Читать книгу Helena Hugo Tweede Keur - Helena Hugo - Страница 4
1
Оглавление“Sy is ’n gebore visterman, glo my, tannie Millie. Sy trek grotes uit.”
Magriet se ma kyk na haar met ongeloof op haar gesig. Sy is heeltemal reg om nie ’n woord te glo wat Walter sit en verkondig nie.
Magriet se broers grinnik. Sy hou nie van visvang nie en hulle weet dit. Grinnik hulle omdat hulle Walter se stories glo en dink sy het werklik geswig? In ’n sekere sin het sy, maar dit was ’n marteling.
“Het julle élke dag gevang?”
Sy stry teen die impuls om haar oë te rol vir haar ma se vraag.
“Omtrent elke dag, lekker vars vir die tafel.”
Walter beduie met sy hande hoe groot die visse was. Hy lieg oor die afmetings, maar selfs dít sal Magriet nie aan die praat kry nie.
“Klink of julle dit geniet het?”
Magriet weet haar pa vra Walter dit maar net uit ordentlikheid – omdat hy haar goed genoeg ken om háár nie te vra nie!
“Fantasties!” roep Walter uit.
Grotesk, dink sy.
Drie weke saam met die Korbs in hul huis van vier winde was eens te veel, en vir middag- én aandete die einste visse wat sy ’n paar uur tevore sien snak het. Magriet is ’n stadsmeisie. Sy is nie gewoond daaraan om haar vleiskos self te vang, dood te maak en af te slag nie. Walter se ma het haar boonop mooi gewys hoe om ’n vis te vlek. Sy weet nou hoe, maar sy wil dit nóóit weer doen nie.
Vir haar was die vakansie ’n geleentheid om haar en Walter ’n kans te gee om mekaar, in ander omstandighede as in Gauteng tussen al die gejaag, nog beter te leer ken. Miskien is dit sy wat verkeerd is, maar in haar kop het sy romantiese dae in die son voorgestel – sy en Walter op handdoeke op die strand, rustig aan die gesels of uitgelate in die branders.
Dit het nie gebeur nie. Die kere wat hulle gaan swem het, kan Magriet op een hand aftel. Kreefduik reken sy nie in nie. Hulle is heel vakansie saam met sy ma en pa op en af langs die Weskus om vis te vang en kreef en perlemoen te duik.
Dit was haar finale ontnugtering. Walter se ouers is gawe mense, maar so anders as haar eie ouers. Ergste van alles is dat Walter ook ’n metamorfose in hul rigting ondergaan het. Sy het nooit kon dink hy is so lief vir alles wat jy uit die see kan haal nie – en om dit dan boonop te eet, selfs die arme perlemoentjies met hul oulike gesiggies!
Nee, sy en Walter is nie vir mekaar bedoel nie.
“Julle is darem lekker bruin gebrand,” sê Carol, een van Magriet se skoonsusters. “En julle lyk so gesond!”
Hulle is, en hulle lyk seker albei mooi gesond, moet Magriet toegee. Hulle het net gister hier aangekom van die see af, betyds vir haar ma, Millie, se sewe-en-sestigste verjaardag.
“Dis al die vars vis,” beaam Walter en neem ’n groot sluk van sy derde bier.
Vis, vis en nogmaals vis, dink Magriet. Sy het lus en skree: Verander die onderwerp voor ek die waarheid uitbasuin!
Gelukkig vir haar begin Carol en Johan se woelige tweelingseuns mekaar met tjips en koeldrank gooi en kry sy ’n verskoning om daar weg te kom.
“Julle twee!” keer sy, spring op en kry die rakkers aan hul arms beet. “Sal julle ons verskoon?” vra sy die grootmense en glimlag vir Walter. Hy lig sy bierblikkie simpatiek, maar staan nie op om haar te help nie.
“Waar gaan ons?” vra die tweeling in ’n koor.
“Trampolien toe.” Sy’t hulle vinnig by die stoep af.
“Slaan vir ons bollermakiesie – in die lug!”
“Bollémakiesie!”
“Bollerrrrmakiesie.”
Magriet vat hande met die twee en spring tot hulle moeg is. Die seuntjies rol van die trampolien af en raak aan die stoei op die gras.
“Wil julle ’n bollemakiesie sien?” keer sy vinnig toe hulle mekaar se hare begin trek.
“Ja! Jaaa!”
“Sit soet en kyk.”
