Читать книгу Helena Hugo Tweede Keur - Helena Hugo - Страница 9
6
ОглавлениеMaandagoggend, toe die onderwysers veronderstel is om skool toe te gaan en vir die nuwe jaar voor te berei, bly Magriet tuis. Carol onderneem om haar klaskamer te gaan afstof en die nodige inligting en roosters vir Magriet huis toe te bring.
Die uitdunne vir die huissport begin die volgende Maandag. Magriet hoef egter nie daarby betrokke te wees nie. Sy sal Woensdag op haar pos wees om haar leerders te verwelkom, maar sy kry ’n student om haar by te staan sodat sy haar fisioterapie-afsprake kan nakom of huis toe kan gaan as sy te moeg voel. Die skoolhoof moes self ’n tyd lank op krukke skool toe gaan. Sy weet presies wat dit behels en is simpatiek en inskiklik.
Magriet se ma is nogtans bekommerd.
“Hoe voel jy oor die nuwe kwartaal?” vra Millie toe hulle sit en tee drink. “Sien jy kans?”
“Ek wil so gou as moontlik weer aan die werk kom, Ma.”
“Die kleintjies gaan jou moeg maak.”
“Dis tog net soggens en ek hoef glad nie buitemuurs te doen nie.”
“Maar dis heeloggend, jou bene gaan baie moeg word.”
Magriet kyk na haar voete. Dit ís alles vervlaks ongemaklik. “Die student sal oorneem as ek nie meer kan nie.”
“Geniet jy nie jou verloftydjie hier by ons nie?”
“Ek geniet dit, natuurlik geniet ek dit, Ma. Julle bederf my dan so. Maar ek moet werk, ek moet besig raak – en ek mis die kinders.”
Hoe kan sy vir haar ma sê dis Walter wat haar pla? Hy SMS en bel aanhoudend en kom kyk tydig en ontydig hoe dit met haar gaan. Sy verwag hom enige oomblik en sy is nie verbaas toe haar selfoon lui nie. Sy sug toe sy sy naam op die skermpie sien en laat die foon lui tot dit ophou.
“Hoekom antwoord jy nie jou foon nie?”
“Omdat ek nie lus het vir die persoon nie,” sê sy stroef, “en ek en Ma gesels nou.”
Millie lyk of sy haar regmaak vir ’n ordentlike vraag-en-antwoordsessie toe Magriet se selfoon nog ’n keer lui. Magriet bly by haar besluit en antwoord nie.
“Wie is dit daai?”
Dis tipies: Haar ma laat niks met rus voordat sy die bodem ontbloot het nie. Miskien het dit tog tyd geword om met die waarheid uit te kom?
“Is dit iemand van die skool?”
“Nee, Ma.”
“Wie dan?”
Magriet rek om nog ’n koekie te vat. “Die koekies is lekker, wie’t gebak?”
“Dis die derde keer dat jy vra en die derde keer dat ek vir jou sê dis Ronell. Jy wil net nie vir my sê wie se oproepe jou so irriteer dat jy nie jou selfoon wil antwoord nie.”
Magriet kou haar koekie stadig en sluk dit af met tee. Millie kyk nie weg nie. Sy pen haar vas met ’n streng blik, ’n donga van ’n frons tussen haar oë.
“Dit was Walter,” gee Magriet uiteindelik toe.
Die reaksie is presies wat sy verwag het.
“Ag nee, Magrieta! Hoe kan jy dan so met die arme man mors! Hy doen moeite.”
“Hy pla my.”
“Hy is bekommerd!”
“Hy vra dieselfde vrae oor en oor.”
“Hy wil weet hoe jy vorder, hy gee om. Kyk al die blomme wat hy aandra, die sjokolade!”
Magriet haal diep asem. Dit het tyd geword om haar hart uit te praat, anders gaan sy soos ’n vark lyk wat niks waardeer nie.
“Ma, ek het raad nodig.”
Millie sit haar koppie in die piering en wag plegtig.
“Sy blomme is pragtig, die sjokolade is lekker, sy besorgdheid is oorweldigend. Maar Walter gebruik dit alles net om ons verhouding aan die gang te hou. Ek en hy het niks om vir mekaar te sê nie. Ek kan nie meer nie.”
Daar is ’n knop in haar keel en Magriet verwag ’n skrobbering, maar Millie verbaas haar: “Jy hét vir my so bedruk gelyk toe julle van die vakansie af teruggekom het. Is dit sy mense?”
“Dit ook, ja! Al wat hulle doen, is visvang, visvang, visvang van die môre tot die aand.”
“Wel, julle is nou ver van visse af.”
“Hy en Gert-hulle sleep my dan kort-kort Hartbeespoortdam toe. Weet Ma watse aaklige gediertes swem in daai dam rond?”
“Ek neem aan die vis is nie jou enigste probleem nie.”
“Vis is net een klein onderafdeling van …”
“Van Walter?”
“Ek is nie meer verlief op hom nie. Miskien was ek vir ’n rukkie. Ses maande, ’n jaar. Dalk het ek my verbeel. Dalk was ek nog nooit verlief nie.”
