Читать книгу Helena Hugo Derde Keur - Helena Hugo - Страница 4
1
ОглавлениеAlinda Norval klap die voordeur van die tweeslaapkamer-wooneenheid só hard toe dat die string klokkies wat Regina buite aan die kosyn opgehang het, losruk en val. Altans, so klink dit. Sy doen nie die moeite om seker te maak of die klokkies nog hang nie.
“Alinda-man, hoe laat jy my skrik!”
“Sorry!”
Alinda gaan staan ’n oomblik met haar rug teen die deur. Asem diep in. Hier binne voel dit nie veel koeler nie. Sy is ook te moeg en omgekrap om met die intrapslag verligting te kry. Die gedruis van die televisie in hierdie klein ruimte wat sy met vier ander verpleegsters deel, is nie strelend vir die gemoed nie.
“Dag jy’s iemand …”
Is ek dan niémand? Alinda gluur na die skraal skouertjies van die meisie voor die TV.
Patience Small, wat nagdiens doen en bedags op die kampbed in Sandy en Sue Ellen se kamer slaap, sit-lê voor die televisie. Sy lyk nie juis of sy geskrik het nie, trek net haar skouertjies ’n slag skeef en vestig dadelik weer haar aandag op die kassie.
Oprah Winfrey, vir die geleentheid geklee in ’n groen hospitaaljurk, is besig om die vroue van die wêreld susterlik te vermaan om gereeld vir jaarlikse mammogramme, papsmere en vigstoetse te gaan. Alinda het die spesifieke program reeds drie keer gesien.
Waarom die televisie ook alles moet herhaal en permanent aan moet wees, gaan haar verstand te bowe. Die skottel is wel deel van die huurpakket en hulle betaal duur daarvoor, maar genoeg is genoeg. Sy is nie lus om die oomblik as sy haar voete oor die drumpel van haar woonplek sit met geraas en nog boonop met hospitaalstories gekonfronteer te word nie.
“Werk jy nie vannag nie?” vra sy vir Patience.
“My nag af, onthou jy nie?”
Ja, Patience het iets gesê van in die sitkamer slaap omdat Sandy-hulle se kamer oorvol sal wees, veral wanneer hulle soggens so rondspring om alles by te kom en haar kampbed reg voor die klerekas staan. Hierdie woonstel is te klein vir vyf, maar Patience bly tot Monique van langsaan se plek oopgaan. Net vir twee maande, het Jackie belowe. Almal weet hoe moeilik dit is om die regte losies te kry en daarom het hulle ingestem om Patience uit te help. En dis nie asof sy nie haar bydrae lewer nie – Patience is pynlik netjies en hul woonstel was nog nooit so skoon en aan die kant nie.
Maar dis steeds moeilik om vyf meisies hier te akkommodeer! dink Alinda nors. Minder stilte, nog minder privaatheid.
Sy skrik – haar gedagtes hang seker soos ’n donker wolk om haar kop vir almal om te sien. Wat gaan aan met my? dink sy. Het my frustrasies nou ook breekpunt bereik? Breekpúnt, soos Ma altyd gesê het – dan moes ek en Herman en Pa weet om uit haar pad te bly, Ma is by breekpúnt. Soms was dit goed, want dan het Herman Alinda darem vir ’n halwe dag in vrede gelos.
“Mens vergeet partykeer,” brom sy vir Patience se regop ruggie.
Veral as jy moet sluk wat ek die afgelope tyd moes sluk.
Alinda ruk haar skouersak af, plak dit neer en pluk haar kopdoek af. Eers die kopdoek, dan die ellendige tent van ’n abaja. Alles beland in ’n bondel op die naaste stoel. Wat ’n verligting. Sy het ’n skamele sonrokkie onder aan en die koel luggie afkomstig van die lugreëling streel haar natgeswete vel.
’n Coke-advertensie flits oor die skerm. Patience draai om, kyk na Alinda en glimlag. “Nou kan jy ook ontspan.”
Alinda sug. Sy tel haar abaja op en vou dit netjies op.
“As dit nie so warm was nie,” troos Patience, “kon ons ’n entjie gaan stap het.”
“Nee, Patience,” maan Alinda, dié keer geduldiger. Dis tog nie Patience se skuld dat sy voel soos sy voel nie. “Vroue loop nie in die strate rond nie, tensy hulle een of ander missie soos inkopies het. Dis buite in elk geval naby kookpunt.”
Vandat sy in Saoedi-Arabië werk, verstaan sy hoekom haar broer die gewoonte het om die oomblik as hy van die werk af kom, sy das af te pluk en sy hemp uit te trek. Sy en Herman is watermense wat liewer wil swem as sweet. Herman sal nooit in hierdie woestynland aard nie, want selfs in Suid-Afrika kan hy saans nie gou genoeg in die dam spring nie.
