Читать книгу Helena Hugo Derde Keur - Helena Hugo - Страница 9

6

Оглавление

“Vroue raak ook al so,” sê Regina toe sy en Alinda die volgende middag ná werk in ’n koffiekroeg in die Kingdom-inkoopsentrum sit en kuier.

Alinda roer haar koffie. “Soms voel ek so outyds, my ouma se dogter, byna Victoriaans.”

Regina giggel. “Ek ook.”

“Ek het altyd gedink ek’s bevry, ek sal loop waar ek wil en werk waar ek wil. G’n man of kind sal my ooit bind nie, ek doen my eie wasgoed en kook my eie kos, ek wil nie eens ’n kat of ’n hond hê nie – geen werkskontrak wat langer as ’n jaar hou nie. Maar deesdae voel dit so of ek besig is om op ’n los matjie te dans, een wat enige oomblik onder my voete uitgepluk gaan word.”

“Dalk is jy te lank in Riaad.”

“Ja, dalk het dit te veel soos ‘die huis’ begin voel, en nou raak ek skielik bang om weer aan te beweeg.”

“Nog ses maande vir jou …”

“Vyf.”

“Ek gaan Oktober terug.”

“Is jy nog hier vir my verjaardag?”

“Ek is bevrees nie, maar ons kan dit vier voor ek gaan.”

Alinda frommel die leë suikersakkies op en gooi dit in haar koppie. “Dit sal nie dieselfde wees nie.”

“Ek weet, mens wil graag op die regte dag verjaar.”

“Dis nie die verjaardag nie. Dis oor jy weggaan. Ek glo nie ek sal kan uithou sonder jou nie.”

“Sue Ellen en Sandy is nog hier.”

“Hulle is net woonstelmaats, nie vriendinne nie – nie soos jy nie.”

“Jy het nog vir …”

“Vir …?”

“Ek wou sê …

“Danie.”

“Jip.”

“Nee wat, Regina, ons vriendskap is iets van die verlede. Ek het hom vandag nie eens gesien nie, net in die verbyhaas en dis al.”

“Daar was darem al sulke dae, sulke tye.”

“Ja, maar nie onder sulke omstandighede nie.”

Regina krap die laaste krummels sjokoladekoek op haar bordjie bymekaar. Sy druk dit met haar vurk vas, maar eet dit nie. Sy kyk op en wys na Alinda se bordjie waar die dadelmuffin nog feitlik onaangeraak lê. “Eet jou muffin dat ons kan loop.”

“Ek sal ’n nuwe kamermaat moet kry,” sê Alinda.

“Ek hoop van harte dis ’n gawe mens.”

“Niemand kan gawer as jy wees nie.”

Regina kyk stip na haar. “Alinda, jý is die gawe een. Jy was al ’n jaar hier, toe kom ek eers hier aan – so affie plaas en so groen soos … soos ’n Granny Smith-appel. Was dit nie vir jou nie, het ek dit nie gemaak nie.”

Alinda lag. “Ek het genoeg ondervinding opgedoen vir twee.”

Regina se oë rek. “Praat van twee … Ek dag hulle gaan verbyloop. Moet jou waarsku. Hier kom hulle.”

“Wie?”

“Danie en Irmina.”

Alinda voel hoe sy warm word; haar kopvel begin tintel en haar keel trek styf. Sy gryp die piering van die koppie wat voor haar staan aan weerskante vas en pluk dit nader.

“Danie en … wie?”

Die koppie wankel gevaarlik en Regina moet oorbuk om te keer. “Prinses Irmina,” fluister sy.

“Is sy nie veronderstel om te slaap nie?”

“Sy het drie dae vry. Kyk jy nie op die rooster nie?”

“Ja, maar ek stel nie belang in haar nagskof nie.”

“Agter jou. Hulle het ons gesien.” Sy druk Alinda se hand. “Wees sterk, vriendin.”

Alinda voel hoe die bloed van haar onverskrokke James Norval- en Sarel Cilliers-voorsate in haar are begin kook. In haar kop tel sy tot tien in Afrikaans en dan weer tot tien in Arabies. Sy vleg haar vingers onder die tafel op haar skoot inmekaar om hulle bewing te bedwing.