“Julle twee was in ’n stadium gelukkig.”
“Ek het so gedink. En ek het gedink dit sal terugkom as ek saam met hom op vakansie gaan en sy mense ontmoet.”
“Is die verlowing nou van die baan?”
“Al was hy die laaste man op aarde, ek sal nooit aan hom verloof raak nie en ek … ek wil nie met hom trou nie. Hoe sê ek vir hom?”
Teen hierdie tyd huil Magriet dat die trane spat, maar Millie bly kalm. “Wees eerlik, vertel hom hoe jy voel, bedank hom vir die tyd wat julle saam was en gaan aan met jou lewe. Hy sal iemand kry wat van visvang hou en jy sal eendag die man van jou drome ontmoet en trou en getrou bly.”
Klink alles maklik, maar Magriet voel ellendig. Sy blaas haar neus en kyk Millie in die oë. “Dink Ma ek is verkeerd oor Walter en dis alles ek, ek is te onverantwoordelik vir ’n vaste verhouding?”
“Dalk net baie kieskeurig, maar jy kan gelukkig kies wie jy wil. Ek sien mos hoe jou broers se vriende vir jou loer. Hulle sal aangestroom kom as hulle hoor Walter is uit die pad. Hy was nie te sleg nie, ons sal hom mis.”
“Hy en Gert-hulle sal nog vriende wees,” sê Magriet onseker.
“Gert sal hom wel aan ’n meisie kan voorstel.”
Magriet kan haar dit voorstel. Gert is ’n losbol met die swakste smaak. O nee, sy kan dít nie toelaat nie!
“Een van daai dun blondines met die silikoonborste?”
“Magrietjie … As jy jaloers is, is daar nog twyfel,” waarsku haar ma.
“Ek is nie jaloers nie, maar hulle sal hom uitroei,” snik sy. “Dan’s dit my skuld!”
“Walter is ’n groot man, hy kan self besluit.”
“Ons ken mekaar te lank.”
“Weet jy alles wat in sy kop aangaan?”
Magriet bloos. Dis nie asof hy altyd woorde nodig het om sy behoeftes onder haar aandag te bring nie. Die laaste ruk moes sy haar storie ken om hom op ’n skaflike afstand te hou. Sy is tog nie ’n yskas nie: As iemand moet weet hoe sy uitsien na haar eerste afspraak met Pierre de Meyer in sy spreekkamer by die Mayo, skaam sy haar morsdood.
“Arme Walter …” snik sy.
Sy huil nie oor hom nie. Sy huil oor haarself en haar gebreekte bene en al haar sondes. Soos om verlief te raak op haar fisioterapeut.
Millie gee ’n boks snesies aan. “Jy is verward, my kind, en dis nie goed vir jou nie. Kry hierdie ding uit jou sisteem, kyk vorentoe en word gesond. Walter is ’n sterk man, hy sal dit oorleef. Daar is nie dalk iemand anders nie, is daar?”
Magriet moet keer voor haar ma se kop op loop gaan. Sy draai weg en blaas haar neus totdat die snesie deurgeblaas is. Onder die omstandighede is ’n rooi gesig gelukkig gepas.
“Wie sal in my belangstel?” vra sy. “Ek het nie bene nie!”
“Jy moet met Walter praat, Magriet, so gou as moontlik.”
Sy wil en sy moet, ja, maar daar is een ding wat soos ’n meulsteen om haar nek hang – die storie oor haar verlowing wat sy vir Pierre de Meyer opgedis het. Walter moet haar eers ’n paar keer kliniek toe vat sodat Pierre hom kan sien, dan sal sy plan maak.
“Hy is so besorg oor my, ek kan dit nie oor my hart kry nie.”
“Wel, as jy aanhou om nie sy oproepe te beantwoord nie, gaan hy snuf in die neus kry.”
Magriet knik gedwee. Op daardie oomblik lui die selfoon. Weer Walter. Sy druk die antwoordknoppie.
“Hallo, liefling!”
“Waar was jy? Ek bel en bel en al wat antwoord, is jy!”
“Ek het geslaap, jammer.”
Millie pak die koppies en koekbordjies op die skinkbord en maak dat sy wegkom.
“O.” Walter klink skepties.
“Die oefeninge maak my so seer, ek het twee pynpille gevat en toe slaan hulle my.”
“Hoe voel jy nou?”
“Moeg, en jy?”
“Die winkel is besig, dit gaan woes. Maar ek worrie oor jou.”
“Jy moenie, ek’s oukei.”
Die knop in haar keel maak vreeslik seer.
“My ma het gebel, sy worrie ook, sy stuur liefde. Dan sien ek jou vanaand so teen agtuur se kant.”
Magriet se gewete is soos ’n verterende vuur. “Ek sal my ma vra om vir jou kos te hou,” belowe sy.
“Dankie. Ek moet waai, hier’s ’n customer.”
