Читать книгу Helena Hugo Derde Keur - Helena Hugo - Страница 11
8
ОглавлениеBy die huis aangekom, sit Alinda die sakke met kruideniersware op die kombuistafel neer, ook haar handsak en ander inkope. Omdat dit nie apart toegedraai is nie, het sy die lampie bo in een van haar inkopiesakke gepak en dit goed toegeknoop.
Die geur van Lily of the Valley-borrelbad en -seep hang swaar in die lug. Dis Patience wat gereed maak vir nagdiens. Die ander is nog nie terug van die werk nie.
Alinda haal haar lampie eerste uit en sit dit versigtig neer. Dit lyk half onvanpas op die pampoengeel tafelblad, in die ontwerperskombuisie met die liggroen mure en blink vlekvryestaalkassies. Daar staan wel ’n ry Arabiese kershouers van kleurvolle glas en spieëltjies op die vensterbank – Sandy se versameling. Hulle het die woonkamer met helderkleurige kussings, kelims en Sue Ellen se kosbare wierookbranders en blink kamele versier. Maar Alinda se lampie is te fyn, te besonders om sommerso tussen al die ander ornamente neer te plak. Dit sal ’n ereplek moet kry, op haar bedtafeltjie of op die boekrak in haar kamer, langs die houtkissies met haar Arabiese juwele.
Sodat dit nie moet val en seerkry nie, skuif sy die lampie tot reg in die middel van die tafel. Waar kom dit tog vandaan? Dit lyk of dit diep uitgegrawe is, dalk nog onder een van die ou kleiforte van Riaad wat die afgelope jare moes plek maak vir moderne staal-en-glaskonstruksies.
Aan wie het dit behoort? Wie het dit elke aand opgesteek en gewag dat haar man moet huis toe kom sodat sy hom by die lig van die lampie met plat brood en gestoofde bokvleis kon bedien? By watter kind se siekbed het dit deurnag gebrand terwyl sy ma langs hom op haar slaapmat waghou? In watter paleisvenster het dit gestaan en brand om bose geeste af te weer?
As hy kon praat, wat sou die lampie vertel? Regte lewensverhale, maar ook sprokies van ’n gees wat uitborrel wanneer hy opgevryf word en gereed staan om elke bevel van die eienaar van die lampie uit te voer?
Alinda glimlag. Versigtig vir te veel verbeelding, maan sy haarself en begin die kruideniersware uitpak. Eiers en olie, kraakbeskuitjies en vars dadels. Sjampoe, tandevlos, vitamien C-tablette, ’n pak snesies. Sy sit die jogurt en Tab wat sy gekoop het in die yskas, skink die laaste van Danie se bottel in ’n glas.
Dan gaan sit sy by die tafel en bestudeer die kosbare ornamentjie van ’n kant af. Draai dit om en om. Wat het die ou mannetjie besiel om dit teen so ’n belaglik lae prys aan haar af te staan? Daar is darem ’n groot verskil tussen 1 000 en 50 rial. Dis dieselfde lampie – daarvan is sy eenhonderd persent seker. En dis nie ’n namaaksel nie … Nee, dis egte brons en egte silwer dié. Taamlik skoon, maar ’n goeie blinkvryf is nie te versmaai nie. Sy staan op om Silvo en lappe in die kas met skoonmaakmiddels te soek.
Agter haar rug sien Patience, wat ’n draai in die kombuis kom maak, die lampie op die tafel dadelik raak.
“Haai, dis mooi! Waar kry jy dit?”
Alinda sê liewer niks van die mannetjie van Oman nie.
“Koninkryk-sentrum … by so ’n oulike nuwe geskenkwinkeltjie, Lamps & Things.”
“Mag ek sien?”
“Kyk gerus.”
Alinda kry net ’n leë Silvo-blik. Sy maak die kasdeur toe en gooi die blik in die vuilgoedgeut.
Patience lig die lampie op en bekyk dit. “Haai, dis Aladdin se lampie.” Sy sit dit neer.
“Nee, myne,” sê Alinda.
“Alinda se lampie.”
Alinda lag. “Hoe simpel klink dit!”
