Читать книгу Helena Hugo Derde Keur - Helena Hugo - Страница 10
7
ОглавлениеDis warm en Alinda loop flink onder die boë van die enorme gebou deur tot in die koelte van die lugreëling. Wat het hierdie woestynmense met hulleself aangevang voor hulle die voordele van die nuutste tegnologie ontdek het?
Ja, maar onder die naghemel word die woestyn tog heerlik koel.
Sy wou nog graag weer gaan uitkamp het, in ’n regte Bedoeïenetent onder die sterre slaap.
Danie het belowe.
Danie, Danie, Danie.
Sy wil sy naam in die teëls intrap, sy wil vergeet dat sy hom ooit geken het. Maar dis onmoontlik, want môre loop sy haar weer teen hom vas, staan sy langs die bed van ’n sieke en kyk hoe hy vol respek en deernis met sy pasiënt werk. Dan bewonder sy hom.
Hy het haar al dikwels verras met kante aan sy persoonlikheid wat sy nie verwag het nie.
Sy hou so van verrassings … miskien verras die inkoopsentrum haar vandag.
Sy gaan staan langs ’n reusebeeld van ’n perd, asem diep in en fokus op die omgewing, die mense, die winkels. Sy soek iets nuuts, iets wat sy nog nie voorheen raakgesien het nie. Sy maak haar oë toe, tel tot tien in Afrikaans en dan weer tot tien in Arabies. Toe maak sy haar oë oop, kyk en voilà, daar is dit: ’n uithangbord in die vorm van ’n Arabiese lampie. Met Arabiese letters daarop.
Alinda stap nader.
Op Engels in kleiner letters staan daar (wat anders?): Lamps & Things.
Dis ’n geskenkwinkeltjie en dis nuut, maar ook oud, volgepak met allerlei ornamente en snuisterye: blikkies en houertjies, kissies en kassies, koffiepotte met bypassende koppies op ronde skinkborde, honderde kersblakers, en natuurlik lampe in alle vorms en groottes – almal ryklik versier.
Alinda weet nie wat om te kies nie. Sy loop stadig langs die rakke af, tel hier en daar iets op en bekyk dit. Party van die goed lyk soos namaaksels, ander so antiek asof dit iewers onder ’n ou fort of ’n sandduin uitgegrawe is.
Wat sal haar ma wil hê? Sy het reeds ’n koffiestelletjie op ’n bypassende skinkbord.
’n Marokkaanse silwerteepot? ’n Handvol Arabiese krale? ’n Lampie?
Hier is van hulle te kus en te keur.
Een trek Alinda soos ’n magneet.
Dis seker iets werd, want dit staan in ’n glaskas. Dit lyk soos antieke brons versier met silwer inlegwerk, ’n klein skippie, ronder in die middel en afgeplat, só ryklik versier, selfs die tuitjie is vol krulle en draaie. Die handvatsel is ’n swierig gebuigde silwer slang, enersyds so ingewikkeld en tog ongekunsteld, asof die silwersmid baie tyd gehad het om te werk, maar nog nie al die fyner hedendaagse tegnieke onder die knie gehad het nie.
As hierdie kunswerkie nie ’n namaaksel is nie, is dit baie, baie oud.
Alinda wil dit van nader bekyk en staan lank en staar. Dan loop sy weer om na die ander lampies op die rak. Daar is geen vergelyking nie. Sy het lanklaas iets so besonders gesien en sy kom telkens weer terug.
Aladdin se lampie – die een wat hy in die grot vol edelstene gekry het.
Alinda kyk op. Die winkeleienaar – hy lyk soos die eienaar – sit in ’n hoekie en hou haar dop. Hy is ’n beplooide ou mannetjie met ’n donker vel en ’n verflenterde wit bokbaardjie, ’n ronde tulband-tipe hooftooisel op sy kop.
Hy is van Oman, besluit sy, nie van Saoedi nie.
Sy assistent is swaar gesluier, ’n klein vroutjie met versigtige beweginkies. Sy bedien die klante met ’n tandlose glimlag en praat so sag dat sy alles wat sy sê, moet herhaal.
Alinda bekyk die lampie van bo af. Die opening is nie groot nie, maar sy kan die kerfwerk aan die binnekant sien – ’n herhaling van die blomryke patrone aan die buitekant, miskien eenvoudiger, nogtans net so mooi.
“You want?” vra iemand skielik agter haar.
Dis die ou mannetjie wat met sy benerige vinger – grillerig is sy lang, krom naels – na die lampie in die glaskas wys.
