Читать книгу Helena Hugo Tweede Keur - Helena Hugo - Страница 7

4

Оглавление

Van al die skokke en inspanning slaap Magriet die hele dag om. Middagetetyd eet sy tam haar kos en drink haar pille, maar dan slaap sy weer tot aandete.

Teen seweuur daag haar besoekers op. Dis Carol en die skoongeskropte tweeling én hul sussies. Johan werk laat, maar stuur sy liefde. Die tweeling is so sedig dat botter nie in hul monde sou smelt nie. Carol fluister vir Magriet: “Hulle is bang ek los hulle hier om hulle streke te laat uitsny.”

Die kinders oorhandig elkeen ’n geskenkie en ’n kaartjie wat hulle self gemaak het.

Magriet maak ’n bohaai oor elke geskenk: sjokolade en nougat en nog sjokolade. Die dogtertjies se kaartjies is vol tekeninge van hartjies en blomme. Die tweeling het prente van karre uitgeknip en geplak. Hul boodskappies is in skoonskrif oorgeskryf, die spelling foutloos: soos nagesien deur hul ma wat in die klaskamer langs Magriet s’n skoolhou.

Liewe tannie Magriet, ek hoop tannie se bene groei gou aan.

Liefde, Jaco

Liewe tannie Magriet, ons gaan ’n nuwe trampolien kry.

Liefde, Nico

Hulle is nog besig met die kinders toe een van haar tweelingbroers, Gert, opdaag met ’n yslike ruiker.

“Van my en Louis.”

Louis is Gert se tweelingbroer. Hulle bedryf saam ’n vulstasie, droom van tydrenne en vang graag vis. Gevolglik is hulle en Walter nog beter bevriend as Walter en haar ander broers.

Magriet verstom haar oor die ruiker. Sy het dit nie van dié twee verwag nie. Maar die afgelope tydjie gebeur daar baie dinge wat sy nie verwag nie.

“Dankie, Gert, dis baie mooi,” sê sy, en Carol beaam dit.

“Hoe voel jy, loop jy al?” vra Gert.

“Ja, so ’n bietjie, ek leer van voor af.”

“Het jy ’n sexy fisioterapeutjie? Jy moet haar nommer vir my afskryf.”

“Kan nie,” sê Magriet.

“Hoekom nie?”

“Want sy is ’n hy.” Oeps, daar bloos sy.

“O, en hoekom word sy nou so rooi? Ek sal vir Walter moet waarsku!”

Magriet wil haar kop onder die laken druk, maar Carol kom tot haar redding. “Genade, Gerhard, bedaar!” roep sy uit. “Haar ortopeed is ook ’n man.”

“En hier is manlike verpleërs,” sê Magriet vinnig.

“Professionele mense,” voeg Carol by.

“Haha! The ladies doth protest too much!” hou Gert vol.

“Vir iemand wat Shakespeare aanhaal, is jy darem vreeslik kinderagtig,” sê Magriet. “Nico, wys vir oom Gert die karretjie-kaartjies wat julle gemaak het. Hy speel mos so graag met karretjies.”

Sy gee die kaartjies vir Nico aan. Jaco gryp dit uit sy hand en ’n gestoeiery ontstaan wat Carol eers moet stopsit. Dit verskuif ten minste die aandag van Magriet na die kinders. Klein Caroline dra die yslike bos blomme rond en val amper oor haar eie voete.

“Jammer, Magriet, ons is duidelik nie gewoond aan hospitale nie,” sê Carol.

“Wees dankbaar daaroor,” sê Magriet, maar dink heimlik: Dis glad nie so sleg nie.

“Het jy pyn?” vra Gert met Emma op sy arm. Die kleintjie kan nie haar handjies van sy bokbaardjie afhou nie.

“Niks,” sê Magriet. “Ek is vol pynstillers.”

Nee, vandag pla die onsekerheid oor Walter veel meer as haar bene – veral ná haar sessie met Pierre de Meyer.

Carol is besig om water in die vaas te gooi terwyl die tweeling die sellofaan van die ruiker afhaal. Magriet sien al hoe knak die blomkoppe, maar Carol het blykbaar oë agter haar kop, want sy sit eers die vaas neer en help hulle. Toe kry elkeen ’n stuk van die sellofaan om te frommel, en Caroline die strik.

“Wys my jou bene,” vra Gert. “Laat ek sien of die kwak hulle reguit gespalk het.”

“My knieë sit darem nog voor,” sê Magriet en flap die laken oop.

Die veselglasverbande beïndruk Gert. “Nes myne was, presies dieselfde. Ons kyk wie se littekens maak die mooiste riwwe.”

“Nie as sy vitamien E-olie aansmeer nie.” Carol dra die blomme nader en gee dit vir Gert om op die rak in die hoek van die kamer te sit. Hy hou die vaas so skuins dat water oor sy rug stroom. Die kinders lag en help hom om die vloer af te droog met Magriet se gesighanddoek.

“Hoekom maak jy die pot so vol?” verwyt Gert vir Carol.