“Nee, dis oulik. Seker duur? Dit voel so.” Patience weeg die lampie in haar hand. “My ouma sê mos altyd plêstiek waai in die wind weg, maar silwer staan sy plek vol. Jy moet dit skoonmaak, dis aangeslaan. Of is jy bang die djin kom uit as jy dit opvryf?”
“Die djin … die gees van die lamp?”
“Ja, gees, djin, noem dit wat jy wil. Ek wed jou hier is een hier binne. Dis nie verniet so swaar nie.”
“Jy speel seker.”
“Vryf hom op en kyk.”
“Ons Silvo is gedaan. Ek sal eers die regte goed moet kry.”
“Sout en Sunlight-seep werk net so goed, en gebruik ’n tandeborsel.”
“Hier’s ook nie Sunlight-seep nie.”
“Gebruik liquid wash, maar maak dit dik aan met die sout.” Patience klink altyd so oud en ervare as sy raad uitdeel.
Alinda kyk die lampie so. “Is jy seker?”
“Van wat? Van die sout en seep?”
“Dat hier ’n gees in is?”
“Daar’s net een manier om uit te vind.”
“Sal ons probeer?”
Maar toe lui die telefoon en Patience lig die gehoorstuk. “My taxi!” Sy gooi die gehoorstuk op die mikkie terug, gryp haar handsak en draf voordeur toe.
Alinda bly alleen agter. Sy staar na die lampie en kyk in die rigting van die bottel vloeibare seep langs die opwasbak.
Liewer nie, sy sien nie nou kans vir ’n vreemde gees nie.
Buitendien, wat vra sy hom? Om Danie in die restaurant voor Irmina se neus weg te raap en iewers in die woestyn te gaan neersit? Om Irmina terug te voer Amerika of sommer Siberië toe? Darem te drasties. Nee, sy sal hulle kans gee. So ’n ete kan ’n lang en vervelige besigheid word – veral as hulle niks het om oor te praat nie. Dalk is dit al wat Danie nodig het om hom vir goed van Irmina te genees – ’n uur of twee met niks om oor te praat of te stry nie. Irmina se krom en skewe Engels, die manier wat sy het om dinge verkeerd te verstaan. Ha! Dit kan aanleiding gee tot ’n paar goeie misverstande.
Maar dan, sy twyfel. Danie sal nie met Irmina stry nie, daarvoor is hy te verlief. Hy sal haar reghelp, hy sal geduldig wees, hy sal moeite doen om te verstaan. Hy sal in haar mooi, sagte oë kyk. Hy sal in haar siel inkyk. Hy sal haar gedagtes lees en die woorde wat sy nog nie eens uitgespreek het nie, hoor.
Só goed sal hy weet wat sy van plan is om te sê dat hy haar gedagtes vir haar in die regte woorde sal omsit. Hy sal haar stappie vir stappie met hom saamneem en haar leer om goeie Engels te praat. Sy sal hom Arabies leer, en naderhand sal hulle mekaar so goed verstaan dat hulle nie eens nodig het om ’n geluidjie te maak nie. Hulle kyk mekaar net in die oë en sien alles.
Aan die ander kant, dalk hardloop haar verbeelding nou met haar weg. Danie hét haar vanmiddag uitgenooi om saam met hulle te eet – sý was die een wat nie wou nie. Miskien was die ete saam met Irmina ’n blote werksaangeleentheid, of sommer net toevallig.
Danie is haar vriend, nie Irmina s’n nie. Sy gryp haar handsak en haal haar selfoon uit. Soms hoor sy nie die luitoon nie en dalk is daar ’n SMS. Sy knyp haar oë toe. Laat daar tog ’n SMS wees.
Dan maak sy haar oë oop. Niks. Net die tyd en die skermskut. Hy kan beswaarlik vir haar ’n SMS stuur terwyl hy nog besig is om te eet.
Alinda fokus op die aangeduide tyd. As sy reg is, eet Danie en Irmina nou al vier uur aanmekaar! Hy stuur ook nie elke dag en heeldag vir haar SMS’e nie. Maar hulle kan nie vier uur aaneen eet nie. Waar is hy? Wat doen hy? Sy vrek voor sy probeer uitvind.
Sy sit haar selfoon in haar handsak. Sy pak haar sjampoe en ander toiletware in ’n sak en gaan bêre dit in haar kas in die slaapkamer. Toe sy terugkom om die lampie te kry, staan dit in ’n poeletjie lig.