Sy knik en hy soek een van die sleutels in die bos wat met ’n ketting aan sy gordel vas is, uit. Hy sluit die kas oop. Met gepaardgaande steune en kreune buk hy en haal die lampie uit. Sit dit versigtig in Alinda se bak hande.
Sy beskou dit asof dit ’n eksotiese voël is wat enige oomblik sy vlerke kan klap en wegvlieg. Dis swaar, weeg seker ’n goeie halwe kilogram. ’n Teken dat dit eg is, nie sommer blik en draad nie.
Maar die mooiste is die versierings: ingewikkelde patrone van mitiese diere, sierlike bokke met gekromde horings en vlerke, voëls wat soos eende lyk, op ’n agtergrond van kunstig gekrulde blaarontwerpe en blomme.
“Beautiful, very beautiful,” sug sy en bekyk dit van alle kante. “How much?”
Hy noem ’n buitensporige prys – tweeduisend rial – en laat die woorde in die lug hang. Nou begin die gekibbel. Hy verwag dit van haar. Sy stry hom af na eenduisend tweehonderd rial – steeds meer as tweeduisend rand.
Teen dié tyd weet sy sy koop dit nie meer vir haar ma nie. Dis haar verjaardaggeskenk aan haarself en dit maak haar skuldig. As sy tweeduisend rand op haarself spandeer, dan behoort sy dieselfde bedrag ook op haar ma uit te gee. Altesaam maak dit dus vierduisend rand – baie vir twee verjaardaggeskenke. Veral aangesien die lampie ’n blote ornament is.
Nee, sy het reeds te veel sulke Arabiese ornamente.
Sy skud haar kop. Too much.
Hy slaan nog tweehonderd rial af.
“No, I am very sorry.”
Sy oorhandig die lampie. Die mannetjie se gesig is ’n masker.
“Something else?”
Hy sê dit soos ’n bevel, nie soos ’n vraag nie. Sy sal iets moet koop ná al sy moeite.
Sy kies ’n houtkissie met koperbeslag en ivoorinlegwerk. Sy sal dit vol Arabiese krale pak en huis toe pos. Dis nie ’n goedkoop geskenk nie, maar dit kos darem nie tweeduisend rand nie.
Die assistent draai dit toe in bruinpapier. Alinda sit die pakkie in haar inkopiesak en stap aan. Sy soek Arabiese krale uit in die kralewinkel skuins oorkant. Deur die winkelvenster sien sy die ou mannetjie met die Omanse tulband aan die oorkant rondbeweeg. Sy verbeel haar hy kyk reguit na haar.
Sy betaal vir die krale. Die geskenk vir haar ma werk uit op vyfhonderd rial.
Drie winkels verder is ’n boekwinkel met tweedehandse boeke. Sy begeer nog steeds die lampie, maar voel minder skuldig om tussen die boeke te snuffel. Sy koop ’n biografie, King Fahd, Great Reformer, en ’n stokou verflenterde sagtebanduitgawe van Stories from the Arabian Nights.
Daarna maak sy ’n draai in die supermark, koop alles wat Danie nie gekoop het nie en nog meer. In die winkel word sy oorval deur ’n vreemde verlange na hom.
Weer tref dit haar: die magic tussen haar en Danie is weg, daar is niks meer oor nie.
Was daar ooit … magic?
Alinda kyk op haar horlosie. Oorgenoeg tyd vir ’n ligte middagete. Belaai met pakkies soek sy die naaste restaurant. Dis klein en intiem – die plekkie waar sy en Danie laas hul grootste en mees bevredigende rusie gehad het. Waaroor was dit? Sy kan skaars onthou. Oor Stephen Jay Gould en Vladimir Nabokov se skoenlappers of JK Rowling en Harry Potter? Sy en Danie het selde saamgestem. Soms het hulle wel, maar dan het hulle bloot om die pret daarvan teenoorgestelde standpunte ingeneem en daarby gebly, kom wat wil. Dit kon handuit ruk en dit het – laas toe hulle hier geëet het. ’n Bietjie wyn by die ete sou dalk kalmerend ingewerk het, maar hier in Riaad is wyn water. Toe raak sy kinderagtig en gooi hom met haar water. Hy het haar uitgelag en toe lag sy maar saam.
Alinda herken die hoofkelner. Hy is hoflik, maar toon geen teken dat hy haar ken nie. Mooi so. Of dalk is hy van plan om haar hierdie keer baie goed dop te hou.
