Читать книгу Helena Hugo Derde Keur - Helena Hugo - Страница 8

5

Оглавление

Alinda was nog nooit so dankbaar vir moeilike pasiënte en hul moeiliker besoekers nie. Sy werk omtrent sonder om op te kyk.

Prins Hashim, wat oud en deurmekaar is, moet drie keer gewas en skoon aangetrek word. Omdat hy twee dae gelede ’n hartomleiding gehad het, kan hy hom nie reinig en soos die ander op sy knieë gaan vir die vereiste gebede nie. Hy kry, soos al die bedlêende pasiënte, ’n bakkie sand om sy vingers in te doop, maar vergeet dan blykbaar dat dit sand is en nie water nie en bestrooi homself lustig daarmee.

Soms kry Alinda trane in haar oë as sy sien hoe getrou al die voorskrifte nagekom word. Sy kan nie anders nie: sy bewonder hul toewyding.

Elke keer as Danie Hartogh in die omgewing is, maak sy haar uit die voete en vermaan sy haarself weer eens dat sy hier is om te verpleeg – nie om man te soek nie. Sy kan egter nie help dat hulle soms by mekaar moet verbyskuur nie, en selfs op ’n keer die behoeftes van een van sy pasiënte moet bespreek. Daar is ’n rekenaar langs elke bed en die dokters is veronderstel om hul dagverslae daarop aan te vul, maar hy roep Alinda en wys haar persoonlik daarop dat hy drastiese veranderinge aangebring het en dat sy moet seker maak dat die apteek die regte medikasie aflewer.

“Jy’s mos my sonskyn.” Hy maak ’n vuis en gee haar ’n speelse stampie teen die boarm.

Alinda asem diep in, gluur hom aan en sê uit die hoogte: “Ek doen my werk, dis al.”

Hy is nie van stryk gebring nie. “En jy kry altyd honderd persent. Goeie verpleegster, jy.”

“Dankie,” sê sy styf en trek die lakens op oor die ou man se benerige borskas. Hy kyk na hulle met wantrouige ogies.

“In verband met gister …” Danie maak keel skoon.

Alinda weet wat kom en sy sien nie daarvoor kans nie. “Ons ontstel ons pasiënt as ons Afrikaans praat,” keer sy hom.

“Engels val nie veel beter op sy oor nie. Selfs Irmina sukkel met die dialek.”

Alinda reageer sonder om te dink: “Ek dag dan sy praat sewe tale, dans ook sommer die dans van die sewe sluiers.”

Danie is vir ’n oomblik uit die veld geslaan. “Ekskuus?”

Alinda voel hoe sy bloos. Deksels, kan sy haar nie inhou nie!

“Niks,” sê sy.

“Jy’t gesê Irmina dans. Is dit so?”

Nou moet sy haar storie ken. “Vra haar. Arabiese vroue dans almal, in die harem om mekaar te vermaak.”

Sy kan nie glo dat sy dit waag nie, of is hy so dom dat hy nie die katterige klankie in haar stem hoor nie?

“Ek weet darem nie. Irmina is te prim en proper.”

“Hoe weet jy wat alles agter daai paleismure aangaan?”

Die pasiënt het intussen aan die slaap geraak. Alinda maak seker dat sy drupkraantjie werk. Sy kom agter dat haar hande bewe. Wat gaan met haar aan? Is dit omdat Danie haar dophou? Sy was altyd so op haar gemak by hom, selfs gisteraand nog … en oornag het alles verander.

“Ek gaan binnekort uitvind.”

“Wat?”

“Of hulle dans.”

“O.”

“Ek’s na ’n baie deftige majil uitgenooi.”

Alinda draai haar na hom toe. Hoekom kyk hy haar so uitdagend aan?

“Ag siestog, Danie, is dit die eerste keer dat jy ’n majil bywoon?”

Hy kyk haar mos altyd só as hulle begin stry – nes haar broer van kleins af met haar gemaak het. Dié keer laat dit haar hart te vinnig klop.

“Nee, maar dis die eerste keer dat ek na een by die Al Sa’uds genooi word,” sê hy leedvermakerig.

Alinda se maag draai; sy voel ’n krieweling teen haar ruggraat af. Iets waarsku haar dat die gevaarligte flikker en dat sy nou moet toneel speel soos nog nooit tevore nie. “Dis nie ’n prestasie nie, Danie. Daar is meer Al Sa’uds in Saoedi as Van der Merwes, Bothas en Swanepoels saam in Suid-Afrika,” hoor sy haarself sê.

