Читать книгу Helena Hugo Derde Keur - Helena Hugo - Страница 5
2
ОглавлениеPatience trek die kombuisdeur diskreet toe.
Alinda waardeer dit, maar pleks Patience haar kans gegee het om kamer toe te ontsnap. Nou’s dit te laat. Sy sal moet sit en hoop dis iemand met ’n pakkie of brief wat in ’n japtrap afgelewer sal word. Sy voel soos iets wat die kat ingedra het, sy sal nie nou iemand in die gesig kan kyk nie.
Haar gedagtes dwaal terug na haar en Patience se gesprek oor Monique. Eintlik bewonder sy hul kollega. Monique se ma is Frans en haar pa Arabies en sy het haar pa om haar pinkie gedraai met die storie dat sy wil terugkeer na sy land van herkoms om haar wortels te soek, én haar trouman. Nou is haar ouers trots op haar en doodtevrede met haar keuse. Wanneer jou dogter met ’n sjeik trou, waai daar darem van sy status na jou kant toe oor – om nie te praat van die bruidskat nie. Monique se broers is glo ook verlig dat hul amptelike pligte daarmee aansienlik ingekort is, want geen man wat hulle aan haar voorgestel het, was ooit goed genoeg nie.
Alinda sidder om te dink met wie haar broer Herman haar sal opsaal indien dit skielik deel van sý pligte moet word. Hy sal van sy chauvinistiese rugbytjomme nader sleep, een wat die yskas vol bier pak, die erf met motorwrakke besaai, vergeet om skoon sokkies aan te trek en naweke sy vriende op braaivleis, bier en die nuuste Robbie Wessels-CD’s trakteer.
Maar sy verlang. Sy verlang tot na Herman ook …
Lanklaas het sy so hard gewens sy kan huis toe gaan, maar sy is in die middel van haar jaarkontrak en sy was Krismis verlede jaar vir ’n maand by die huis.
Toe het sy en Herman gebaklei dat die hare waai. Hy wou hê sy moet klaarkry met die Arabiere en terugkom.
Haar ma was weer op breekpúnt en haar pa het elke dag gif aangemaak en die miere, plantluise en ander kruipende gediertes in die tuin gespuit. So kon niemand naby genoeg aan hom kom om hom by enige argument in te sleep nie.
Alinda spits haar ore. Dis ’n man by die deur. Dit klink of hy in ’n argument met Patience gewikkel is én dat hy die oorhand kry.
Die volgende oomblik bars die kombuisdeur oop. Danie Hartogh storm in met twee yslike inkopiesakke wat hy voor haar op die tafel laat neerplof. Patience gooi haar arms in die lug en maak dat sy wegkom.
Alinda voel hoe haar hartklop versnel – nie van opwinding nie, van woede. Sy kners op haar tande en tel tot tien in haar kop, eers in Afrikaans en dan in Arabies.
Danie bly staan, arms voor sy bors gevou, oë ondersoekend op haar, klein mondjie op ’n vasberade klontjie. Sy neusvleuels beweeg asof hy ver gehardloop het. Wat dink hy – dat sy hom om die nek moet val?
“Jy mag maar kyk wat ek alles gekoop het,” sê hy ná ’n rukkie.
“Weer ’n klomp gemors wat ek nie nodig het nie,” brom Alinda en maak geen aanstaltes om op te staan nie.
Danie sug en begin self die sakke uitpak. Die eerste ding wat hy uithaal, is ’n liter yskoue Tab. Alinda kan sien dis koud, want die waterdruppeltjies wat gekondenseer het, loop in straaltjies teen die ronding van die bottel af. Haar mond water, maar sy sluk en knyp haar lippe op mekaar.
Vrugtesap, bevrore groente, jogurt, melk, ’n slaaikop, tamaties, appels, druiwe, vars aspersies, salami, pastrami, pecorino, ricotta, olywe, spaghetti, pitabrood, ’n blik oesters en ’n doos sjokolade, ’n pak snesies en twee rolle driedubbellaag-toiletpapier. Alles word voor haar op die tafel uitgestal.
Sy wou ook sjampoe, vitamien C-tablette, plastieksakkies, tandevlos, bruismeel, eiers en olie gekoop het. Sy wou self winkels toe gegaan het! En sy wil nie pitabrood en salami hê nie, ook nie oesters en melk nie.
“Wat kos dit?” vra sy sonder om hom vir sy moeite te bedank.
“Niks. Dis op my,” sê hy en soek ’n glas in die rak.
Alinda spring op. “Nee, o nee, so vang jy my nie weer nie.”
