Читать книгу Helena Hugo Tweede Keur - Helena Hugo - Страница 11
8
ОглавлениеMagriet kom in ’n roetine van soggens vroeg opstaan om haar oefeninge te doen, was en aantrek met haar ma se hulp en skool toe gaan met haar pa s’n. Walter bel en kuier en kuier en bel die eerste week gedurig. Maar toe die skoolatletiek aan die gang kom, raak hy betrokke by die middagoefeninge en sy hoor nie meer so gereeld van hom nie. Hy kom eet ook nie meer elke aand by hulle nie.
Wanneer hy wel opdaag, stel hy nie veel belang in haar vordering nie. Hy spog wel met Johan en Carol se tweeling wat soos blits kan hardloop en met klein Caroline wat die voortou neem by die onderagts.
“Mens sou sweer hy’s familie,” sê Magriet se pa een middag toe hy haar by die skool kom oplaai en Walter aangedraf kom om te sê hy sal laat wees vir aandete omdat die reëlingskomitee sesuur vergader.
“Dit sal dalk tot ná seweuur aanhou en Santie du Preez het gevra of ek haar kan huis toe neem, haar kar is in vir ’n diens.”
“Ek sal vir jou kos uitskep,” sê Magriet.
“Ek kom so gou as moontlik. Jy lyk moeg.”
“My bene pyn,” jok sy.
Haar bene pyn selde. Dis veral snags styf en ongemaklik en sy mis dit om te kan stap en hardloop soos sy gewoond is, maar pyn is nie die woord om dit te beskryf nie.
“Is dit waar, Meiskind?” vra haar pa. “Het jy pyn?”
“Nee, ek moet seker net die uitdrukking op my gesig verklaar. Walter maak asof hy ons ’n guns doen om te kom eet.”
“En sy bord is skaars leeg, dan’s hy haastig om weg te kom. Wanneer gee jy die man die trekpas?”
Magriet sug. “Ek is bang hy oorreageer en laat my atletiekkinders in die steek. Hy is goed met die afrigting en hy doen dit vir my. Ek word ’n salaris betaal en ek doen nie die helfte van die werk nie.”
“Teen die prys van die kos wat hy verorber, kan ons ’n professionele afrigter in sy plek huur,” sê haar pa reguit.
“Hou nog net ’n paar weke uit. Volgende kwartaal is die atletiek iets van die verlede en ek van my krukke af.”
“Hmmm,” brom hy. “Ek verstaan jou nie. Jy loop met ’n lang gesig en maak jouself ongelukkig omdat jy van plan is om hom af te sê, maar jy doen dit nie. Wat gebeur as hy jou met ’n verloofring verras? Sal jy dán die moed hê?”
“Ek weet nie, Pa.”
Eintlik wens sy sy kán Walter se verloofring vir ’n tydjie dra sodat sy vir die arrogante Pierre de Meyer kan wys sy is nie verleë oor hom of sy terapie nie.
“Hoe lyk dit my jy ken nie jou eie hart nie?”
“Soms kry ek hom jammer.”
“Wil jy hê ek moet met hom praat?”
“Seblief nie! Ek sal self, wanneer ek gereed is.”
“Jy word maer, Meiskind,” sê haar pa toe hulle by haar ouerhuis se oprit indraai. “Jy is my enigste dogtertjie, ek hou nie daarvan om jou ongelukkig te sien nie. Dit maak my so moeilik, ek sukkel om Walter in my huis te ontvang.”
“Moet ek teruggaan na my eie huis toe?” vra Magriet moedswillig.
Haar pa hou stil en draai na haar. “Ek ken jou nie so nie. Wat gaan aan met jou?”
“Jammer, Pa,” sê sy. “Ek het dit nie so bedoel nie. Dis net moeilik om te besluit as almal vir jou kyk.”
“Wie is almal?”
“Carol en Johan weet ook hoe ek voel. Hulle het belowe om niks vir Walter te sê nie, maar iets gaan nog uitglip. Dit maak my op my senuwees.”
“Kry dan end met die man,” sê haar pa en gooi sy motordeur taamlik hard agter hom toe.
Magriet byt op haar tande en maak die deur aan haar kant oop. Die gesukkel om uit te klim hou haar en haar pa ’n ruk lank besig. Dis ’n verligting om nie verder oor Walter te redeneer nie.
Daar is tien dae oor voor sy haar dokter moet sien en weer by haar fisioterapeut uitkom. Háár fisioterapeut … Was hy maar hare in die ware sin van die woord! Maar Pierre de Meyer het lankal vergeet dat daar enigsins iemand soos Magriet Vlok op sy lys is.