“Veral noudat die diaspora so ver gevorder het,” voeg hy sinies by.

“Nog voor die diaspora begin het,” las sy aan, haar stem lig.

“Wel, al die Al Sa’uds is nie ewe belangrik nie …”

“Jy reken so.”

Dit moet klink of sy nie omgee watter vertakking van die Al Sa’uds hom genooi het om by hulle te gaan kuier nie. Sy weet dis Irmina, dit kan nie anders nie. Maar sy sal hom om die dood nie wys hoe seer dit maak nie.

Hy kyk haar stip aan en sy goue oë dans. Wil hy haar nou sowaar verder uitdaag?

“Oukei, jy gaan prins Abdulla self ontmoet,” sê sy gewoonweg en skuif die waterkraffie op die bedtafeltjie reg.

“Hokaai, darem nie so drasties nie.”

Drasties genoeg vir my, dink Alinda, want ek begin agterkom wat aan die gang is. Hoe gaan ek dit keer? Wie kan met ’n prinses kompeteer? Dan nog een soos Irmina.

“Sy’s in elk geval naby genoeg familie om Eid-ul-Fitr-geskenke paleis toe te neem en Nuwejaarsdag saam in te wag.”

“Oukei, wie’s dit?” Alinda hou haar dom. “Is dit daai ou dame in saal drie?”

“Ek kan vergeet.” Danie glimlag en maak sy lêers en stetoskope bymekaar. “Sy hou nie van my nie.” Hy kom orent en kyk reguit na haar. “Dis ons nuwe saalbestuurder. Irmina.”

Die klank van haar naam is genoeg om Alinda in ’n vaal veldmuis te verander. Die uitdrukking in Danie se oë sit die seël op haar vernedering: hy lyk asof hy die Nobelprys vir minnaars gewen het.

“Ek … ek kan myself skop,” snik Alinda ure later in Regina se arms.

Regina streel haar rug, hou haar vas. “Dit werk nie. Vra my, ek het al probeer.”

Alinda kyk deur ’n tranegordyn na haar vriendin. “Dan kap ek my kop teen die muur,” sê sy wanhopig.

“Dis nie die moeite werd om jouself te beseer nie.”

“Wat dan?”

Regina pluk nog ’n snesie uit die doos en gee dit vir haar aan. “Doen liewer iets positiefs.”

Alinda snuit haar neus, bondel die gebruikte snesies op. “Soos wat?”

“Soos om nie meer met hom te stry nie.”

“Hy sal dink ek’s siek of iets. Ons stry altyd.”

“Verras hom, wees ’n slag die minste.”

’n Nuwe huilbui oorval Alinda. “Te laat, ek moes gister al. Buitendien, ek kan nie die minste wees nie, dis onmoontlik, ek’s te sterk daarvoor.” Sy val op die bed neer en druk haar kop in die kussing.

“Jy lyk nie op die oomblik baie sterk nie,” hoor sy Regina iewers op die agtergrond.

Alinda tel haar kop op en loer na Regina. Dié het opgestaan en haar kaste begin deurgaan. As dít die soort simpatie is wat sy by haar beste vriendin kry, wil sy nie weet wat haar ander woonstelmaats te sê gaan hê nie. Sy moes nooit gekla het nie.

Sy sit regop. “Weet jy wat?” sê sy uitdagend. “Ek gaan niks doen nie.”

Regina gooi die klere wat sy bymekaarmaak op ’n hopie. “Het jy wasgoed?” vra sy.

“Het jy gehoor wat ek sê?” antwoord Alinda.

Regina beskou ’n T-hemp krities. “Ja, maar ek weet nie meer wat om vir jou te sê nie.”

“Hoekom nie?”

“Omdat jy op die oomblik te verward is om besluite te maak en na goeie raad te luister.”

“Jy wil hê ek moet voor hom kruip.”

Regina sug, sy gooi die hemp op die wasgoedhoop. “Nie kruip nie, Alinda, ek weet mos jy sal nie voor ’n man wil kruip nie. Wees net ’n slag redelik met die arme ou.”

“Daai arme ou is nooit redelik met my nie.”

“Wag nou! Kyk wat het hy gister gedoen.”

“Ja, kyk wat hét hy gister gedoen – my hele middag opgemors. Dink jy hy sal van prinses Irmina verwag om een enkele uur van haar oggend op te offer ná ’n lang nagskof?”