Magriet voel asof sy in ’n moeras afsak en Walter en sy ouers saam met haar intrek. Sy sal gou moet uitkom met die waarheid. Net nie nou al nie. Sy gaan vir haar ma sê sy het tyd nodig en haar vra om die oggend se gesprek dig te hou.
Magriet fokus daarop om nie aan Pierre te dink nie, maar sy moet drie keer ’n dag sy oefeninge doen en dan verskyn hy voor haar geestesoog asof hy in lewende lywe voor haar staan.
Woensdag gaan sy op haar krukke skool toe en word die middelpunt van belangstelling. In haar klaskamer sit sy met haar voete op ’n groot kussing en vertel vir die kleintjies dat sy seergekry het, maar een van die dae weer reg sal loop met die hulp van haar slim dokter en sterk fisioterapeut.
Sy wil nog vir hulle verduidelik wat ’n fisioterapeut is, toe ’n oulike seuntjie sy hand opsteek en vertel sy ouma is een. Haar naam is Nicola en sy werk ook by die Mayo. “Sy buig mense se arms en bene en sy vryf hulle pyne weg,” sê hy trots.
“My ma kan tog ook pyne wegvryf!” gil ’n dogtertjie. “Sy is nie ’n … ’n visdinges nie.”
“Fisio-te-ra-peut!” kom dit wysneus van die seuntjie.
“Dis ’n groot woord, maar eendag sal julle almal dit ken en skryf,” sê Magriet, en dink: Die groot woord is “Pierre”, en hy gaan my hart breek.
“Wie van julle het al ’n arm gebreek?” vra sy vinnig voor sy haarself te jammer kan kry.
“Ek het my arm gebreek, toe val ek uit die boom,” vertel een sproetgesiggie.
“Jy het seker eers geval en toe breek jy jou arm?”
“Nee, my arm was gebreek omdat ek van die hondehok se dak afgeval het. Toe val ek uit die boom. Dit was seer.”
Magriet ontspan by die kinders. Hulle trek haar aandag af en hou haar besig. Elkeen het sy eie storie oor val en seerkry, waarvan sommige so grusaam is dat sy die onderwerp moet verander.
Teen twaalfuur sluit die skool vir die graadeens en kan Magriet gaan rus. Sy het haar klas gewaarsku dat sy môre hospitaal toe moet gaan, en sy’t ook briefies uitgedeel vir die ouers. Sy sal sorg dat die leerplan getrou nagevolg word en die student wat haar help, is baie bekwaam.
Woensdagaand kuier Walter nie lank nie. Sy moet haar ma-hulle bewonder. Haar pa is teen dié tyd ook ingelig oor die dreigende skeiding, maar hulle ontvang hom steeds hartlik. Vanaand kan Walter darem sien dat sy moeg is ná die eerste skooldag en hy neem vroeg afskeid.
“Sien jou môre vir jou fisio,” herinner hy haar toe hy loop. “Lekker slaap.”
Wat besiel my, wonder sy, om ’n goeie man soos Walter in die pad te wil steek? Maar toe hy by die deur uit is, is dit Pierre aan wie sy dink. Die lig speel met die sonstrepe in sy hare en sy donker oë skitter. Dis asof sy hom kan ruik, so werklik is hy.
Sy wil die volgende dag vars en vrolik vir haar afspraak wees, op haar beste. Daarom klim sy negeuur in die bed, maar dis hopeloos – sy kan nie slaap nie. Haar gedagtes hou haar te besig met Walter en Pierre. Oor en oor stel sy hulle teenoor mekaar op en vergelyk hul eienskappe.
Sy ken vir Walter en kan hom op die meeste gebiede beter beoordeel as vir Pierre. Dus loop hy los voor op punte – behalwe wat voorkoms betref. Pierre is die aantreklikste man wat sy in ’n lang tyd gesien het. Maar is sy dan verlief op ’n leë dop?
Sy kan eenvoudig nie slaap nie! Haar emosies is op hol en haar bene, wat sy op kussings stut wanneer sy in die bed lê, is so ongemaklik asof sy betonblokke om haar enkels het.
Teen elfuur moet sy ’n slaappil sluk.
“Is jy op jou senuwees oor die fisioterapie?” vra haar ma, wat ’n rukkie op die ander bed in die kamer bly sit nadat sy die pil gebring het.
“Bietjie,” sê Magriet en keer met moeite die vloedgolf woorde wat in haar keel opdam. Ek is verlief op my fisioterapeut en ek kan nie wag om hom te sien nie. Hy is verloof aan ’n beeldskone model en hy behandel my uiters professioneel. Ek weet nie wat my besiel nie. Dis so simpel om verlief te raak op jou fisioterapeut, dis so goed jy raak verlief op jou tandarts. Ek weet nie of ek môre se sessie gaan oorleef nie.
Maar sy praat nie, lê en kyk net vir die plafon.
“Slaap nou,” paai haar ma. “Alles sal regkom.”
“Nag, Ma.”
Sy voel haar ma se hand teen haar wang. Dis ’n sagte hand, ’n liefdevolle hand van iemand wat haar probleme verstaan, selfs al weet sy nie presies wat dit behels nie.