Hy draai die Tab-bottel nek-om. Die spuitgeluid wat ontsnap, is soos musiek in haar ore.
“Wat bedoel jy met so vang ek jou nie weer nie?” Hy gooi die Tab in die glas. Dit bruis teen die kante op en loop oor. Sy kan dit ruik.
“Ek kon jou nog nooit vang nie.” Hy tel die glas op en keer die oorloopsels aan die buitekant van die glas met sy tong.
Geen maniere nie. Tipies wat haar broer ook sou doen, maar onverwags vind Alinda dit nie só afstootlik nie … Sy staar gefassineer en wend geen poging aan om hom te help om die gemors skoon te maak nie. Danie se tong krul om die glas, dan om sy lippe. Dat ’n man met ’n klein mondjie soos syne … Hy het haar al gesoen, gelukgewens met haar verjaardag en Kersfees en Nuwejaar, maar daar was nie sprake van ’n tong nie. Nee wag, sulke gedagtes moet in die kiem gesmoor word, voor sy ’n gek van haarself maak ná alles wat vandag gebeur het.
“Ekskuus tog … Alinda!” ruk Danie se stem haar tot die werklikheid terug. “Ek vra: het jy ’n vadoekie?”
Sy beduie in die rigting van die opwasbak. Danksy Patience is die skottelgoedlappie witter as wit.
Danie sit die glas neer en maak die lappie onder die kraan nat. Dan vee hy die plasse Tab wat hy op die tafel gemors het netjies op, trek ’n tweede glas nader en gooi dit vol. Die spiere in sy voorarms span soos hy die bottel oplig. Hy het spiere, al is hy so skraal, dink Alinda verstom. Hempsmoue ongeërg teruggeslaan, sterk, stewige gewrigte en lang, lenige vingers.
Waar was ons laas? dink Alinda. O ja, by vang.
“Jy’t my vanmiddag gevang toe jy my gedwing het om oortyd te werk,” sê sy verwytend.
“Alinda, ek het jou nie gedwing nie, ek het jou naam vir jou saalbestuurder gegee en sy het jou vriendelik versoek.”
Die saalbestuurder … Hoekom noem hy háár nie by die naam nie?
“Wel, ja,” sê Alinda katvriendelik. “Wie kan vir haar nee sê?”
Danie is besig om die lappie onder die kraan uit te spoel. Die water raas so dat hy gelukkig nie die snedige klankie in Alinda se stem hoor nie. Maar sy hoor dit en is pynlik bewus daarvan.
Hy draai om en kyk na haar. “Jy gaan oortydbetaling kry, en dis nie asof jou sterretjie vandag só helder geskyn het nie.”
“Ek ken nie ongevalle nie, niemand het vir my gesê wat ek moet doen nie.”
“Wens jy kon jou gesig sien – niemand was lus om jou te sê nie.”
“O, en hoe weet jy waarvoor ander mense lus kry?”
Hy lig die tweede glas, probeer sy skerp woorde neutraliseer. “Wed jou jy’s lus hiervoor.”
“Nie nou nie, dankie.”
“Slukkie?”
“Nee! Dankie!”
Hy neem ’n lang sluk. “Goed verkil, goeie jaar.” Hy glimlag breed en vee sy mond met die agterkant van sy hand af.
“Dis nie snaaks nie,” sê Alinda.
“Oukei, ek sal jou nie weer in die verleentheid bring nie – ek meen nou in die hospitaal. Feit is, ek kon aan geen ander naam as Alinda Norval dink nie. Dalk dink ek te veel aan jou, Alinda Norval. Alinda …”
“Ja, aan maniere om my te tempteer.” Alinda se hand rus op die kombuisdeur se handvatsel.
“Waarheen gaan jy nou?” vra hy.
“My beursie haal.”
“Ek’t gesê dis nie nodig om te betaal nie.”
“Dink jy ek sal toelaat dat jy twee sakke kruideniersware hier indra, sodat jy vir almal kan vertel jy koop my groceries? Sodat jy dit later teen my kop kan gooi?”
“Genade, vroumens, jy’s vandag weer so moeilik soos al vier my susters saam nie kan wees nie.”
“Jy wil mos maak of jy my broer is.”
“Ek kry jou broer jammer.”
“Jy ken hom nie eens nie.”
“Maar ek ken van susters.”
“Gu! Net omdat jy vier susters het, sê dit nie jy weet alles van meisies nie.”
“Het jy vergeet ek is besig om ’n handboek te skryf?”