Vreemd, dink sy, waar kom die lig vandaan?
“Iets wat so gloei in die donker gee my hoendervleis,” sê Regina toe hulle daardie aand hul bedliggies afgeskakel het en die lampie steeds bly lig afgee.
Alinda beskou dit en giggel. “Kan jy glo, dalk het die ou mannetjie van Oman hom met fosfor behandel.”
Regina bly ’n rukkie stil. “ ’n Woestynsmous sal enigiets doen om sy ware verkoop te kry,” sê sy dan.
“Ek wou dit van die begin af koop, maar nie teen sy prys nie.”
“Dis ook tipies. Hulle het nooit ’n vaste prys nie.”
“Ook al agtergekom toeriste weet nie van onderhandel nie, dan vat hulle ’n kans.”
“Hy moes darem baie desperaat gewees het vir daardie prys.”
“Ek het klaar daaroor getob.”
“Vir al wat jy weet, is hy besig om sy werkgewer te besteel.”
“Sy werkgewer sal sekerlik agterkom as die lampie in die glaskas weg is.”
“Sal nie verbaas wees as hy vannag op pad is Oman toe nie.”
“Met ’n sak vol identiese lampies oor sy skouer!”
“Solank jy nie voel jy’s gekul nie.”
“Vyftig rial is nie só buitensporig nie.”
“Ja, maar as dit ’n namaaksel is, dan is dit.”
“Wanneer laas het jy so iets in ’n winkel gesien?”
“Dit ís nogal iets. Hoekom vat jy dit nie museum toe dat hulle dit vir jou dateer nie?”
“En uitgevang word omdat ek ’n belangrike artefak in my besit het?”
“Soos Aladdin se lampie?”
“Soos Aladdin se lampie, wat nou Alinda se lampie is – my gelukkige lampie.”
“Ten minste trek dit jou aandag van Danie en Irmina af.”
“Dis jý wat nou hul name genoem het.”
“Jammer, vriendin. Slaap lekker.”
“Nag, Regina.”
Alinda lê nog vir die lampie en kyk. Hier is een of ander chemiese proses aan die gang, want waar kom die lig vandaan?
Dalk is dit net die maanlig wat deur die venster val. Maar die lig is so helder, dit lyk of iemand die lampie vol olie gemaak en aangesteek het.
Sy wag tot Regina se asemhaling diep en rustig is voordat sy haar hand uitsteek en die lampie versigtig aanraak. Dis koel onder haar vingerpunte. Sy sit regop, tel dit versigtig van haar bedtafeltjie af op. Dit gloei soos ’n bol vuurvliegies, maar nêrens sien sy ’n vlammetjie nie.
Is hier regtig een of ander krag in die lampie – ’n gees of ’n djin? Nee tog, dan is dit van die bose, en al het sy ’n goeie verbeelding en geniet sy nog steeds ’n goeie sprokie, wee haar as sy dit glo!
Sy dink terug aan haar kinderjare toe haar pa vir haar sprokies voorgelees het terwyl haar ma met Herman sukkel om sy skoolwerk te doen. Aladdin se lampie was een van haar gunstelingstories. Sy het lank gedroom en gewens sy het ook so ’n lampie met ’n gewillige slaaf daarin vasgevang – een wat in ’n oogwink verskyn en haar bevele sonder teëspraak uitvoer. Wat haar broer sal optel en in die see gooi as sy so wreed wil wees om dit te vra.
Vandag sal sy dit nie meer doen nie … of sal sy? Wraak neem op iemand wat haar sonskyn en lewensvreugde steel, iemand soos Irmina? ’n Oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand. Dis die wet wat in hierdie land geld, en dalk is dit tog regverdig.
Alinda voel soos die heks in die storie van Sneeuwitjie toe sy die lampie met haar laken begin opvryf. Sy verwag niks nie, en skrik haar flou toe ’n gees omhul van ’n oranje wolk uitborrel en reusagtig oor haar toring. Hy is definitief van Oman, want hy dra sy ghutra in ’n ronde bol om sy kop geknoop. Yslike goue oorbelle aan sy ore. Hy kyk na haar met sy donker, deurdringende oë, sulke welige wenkbroue. Sy snor hang lank en dun aan weerskante van sy mond af en sy neus is die spreekwoordelike arendsneus.