Desember in Pretoria is warm, maar nooit soos Junie in Riaad nie. Die gemiddelde dagtemperatuur is 54° Celsius, en al is die son lankal onder, is daar weinig verligting in die aand.
“Só erg?” vra Patience.
Maar sy wag nie vir ’n antwoord nie. Die advertensieflits is verby en Oprah is besig om haar ateljeegaste aan die gehoor bekend te stel: ’n radioloog en ’n ginekoloog. Hulle lyk meer soos filmsterre as dokters en selfs Alinda kan nie anders nie – sy moet kyk. Gelukkig kan hulle háár nie sien nie. Sy weet sy lyk af. Haar hare hang pap, haar grimering het gesmelt en haar gesigsuitdrukking moet soos donderweer lyk.
Sy het goeie rede om kwaad te wees – sy was veronderstel om halfdag te werk. Toe raak die hospitaal se ongevalle só oorvol dat sy aangekeer word. Nie gevra word nie, bevéél word om voldag te werk.
Alinda voel hoe haar gewete haar ’n stekie gee. Dis nie dat sy die verpleegstersbelofte wat sy ses jaar gelede afgelê het, vergeet het nie. Maar vanmiddag was veronderstel om haar vry middag te wees. Sy het goed in die winkels nodig. Dit raak lastig, want môre werk sy weer ’n voldagskof en sal daar steeds nie tyd vir inkopies wees nie. Eintlik sou sy nie omgegee het om in so ’n noodgeval te help nie, maar dis die manier hoe sy daar uitgekom het wat haar briesend het.
“Oprah is darem nice,” sug Patience.
“Ongelukkig weet sy dit,” snork Alinda en mik in die rigting van die kombuisie om iets koels in die yskas te soek.
Sy pluk die deur oop. Op ooghoogte staan twee gemerkte plastiekhouers: Sue Ellen se jogurt en Regina se vrugteslaai. Die houer ondertoe met Alinda se naam lewer niks anders as verlepte slaaiblare en slymerige uieringe op nie.
Gelukkig is sy nie honger nie. Sy is dors en sy weet sy het nog ’n blikkie …
Sy soek agter al wat ’n plastiekhouer, bottel en boksie is. Dit was vanoggend nog hier. Nou is dit nêrens. “Wie’t my Tab gevat?” vra sy hard genoeg sodat ’n sekere persoon dit moet hoor.
Geen antwoord nie. Sy loer om die kombuisdeur.
“Weet jy dalk?” vra sy vir Patience se skraal skouertjies. “Patience …?”
Patience draai om, haar oë wit en weerloos – skuldig soos aangekla. “Nie geweet dis joune nie.”
“Dis wat ek drink, die afgelope twee en ’n halwe jaar al, almal weet!”
Patience lek haar lippe af. Dit smaak so sweerlik na Tab. “Hoe moes ek? Ek’s skaars twee weke hier,” sê sy lamlendig. “Sal nie weer nie, ek belowe.”
Alinda sluk die woorde wat in haar keel opborrel, ruk ’n ysbakkie uit die vrieskompartement en maak vir haar koue water aan met baie ys en die sap van ’n halwe suurlemoen – die laaste een in die yskas. “Wanneer gaan iemand weer kruideniersware koop?”
“Jy’t gesê jy sal vanmiddag.” Patience is besig om die glas wat sy gebruik het uit te spoel en blink te vryf.
Alinda leun teen die kombuiskas, haar waterdrankie in die hand. “Daar was ’n noodtoestand in ongevalle en toe word ek vriendelik verplig om aan te bly. Daarna was ek nie meer lus vir inkopies nie.”
Patience hou die skitterskoon glas teen die lug. “Wie sal wees, ná ’n voldag by die hospitaal en dan nog ongevalle.”
Patience is soos haar naam, die versinnebeelding van geduld, en Alinda voel sleg oor haar skerp woorde van flussies. Dit was onnodig, en suurlemoenwater is gesonder as Tab. “Ek is moeg,” maak sy verskoning.
Patience tel die uitgedrukte suurlemoenhelfte op, gooi dit in die kombuis se vuilgoedgeut en sit die oorblywende helfte met die snykant na onder op ’n skoon piering neer.
“Jy moet gelyke hoeveelhede vars pomelo- en suurlemoensap meng en dit saans ná werk drink. Dis baie goed vir tamheid en uitputting.”