“Dis nie hy wat jou genader het nie, en jy was nie op ’n lang nagskof nie.”

“Hy het my naam opgegee.”

“Jy kon geweier het.”

“En? Hoe lyk ek dan?”

“Moeg gewerk, dis al.” Regina kom sit weer op die bed langs haar. “Toe maar, ek weet hoe jy voel,” paai sy.

“Jy kan nie weet nie.”

“Goed dan, min of meer.”

“Het jy al ooit gevoel dat jy nie die man wil verloor met wie jy van die môre tot die aand rusie maak nie?”

“Ek het al besef dat ek hom liefhet,” sê Regina met erns. “Dis dié dat ek vir Karel ja gesê het en teruggaan Louis Trichardt toe en vir die res van my lewe daar gaan bly.”

Alinda se kop draai. Sy skrik toe sy agterkom watter rigting die gesprek ingeslaan het. Dis nie wat sy bedoel het nie. Sy hou haar hande op, handpalms na vore. “Stop die bus net hier.”

“Ek luister,” sê Regina geduldig.

“Ek is lief vir Danie, maar nie in dáárdie sin van die woord nie …”

“O, in watter sin dan?”

“Ek’s nie verlief nie, ek is net … Ek’s jaloers op hom, hy’s my vriend en ek het hom nodig soos ek ’n broer nodig het. Irmina kan kies tussen duisende Arabiese prinse en ek het net een Afrikaanse prins … vriend, ek meen vriend, en hy’s … hy’s myne, net myne.”

“Jou substituut-broer?”

“Ja, my noodsaaklike euwel.”

“Nie jou droomprins nie?”

Alinda lag, en haar lag klink vir haarself taamlik senuweeagtig. “Nee! Nee, goeiste, hy’s nie my tipe nie.”

“O, en hoe moet jou tipe wees?”

“In die eerste plek nie so maer nie.”

“Goed, hy is aan die skraal kant, maar dis beter so, gesonder.”

“Ja, maar dis nie mooi nie.”

“Hy’t mooi hande en oë.”

“Miskien, maar hande en oë maak nie die man nie.”

“Jy bedoel sy lyf is nie sexy genoeg nie?”

Alinda sien in haar geestesoog hoe Danie ’n druppel Tab met sy tong opvang, hoe hy met lang hale agter die branders by Jedda swem. Sy sien hom onberispelik in sy swart aandpak by ’n deftige hospitaalfunksie.

Vinnig onderdruk sy die sluimerende ekstase. “Ek hou van spiere,” sê sy pront.

“Tussen die ore ook?”

“Jy weet goed dis nie wat ek bedoel nie.”

“Alinda, Danie is briljant, ons weet dit almal. Maar in sake soos hierdie dink ’n mens nie. Jy word aangetrek en voor jy jou kom kry, is jy verlief en verlore.”

“Is hy verlief op haar?”

“Irmina is ’n bekoorlike jong vrou en Danie is ’n man.”

“Wat moet ek doen?”

“Hang af wat jou gevoel vir hom is,” sê Regina en kyk Alinda vas in die oë.

Alinda raak ongemaklik en kyk weg.

“Gee jou wasgoed, ek gaan die masjien aansit,” sê Regina prakties.

Omdat dit haar beurt is om wasgoed te was en kos te maak, kan Alinda in die kamer agterbly en haar gesig in die wasbakkie in die hoek was. Teen die tyd dat hulle aandete gereed is, sal haar dikgehuilde oë beter lyk.

Sy baai haar oë beurtelings in warm en koue water, maak haar waslap nat, vou dit dubbel en gaan lê op die bed met die lap oor haar voorkop en oë. Waarom sy altyd soos ’n brulpadda opblaas al stort sy net drie trane …

Sy is seker Irmina kan heeldag en heelnag deur huil en nog steeds beeldskoon wees. Prinses Irmina Al Sa’ud. Sy het hulle al die een en ander oor haarself vertel. Haar pa is ’n oliemagnaat en sakeman, een van die verligte Al Sa’uds wat sy dogters – Irmina het drie susters – Amerika toe gestuur het om verder te studeer.

Solank hulle nie hul geloof versaak nie en by die kultuurgebruike hou, is hulle vry om te doen wat hulle wil en om self die mans te kies met wie hulle wil trou. Irmina se oudste suster is ’n prokureur in die middestad van Riaad, haar middelste suster werk in die stadsbiblioteek, en die jongste studeer elektroniese ingenieurswese.