“Sodat die verpleegsters of wie ook al nie nodig het om op ’n stoel te staan en water by te gooi nie. Nico, jy kan nie die vloer droogmaak met tannie Magriet se handdoek nie, los! Jy ook, Jaco! Nee, nou moet ons huis toe gaan.”

“Kom Ma-hulle dan nie vanaand nie?” vra Magriet effens mistroostig.

“Vergeet om te sê, sy eet uit saam met vriendinne vir haar verjaardag. Hulle kom môreoggend.”

Carol dreig al die afgelope vyftien minute om huis toe te gaan, maar kom nie sover nie. Gert wys nou eers vir die seuns hoe om te boks terwyl Magriet en Carol en die dogtertjies taamlik verveeld toekyk. Tot hul vreugde verskyn Tjaart in die deur, kamera in die hand. Die seuns en Gert poseer eerste vir foto’s, dan die dogtertjies en Carol. Magriet moet in haar hospitaalbed afgeneem word met Walter se geel rosies soos ’n bruidsruiker in haar hande, haar besoekers om haar gerangskik.

Besoektyd is amper om toe Walter rooi in die gesig daar opdaag, papnat gesweet, met ’n koelsak vol koeldrank.

“Nee man, ek het daai sak vir jou gegee om bier in koud te hou!” bulder Gert.

Die seuns het skielik lus vir koeldrank en Emma moet toilet toe gaan.

“Ek vat haar, dan ry ons,” sug Carol.

Klein Caroline klouter die bed vol en Magriet moet keer dat die kind nie op haar bene beland nie. Walter is ook nou met soentjies en goed al langs haar bed.

“Watse plas is dit dié, hier op die vloer?” vra Tjaart.

“Skoon water,” sê Magriet.

“Dis die blomme wat gepiepie het!” roep klein Nico.

Hy gryp vir Jaco en stoot hom soontoe, en Jaco gil asof blomme regtig kan piepie. Caroline druk haar ore toe en gil harder as hy.

Magriet snak na asem, want die saalsuster en Pierre de Meyer, van alle mense, loer by die deur in – seker om te sien of iemand nie vermoor word nie! Die suster skud net haar kop en verdwyn weer gangaf, maar Pierre bly in die deuropening staan, ’n uitdrukking van ongeloof en stomme verbasing op sy aantreklike gesig. Met gekruiste vingers bid Magriet dat hy nie moet inkom en haar onbeskofte familie ontmoet nie.

“Julle kinders! Hoei!” probeer Gert die jillende spul kleintjies keer. Tjaart konsentreer net op sy kamera. Jaco stamp die loopraam om in sy haas om van die plas water weg te kom en dit val uitmekaar. Die kinders is skielik doodstil, maar net vir ’n sekonde.

“Jy het dit gebreek!”

“Is nie, jy het!”

“Dis jy!”

“Jy!”

“JY!”

Gert tel die loopraam op en las dit netjies. “Geen skade nie,” sê hy besadig.

Die kamer is so warm Magriet wens sy kan die lakens afskop, en haar verleentheid maak dit net erger. In die gang gooi Pierre sy hande in die lug en maak dat hy wegkom. Gelukkig lui die klokkie en besoektyd is verby.

“Ek wens die skool wil begin,” sê Carol toe sy terugkom met Emma. Sy maak haar kroos bymekaar. “Dertig in ’n klaskamer is makliker om te beheer as vier by die huis.”

“Berdine het laat weet jy moet vir jou fisioterapeut luister. Sy is glo van nou af die belangrikste mens in jou lewe,” waarsku Tjaart nadat hy nog ’n foto van Magriet geneem het met al die kinders saam op haar bed.

“Ek sal,” sê sy. Sy bloos al weer, en probeer dit verbloem deur vrolik vir Carol en die kinders te waai.

“Nee, maar sý is ’n hý, hoor, weet jy dit, Walter?” begin Gert.

“Kry end!” Magriet kan nie glo dis sy wat so gegil het nie en sy bloos nog dieper. Deksels, hierdie partytjie hou nou te lank aan.

“Oukei, cheers,” groet Gert haastig, kastig stert tussen die bene. “Gaan ons ’n biertjie maak?” vra hy vir Walter. Hy wag nie vir ’n antwoord nie. Hy en Tjaart maak dat hulle wegkom.

Walter wys duim in die lug en soen Magriet asof hy bang is die bier raak uitverkoop. “Wat is dit met jou en Gert?” vra hy, blykbaar sonder om te besef dat sy knoffelasem die lug besoedel.

“Hy terg my omdat my fisioterapeut ’n man is.”

“Moet ek hom vir jou regsien?”

“Die fisioterapeut of Gert?”

“Die terapeut, as hy orig raak.”

“Hy is ordentlik, Walter, hy doen net sy werk,” keer Magriet. Sy kan aan niks ergers dink as ’n vuisgeveg tussen Walter en Pierre nie!

“Ken Gert hom?” wil hy agterdogtig weet.

’n Verpleegster stoot ’n trollie by die deur in.

“Besoektyd is verby,” sê Magriet.

