Читать книгу Helena Hugo Derde Keur - Helena Hugo - Страница 12
9
ОглавлениеRegina was reg oor die slaaf van die lamp. Want hy rig net mooi niks uit nie al borsel en vryf Alinda sy lampie so blink dat dit skitter, of die lig daarop skyn of nie. Al toets sy hom uit, gooi olie in en steek die lampie aan die brand, die rokie bly grys en dunnerig. En daar is nie die geringste teken van die slaaf wat veronderstel is om in die lampie te skuil nie.
In die dae en weke wat volg, moet Alinda saam met die ander verpleegsters toekyk hoe Danie Hartstog en die mooie Irmina al meer en al langer in mekaar se geselskap vertoef. Daar hang ’n sagte gloed om hulle en Irmina se glimlag word by die dag ouer en wyser, haar mond al sagter.
“Soos ryp pruime, so papperig en perserig,” sê Regina eendag katterig. Dit troos Alinda nie, want vir haar klink dit soos ’n baie raak beskrywing van ’n sexy, soenbare mond.
Een Saterdagoggend is hulle besig om ’n pasiënt vir ’n hartomleiding te prep en hulle praat saggies met mekaar. Die man is van die Al Sa’ud-familie en seker maar een van die prinse. Hy gluur hulle met sy donker oë aan, en te oordeel na die frons tussen sy oë is hy glad nie gediend met die twee uitlandse verpleegsters en hul vreemde taal nie. Hy reageer onwillig op Engels, terwyl Afrikaans sy oë senuweeagtig aan die knip sit. Alinda beduie vir Regina dat hulle liewer moet stilbly.
Die man het Donderdagnag ’n hartaanval gehad en omdat hy betyds by die hospitaal uitgekom het en heel Vrydag gemonitor kon word, was dit nie nodig om hom op die heilige dag te opereer nie. Alinda ken heelwat Arabiese woorde en troos hom in kort sinnetjies.
Hy kyk haar wantrouig aan, maar sy verduidelik in Arabies dat hy niks het om te vrees nie. Insha Allah stap hy oor drie weke hier uit – fris en gesond en sonder al die masjiene waaraan hy op die oomblik gekoppel is.
Die gedagte versterk hom blykbaar innerlik. Sy mond ontspan, hy maak sy oë toe en lê stokstil, sy hande op sy bors gevou – ’n waardige man, maar oorgewig en kortasem.
“Wie opereer – Danie?” vra Regina ná ’n ruk.
“Ja, Danie. Abdel Mahmoud en daai nuwe dokter Kassas assisteer.”
“Ek kyk vanoggend na hom.”
“Wie? Dokter Kassas?”
“Nee, Danie.”
“En?”
“Dink jy nie hy lyk besonder goed nie?”
“Ek sal nie juis kan sê nie.”
“Hoekom nie?”
“Ek stel nie belang in hoe hy lyk nie, dis al.”
“Jy sien hom tog elke dag.”
“Kan nie anders nie, ons werk saam.”
“Hy het verander.”
“Ja, sy nuutgevonde geluk moet seker iewers uitstraal.”
“Hy oefen.”
“Hy draf mos van altyd af.”
“Hy oefen met gewigte.”
“Eindelik. Hoe weet jy?”
“Ek’t gehoor hoe hy en Naguib praat. Nooit gedink Danie is ernstig nie, draf is nou eenmaal sy ding. Hy word so fris, dit raak ooglopend.”
Alinda maak of sy nie weet nie. Sy het wel deeglik opgelet, ’n paar keer al as hy klaar geopereer het en sy sien hom in sy operasiejas, moue opgerol. Ook sy skouers as hy wegstap nadat sy hom weer ’n slag ’n goeie afjak gegee het. Hy laat hang hulle nie meer nie, hy lig hulle en loop asof hy die koning van die oerwoud is, aanstaande skoonseun van ’n ryk oliesjeik.
Die waarheid is, hy is nog vriendelik met haar. Hy het haar ’n paar keer weer geSMS en gebel, maar dan antwoord sy nie. Hy probeer soms nog geselsies aanknoop, maar sy knip dit kort. Sy wil eenvoudig nie naby genoeg aan hom kom nie. Wanneer hy haar vra wat verkeerd is, antwoord sy met een woord: “Niks.”
Hy het haar drie dae nadat sy hom en Irmina in die restaurant betrap het, in die gang voorgekeer.
“Wat gaan aan met jou?”
“Hoe bedoel jy, wat gaan aan met my?”
“Jy loop sulke wye draaie om my, ek moes letterlik voor jou inspring om jou te keer.”
“Dis nie die eerste keer dat jy voor my inspring nie.”
Konstabel, het sy altyd geterg. Jy moes ’n verkeerskonstabel geword het, hulle maak so – stop jou in jou spore.
