Читать книгу Helena Hugo Derde Keur - Helena Hugo - Страница 6

3

Оглавление

“Jy weet nie wat jy het nie,” sê Sandy en sny vir haar ’n skyfie salami. “As Danie Hartstog so om my gedraai het, sou ek lankal vir hom geval het.”

“Hy draai nie om my nie,” keer Alinda en sit ’n druiwekorrel in haar mond. Hartstog, dis ’n ou grap, maar dit begin haar nou irriteer. Hartstog. Asseblief! Sy het vrede gemaak met die groceries, maar waarom die oordaad? Skuldige gewete, as sy moet sê.

“ ’n Mens waardeer nooit wat jy het nie.” Sue Ellen deel haar ricotta in blokkies op. “Tot jy dit verloor.”

Alinda stik amper in haar druiwekorrel. “Waar kom julle daaraan dat ek hom het of dat hy my het?”

Sandy, Sue Ellen en Regina sê niks.

“Alinda, haai, ek weet nie, maar ek het ’n feeling hulle is reg,” blaker Patience dit uit.

“Vergeet jou feeling, Patience. Daar is niks tussen my en Danie Hartogh nie.”

“Daar was altyd – is nog,” waag Sue Ellen nou, steek dan ’n blokkie van die ricotta in haar mond en probeer haar uitlating wegpraat. “Mal oor Italiaanse kase en bokmelk-ricotta. Hierdie moet bokmelk wees. Hm-m-m … en ek dag die yskas is leeg.”

“Ek sou gaan koop het, of het julle vergeet?” sê Alinda suur.

“Jy sou nie so vryge- … ek meen, spandabelrig gewees het nie,” sê Sandy en hoop nog slaai op haar pastrami. “Kyk die yslike bottel olywe.”

“Alles so vurig Italiaans.”

“So oordadig.”

“Te veel vir een.”

“Hy wil hê Alinda moet die res van die week aan hom dink – elke keer dat sy die yskas opmaak.”

“Dis nie net ék wat kort-kort die yskas oopmaak nie.”

“Ja, maar dis jou kos hierdie.”

“Eet soveel as wat julle wil. Eet alles op.”

“Wel, hier gaan kaas oorbly.”

“Nie ricotta nie, ek’s mal oor gesmelte ricotta op my groente.”

“Pecorini vir my!”

“Net jammer hier’s nie vino in ons glase nie.”

“Eet druiwe!”

Almal lag. Alinda ook, van verligting omdat hulle opgehou het om haar en Danie se verhouding te ontleed. Wat haar betref – as sy kon, sou sy haar sorge verdrink het, al was dit met vrugtesap of water. Wyn en sterk drank is so onwettig hier, jy waag dit nie eens om ’n ou klein botteltjie KWV van die huis af te smokkel nie.

“Ja, eet en word vrolik,” sê Sue Ellen en voeg die daad by die woord.

Ons is mos in die land van uiterstes waar die Bedoeïene op kameelmelk, dadels en bokvleis leef en die rykes en gaswerkers al die voordele van die internasionale kosmark geniet, dink Alinda wrang. Sy self skep min. Sy sal haar nie oorgee aan sulke versoekings nie. Klaar besluit, weke gelede al, en mag Danie Hartogh nie weer vanaand in die geselskap opgerakel word nie.

Maar dis te veel gevra – die assosiasie tussen hom en hul aandete is genoeg om haar woonstelmaats van voor af aan die gang te sit.

“Dis nou vir jou lekker, dankie, Danie,” sê Sue Ellen en rek oor om nog pitabrood te vat.

“Sou lekkerder gewees het as hy ook vir ete gebly het.” Sandy balanseer ’n olyf op ’n skerfie pecorini.

“Alinda wil hom nie hier hê nie,” vermaan Regina.

Sandy het soos die meeste ander verpleegsters ook ’n oog op die lang, skraal chirurg. Sy verskil in een opsig: sy is eerlik en openlik daaroor.

“Kan ek hom by jou oorneem?” vra sy en bloos tot haar soel vel roesrooi word.

“As jy vir hom kans sien – met plesier.”

“Ek kan nie verstaan hoekom julle altyd vassit nie.”

“Gaan ons al weer …?” probeer Regina keer.

Sandy het nog nie die skrif aan die muur gesien nie. “Hy’s ewe gaaf met almal, maar op sy gaafste met jou, Alinda.”

“Gans te aantreklik.”

“Sulke spesiale bruin oë met so ’n goue skynsel.”

“Pragtige hande.”

“Goeie lengte, effens aan die skraal kant.”