Sy moet hom uit haar sisteem kry, vir hom en Walter albei. Dalk is dit goed om weer vry en enkellopend te wees, miskien kry sy só ’n flentertjie van haar ou vrolikheid terug. Sy is bedruk vandat sy deur daardie trampolien geploeg het. Dit is per slot van rekening nie maklik om op krukke oor die weg te kom nie, en dis nie al wat pla nie.
“Neem beheer oor jou lewe,” por haar pa nog vir oulaas toe hulle in die ingangsportaal staan.
“Ek gaan my hande was.”
Magriet vlug so vinnig soos sy kan na die badkamer langs haar slaapkamer. Sy wil nie in die spieël bokant die wasbak kyk nie, veral nie ná ’n oggend se vermoeiende skoolhou en dié soort gesprek met haar pa nie, maar sy kyk outomaties op. Sy lyk asof sy tandpyn, griep en hoenderpiep het, als ineen. Kry mense hoenderpiep? Mense kry iets soos voëlgriep. Hulle gaan sommer dood daarvan. Ja, sy sal nog doodgaan van voëlgriep en verliefdheid op ’n skim.
Kan sy so onnosel wees om ernstig verlief te raak omdat sy haar in haar narkosebeswyming verbeel het sy sien ’n engel? Pierre is inderwaarheid net nog ’n onbeskofte man wat nie omgee of hy sy afsprake nakom nie.
“Vergeet van hom, vergeet van hom,” fluister sy vir haar spieëlbeeld.
Saterdag sit Magriet in die onderwyserstent om die skoolatletiek te kyk. Walter het spesiaal vir haar ’n gemaklike stoepstoel aangery. Hy koop kort-kort koeldrank en eetgoed en wys vir haar digitale foto’s van haar klassie se kinders wat presteer. Die tweeling en klein Caroline wen elke resies waaraan hulle deelneem en bring hul bekers vir Magriet om te bewonder. Walter neem foto’s asof hulle vir die Olimpiese Spele gekwalifiseer het. Dit is ’n gesellige gesinsdag en almal – Santie du Preez sommer ’n paar keer – vertel vir Magriet dat sy ’n man duisend gevang het.
Terwyl hy weg is om pannekoek te gaan haal, tel Magriet die kamera op om die foto’s deur te kyk. Daar is veel meer as wat hy vir haar gewys het, en dis opvallend dat hy Santie van elke hoek en kant afgeneem het. In ’n hele paar foto’s glimlag sy reg in die kamera.
Daar is baie minder foto’s van Magriet as van Santie. Sy weet nie of sy naar is van die hoendersosaties of van ’n suspisie wat pas by haar posgevat het nie. Sy sit die kamera byna skuldig presies waar Walter dit gelos het.
Hoe kan sy vir Santie met haar skaam glimlaggie verdink? Dis atletiekdag en Santie is immers die L.O.-juffrou. Sy sal vanselfsprekend oral te sien wees, besig om haar werk te doen. Daar is baie foto’s van haar, maar Walter het van die ander onderwysers ook afgeneem. Onskuldige foto’s is tog nie ’n bewys van ontrouheid nie en sy sal ’n gek van haarself maak as sy hom oor Santie se foto’s konfronteer. Al soek sy ook hoe hard vir een, dit gee haar nie ’n goeie rede om hom af te sê nie.
“Ek kan hom dit nie aandoen nie,” kerm sy vir die soveelste keer terwyl haar ma haar daardie aand help om te stort.
“Hoe gouer, hoe beter,” sê Millie en help Magriet om die groot naghemp aan te trek.
“Carol dink ek is verkeerd. Mans soos Walter is skaars.”
“Carol hoef nie met hom te trou nie.”
“Hy sal ’n wonderlike pa wees.”
“Vir jou moet hy ’n man wees,” sê Millie betekenisvol.
Magriet weet wat sy bedoel. Millie het sewe seuns en ’n dogter in die wêreld gebring en haar man bring nog gereeld vir haar blomme.
“Is Pa so ’n man?” vra sy nogtans.
“Natuurlik,” sê haar ma. “Dis hoekom ek met hom getrou het. Hy was so romanties, hy’t gedurig vir my duur parfuum en sexy nagklere gekoop. Die eerste jaar van ons huwelik het ons elke naweek gaan fliek.”
“Maar hoe’t Ma geweet hy sal lief wees vir kinders?”
“Magrietjie, kinders was die laaste ding wat by my opgekom het toe ek vir hom ja gesê het. Hannes Vlok was al wat saak gemaak het. Hy het my voete onder my uitgeslaan. Ek was behoorlik dronk van liefde. Hy’t altyd so lekker geruik – na sandelhout.”