Hulle is slim, ryk, beeldskoon en perfek, en al vier nog ongetroud. Irmina wou van kleins af ’n verpleegster wees en met ’n snydokter trou. Daar was iemand in Amerika, maar hy wou nie haar geloof aanneem nie. Alinda wonder of Danie hom sal bekeer net om Irmina te kry. As hy haar regtig wil hê, het hy geen keuse nie.

Ag tog! Hoekom was sy gisteraand so naar met hom? Sy mis hom. Hy bel gewoonlik saans of stuur ’n simpel SMS. Vandag is hy tjoepstil. Werk natuurlik aan sy Arabies, of maak seker dat hy die etiket vir ’n paleis-majil deeglik onder die knie het.

Alinda draai die lappie op haar oë om. Sy het ’n dowwe hoofpyn en sy raak elke oomblik meer gespanne. Haar lewe gaan so vervelig wees sonder Danie. Ná twee en amper ’n halwe jaar in Riaad het sy die stad van hoek tot kant deurgewerk, selfs Jedda ook.

Danie is die ideale reisgenoot. Hulle was in Katar en oral in die Emirate; Dubai, Abu Dhabi, Al Khaiman, Fujairah. Hy het belowe hulle gaan een van die dae Oman toe …

Abdel Mahmoud, die Egiptiese dokter wat saam met hulle werk, is altyd laat en sy reisdokumente is nooit in orde nie. Alinda vertrou ook nie die Egiptenare nie. Hulle is goeie dokters, maar hulle verstaan mekaar nie altyd nie. Laas keer het Abdel sonder ’n woord verdwyn en eers weer in Riaad sy verskyning gemaak. Toe hulle hom vra waar hy was, het hy hulle beskuldig dat hulle hom in die steek gelaat het. Engels beteken ook nie vir almal presies wat gesê word nie. Nee, sonder Danie kan sy Oman op haar maag skryf en met haar T-hempie afvee.

Danie is soos ’n tweede paspoort na die mees eksotiese plekke wat die Midde-Ooste haar kan bied. Vroue reis nie alleen nie. Wel, dit kán gedoen word, maar dit word nie aanbeveel nie – veral nie vir hulle wat kontrakwerkers is en met die bruinrooi Saoedi-identiteitsboekie reis nie.

Danie reël altyd alles. Hy neem die voortou, hy doen die praatwerk. By hom voel sy veilig – al het hy nie spiere nie, is hy seningtaai. Hy ken Oosterse gevegskuns en hy is ’n kampioenskut. Hulle mag nou wel nie met vuurwapens reis nie, maar hy sal ’n aanvaller kan ontwapen en die bordjies verhang as iemand hulle met ’n pistool of mes dreig.

Daar skort niks met sy vaardighede nie, niks met sy wakker brein nie.

Alinda sit regop. Dis al skemer in die kamer.

Wie gaan haar humor verstaan? Wie gaan haar geselskap wees? Selfs Regina het nie so ’n wye algemene kennis soos Danie nie. En wat van hom? Hoe gaan hy dit hou met Irmina? Sy weet alles van mediese sake, maar praat oor iets anders, dan sukkel sy met haar Amerikaanse Engels. Vreeslik sjarmant en fyntjies, maar die skewe sinne wat uit daardie mooi mondjie kom!

Danie weet nie wat vir hom wag nie. Iemand sal hom moet wys op die gevare van kultuurverskille binne ’n intieme verhouding.

Daar is ’n kloppie aan die deur.

“Binne!”

Die lig uit die woonkamer skyn van agter op Regina. Sy lyk soos die goeie fee in haar witterige huisrokkie. Dalk kan Regina met hom praat?

“Aantreklike alleenlopermans is ontsettend selfgesentreerd. Hulle moet leer om verhoudings te respekteer en nie vir elke mooi gesiggie te val nie,” kondig sy aan.

Die magiese oomblik is verbreek. Alinda kan nie dink hoe Danie op so ’n teregwysing sal reageer nie. Regina trek die deur toe en skakel die hooflig aan. In die blakerende lig lyk alles meer doodgewoon as ooit tevore.

“Hoe voel jy nou?”

Die magic is weg uit my lewe, wil Alinda sê.

“Goed, ek voel goed,” sê sy met soveel oortuiging dat sy dit self ook glo. “Danie kan val soos hy wil, ek gaan aan met my lewe.”