Walter steur hom nie aan die verpleegster nie en soen Magriet asof hulle alleen is.

“Ek verlang,” sê hy innig – te innig.

Toe Walter eindelik uit is, neem die verpleegster Magriet se temperatuur en meet haar bloeddruk.

“Sjoe, iemand het knoffel in sy aandete gehad,” sê sy dan en maak die venster oop.

Magriet maak nie verskoning nie, maar bedank haar vir die vars lug.

Nog ’n uur se gewoel en gewerskaf rondom haar bed lê voor. Buite is dit donker, die straatligte is aan en daar beweeg minder motors teen die bult op en af. Magriet hou hulle dop terwyl sy skaam dink aan Gert se geterg. Sy wonder wat hy sal doen as hy moet weet hoe naby aan die kol hy is. Dan dink sy onwillig aan Walter en stel haar voor hoe hulle twee eendag die huis op Tietiesbaai oorneem en van die môre tot die aand visvang.

Die idee maak haar so rusteloos dat sy gans te vinnig op haar linkersy draai. Eina! Haar oë traan sommer. Eienaardig, dink sy, hoe al die deeltjies van die geheel verbind is en hoe groot die impak van een verkeerde beweging kan wees.

Een haastige besluit kan alles verander. Moes sy haar bene breek om haar toekoms in oënskou te neem? Nee, dit het eintlik al by die see begin, en nou het sy hope tyd vir ernstige selfondersoek.

Walter is nie haar droomman nie.

Sy het haar droomman gesien, en sy naam is Pierre.

Pierre en Magriet.

Nee wag, haar doopnaam is Margarita, en dis wat op haar hospitaalvorms staan. Dit pas beter by Pierre, pas uitstekend by Pierre! Pierre en Margarita de Meyer. Sy sou Vlok wou bly vir die res van haar lewe, maar Margarita de Meyer sing soos ’n bergstroom in die maanlig …

Hemel, sy moet ophou simpel wees! Netnou yl sy van al die pynpille, slaappille en spierverslappers en dan hoor die verpleegsters hoe prewel sy Pierre se naam of iets.

Dan spring haar gedagtes weer na haar dilemma. Arme Walter. Sy wil hom nie seermaak nie, en sy gaan. Toe die nagverpleegster met die waswater kom, is Magriet hartseer.

“Haai nee, jy het so baie besoekers gehad, ander mense lê heeldag alleen. Hoekom huil jy?”

“Ek verlang huis toe.” Magriet snuif in haar snesie. “Ek verlang …”

Die verpleegster hoef nie te weet wat haar verlange alles behels nie. Magriet wil voor begin. Sy wil Walter nooit weer sien nie en sy sal altyd in hom bly vasloop omdat hy rugby afrig by die skool. Hy doen dit vrywillig en die skoolhoof reken op hom. Los sy hom, wil hy dalk nooit weer skool toe kom nie, en wie behartig dan die afrigting?

Maar iets moet gebeur om haar lewe te red! Sy roer haar gespalkte bene onrustig onder die lakens. Het dit nie dalk reeds gebeur nie, dink sy dan hoopvol. Noudat sy hier vas is en ’n tyd lank nie sal kan uitgaan nie, besef Walter dalk dat hy goed sonder haar kan klaarkom. Dis net, hul verhouding het al so ver gevorder, hulle praat reeds van verloofringe en datums …

Magriet dink in sirkels en al wat sy rondom haar sien, is mure waarteen sy haar gaan vasloop. Wat van Walter se ouers? Hulle is nou wel visverskrik, maar hulle is gaaf en maak geen geheim daarvan nie dat hulle haar as hul aanstaande skoondogter aanvaar het. Wat sê sy vir hulle?

Sy is so vasgevang in haar kwelgedagtes, sy skrik toe die kombuisvrou die skinkbord met tee en beskuitjies op die bedtafel neersit.

“Mooi rosies daai,” sê die vrou. “Ek hou so van geel.”

“Vat hulle vir jou,” sê Magriet spontaan.

“Ek kan nie! Dis joune en ons mag nie.”

Magriet wys na die nuwe ruiker wat Gert gebring het. “Ek het te veel blomme. Kom haal die rosies as jy terugkom vir die skinkbord. Ek sal vir die suster sê ek het dit vir jou gegee.”

“Dankie, dan sal ek dit vat. Baie dankie.”

Die nagsuster verskyn asof sy geroep is en die kombuisvrou skarrel weg.

“Hoe gaan dit hier?”

“Goed, dankie. Ek wil die rose graag vir die vrou gee wat die tee bring.”

“Solank jy nie ’n gewoonte daarvan maak om geskenkies uit te deel nie, is dit reg so.”

Magriet sluk die pille wat die suster op die bedkassie gelos het. Sy wag uitgeput vir die slaappil om sy werk te doen. Net voor sy wegraak, kom haal die vrou die skinkbord en die geel rosies.

’n Glimlag speel om Magriet se mondhoeke toe sy aan die slaap raak. Sy is ontslae van ’n stukkie van Walter.

Helena Hugo Tweede Keur

Подняться наверх