Verstommend genoeg gehoorsaam hulle. Magriet wip ’n paar keer op en af: Sy gee krag, wip hoër, nog hoër, skiet hoog die lug in. Wanneer sy afkom, raak haar kaal tone skaars aan die trampolien of sy vlieg weer op. Soos ’n vuurpyl, dink sy, maan toe, son toe. Sjoe, sy is in die wolke, of miskien is dit die rook van haar broer se braaivleisvuur. Maak nie saak nie, sy vlieg! Sy klap haar arms soos vlerke en kyk grond toe.
Die seuns lê daar en skop mekaar. Haar broer Andries staan nader met sy dogtertjie op die arm. Walter is steeds op die stoep aan die beduie hoe groot die visse was. ’n Wanhopigheid skeur deur Magriet. Laat daar tog iets gebeur om haar te red van hierdie ellende! Enigiets! Dit kan seermaak ook, solank sy nie meer Walter Korb se meisie hoef te wees nie.
“Bollermakiesie, tannie!”
Magriet buig haar bene, raak haar knieë en land op haar sitvlak.
“Tannie jok! Tannie kan nie!”
Wip, wap, wip. Die trampolien kraak en kreun.
“Vleis is reg!” Johan roep met die braaivurk soos ’n septer in sy hand.
“Pa, kyk vir tannie Magriet.”
“Magrieta, daai trampolien …!” begin Johan.
Walter staan nou soos ’n nare skim agter Johan, sien sy. “Wys hulle, Riet!”
Sy sál, en vir hom ook. Met dié trek sy haar lyf styf en spring asof sy aan ’n kompetisie deelneem. Sy moet krag gee, harder hop, meer kere wip voordat sy genoeg hoogte kan kry om te “bollermakiesie”. Meer krag, meer veerkrag … dis wat sy nodig het.
Toe sy die trampolien weer tref, gebeur dit.
Dit breek middeldeur en Magriet land ongenadig hard op die grond. Pyn vlieg soos vuurwarm pyle deur haar onderlyf. Is dit hoe dit voel om geskiet te word? Die gedagte flits deur haar kop voordat alles swart word.
Toe sy weer kan sien, kyk sy in ’n kring verskrikte gesigte vas – omtrent haar hele familie, grootmense en kinders. Waar kom hulle almal vandaan? Sy lag. Hulle lag terug en lyk verlig.
Haar ma lag nie saam nie. Dit lyk of sy bid.
“Magrietjie, is jy oukei?” Haar pa hurk hande op die knieë langs die gat wat destyds onder die trampolien gegrawe is. “Meiskind, hou vas. Ons gaan jou nou-nou hier uithaal,” troos hy.
Carol draai briesend na Johan. “Ek het jou gesê die ding moet vervang word!”
“Dit kon erger gewees het. Sy kon heel mis gespring het.”
Walter lê op sy maag en hang halflyf in die gat. “Gee jou hand, Riet, ek trek jou op.”
Sy gee albei haar hande. Haar arms is rooi – bloed drup van een elmboog af en Walter hou eers terug.
“Sy bloei!” gil een van die kinders.
Walter kyk oor sy skouer asof hy verwag om sy ma en pa agter hom te sien staan, elkeen met ’n noodhulpkissie. Klein Caroline huil en sit Emma en Lindie ook aan die skree. Carol en Linda maak hul kinders bymekaar.
“Kom, ons gaan gee vir julle lekker kossies,” paai Linda.
Johan en Andries hou Walter se bene vas en sy hande sluit stewig om Magriet se boarms.
“Seer?”
Dit is, maar sy skud haar kop.
“Een, twee … drie!” sê hy en probeer haar lig. “Trap vas teen die kant.”
Maar Magriet besef met ’n skok dat sy nie haar regterbeen kan roer nie … nog minder haar linkerbeen. “Ek kan nie, ek dink ek het my been gebreek … my béné. Hulle is gebreek!”
Sy oë rek en hy kyk weer om. “Hoe kry ons haar uit?”
“Komberse en kussings,” sê Johan.
“Ek klim in, iemand moet onder haar inskuif,” sê Andries.
“Sê nou dis nie haar bene nie, sê nou dis haar rug?” Dis haar ma, sy probeer sag praat.
“Ek hoor vir Ma,” sê Magriet. “Dit is my bene.”
“Ek sal kyk.” Haar familie begin nou so deurmekaar en oor mekaar praat dat sy nie kan byhou nie.