“Dis die eerste keer dat ek so sukkel om jou te vang. Jy vermy my. Hoekom?”
“Jy verbeel jou, Danie. Ek kan jou nie vermy nie, ons sien mekaar byna elke dag.”
“Ons praat nie meer nie.”
Jy het iemand anders gekry om mee te praat.
Sy het dit nie gesê nie, net weggekyk. Sou hy iets in haar houding agtergekom het?
“Wat pla jou?”
“Niks.”
“Het jy gister my SMS gekry?”
Sy het. A smile is a light in the window of the soul, indicating that the heart is at home. Vreeslik sentimenteel, maar paslik. Sy het dae laas reguit in sy oë gekyk en dae laas vir hom geglimlag.
“My foon was af.”
“Sit dit aan en lees jou SMS’e.”
“Ja, baas. Nog iets?”
“Moenie dat ons vriendskap skipbreuk ly nie.”
“Jy preek en dit pas nie by jou nie.”
“Ek moet iets sê, die stilte aan jou kant raak ondraaglik.”
“Danie, wat wil jy hê?”
“Die ou Alinda.”
“Goed, die ou Alinda. Wat is sy vir jou werd?”
“Ons was maats.”
“Kinders is maats. Ons is grootmense.”
Hy het haar ’n oomblik lank skuldig aangekyk.
“Ons het altyd so lekker gestry,” het hy lamlendig gesê.
“Wat doen ons op die oomblik?”
“Ons kommunikeer vir die eerste keer in drie dae, ons praat.”
“Dis nie praat nie, dis stry.”
“Is nie.”
“Is!”
“Nie!”
“Simpel, hou op.”
Hy het sy kop agteroor gegooi en gelag. “So simpel soos in die ou dae.”
Is dit wat hy van haar verwag – om simpel te wees sodat hy haar kan uitlag? Ekskuus, watter ou dae?
Hy het sy hand uitgesteek. “Vriende?”
Sy het haar hande voor haar bors gevou gehad en dit net daar gehou.
“Nee, Danie, die afstand is te groot, en dis nie van vandag of van gister of eergister af nie.”
“Wat?”
“Die probleem wat aanleiding gegee het tot ons … ons wapenstilstand en alles het nie sommer uit die lug geval nie. Dit het … dit is …”
Hy het na haar gekyk, gewag. Sy het nooit gedink dit sal so moeilik wees om dit te sê nie en skielik was sy smoorkwaad. Waarom moet sy sy vuilwerk vir hom doen? Hy weet goed wat aan die kom is. Hy is die een wat begin het.
Daar was ’n knop in haar keel. Die vernedering! Sy het omgespring en geloop.
Hy het nie agterna gekom nie. Twee mense soos hulle, soos sy en Danie Hartogh wat mekaar so goed ken, weet mos nou duidelik wanneer die een ’n geheim het wat hy nie met die ander een wil deel nie.
In daardie oomblik het dit op haar neergedaal: Danie Hartogh is verlief – en nie op haar nie.
Daardie selfde aand ná werk het sy vir hom geSMS: Jy het ander geselskap, geniet dit en los my hart. Sy is veilig agter die tralies van my siel.
Sy het die boodskap deurgelees en dit verander na: Leef jou lewe en moenie jou oor my bekommer nie.
Van toe af stry sy met Abdel Mahmoud en maak sy grappe met Naguib Kassas. Sy vra baie uit oor Egipte en praat oor haar taxi-man, Gamal, wie se seun navorsing oor die standhoudendheid van die Nylrivier doen. In die proses leer sy nogal baie van alles wat die laaste tyd in Kaïro aan die gang is. Soos haar pa altyd sê: “Daar kom wel iets goeds van.”
Net jammer Mahmoud sal nooit so lekker soos Danie kan stry nie, en Naguib is gans te buddy-buddy met Danie.
Dit gaan ’n opdraande stryd wees om van nou af haar werk te doen en die dae te tel, want sy het besluit sy gaan huis toe. Einde van die jaar.
“Good for you, Oulindatjie,” het Herman oor die foon gesê. “Ma verlang so sy’s by breekpúnt verby, Pa raak al stiller. Ek e-pos solank vir jou advertensies, hulle soek baie verpleegsters met ondervinding soos joune.”
Alinda het die knop in haar keel voel groei.
“Wat van jou? Jy kan seker nie wag om weer my siel uit te trek nie?”
“Moenie worry nie, ek trek die einde van die maand Centurion toe. Die bank het ’n tak daar oopgemaak en ek is die nuwe kredietbestuurder.”
Sy was gepas beïndruk. “Herman! Baie geluk!”
Hy het ’n laggie gegee. “Hou vas – daar’s nog.”
“Ek luister.”
