tel die stoel spoed op en rol vinniger en vinniger. Al hang Millie aan die handvatsels, trap sy die aarde mis en sy kan niks doen om te rem nie, net skree.
Hulle kan teen hierdie spoed nie die draai aan die onderpunt van die skuinste baasraak nie en bots so byna teen die oorkantste muur. Was dit nie vir ’n sterk arm wat uitskiet en die wegholgevaarte vroue en al vasgryp nie, was hulle onderstebo. Die held gooi hom eers in hul pad, en toe, met sy rug teen die muur, vang hy vir Magriet voor sy vooroor kan tuimel. Hy hou haar styf teen sy bors en staan so stewig soos ’n rots met die stoel teen sy knieë. Millie hang boonop nog aan die stoel.
Wat ’n vernedering! Binne drie tellings is hulle omring deur mense wat vra of hulle seergekry het en of hulle kan help. Magriet bly staan met haar voorkop teen die gespierde bors. Sy voel so tuis en veilig ná die skrik, maar sy kan die man se hart woes hoor klop. Seker ook groot geskrik. Mense praat en lag om haar, haar ma klink half histeries. Magriet ontspan geleidelik. Die man vryf oor haar rug met hande wat kalmeer en pyn kan verlig.
“Jy’t nie seergekry nie?” vra hy.
“Nee.”
Sy asem diep in, kry die geur van sy parfuum en weet skielik vir seker: Soos enige engel wat sy sout werd is, was hy op sy pos.
Hy laat sak haar stadig in die rolstoel en kyk haar in die oë, vraend, nie onvriendelik nie.
“Ken ons mekaar?”
Haar hart sak in haar skoene. “Ek is Magriet Vlok, ek was ses weke gelede in ortopedies.”
Hy toets die stoel vir stewigheid en plaas haar bene versigtig op die voetruste.
“Die meisie wat deur die trampolien gespring het,” sê hy toe hy orent kom.
“Ja.”
“Jy’s hier om te hoor of dié goed kan afkom?”
“Amper het sy toe ’n nekstut ook nodig,” val Millie hulle in die rede. Sy steek haar hand uit. “Ek is Millie Vlok en dis my dogter, Margarita.”
Hy glimlag. “Pierre de Meyer. Ek is toevallig die fisioterapeut wat haar laas behandel het.”
“Haai, maar dis ’n bestiering! As jy nie voor ons ingespring het nie, het sy erg seergekry. Baie dankie.”
“Het mevrou nie seergekry nie?”
“Nee, ek’s net ’n bietjie uitasem. Ons was op pad X-strale toe.”
Magriet kry die gevoel dat Millie ook onder Pierre se sjarme swig. Die omstanders het almal koers gekies en dis net hulle drie.
“Moes die portier nie gestoot het nie?”
“Hulle kon hom nie in die hande kry nie, toe doen ek dit. Dit was ’n fout.”
Hy kyk op sy horlosie. “Ek het tyd, ek help julle gou.”
Hy vat die handvatsels stewig vas en stoot haar flink in die rigting van die hysbak – die meisie in die rolstoel. Ag nee, sy het gehoop om hom vandag te sien, maar nie só nie.
“Dis darem nou toevallig dat jy Magrietjie se fisioterapeut is,” begin Millie.
“Nogal,” sê hy.
En toe trek haar ma los. Sy praat en sy praat net oor Magriet: hoe sy haar bene gebreek het, hoe ongeduldig sy raak omdat sy skoolhou en graag weer haar volle aandag aan haar werk wil gee en teruggaan na haar eie huis en haar eie motor wil bestuur, en dat sy nog altyd so sportief was, alles saam met die seuns gedoen het, tot gestoei en boom geklim agter voëlnessies aan – hoewel sy niks van visvang hou nie.
Magriet se ore tuit. Sy weet nie waar om haar kop in te steek nie. Haar ma is besig om haar ganse lewensgeskiedenis, van geboorte tot by haar ongeluk op die trampolien, vir Pierre uit te lê! Hy vra nie ’n enkele vraag nie. Dis nie nodig nie, want Millie Vlok gee hom geen rede nie. Sy antwoord al sy vrae nog voordat hy vra, maak nie saak of hy belangstel of nie. Magriet vou haar arms om haar lyf en kyk af. Sy gaan ontplof as haar ma nie ophou nie.
Toe die hysbakdeur by die X-straalafdeling oopgaan en Pierre haar uitstoot, hoor sy iemand in die gang “shame” sê, hard en duidelik.
Die X-straalafdeling sit vol en Millie begin dadelik kla oor Johan-hulle wat vir ete kom en hoe lank dit gaan neem om die plate te laat maak. Pierre parkeer die rolstoel langs ’n oop sitplek.
“Sit solank, mevrou, en gee vir my die dokter se voorskrif. Haar besonderhede is op die rekenaar.”
Millie haal die verfrommelde papier uit haar handsak en oorhandig dit. Haar oë skitter soos Kersfeesliggies.
“Wat ’n gawe man,” sê sy toe hy wegstap na die toonbank toe, “en so aantreklik!”
Al die vroue in die wagkamer se tonge hang inderdaad uit soos hulle hom agterna staar. Dis net Magriet wat dit met bomenslike inspanning regkry om neutraal te lyk. Sy gaan nie hier met ’n ding begin nie, maar sowaar: As hulle vanaand by die huis kom, sal sy haar ma ’n bietjie vertel. Sy is nie meer ’n tiener nie, sy is ’n volwasse vrou. En selfs kinders hou nie daarvan dat jy alles van hulle uitlap in hul teenwoordigheid nie!
Pierre was skaars twee minute by die toonbank, toe draai hy om en stap na hulle.
“Hulle vat julle volgende deur,” sê hy en gee die voorskrif vir Magriet.
“O, dankie tog!” roep Millie uit.
Maar Pierre kyk na Magriet, nie na Millie nie. Hy kyk haar reg in die oë.
“Dit sal goed gaan,” sê hy en gee haar ’n ligte klappie op die boarm. “Sien jou môre.”
“So ’n aantreklike jongman,” sug haar ma toe hy skaars buite hoorafstand is. Hy sal hoor! Magriet het lus en verdamp, so skaam sy haar vir Millie. Maar sy durf nie ’n geluid maak nie. Sy haal haar skouers op en kyk na ’n heruitsending van ’n sokkerwedstryd op die televisieskerms wat al om die mure opgehang is.
“Is jy nou kwaad vir my?” vra Millie ná ’n tydjie.
“Ek wil nie hier praat nie,” sê Magriet sag, maar duidelik genoeg dat haar ma die boodskap kry.