“Table for two?” vra hy en toe weet sy: hy weet.
“One.”
Die verligting wat op sy gesig verskyn, is ooglopend. Sy ignoreer dit en volg hom na die gesinsafdeling en ’n eensame hoektafeltjie wat jou waarlik gedek staan vir een. Sy het lanklaas alleen geëet, Danie of een van haar vriendinne is altyd saam. Sy hou van geselskap, maar dis goed om ’n slag op haar eie te wees. Buitendien – sy het haar boeke.
Alinda sit haar pakkies neer. ’n Kelner kom met ’n bottel koel water en ’n glas. Hy sit die spyskaart voor haar neer. Sy het vooraf besluit op iets ligs en bestel samke hara – ’n oondgebakte visgereg voorgesit met ’n sous van groen soetrissie, knoffel, uie, koljander en brandrissie, gebraai in olie en gegeur met tamatiepasta, balsamiese asyn, gemaalde kaneel, sout en peper. Die knoffel sal haar seker môre nog minder onweerstaanbaar maak, maar sy is lus vir samke hara en sy verdien ’n smaaklike ete.
Sy skroef die waterbottel oop en gooi haar glas vol. Wyn sou darem baie lekker gewees het, ’n ligte rosé, goed verkil. Die Arabiere weet nie wat hulle mis nie. Alhoewel, te oordeel aan die verslaafdes wat hulle al in die hospitaal aangemeld het, is hier iewers ’n lewendige sluikhandel aan die gang. Die rykes neem ook maar hulle kans waar – hetsy in ’n private straler of die eerste vlug wat hulle uit Riaad kan kry. Een prinses het by haar gespog dat hulle elke tweede dag Parys toe vlieg om Franse cuisine te geniet en dat die Franse wyne so uitstekend is.
Wat geld nie alles kan koop nie …
Beslis nie geluk nie.
Dis skemer in die restaurant. Die middaggebede is pas afgehandel en die Arabiere sal binnekort begin opdaag. Ver regs van haar sit ’n tafel vol Amerikaners. Hulle is blond, blosend, groot gebou en blykbaar besig om die hele spyskaart van bo tot onder deur te werk. Hulle praat en lag baie, maar die klanke daarvan word gedemp deur Arabiese sitermusiek.
Alinda grawe in haar inkopiesak, die een van die boekwinkel. Sy blaai deur koning Fahd se biografie. Die foto’s is almal van hom en sy seuns, hom en sy kabinet, hom en oorsese besoekers. Geen gesinsfoto’s waar sy vrou of vroue ook poseer nie, geen dogtertjie in die omgewing nie, seuntjies net waar jy kyk. Daar is selfs foto’s waar hy hulle soen. Sy wonder of daar ooit foto’s geneem word van prinsesse, of hulle ooit liefde kry by hulle vader die koning?
Sy wil-wil Irmina jammer kry, maar onthou dan dat sy en haar susters bogemiddeld geseënd is. Daar mag dalk nie amptelike foto’s wees nie, maar hulle pa het hulle lief. Sal hy teleurgesteld wees as sy dogter die land verlaat agter ’n jong dokter van Afrika aan? Alinda kners op haar tande. Sy hoop nie hulle besluit om hulle in Suid-Afrika te vestig en dan loop sy haar in hulle vas in ’n hospitaal waar sy graag wil werk nie.
Die restaurant word voller. Sy hoor hoe mense inkom en plaasneem, maar steur haar min aan hulle. Sy bêre eers die koning se biografie. Eintlik het sy dit gekoop omdat sy nuuskierig is oor Irmina se pa, die prins. Sy wil weet hoe naby hul verwantskap aan die koning is, sodat sy Irmina kan ontmasker as sy nie ’n regte prinses is nie … Nee, sy sal dit nie doen nie. Dis nie in haar geaardheid nie. Maar nuuskierigheid is, en sy sal nie rus voor sy meer oor Irmina uitgevind het nie.
Stories from the Arabian Nights het ’n rooi lapomslag. Dis vuilgevat en uitgerafel. Eintlik moet sy dit eers met bensien of iets dergeliks skrop voor sy daaraan vat. Die omslag is eenvoudig: ’n geopende boek op gekrulde blare, skippies op ’n stormsee. Binne is daar outydse pentekeninge, ook mooi kleurprente. Al kry sy nie tyd om een van die stories te lees nie, kan sy dit solank deurkyk. Wanneer sy klaar is, sal sy eers moet kleedkamer toe gaan en haar hande was. Sy moet, want hulle is nie skoon nie – nie ná haar inkopies nie.