“Ek gaan huis opsit. Ek en Elize raak volgende maand verloof.”
“Verloof! Jy en Elize?”
“Is daar iets mee verkeerd?”
“Elize van Wyngaardt?”
“Jip.”
“Sy moet haar kop laat lees.”
“Is dit hoe jy my gelukwens met my trouvrou?”
Alinda kan haar haar broer en die opstêrs Elize nie saam voorstel nie. “Jy sal jou maniere moet opknap.”
“Ek doen dit. Jy sal my nie ken nie.”
“Ek het jou Desember nog geken.”
“Jy weet nie wat alles in ses weke kan gebeur nie. My hart is gesteel, ek sal alles doen wat sy sê – ek het tot van haarkapper verander én ek’s op dieet.”
Toe maar, Herman, ek weet wat alles in ses weke kan gebeur, wou sy vir hom sê. My lewensvreugde word dag vir dag en stuk vir stuk van my af weggeskeur. Ek was al lus en sny my hare self af, en ek het nie ’n dieet nodig nie, want ek eet nie meer nie.
Voor haar huismense, veral haar ma, hulle te veel oor haar bekommer, het sy liewer haar treurmare gesluk.
“Ek’s bly vir jou onthalwe. Geluk, Herman,” het sy opreg gesê. In haar hart het sy presies geweet hoe hy voel – ’n heel mens, die teenoorgestelde van haar. “Ek hoop julle is baie gelukkig.”
Hy het ’n oomblik lank stilgebly. Sy kon sy blye toekomsverwagting oor die lang afstand aanvoel.
“Dankie, Alinda. Ek waardeer dit, komende van jou.”
Dis die eerste keer in jare dat hy haar Alinda noem en nie Oulinda nie. Goeiste, is hulle eindelik besig om groot te word? Dis beslis die langste gesprek wat hulle nog sonder ’n rusie gevoer het.
“Ek bedoel dit,” het sy gesê. “Ek wil hê dit moet goed gaan met julle, met jou, jy verdien jou geluk. Ek wil hê jy moet gelukkig wees.”
Dalk het sy die pap te dik aangemaak. Maar hy het hom selfs toe nie vererg nie.
“Ek is vandat Elize ja gesê het,” het hy doodernstig geantwoord.
“Wanneer is die groot dag?”
“Elize wil ’n Desembertroue hê, ek hoop jy’s betyds.”
“Stuur vir my die regte datum, dan sorg ek dat ek betyds is.”
“Maak so. Wil jy weer met Ma praat?”
Haar ma het die foon oorgeneem. “Hoekom het Ma my nie gesê nie? Van Herman en Elize?”
“Ek wou hê hy moet self. Probeer tog maar om betyds hier te wees vir die troue. En pas jouself op. Hulle wys elke aand op die TV-nuus van die bomme wat so in Bagdad ontplof.” Haar stem het gebreek.
“Ma, dis ver van ons.”
“Dis nie ver nie, Irak grens aan Saoedi!”
“Dis nog steeds kilometers weg. Kyk op die kaart.”
“Bagdad en Riaad is baie nader aan mekaar as Bagdad en Pretoria.”
“Goed, Ma, teen sulke logika het ek geen verweer nie. Maar ek het ’n kontrak, ek moet dit eers afhandel.”
“My kind, onthou net … ek is by breekpúnt,” het haar ma gehyg.
Alinda moes haarself keer om nie in trane uit te bars en alles van Danie Hartogh se verraad te vertel nie. Maar haar ma ken hom skaars – sy het uit vrees vir Herman se ewige gespot hulle min van Danie vertel. Wat haar ma-hulle betref, is hy ook net een van die bondel.
“Alinda, ek praat.” Dis Regina.
“Jammer, ek konsentreer net hier.”
Sy maak of sy besig is om die pasiënt se besonderhede op die rekenaar na te gaan. Snaaks hoe vinnig gedagtes deur jou kop kan snel.
“Moenie dink ek sien nie hoe jy bloos as jy aan Danie se spiere dink nie.”
“Ek bloos nie, ek konsentreer!”
“Op sy spiere.”
Alinda draai om en kyk na Regina. “Op die werk hier – die rekenaar.”
Regina se oë glinster. “Hulle het vanoggend gestry.”
“Wie?” vra Alinda, terwyl sy goed weet na wie Regina verwys.
“Die duifies. Sy was so kwaad sy het hom in Arabies uitgeskel.”
“Kan sy skel?”
“En hoe! Teen dié tyd ken ek al sekere van daai woorde. Die liggaamshouding en gesigsuitdrukking verraai ook genoeg.”
“Sy moet hom darem nie ontstel net voor ’n operasie nie.”
“Ons het verskil omdat ek nie die operasie wou doen nie en sy het daarop aangedring.”