“Weet julle soos wie lyk hy vir my?” Patience, ewe onskuldig.

“Nee.”

“Daai … wat’s sy naam nou weer? … die nuwe James Bond.”

“Daniel Craig?”

“Ja!”

“Selfde klein mondjie, dis vir my so cute.”

“Wag nou, Daniel Craig is ’n spierpaleis. Danie Hartstog is maer.”

“Al wat Danie moet doen, is oefen.”

“Hy kan oefen tot hy pers is.”

“My neef Willem het ook so gelyk, dun soos ’n wurm, tot hy met gewigte begin het,” sê Sue Ellen. “Miskien is dit wat ek ook moet doen om my lyf weer in shape te kry – oefen.”

“En minder pap en vleis eet,” striem Sandy.

“Eet ek miskien op die oomblik pap en vleis?”

“Daar’s te veel brood op jou bord.”

Sandy en Sue Ellen is alewig saam op dieet, maar terwyl Sandy nogal selfdissipline kan toepas, is Sue Ellen nie gebore in staat daartoe nie. Daarom vat Sandy die pita, breek dit middeldeur en sit die een helfte in die broodmandjie terug.

Alinda eet stadig, sy kou haar kos behoorlik voor sy dit afsluk. Dis deel van haar eie geheime dieet. Die ander weet nie daarvan nie, net sy en die badkamerskaal. Sy doen dit vir haarself en vir die man wat sy binnekort gaan vang.

En dis nie Danie Hartogh nie.

“Hoekom so stil?” Regina pomp haar met die elmboog in haar sy.

“Seker oor ons Danie uitmekaarskeur.” Sue Ellen sprinkel olyfolie oor haar brood.

“Ons skeur hom nie uitmekaar nie, ons …”

“Bestudeer hom.”

“Beoordeel hom.”

“Beveel hom aan.”

“By wie?”

“Die een wat hom eerste kan vang!” Sandy bloos weer baksteenrooi.

“Sandy, jy beter jou nou begin inhou!” roep almal behalwe Alinda.

“Jammer, Alinda,” giggel sy.

“Vat hom en kry klaar.” Alinda se stem klink onnodig skerp. “As ek kon, sou ek hom vir jou in geskenkpapier toedraai en ’n strik ombind.”

“Oe, so praat die vrou wat besig is om haar kanse te verbrou.”

“Ek stel nie belang in Danie Hartstog … Hartogh nie!” skree Alinda onnodig hard.

Almal sit tjoepstil, maar Alinda kan sien hulle is dik van die lag.

Ná ’n rukkie trek Regina die doos sjokolade nader. “Maak oop,” sê sy vir Alinda.

“Doen jy dit.”

“Dis jou sjokolade.”

“Jou liefdesgeskenk.”

Alinda bekyk die doos duur Belgiese sjokolade.

“Regina, praat sy in haar slaap?” vra Sue Ellen.

Regina knik. “Ja, maar ek praat nie uit die kamer nie.”

“Dankie, Regina,” sê Alinda en skeur die sellofaan om die doos af.

“Maak sy haar liefdesoffer oop.”

“Sjokolade, ’n temptasie vir die tong.”

Alinda besluit sy gaan nie aan die versoeking toegee om ’n enkele een van hierdie sjokolades in haar mond te steek nie. Hulle hoef niks van haar dieet te weet nie, maar hulle moet nou deeglik kennis neem daarvan dat Danie Hartogh nie op haar lysie is nie – nie meer nie.

Voor die reuk van sjokolade haar sensitiewe neus prikkel, gee sy die doos vir Sue Ellen aan. “Deel jy, niks vir my nie.” Sandy kan raas soos sy wil, maar Sue Ellen het lankal opgegee en leef net vir lekker eet.

“Haai, Alinda, maar die man is dan so verskriklik verlief op jou!” snak Patience.

Die ander drie kyk na haar. ’n Nuweling het altyd ’n eerlike, vars siening. “Dink jy so?”

“Beslis. Ek kon dit sien vandag.”

“O ja, het hulle weer gestoei?”

“Stoei hulle?”

“Kort-kort, in die openbaar.”

“Dis hulle manier om vatterig te raak sonder om te erken dat hulle vryerig is.”

Nou vererg Alinda haar finaal. “Kry end! Kan julle nooit end kry nie!”

Toe raak alles so stil dat al geluid die geritsel van sjokoladepapiertjies is.

“Net omdat hy sjokolade aandra en my pes soos my broer my van kleins af gepes het, sê nog nie hy’s verlief nie,” sê Alinda nou ysig kalm en beheers. “Buitendien: as hy op my verlief was, sou hy blomme gebring het – nie sjokolade nie.”