“Ditsim. Wil jy eet? Kos is reg.”

“Dankie. Hoe lyk my oë?”

“Nie so erg nie. Ek’t vir die ander gesê jy’t migraine – hulle sal nie vrae vra nie.”

Alinda glimlag. “Regina, jy’s ’n ware vriendin.”

Casino Royale met Daniel Craig in die Bond-rol is op TV en die meisies sit almal vasgenael.

Regina reken dat sy mondjie darem regtig te klein is. “Tiekiebekkie, sou my ouma gesê het.”

“Solank hy kan soen – wat maak dit saak?” sê Sandy en trek haar wye mond op ’n klein tuitjie. “Ek sal inpas, dankie.”

“Dis deel van sy act, kan julle nie sien nie?” Patience wat so briljant is.

“Ja, nogal, hy maak so as hy gespanne raak,” meen Sue Ellen.

“Dink julle nie hy’s ’n bietjie te grof en rof vir James Bond nie?”

“Ek hou meer van hom – die ander was te unreal.”

“Hy’s darem nie ’n beauty nie.”

“Lyk bietjies te veel soos ’n huursoldaat.”

“Hou nou op, julle bederf hom vir my!” Sandy kan niks fout vind nie en gluur die ander aan asof sy Daniel Craig se beskermvrou is.

Regina brom nog onderlangs.

Toe skeur die held sy hemp van hom af en eensklaps gaan almal se oë oop. Sandy los ’n wolwefluit en selfs Regina moet haar genoegdoening uitspreek. Alinda, wat besluit het om niks van haar slegte gemoedstoestand te laat deurskemer nie, maar wat die skyn van ’n migraine moet bewaar, sluk haar woorde betyds. Om bo die res hoorbaar te wees, sal sy haar stem moet verhef, en ’n mens met ’n migraine praat nie hard nie.

Dis soos ek van ’n man se borskas hou, dink sy in haar enigheid. Dit moet ’n muur wees waarteen ek kan skuil, ’n fort wat om my verrys elke keer as ek in sy arms gaan staan. ’n Veilige toring, ’n kragtige masjien, ’n paleis gebou van vlees en bloed, met ’n hart wat warm daarin klop sodat sy arms teer om my kan vou en my kan wegvoer na onbekende plekke, na drome en eksotiese nagte onder ’n hemel vol skitterende sterre.

“Hoe voel jou migraine?” vra Sue Ellen in die advertensiepouse.

“Oukei,” sê Alinda heserig.

Sandy skreef haar oë. “Jy is die laaste tyd af, wat gaan aan?”

Alinda is lus en gee haar ’n dwars antwoord. Sandy het mos ook haar oog op Danie.

Gelukkig stuur Patience die sjokolade om. Daar is nog net drie in die boks oor.

“Liewer nie vir my nie, dankie,” sê Alinda.

“Beter so, sjokolade is baie sleg vir ’n migraine,” beaam Patience en vat vir haarself nog een.

Sue Ellen eet die ander twee. “Van môre af nie meer ’n tjoklit oor my lippe nie,” verklaar sy plegtig.

“Famous last words,” brom Sandy.

Sue Ellen kan niks sê nie, want dis die waarheid. En skielik kry Alinda Sue Ellen uit die diepte van haar hart jammer. Dis vreeslik as kos jou enigste troos is. Sy het darem nog vir Danie … gehad.

“Beste is, mens moet iets kry om te doen, soos … kraleborduurwerk of juwele maak.”

“Was al daar, het dit al probeer,” sug Sue Ellen. Gelukkig is die advertensieflitse verby en niemand hoef verder uit te brei nie.

Hulle kan vir ’n wyle vergeet van die nadele van vrouwees in ’n vreemde land waar vroue nie veel meer as vloermatjies is nie, en waar enkellopende mans wat dieselfde Westerse agtergrond en kultuur as hulle het so skaars is dat as jy een kry, jy hom – sy foto – kan raam en op jou kaggelrak uitstal. Sy vaste vorm sal nie lank vertoef nie, want hy is in transit, op pad na die volgende, beter, meer betalende internasionale werksgeleentheid.

Sy voete gaan nie rus vind nie voor hy te oud is om te besef dat verhoudings wat saak maak nie uit enkele nagte van passie bestaan nie, maar uit lewenslange verbintenisse. Teen daardie tyd is hy ook so afgetakel dat geen vrou hom meer wil hê nie.

Helena Hugo Derde Keur

Подняться наверх