Praat van die duiwel. Alinda skrik haar vuurwarm toe Danie skielik agter hulle praat. Hy het sweerlik aspris op hulle afgesluip.
Nie Regina of Alinda kan gou genoeg aan iets dink om hulleself te verontskuldig nie. Gelukkig begin die man op die bed weer kerm en Alinda wend haar liewer tot die pasiënt.
Sy haal haar beste Arabies te voorskyn. Maar toe hy antwoord, raak dit so ingewikkeld dat sy net hier en daar verstaan en bloot met glimlaggies en kopknikke reageer, waarop hy nogal ongeduldig raak. Verbeel sy haar of hoor sy die naam “Irmina” tussenin?
“Die pasiënt is ontsteld. Kry vir ons iemand wat Arabies ken,” sê Danie kortaf.
“Kon jy nie iemand saamgebring het nie?” vra sy onnodig bitsig. “Hy vra na haar.”
“Irmina is van diens af, of het jy vergeet sy doen nagdiens?”
“Jammer! Hoe onbedagsaam van my! Het jou Arabies dan nie die afgelope tyd verbeter nie?”
Danie knyp sy oë toe. “Regina, doen iets voor ek my vererg.” Hy maak sy oë oop en raak saggies aan die pasiënt. “Professor,” vra hy met perfekte dokterstakt, “what seems to be the problem?”
“Alinda, gaan kry vir Nadia, ek sal hier help,” bied Regina aan en gee haar ’n streng kyk. “Of nee, toe maar, hier kom Nazir. Nazir, we need you, our pasient doesn’t speak English.”
“I do!” sê die pasiënt skielik hard en duidelik. “But not today!”
Danie glimlag en die masker van spanning val van sy gesig af.
Alinda kan haarself nie help nie. Haar oë ontmoet Danie s’n en dis of sy in een vlugtige oomblik ’n stukkie terugkry van hul vroeëre kameraadskap. Daar is iets spesiaals in die goue lig in sy oë, iets gelyk aan warmte en humor en vertroulikheid, iets wat sê dat hulle nie woorde nodig het nie. Hulle is op dieselfde golflengte. Vanaand ná werk sal hulle die voorval uitpluis en lag, soortgelyke voorvalle oprakel, hardop lag, stry oor die besonderhede, kastig kwaad word, mekaar rondstamp en dan uitgeput voor die televisie neersak.
Dink hy ook nou daaraan, aan hul vriendskap, hul gemaklike broer-en-suster-verhouding? Lees sy sy gesigsuitdrukking korrek? Sal hy vanaand aan haar voordeur kom klop, haar om vergiffenis smeek en alles vertel van die honderde misverstande tussen hom en Irmina … of is hierdie net ’n onbewaakte oomblik?
Dit is, want dit duur nie lank nie. Hulle kyk albei ewe vinnig weer weg. Regina het gesien. Wat sy daarvan dink, kan Alinda net raai.
Nazir is die narkotiseur en hy kom genadiglik tussenin. Sy voorbereiding moet ook gedoen word. Hy praat vinnig in Arabies, sy kop naby die man op die bed.
“The professor wants to know if imam Al Anazi can pray for him.”
Imam Al Anazi is een van die meer gematigde geestelikes, een wat reeds die reëls betreffende infektasie onder die knie het. Hy sal nie te veel skree, spoeg en arms swaai nie, en ook nie daarop aandring om saam te gaan teater toe nie.
Nazir neem die pasiënt se EKG, vul besonderhede op die rekenaar in, sien sy lêers na. Die pasiënt het reeds sy operasieklere aan. Hy kry sy medikasie. Nazir verduidelik vir hom dat Danie nog steeds die dokter is wat die operasie gaan doen, dat daar niemand beter is nie.
Danie praat geduldig. Hulle het mekaar mos al twee keer gesien, hy en die professor. Waarom nou die angs?
“Insha Allah, I shall live through this, but I do need someone praying for me.”
“We understand,” paai Danie hom. “Is imam Al Anazi here?” vra hy vir Regina. Dis opvallend hoe hy Alinda ignoreer.
“I saw him in the waiting room,” sê Nazir.
“Vra hom tog maar om in te kom,” beduie Danie sag vir Regina.
“Kry jou langsaan by mevrou Fattah,” sê Regina en gee so vir Alinda kans om met waardigheid uit die situasie te ontsnap. Mevrou Fattah is die volgende pasiënt op die lys en Danie sal Alinda hopelik nie alleen by haar kry nie.
Die professor is nou kalm en rustig, maar hy het nog ’n vraag of twee vir sy dokter. Hy praat stadig – ’n netjiese, akademies korrekte Engels. Toe sy wegstap, hoor Alinda Irmina se naam en ’n gemoedelike gekorswil.