Aladdin and the wonderful lamp, lees sy die opskrif.
Ag, daardie lampie in die glaskas! As sy nie geweet het dis ’n storie nie, sou sy maklik kon dink daai een is die oorspronklike Aladdin-lampie.
Alinda glimlag. Sy het nou wel nie die lampie nie, maar sy het die storie en nou kan sy dit weer lees. Haar blik vang ’n paragraaf:
Aladdin took the wonderful lamp, rubbed it in the usual place, when the genie instantly appeared before him. ‘What do you wish?’ said he to Aladdin. ‘Attend to me, then,’ answered Aladdin, ‘you have hitherto brought me only what I wanted to eat and drink. I have now business for you of more importance. I have demanded of the sultan the Princess Badroulboudour, his daughter, in marriage.’
Alinda giggel.
Badroulboudour … Wat ’n naam vir ’n prinses! En die Engels is so sjarmant. Sy gaan hierdie weergawe dubbel en dwars geniet.
Die kelner bring skoon eetgerei, dek die tafel, ruil die waterglas om. Alinda lees hoe Aladdin deur die sultan gekul word, hoe hy sy dogter wat hy aan Aladdin beloof het met die seun van die grootvisier laat trou. En hoe Aladdin die gees beveel:
‘As soon as the bride and bridegroom shall be married, bring them instantly here.’
‘Master,’ replied the genie, ‘I will obey you.’
Vaagweg onthou Alinda hoe die arme bruidegom nagte lank in Aladdin-hulle se koue stoorkamertjie opgesluit was en hoe hy nooit sy huwelikspligte kon volvoer nie. Darem ’n lelike poets, een wat ’n mens kan oorweeg as jy op wraak ingestel is.
Sy klap die boek toe en bêre dit. Sy los haar pakkies op die vloer onder die tafel, vat haar handsak en stap ruskamer toe.
Daar is niemand behalwe sy nie. Die gebedskamertjie in die hoek se deur is toe. Sy voel altyd so aardig: om te dink die vroue moet hier kom bid en mans kry die geleentheid om na die naaste moskee te gaan. Hierdie ruskamer is aangenamer as die meeste – vroulik en geurig en versier met vars blomme. Sy was haar hande, trek die kopdoek reg. Dis so lastig.
Daar is donker kringe onder haar oë. Seker die skaduwees, want sy voel nie regtig soos sy lyk nie – of is sy besig om haarself te troos? Die res van die middag liewer omslaap, ’n gesigmasker gebruik, langer in die bad lê as gewoonlik. Vriendeliker wees met Danie, dan onthou hy dalk dat hulle laas nog vriende was.
Sy is besig om haar hande onder die droër te hou toe die deur van die hoekkamertjie oopgaan. Sy draai om en glimlag vir die vrou wat uitkom.
“Alinda! Salaam Alaikum!”
Dis prinses Irmina in al haar onskuld en glorie.
“Irmina?”
“You did not expect me.”
Korrek. En ek het amper daarin geslaag om jou uit my kop te sit.
“I’m here with Danny.”
Alinda voel of sy ’n hou in haar maag gekry het.
“Danie?”
“Yes, Danny.”
Danie, nie Danny nie. Maar toe maar, jy sal dit nooit regkry nie.
“He asked me out to lunch and you?”
Vryf jy dit in, of dink jy hy het ons albei gevra? Nee, jy is vandag die gelukkige pryswenner van een ete saam met dokter Danie Hartstog.
“I’m shopping and I just popped in for samke hara.”
“On your own?”
Ja, danksy jou agteraf gevry met my … met Danie.
“Yes, it’s the American way.”
Irmina glimlag. “Much more practical,” sê sy.
Alinda is seker sy hoor sowel minsaamheid as neerbuigendheid in Irmina se stemtoon. Sy moet dadelik wegkom voor sy iets sê wat ongesê moet bly.
“Enjoy your lunch.” Ek weet nie of ek nog lus is vir myne nie.
Alinda val amper oor haar eie voete om uit die kleedkamer te wees voor Irmina voorstel dat hulle saamstap. Die laaste persoon wat sy nou wil sien, is Danie Hartogh, wat nog te sê met hom praat. Netnou voel hy verplig om haar te vra om by hulle aan tafel te sit.