Patience het raad vir elke kwaal. Haar ma is ’n bekende homeopaat van Wellington, en haar ouma en grootouma het in hul leeftyd al die babas van die destydse Distrik Ses in die lewe gehelp. Ook hul kwale die res van hul dae gesond gedokter en menige bejaarde sagkens oorkant toe gehelp. Patience kom uit ’n familie met genesende hande en ’n aanleg vir verpleging. Nie een van hulle het ooit soveel geld gemaak soos Patience in die volgende paar jaar sal kry nie.
Patience wil graag ’n dokter word, ’n spesialis met die regte sertifikate teen haar spreekkamer se mure en ’n glashuis teen Tafelberg se hang. “Dis die enigste rede waarom ek hier is, anders kan ek my mediese drome in my uniformsak steek en vergeet,” het sy kort na haar aankoms vertel.
Waar kry ek genoeg vars pomelo- en suurlemoensap om te meng in hierdie kombuis? wil Alinda vra, maar bedink haar. Haar geveg is nie met Patience nie, dis Danie Hartogh wat haar vandag weer verkeerd opgevryf het.
Patience hou haar hand uit vir Alinda se glas. Sy asem diep in, oorhandig haar glas met ’n dankie en die belofte om so gou as moontlik ’n sak pomelo’s en ’n sak suurlemoene te koop.
“Ek kan ook,” sê Patience, en voeg by: “Met my eerste salaris.”
“Dis nog sewe dae ver.”
“Ek het nie geweet jy tel nie?”
“Almal tel, en ons word almal op dieselfde dag betaal.”
Patience gooi die skitterblink glas vol yskaswater. “Nog vir jou?” vra sy net voor sy dit na haar lippe toe bring.
Alinda tel die ander glas op. “Dankie, ja.”
Hulle deel die suurlemoen en die res van die ys en gaan sit by die kombuistafel.
“Ek kan nie glo wat Jackie my vertel het nie,” sê Patience.
“Wat?”
Skinder is een manier om die tyd om te kry as die lewe te vervelig raak. Goed, daar is miskien dinge te doen daar buite, maar as vrou mag jy nie uitgaan nie. Nie sonder ’n manlike metgesel nie, al is dit jou huurmotorbestuurder – en vir hom moet jy ook maar lig loop.
“Monique trou vir geld.”
“Ons werk vir geld,” sê Alinda sinies.
Patience dink nie dis snaaks nie. “Jackie oorweeg dit ook,” sê sy. “Ek kan dit nie glo van my eie beste vriendin nie. Ek bedoel, geld is goed, maar om all out vir geld te gaan!”
Jackie is Patience se kollege-vriendin; sy het Patience oortuig om Saoedi toe te kom. Monique trou in die herfs met ’n skatryk sjeik en hul hele woonstel is vol trouklere en geskenke, daarom dat Jackie gevra het of Patience eers by Alinda-hulle kan bly.
“Ek wil nog daai troue sien,” sê Alinda.
“Jackie s’n?”
“Oor wie skinder ons – oor Monique of oor Jackie?”
“Vat eers vir Monique.”
Alinda voel ’n bietjie skuldig, want sy het ook al ’n ryk sjeik oorweeg, maar sy het haar gou vasgeloop teen die onoorbrugbare kultuurverskille.
“Monique het darem die geloof aan haar kant,” sê Patience, wat ook ’n Moslem is. “Maar ons Moslem-meisies word partykeers afgeskuif op ’n ou man.”
“Sy is nie afgeskuif nie, sy het self gekies.”
“Dis presies wat my pla. Sy het nou wel reg gekies met die geld, maar die man … Het jy hom gesien?”
“Hy lyk soos haar pa … nee, soos haar oupa.”
“Ek sou darem nog ’n bietjie rondgeshop het – siende dat haar mense haar ’n vry hand gee.”
“Enigiets kan in vier maande verkeerd loop,” sê Alinda wys.
“Soos wat?”
“Monique se oë kan oopgaan. Die sjeik kan besluit sy hart is te swak vir ’n sesde vrou, veral een wat dertig jaar jonger as hy is.”
“Monique is ’n verpleegster,” wys Patience uit.
“Miskien dié dat hy met haar wil trou – sodat sy hom die res van sy lewe kan verpleeg.”
“Dalk is sy regtig jammer vir hom.”
“Sy! Toe ons haar vra wat sy in die ou man sien, het sy koel op Frans gesê: “Assurance-vie!”
“Assurance wat?”
“Dis lewensversekering in Frans.”
“Haai, Alinda, weet Jackie?”
“Seker.”
“Sy’t my niks gesê nie.”
“Wel, ons het Monique reguit gevra: wat van die liefde?”
“Toe, wat sê sy?”
“Non, non mariage d’amour!”
“Watse ding?”
“Ek trou nie vir liefde nie … nie dié keer nie.”