“Jy skryf daai boek al vandat jy hier aangeland het – een en ’n halwe jaar.”
“Dis nie ’n ontspanningsromannetjie wat jy in die bad kan lees nie, dis ’n ingewikkelde meesterstuk. Ek moet navorsing doen en ek loop my vas in teenstrydighede, veral die Alinda Norval-hoofstuk. Sodra ek dink ek’s op die regte spoor, duik daar weer iets op.”
Soos wat? wil Alinda vra. Maar dan wil hy weet wat pla haar en hy kan so aanhou. Sy gaan hom nie sê nie, sy kán nie. Miskien omdat sy self nie haar vinger daarop kan lê nie. Sy skuld hom in elk geval niks en sy wil hom ook nie skuld nie.
“Gee die strokie dat ek kan sien wat ek jou skuld.”
Hy haal sy skouers op en steek sy hande in sy broeksakke.
“Die strokie, Danie.”
“Weggegooi.”
“Kan jy onthou wat jy betaal het? Min of meer?”
“Eintlik wou ek jou kom uitvra het vir ete.”
“Nee.”
“Hoekom nie?”
“Ek’s te moeg om vanaand uit te gaan. En al was ek nie moeg nie, sou ek beslis nie saam met jou gegaan het nie.”
“Dis nou stank vir dank.”
“Ek wil met geld betaal! Vir jou moeite ook én vir jou petrol. Wat kos dit?”
Danie haal sy hande uit sy broeksakke. “Dis ’n vriendskapsgebaar, Alinda. Dit kos niks. Maar ek loop liewer as jy nie lus is vir geselskap nie. Anders het ek aangebied om te kook.”
Danie kook soos ’n opgeleide kok, maar Alinda is seker sy sal vanaand sooibrand kry van sy kos. Sy sluk hard aan haar woede en vernedering. Sy is in ’n slegte bui en hy is besig om vurige kole op haar kop te gooi.
Hy kom staan by haar – te naby. Sy een hand gaan op. Dit lyk of hy aan haar wil vat, maar sy gee ’n tree agteruit. Hy laat sak sy hand.
“Ek’s jammer oor vandag, ek bedoel dit.”
Nogal! Dis die vinnigste wat hy al om verskoning gevra het. Gewoonlik hou hul rusies vir weke aan. Maar natuurlik – selfs hy kan sien dat hy dié keer te ver gegaan het.
Alinda sug. “Hou net volgende keer jou mond as hulle ’n hulpverpleegster vir ongevalle soek, want ek is nie beskikbaar nie – veral nie op my vry middag nie.”
Danie kyk af en loer dan weer onder sy wenkbroue deur na haar. “Ek huil sommer.”
“Danie, gaan huis toe.”
“Jy lyk sexy in daai rokkie.”
“Jy lieg.”
“Hoekom sal ek lieg?”
“Ek voel nie sexy nie, oukei?”
Hy kyk haar aan, sy oë vernou. Die bandjie van haar sonrok het oor haar skouer afgeglip. Hy haak sy vingers onder die bandjie in en skuif dit op. Sy hand glip warm oor haar boarm. Die aanraking stuur ligte skokkies deur haar hele lyf.
Sal jy ophou? wil sy vir hom sê. Maar sy weet hy gaan net maak soos Herman altyd maak – sy hand oplig en vra: hoe hoog? Buitendien, dis nie al nie …
“Sexy rokkie,” sê hy.
Sy wriemel haar los. “Los my rokkie.”
“Kwaaikattie, dis wat jy is.”
“Kry end, Danie. Los my nou uit!”
“As jy my sal verseker dat jy my vergewe het.”
“Wil jy daaroor ook begin stry?”
“Ek wil nie met jou stry nie – nie vandag nie.”
Alinda maak die voordeur oop en beduie gang toe. “Ek ook nie. Dankie vir die groceries, ek vergewe jou, ek sal nie weer oor die ongevalle-storie praat nie, dis verby.”
“Ons kan skoon begin?”
“Ja, Danie.”
Hy staan in die gang voor die woonstel. Die hitte vou om hulle soos ’n nat wolkombers.
“Julle klokkies het op die vloer gelê.”
“Oukei.”
“Toe hang ek dit op.”
“Dankie, Danie. Sien jou môre.”
Hy glimlag. Hy het sulke eienaardige goudbruin oë, dit maak haar altyd ongemaklik as hy reguit vir haar kyk. Waarom moet hy haar so kyk, met sulke goue oë vol tergliggies?
“Sien jou,” sê hy net voor Alinda die deur in sy gesig toemaak.