Nogal aantreklik vir ’n gees, besluit Alinda. Sy is glad nie bang nie, want sy weet mos hy is haar eie, getroue slaaf.
“My skone dame,” sê hy. “U woord is my bevel.”
Sy stewige, gespierde boarms is voor sy bors gevou. Daar is baie ringe aan sy vingers en armbande om sy gewrigte. Al wat haar pla, is die goue Rolex wat effens onvanpas lyk, maar dalk kom dit deesdae saam met sulke slawe. Sy sal nie verbaas wees as sy selfoon in sy tulband weggesteek is nie.
“U bevel, skone dame?”
Alinda krap haar kop. “Jy het my onverhoeds betrap.”
“Oho! U moenie my rus verstoor as u my nie nodig het nie. Gou, u bevel?”
“Irmina het my vreugde gesteel, ek wil hê jy moet haar vreugde ook steel.”
“ ’n Oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand.”
“Nie oë en tande nie – vreugde, geluk. Kan jy dit doen?”
Die gees kyk op sy goue Rolex. Hy het die pragtigste borskas wat sy in ’n lang tyd gesien het, byna so perfek soos Daniel Craig s’n.
“Laat dit aan my oor,” grinnik hy. “Ek sal sorg dat Irmina die ongelukkigste vrou in die ganske Arabië is.”
“Irmina Al Sa’ud!” skree Alinda nog agterna. “Sy’s ’n prinses.”
Maar die gees het klaar verdwyn en iemand is besig om haar aan die skouers te skud.
“Alinda, word wakker, jy praat in jou slaap.”
“Keer hom!” sê Alinda. “Voor hy die verkeerde Irmina beetkry.”
“Wat?”
Alinda se oë gaan oop. Sy sien Regina oor haar bed buk.
“Jy het so pas ’n vreeslike nagmerrie gehad,” paai sy.
Alinda se mond is droog. “Ellendige lampie,” mompel sy.
“Nee, jong, ek glo nie dis die lampie wat jou pla nie.”
Alinda kom orent. Haar kop voel soos ’n huis. Die lampie lyk vaal en onskuldig, geen ligstrale of oranje wolke nie. “Ek het ’n nagmerrie gehad.”
“En haar naam is Irmina.”
“Irmina?”
“Jy’t haar naam gemompel en iets van geluk. Kan jy onthou wat jy gedroom het?”
Alinda onthou. “Jy bly stil as ek jou vertel.”
“Ons praat nie uit die kamer nie.”
“Ek’t gedroom ek vryf die lampie blink en toe borrel daar so ’n oranje gees uit.”
“Oranje?”
“Ek bedoel die rookwolk, die rook was oranje.”
“En hy?”
“Kaal bolyf. ’n Aantreklike duiwel met spiere soos Daniel Craig en oë soos Sean Connery, goue oorbelle, goue Rolex.”
“Goue wát?” Regina giggel.
“Rolex en ’n selfoon – een van die heel nuutstes.”
“Oukei, different times call for different measures. Praat hy?”
“Ja, diep stem.”
“Your wish is my command?”
“Nee, suiwer Afrikaans. Hy’t gesê … Wag nou …”
Teen dié tyd krul Regina soos sy lag. “Wat?”
“Skone dame. U woord is my bevel.”
“Ag nee, dis outyds.”
“Wat? Dis mooi, dis sjarmant.”
“Goed, elke meisie het haar eie droom. Wat sê jy toe vir hom?”
Alinda se gesig val. “Ek was lelik.”
“Met wie?”
“Irmina, wie anders?”
“En?”
“Ek’t gesê hy moet haar vreugde steel, want sy’t myne gevat.”
Toe lyk Regina ernstig. Sy sit haar hand op Alinda se skouer en druk dit liggies. “Ag, Alinda …”
“Ek het nie besef ek sal hom so mis nie.” Alinda sug sidderend. “Hy was my vriend, Regina, my beste vriend.”
Regina kyk haar ernstig aan. “Ek sou nie my hoop op lampies en towergeeste stel nie. As ek jy was, sou ek self iets doen.”