“Jy’s ’n veearts, Andries!”
“Diere het ook skelette.”
“Bring daai komberse!”
“Wat van suikerwater?”
“Gaan haal kussings en kry verbande vir haar arms!”
“Waar’s die draadskêr?”
Almal praat, almal het raad. Dis hoe hulle is, ’n wilde gesin, gewoond aan rampe en ongelukke, goed met planne en noodhulp. Een tandarts, twee veeartse en een amperse dokter – elkeen met sy eie mening.
“Het iemand die ambulans gebel?”
“Ek het, hulle is op pad.” Haar pa klink moeg. Hoeveel soortgelyke affêres is hy nie al deur met sy spul kinders en kleinkinders nie!
Johan, Andries en Walter is besig om die res van die trampolien los te knip en uit te ruk.
“Ek het jou gesê die ding raak oud!”
“Los nou, Carol.”
Carol het intussen ’n dosie vrugtesap gebring wat sy vir Walter gee om vir Magriet te gee. Carol lyk of sy wil huil.
“Dis nie julle skuld nie, ek het te hard gespring,” troos Magriet. “Jammer, Ma. Op Ma se verjaardag!”
Millie skud haar kop. “Dis ’n ongeluk, my kind, niemand se skuld nie. Ons moet jou net by ’n dokter kry.”
“Miskien het die ambulansmanne ’n manier om haar uit te haal?” vra haar pa.
Johan sleep ’n groot stuk van die trampolien weg. “Hulle het net so min ’n manier soos ek en Pa.”
“Hulle sou haar wraggies al daar uit gehad het.”
Walter sit met sy knieë teen sy ore, hande in die hare. Sy idees het opgeraak.
Andries seil langs Magriet in die gat af en wikkel hom styf teen haar in.
“Het jy pyn?”
“Net as ek beweeg.”
Hy druk-druk met sy vingers al langs haar ruggraat en vat dan haar heupe vas, ewe professioneel.
“Watse dier is ek nou?” spot sy.
“Kies maar.”
“Skilpad?”
“Wel, skilpad, die dop op jou rug is nie gekraak nie.”
Magriet maak haar oë toe en leun teen hom sodat sy glad nie op haar bene hoef te rus nie. Sy voel niks, tensy sy beweeg, dan skiet die pyn van alle kante af deur haar lyf.
“Dis my pootjies wat seer is, nie my dop nie.”
Andries haal ’n rol verbande uit sy sak. “Die hospitaal sal dit moet regruk, ek keer net solank die bloeding voor jy jou leeg bloei.”
“Wat gaan hiér aan?” hoor hulle van bo.
Tjaart en Berdine is altyd laat. Berdine is in haar huisdokterjaar en Tjaart is ’n kameraman by SuperSport, nooit sonder sy kamera nie. Soos gewoonlik begin die verfilming onmiddellik, maar Berdine keer.
“Tjaart, jou suster het seergekry! Los tog die kamera.”
“Dis vir die rekord. Haai, Magrieta, wat het jy dan gedoen om dít te verdien?”
Haar straf omdat sy Walter en sy ouers die hele vakansie lank verwens het, dís wat dit is. Berdine het ’n wit langbroek aan, maar gaan sit op haar knieë en kyk af na Magriet. “Hoe lyk dit?” vra sy vir Andries, wat besig is om Magriet se arms te verbind.
“Sy’s ’n sterk meisie,” antwoord hy bedaard.
“Het julle haar iets gegee vir die skok?”
Magriet wys die vrugtesapboksie. Haar hande en arms, haar hele lyf bewe nou, kom sy agter.
“Johan, julle het hierdie gat darem deeglik diep gegrawe!” Tjaart mik met sy kamera.
Andries hang ’n kombers om Magriet se skouers toe hy klaar is met die verbande. Sy weet nou hoe ’n skilpad voel wat in ’n gat geval het – hulpeloos.
Carol bring nog kussings, die tuinmeubels s’n. “Ons gaan vir jou ’n kussingtoring bou,” sê Johan. “Dan lig ons jou op en maak ’n hoër een langsaan, dan lig ons jou weer. Sal jy dit kan verduur?”
“Enigiets om my uit te kry.”
Walter staan arms gevou. “Weet nie van julle nie,” sê hy, “maar ek begin worrie oor daai vleis in die oond. Dit gaan mos uitdroog?”