Sy buig haar kop en loop asof sy ’n sterk wind trotseer. Dalk haal sy die hoektafeltjie sonder voorval. Soos die duiwel dit wil hê, kry sy dit nie reg nie. Sy loop haar vas in ’n lang, skraal man wat ook nie gekyk het waar hy loop nie.
“Pardon,” sê hy. Hy klink geïrriteerd, maar gryp haar arm om te keer dat sy nie val nie. Sy een hand slaan stewig om haar voorarm, die ander een rus op haar skouerblad.
“I’m so sorry,” sê sy rooi van skaamte en klein van verleentheid. In hierdie land loop vrouens nie in mans vas nie. Hulle kyk waar hulle loop en gedra hulle soos dames.
Dit voel of die hele restaurant asem ophou.
“Alinda?”
Sy herken die Rolex om die pols, die pols ook. Dis Danie Hartogh.
Sy het nie eens geweet hy ken die woord “pardon” nie. Is daar ’n ander sy aan Danie wat sy nog nooit raakgesien het nie? Of is dit deel van sy voorbereiding as metgesel vir prinses Irmina en kuiergas in die paleis-majil? Bestudeer hy nou die internasionale boek van etiket? Is daar so ’n boek?
Hy hou haar steeds vas, sy vingers boor in haar sagte vleis. Sy oë soek in hare, na wat weet sy nie. Toe lyk hy vir haar so baie na Daniel Craig wat enige oomblik ’n skoot uit die duister verwag dat sy nie anders kan nie – sy giggel.
Danie se mond gaan oop en toe, hy het nie woorde nie.
Aha! Sy is hom een voor.
“Moenie worry nie, jou gesellin is hier. Ek het haar in die damesruskamer gekry. Prinses Irmina, nè?”
“Wel, ja … Daar is iets wat ek, wat ons …”
“Jy het nie nodig om te verduidelik nie. Ek sal julle nie steur nie. Los net my arm, dan’s ek weg. Jy maak my seer.”
“Jammer, ek het nie besef nie.”
Hy los haar en bloed vloei weer ongehinderd deur haar are, maar sy mis sy hand, die stewige greep wat hy op haar gehad het. Is dít wat sy soek – Danie se hande op haar? Sy besitlikheid? Nee, maar hierdie was nie besitlikheid nie, dit was om te keer dat sy nie val nie.
“As ek geweet het jy kom vanmiddag hiernatoe …” Hy is besig om klei te trap.
“Jy sou nie geweet het nie, want ek het self nie geweet nie.”
“Dis baie … ongemaklik.”
“Wat? Dat jy en Irmina hier is? Dis ’n vry land. Jy is vry om te eet waar jy wil en om uit te nooi wie jy wil. Ek kan nie help as my teenwoordigheid jou ontstel en jou sooibrand gee nie, ek was eerste hier.”
Sy draai haar kop, loer skuins oor haar skouer. Irmina huiwer op die onderste trap voor die damesruskamer. “Die kelner het klaar my bestelling op die tafel gesit. As dit nie daarvoor was nie, het ek ’n ander restaurant gaan soek. Maar in hierdie geval is dit julle tweetjies wat die verkeerde rendezvous gekies het.”
Ek is besig om te rammel, dink Alinda, ek moet ophou.
“Eet saam met ons,” sê Danie toe sy asem skep.
Dit lyk sowaar of hy by haar pleit.
Sodat jy en Irmina my kan jammer kry? Nee dankie!
“Nee, Danie, jy het Irmina genooi. Geniet die middag saam met haar. Ek gaan gou my vis eet en …” Sy kyk op haar horlosie. “My taxi is oor ’n halfuur by die hoofingang. Verskoon my.”
Sonder om weer in sy oë te kyk – daardie goudbruin oë wat haar so kwaad maak as hy haar terg en nou so … troebel is, so versigtig, tentatief, verleë … Hoekom? Omdat hy verlief is op ’n Arabiese prinses. Hy sal sy fout gou genoeg agterkom.
Sy maak haar rug regop en loop met klein, vroulike treetjies na haar eensame hoektafeltjie. Sy vra die kelner om haar stoel om te skuif sodat sy met haar rug na die res van die restaurant sit. As daar een ding is wat sy nie wil aanskou nie, is dit Danie en Irmina wat in mekaar se oë sit en staar.
Sy kyk na die bord met die keurig voorbereide dis. Die samke hara wat gewoonlik so geurig en pikant is, smaak na niks. Sy eet skaars die helfte, sluk dit met water af en betaal haar rekening. Dan maak sy haar pakkies bymekaar en loop sonder om eers rond te loer na waar die twee nou eintlik sit en of hulle gelukkig is.