Magriet bloos vuurwarm toe sy oombliklik dink aan die heerlike Desire-geur wat om Pierre de Meyer hang. Gelukkig is sy klaar aangetrek en kan sy haar krukke gryp en na die deur toe aanskuifel.
“Julle is nie nou meer so verlief nie,” mompel sy toe haar ma haar met haar beddegoed help.
“Jy het dit mis,” sê Millie ernstig. “Liefde verdiep met die jare. Oumense kan nie verspot verlief bly nie. Maar jy en Walter behoort nog baie verlief te wees, nie so …”
“Verveeld met mekaar nie?”
“Dis jy wat dit sê.”
Magriet droom daardie nag ten spyte van haar slaappil. Sy en Pierre de Meyer vang vis en dis lekker, sy geniet dit. Die see is blou-en-wit soos sy spreekkamer en hulle sit op ’n houtdek met die wind in hul hare. Die tafel is gedek met sjampanje en rou oesters. Sy haat rou oesters, maar Pierre voer haar en sy eet dit met smaak. Souterig, suurderig en soos murg glip dit in haar keel af. Pierre kan net sy ken effens lig, dan is sy lippe op hare.
Hy soen haar so vlugtig, dit voel of daar vlinders deur haar kop vlieg. Hy maak haar dronk. Hy draai haar soos ’n singende tol in die rondte. Haar wye wit rok klok om haar heupe. Sy val agteroor en hy vang haar. Haar hare sleep op die grond. Sy mond is op hare, sy tong glip soos ’n oester in haar mond. Die volgende oomblik lê hulle in ’n spierwit bed. Wit drapeersels hang van die dak af, wit lakens steek af teen hul bruingebrande lywe. Hy streel haar skouers en haar arms, haar heupe. Hy skuif die lakens af. Sy het ’n satynnagbroekie aan, vroulik en sexy met kantvalle. Maar haar bene is tot by haar heupe in gips. Haar bene is twee afgekapte stompe op kussings gestut.
“Ontbyt!” roep haar ma. “Opstaantyd!”
Later die oggend, toe haar ouers kerk toe gaan, kom kuier Walter by haar. Hy gaap gedurig.
“Jy lyk of jy liewer nog moet slaap,” sê sy vir hom.
“Ek wou bel, maar ek het belowe om te kom.”
“Is dit die atletiek wat jou so uitgeput het?”
“Ons moes nog die tente afbreek en stoele wegpak, die hekkies en alles bêre.”
“Is dit al?”
“Van die ouens het agterna ’n draai by die casino gaan maak.”
“Die ouens?”
“Pa’s wat hul kinders se sukses wou vier.”
“Jy is nie ’n pa nie en jy vier saam!”
“Hulle het my genooi. Wat karring jy so, Magriet? Ek is babelas. Wat daarvan?”
Hier is dit nou! Eindelik het sy ’n rede. Sy sit regopper. “Dis nie die eerste keer nie.”
Hy kom ook orent. Sy oë is bloedbelope.
“Sê jy ek drink?”
Magriet sê niks – sy kyk net. Walter het nie geskeer nie en sy kan sweer sy baard is reeds langer as toe hy hier aangekom het. Sy borshare krul oor sy kraag. Hy het ’n kortbroek en plakkies aan en sy harige bene en tone kan nie misgekyk word nie. Hy lag en gesels altyd vrolik, maar vandag is hy so knorrig soos ’n beer met ’n seer tand.
“Wat is dit met jou? Jy’s anders vandat jy seergekry het. Of durf ek nie vra nie?”
“Dis nie omdat ek geval het nie.”
“Wat dan?”
“Ons is nie vir mekaar bedoel nie,” blaker sy dit uit.
Hy kyk haar net vlugtig aan, bak dan sy hande voor sy mond en neus, knyp sy oë toe en haal asem soos ’n gewonde dier. Ná ’n tyd wat vir Magriet soos ’n ewigheid voel, haal hy sy hande voor sy gesig weg en hark met sy stomp vingers deur sy hare.
“Ek waai,” sê hy nors. “Gaan my hangover afslaap.”
En sonder ’n verdere woord staan hy op en stap uit.
“Baai,” sê sy so sag sy weet hy hoor dit nie. In haar hart skree sy: Walter, toe ek gesê het ons is nie vir mekaar bedoel nie, was ek eerlik oor hoe ek voel! Ons kan nie saam wees nie, ons verhouding is ’n fout!
Die voordeur klap en sy hoor sy viertrek met ’n geskree van bande wegtrek. Soos sy hom ken, is hy môre terug met ’n bos blomme en ’n boks sjokolade as soenoffer.
Sy skakel die radio aan op die kerkdiens, maar hoor nie ’n woord nie.