“Bring vir my enige tyd sulke sjokolade.” Dis Sue Ellen wat haar derde een middeldeur byt en met waardering na die vulsel staar.

Alinda is op die punt om ’n skewe aanmerking oor haar gewig te maak, maar sluk dit terug en begin liewer die vuil borde op mekaar pak. “Ek gaan skottelgoed was.”

“Wat van jou sjokolade?”

“Ek het gesê ek wil nie hê nie.”

“Ons gaan vir Danie vertel wat dink jy van sy sjokolade.”

“Gaan, voor die pad vol dubbeltjies is!”

Dit was nog nooit so maklik om haar rug op ’n doos sjokolade te draai nie. Alinda stap kombuis toe soos ’n koningin: regop rug, ken in die lug. Maar toe vang haar blik die almanak wat teen die kombuismuur hang. Junie se prent is ’n sonsondergang oor die see by Jedda. Die herinnering aan hul laaste uitstappie soontoe betrap haar onverhoeds.

Sy en Danie was die enigstes wat agter die branders gaan swem het. Daardie dag het sy so vry soos ’n kind gevoel, selfs gelukkig.

Alinda en Regina deel een kamer, Sue Ellen en Sandy die ander een. Patience maak haar kampbed in die sitkamer op. Almal gaan vroeg slaap, ook Patience, wat besluit het om verlore nagdiens-slaap in te haal. Omdat hulle nie Bybels in Saoedi mag hê nie, maak Alinda en Regina beurte om die Bybel op die internet te lees. Hulle het ’n maand gelede besluit om die Bybel van voor tot agter te lees en Alinda is vanaand by Genesis 24.

Abraham stuur sy getroue slaaf om vir sy seun Isak ’n vrou te soek. Hy gee hom opdrag om terug te gaan na die land van sy geboorte, omdat hy nie wil hê sy seun moet met een van die Kanaäniete trou nie. In Mesopotamië ontmoet die slaaf vir Rebekka, die ideale vrou vir Isak. Eind goed, alles goed.

Alinda sug diep en klap die skootrekenaar toe.

“Waar kom daai sug vandaan?” vra Regina, wat reeds haar bedlampie afgeskakel het, maar wat duidelik nog nie slaap nie.

“Ag … Ek wonder sommer of die Arabiere nie iets beet het nie.”

Alinda stoot die rekenaar onder die bed in, skakel haar bedlampie af en skuif onder die koel lakens in.

“Trek jy ook by Isak en Rebekka?” vra Regina met ’n laggie.

“En Abraham wat sy slaaf stuur om vir Isak ’n vrou te soek, toe werk alles perfek uit.”

“Ek verkies dit nog om my eie man te soek. Maar ek het nou vrede gemaak – hier gaan ek hom nie kry nie.”

“Monique het gekry wat sy kom soek het.”

“Monique tel nie – nie wat ons betref nie.”

“Jy’s reg. Ons soek ware liefde.”

“Ja.” Regina bly ’n rukkie stil. “Maar partykeer soek jy iets wat jy al klaar het.”

Alinda is nie seker wat sy bedoel nie. Verwys sy na Danie of na Karel? Karel is Regina se jare lange vriend wat sy in Suid-Afrika agtergelaat het en wat haar al twee keer gevra het om met hom te trou. Hy het onderneem om vir haar te wag. Dalk besef sy nou dat sy ’n fout gemaak het om hom so lank aan homself oor te laat. Miskien het daar intussen iets skeefgeloop en Regina sê niks nie, sy dra haar hartseer alleen en in stilte.

Hoe selfsugtig kan ’n mens wees! dink Alinda en voel of sy haarself kan klap.

“Is dit Karel?” vra sy versigtig.

“Karel?”

“Het hy ’n ander meisie?”

“Nee wat, Alinda, nie hý nie.”

“O, ek het gedink …”

“Dis ek. Ek het my met my lot versoen … Ek is lief vir hom.”

“Jy is lief vir hom, maar jy het jou met jou lot versoen?”

“Ek wou hoër vlieg, maar ek het besef dis Karel vir my. Dit was nog altyd Karel.”

“Wat het jy netnou gesê?”

“Partykeer soek jy iets wat jy klaar het. Maar ek het nie van my en Karel gepraat nie. Dis jý wat met Karel begin het.”

“Ek het gedink dis uit tussen julle.”

“Ek sou jou nog vertel het. Ek het net vanmiddag voor ek by die hospitaal weg is met hom gepraat.”

“Dis goed, as julle dit saam besluit het. Geluk, Regina.”