Waarom is daar ’n knop in haar keel? Omdat sy verneder voel, verkul, verstote?
Toe sy by die geskenkwinkeltjie verbyloop, gaan sy staan. Sy kyk verlangend na die glaskas met die Aladdin-lampie. Dis so anders, so sprokiesmooi.
Miskien moet sy ingaan en dit koop, dalk troos dit.
Dalk nie, en dan het sy geld uitgegee op ’n nuttelose ornament.
Die vroutjie agter die toonbank is druk in gesprek met ’n klant; dit lyk of sy weer elke woord moet herhaal. Sy sal nie nou nog ’n klant kan hanteer nie. Die ou mannetjie met die tulband is nêrens te sien nie. Alinda draai weg van die venster en drentel stadig na die uitgang. Daar is nog tien minute voor Gamal en sy taxi opdaag.
Sy kan rustig loop en winkelvensters kyk, maar sy is nie meer lus nie. Naby die ingang is ’n fontein, ’n groepie reusepotte met dadelpalms en bankies waar mense kan sit en rus. Een van die bankies is leeg en Alinda maak haar tuis.
Dit was nie so ’n slegte inkopiesessie nie. Sy het darem iets vir haar ma gekry en twee boeke vir haarself, haar koskas is vol en sy weet nou min of meer waar sy met Danie Hartogh staan. Hulle is nie meer vriende nie en dis goed so.
Sy leun agteroor, sluit haar oë en luister na die fontein. Water is kalmerend, veral die sagte geborrel van hierdie fontein. Sy het Arabië toe gekom vir avontuur. Buiten ’n paar noue ontkomings het daar weinig van gekom. Die lewe hier bied ook maar die gewone roetine, en vriendskap tussen ’n man en ’n meisie is net so goedkoop soos op enige ander plek in die wêreld.
Sy sal haar droomman nog sien – eendag.
Toe Alinda haar oë oopmaak, is hy reg voor haar –die ou mannetjie met die wit tulband. Sy skrik, want hy staan so naby en hy kyk haar so intens aan dat sy vir ’n oomblik vrees hy gaan ’n mes uitpluk en haar keel afsny. Hy steek iets weg in die wye mou van sy thobe – sy let op dat hy die een hand met die ander een vashou. Daar is ’n diep keep tussen sy oë, sy mond is ’n dun strepie.
Wil hy my doodmaak, wonder sy, omdat ek nie kans gesien het om meer as ’n duisend rial vir ’n ornament te betaal nie? Of wil hy net my handsak steel?
Sy bewe soos ’n riet. Hier is genoeg sakkerollers en handsakdiewe, maar dis die eerste keer dat een haar so flagrant benader.
You want my handbag?
Eers toe hy praat, besef sy dat sy nie ’n geluid gemaak het nie. Sy kon lankal gegil het.
“Want to buy lamp?”
Lamp? Die een in die glaskassie? Sy haal diep asem. Sy kan praat, sy sal.
“Yes, but I told you it’s expensive.”
“I sell for you, fifty ryal.”
Dis ’n uitsonderlike groot afslag.
“Why?”
“I want you to have it.”
Alinda kyk op haar horlosie. Dis te laat. As sy nou saam met hom gaan, sal sy nie betyds terug wees nie.
“My taxi is waiting …” begin sy.
Toe skud hy sy mou en haal die Aladdin-lampie te voorskyn. Dit blink só, dit lyk of daar ’n lig uitstraal wat van binne kom, nie van iewers af weerkaats nie.
Towerlig.
“Are you sure?”
“You give fifty and I give you lamp.”
Het die ou man die lampie gesteel? Is hy dalk die assistent en die vroutjie die eienaar? Maar hoekom gee sy vir hom die sleutels as hy ’n dief is?
“Magic lamp will make you happy.”
Hoekom nie? Sy hou so daarvan, dit sál haar gelukkig maak – al staan dit net op haar bedkassie, al kan sy net daarmee spog.
“Okay, I can do with some happiness.”
Sy tel die geld af en gee dit vir die mannetjie. Hy gryp die note en verdwyn soos ’n wit weerligstraal. Het hy dan nou die lampie saamgeneem? Sal haar verdiende loon wees.
Alinda wil net lag, vandag is nie haar dag nie.
Toe sy afkyk, sien sy die lampie. Dit staan langs haar op die bank in sy eie kolletjie son.