Patience giggel. “Hoop vir haar onthalwe die ou leef nie tot hy honderd jaar oud is nie.”
“Hy sal nie, sy weet in watter toestand sy hart is.”
“Haai, Alinda! Nou skinder ons darem te vreeslik.”
“Maar dis waar. Monique was skaars ses maande hier, toe hét sy haar man, sy sê self dis waarvoor sy gekom het. Sy sou dit nooit aan haar pa en haar broers oorlaat om vir haar ’n man te soek nie.”
Patience antwoord nie, sy kyk Alinda stip aan. “En jy?”
“Hoe bedoel jy nou?”
“Hoekom het jý gekom?”
“Nie om man te soek nie!” roep Alinda uit, maar sy kan voel hoe sy bloos.
Patience maak of sy dit nie sien nie.
“Ek ook nie,” sê sy vroom. “Maar ek sal nie omgee as ’n ryk sjeik in my skoot val nie, ’n mooi jonge. Anders wag daar anyway vir my ’n ge-organizede man in die Kaap. My mense kan dit nie vat dat ek so oud en ongetroud is nie.”
Alinda wil Patience vra hoe oud sy dan is, maar sy los dit. Patience is ’n blote kind teen haar, en sy is self nog ver van getroud.
“Jy het darem ’n kêrel,” sê Patience asof sy Alinda se gedagtes kan lees.
“Waar hoor jy dit?”
Patience se oë rek en dit lyk of sy haar tong wil afbyt.
“Wie sê ek het ’n kêrel?”
Alinda voel hoe die bloed in haar slape klop. Skinder is soos ’n swaard met twee snykante – dit sny alkante toe.
“Jy hoef nie so kwaad te word nie,” keer Patience.
“Maar ek het nie ’n kêrel nie.”
“Wat dan van dokter Danie?”
“Danie Hartogh!”
Patience knik en giggel. “Hmm, Danie Hartstog. Die ander sê –”
“Patience, jy sal moet leer om nie alles te glo wat die ander sê nie!”
Patience lyk of sy wil vlug. Sy vat hul waterglase en staan op. “Ek’t nie bedoel om jou te ontstel nie.”
“Ek’s nie ontsteld nie, ek word net vreeslik die vieste in. Ek en Danie is soos broer en suster en almal wil alewig romanse by ons soek. Glo my – daar is niks.”
“Oukei, oukei.”
Gelukkig het Patience betyds omgedraai en sien sy nie die rooi vlamme op Alinda se wange nie. Alinda knyp haar oë toe. Sy oorreageer nou oor Danie, en sy is jaloers op Monique Viret. Monique het in minder as ses maande reggekry wat sy seker nie in sestig maande sal regkry nie. Die enigste verhouding wat sy hier aangeknoop het, is die een met Danie Hartogh, en daarvan gaan net mooi niks kom nie.
Monique weet wat sy wil hê en sy het gekry wat sy soek.
Vir haar, Alinda, voel dit of geluk en liefde soos ’n helderkleurige skoenlapper voor haar uitfladder – sodra sy dit wil gryp, glip dit weg. Sy vou haar arms op die tafel en lê met haar kop op haar arms. Dalk moet sy teruggaan Pretoria toe – Cullinan, om presies te wees. Die dae van diamantmagnate is nou wel oor en verby, maar hier en daar is nog ’n eiendomsmagnaat of twee.
Skielik verlang sy hartstogtelik huis toe. Sy wil nie meer vir haarself sorg nie, sy wil huis toe gaan, in die bed klim en bedien word – die bed wat haar ma in Biggie Best-styl met Franse kant en satynrosies opgemaak het, die kamer waarteen sy altyd so gerebelleer het en wat nou so koel en aanloklik lyk.
Alinda sien elke valletjie en strikkie in die fynste besonderhede, elke nagemaakte rosie, haar ma aan die swoeg om almal tevrede te hou – die skool, die huis, die loseerders, die leeskring, die teekring, die tennisklub, haar man, Herman, Alinda. Arme Ma …
Trane van verlange brand Alinda se oë. Sy is lus en vertel vir Patience hoeveel sy huis toe verlang. Sy is lus en waarsku haar teen te lank in die vreemde werk, teen te veel verwagtings, teen simpel mans soos Danie Hartogh. Maar gelukkig is daar ’n klop aan die voordeur, ’n klop gemeng met die rinkeling van klokkies wat opgehang word.
Alinda snuif en vee die nattigheid met die agterkant van haar hand uit haar oë.
Patience gee haar een kyk en bied aan om te gaan oopmaak.
“Seker nou iemand,” sê sy terwyl sy vorentoe loop.
“As dit vir my is,” sê Alinda, “ek is nie hier nie.”