“Dankie.”

“Nag, Regina, slaap lekker.”

“Nag, Alinda.” Stilte. ’n Langerige pouse, en toe: “Ek het Danie bedoel, nie Karel nie.”

“Hoekom?”

“Jy moet waardeer wat jy het.”

“Ekskuus?”

“Ek sê jy moet waardeer wat jy het.”

“Jy bedoel jy het vir Karel en ek het vir Danie?”

“Goeiste, Alinda, jy laat dit soos ’n straf klink.”

“Dit ís. As ek my lewe met Danie moet slyt, gaan ek dood.”

“Hoekom?”

“In die eerste plek is hy nes my broer.”

“Karel ook, ons het saam grootgeword. Dit maak geen verskil aan ons verhouding nie.”

“O ja, noudat julle gaan trou, weet jy om Karel te verdedig!”

“Ek het klaar gebaklei.”

“Klaar geskop teen die prikkels.”

“Ons praat in sirkels, kom ons slaap. Nag, Alinda.”

Alinda is vies, sy draai op haar ander sy en lê met haar rug na Regina. Regina en Karel stamp al jare lank koppe, en noudat hulle tot ’n vergelyk gekom het, moet sý skielik met Danie vrede maak! Sy en Danie! Nooit! Hulle sal die grootste onpaar in die geskiedenis wees.

Sy wip uit haar bed en gaan staan langs Regina se bed. “Danie is nie my soort nie,” sê sy nadruklik.

Regina doen nie eens die moeite om haar oë oop te maak nie. “Oukei, ek’s verkeerd, kom ons slaap.”

“Daar is niks tussen ons nie. Dis alles net grappe.”

“Ja, grappe.”

“Hy irriteer my só ek kan deur die dak spring.”

“Oukei, hy irriteer jou. Kan ons nou slaap?”

“Sy grappe raak nou flou.”

“Nes jy sê.”

“Hy het nie eens spiere nie.”

“Ten minste het hy nie ’n bierpens nie. En hou nou op om my wakker te maak.”

Alinda wil nog sê Danie maak niks in haar wakker nie, toe dink sy aan sy tong van alle dinge. Sy sluk haar woorde en loop kombuis toe om nog koue water in die yskas te kry.

Patience lê met oorfone op en TV kyk. ’n Naakte paartjie is besig om mekaar tot raserny te verruk. Alinda is net betyds om te sien hoe die man tong uitsteek, toe kyk sy liewer nie verder nie. Sy sluip op haar tone kombuis toe en druk die deur toe voor sy die yskas oopmaak en haar waterbottel uithaal.

Die lig deur die gangvenster skyn op die see by Jedda.

Sy en Danie …

Dis nie te sê hulle is vir mekaar bedoel net omdat hulle albei graag swem en omdat hulle albei in die mediese veld werk nie.

Danie is nie haar tipe nie.

Of is hy?

Sy sluk ’n halwe slaappilletjie saam met haar water.

Alinda droom van ’n wit houthuis op die strand by Jedda. Die duinesand waai hope teen die plankestoep aan. Maar die huis staan stewig. Daar hang stringe stukkende skulpe van die dak af. Dit rinkel in die seewind. Alles is blou en wit en skoon. Die kamer ook.

Die beddegoed is wit, die gordyne deurskynend wit. Die vensterrame is blou, en op die vensterbank staan ’n blou bak met groen appels. Sy lê op die bed. Die vensters is oop en sy kan die dak van die stoep sien, die stringe skulpe, die groenblou golwe wat omkeer en op die strand breek, wit skuimende branders, seevoëls met deurmekaargeveegde vere. Een vlieg op en land op die stoepreling. Hy kyk uit oor die see asof hy iets soek.

Alinda voel verskriklik eensaam. Sy is ’n halwe mens, ’n onvoltooide sirkel. Sy sit op die bed, haar voete hang oor die kant. Sy raak die growwe mat met haar kaal tone, maar kom nie sover om op te staan nie.

Die skulpe wat aan die stoep se dak hang, kry vlerke, verander in voëls en vlieg weg. Die see trek terug, die water blink soos ’n spieël. Dit weerkaats só, sy kan nie behoorlik sien nie. Dit lyk of daar iemand langs die water loop. Dis te ver om te sien of dit ’n man of ’n vrou is. Die persoon kom nie nader nie, hy of sy loop al verder weg, verander in ’n strepie en smelt weg.

Alinda moet die verdwynende figuur agternasit. Maar sy kan met die beste wil ter wêreld nie die een voet voor die ander sit nie.

Helena Hugo Derde Keur

Подняться наверх