Danie lyk soos ’n kat wat room gesteel het en Irmina is so swaar gesluier, g’n mens kan aflei of sy uit is op besigheid of plesier nie.

“Kyk wie’s hier!” groet Danie.

“Ons het vanoggend by die werk gegroet,” sê Alinda styf.

“O ja, ek het vergeet. Jy’t so vinnig by my verbygehardloop, al wat ek gesien het, was ’n vaal streep.”

“Ek hét gegroet.” Vaal streep, nogal. Vaal!

“Dan het ons seker.”

“Doen iets uit gewoonte, dan doen jy dit later sonder om te dink. Hello, Irmina, enjoying yourself?” Moet sy so stroperig-neerhalend klink?

Danie frons, maar Regina red die situasie. “Julle moet die sjokoladekoek probeer, dis baie beter as die dadelmuffins.”

“What is she referring to?”

“Chocolate cake.”

“O, such temptation,” sug die prinses.

Ja, Irminatjie, en sjokoladekoek is nie die enigste nie. Ek sien dit in jou oë, besluit Alinda.

“You can afford it,” sê Regina gesellig.

“I told Danny I can, but today is his treat.”

Alinda frons en Regina kliek dadelik. Die prinses het haar verkeerd verstaan, maar voor sy Irmina kan reghelp, gryp Danie in.

“Sy kan, maar vandag lei ek haar in die versoeking.”

Hy kyk nie na Regina toe hy praat nie, hy kyk reguit na Alinda. Sy oë blink soos amber glas. Sy weet nie of dit oor die vooruitsig is om Irmina in die versoeking te lei of omdat hy met haar spot nie.

Sy gee hom ’n giftige kyk. “Enjoy your coffee and conversation,” sê sy en tel haar handsak op die stoel langs hare op.

“You don’t want to join us?” Dis Irmina wat sout in haar wonde vryf en dit seker nie eens agterkom nie.

“No, we’re late. Kom, Regina!”

Alinda stamp amper haar stoel om in haar haas om weg te kom.

“In a hurry … mother’s birthday … shopping,” hoor sy hoe Regina olie op die waters gooi, maar sy staan reeds in die gang voor die winkel. Die reuk van koffie het haar skielik so mislik gemaak, sy kon nie ’n oomblik langer vertoef nie. Sy vat sommer koers en loop.

Regina haal haar in. “Alinda, loop stadiger!”

“Ek wil by die huis kom.”

“Wat van jou ma se verjaardaggeskenk?”

“Ek sal môre.”

Hulle loop ’n rukkie in stilte. Alinda kan Regina se simpatie aanvoel. Sy voel deurmekaar, want sy weet nie hoekom sy so reageer nie, totaal en al onredelik.

Danny … Irmina noem hom Danny.

“Oh, Danny boy, the pipes … the pipes are calling …”

Vir die res van die dag maal die deuntjie in Alinda se kop en gun haar geen rus of duurte nie.

Sy drink later ’n slaappil en slaap tot die volgende oggend laat. Dis negeuur toe sy wakker word en die woonstel is stil. Almal is weg, dankie daarvoor. Maar die deuntjie is terug.

“Oh, Danny boy, the pipes … the pipes are calling …”

Die melodie betrap haar onverhoeds en soos ’n rot op ’n trapwieletjie ry dit haar tot sy naderhand die televisie aansit – saggies, want Sandy-hulle se kamerdeur is toe. Patience slaap seker.

Alinda kyk die nuus. Dit konsentreer op die nuutste oorlogsgeweld in Bagdad en Somalië. Daar is party dinge wat nooit end kry nie. Oorlog is een.

Die ketel kook in die kombuis en toe sy haar rug op die televisie draai om koffie te maak, is “Danny boy” weer terug – met mening. Sy gooi koffie in die perkoleerder, gooi water op en gee haar daaraan oor. “Oh, Danny boy, the pipes … the pipes are calling … from glen tot glen and from the mountain tops …”

Haar oë is op die almanak met die sonsondergang oor Jedda, maar sy sien dit nie meer raak nie. Sy sien Irmina en Danie, koppe bymekaar by die ontvangstoonbank van die hartafdeling waar hulle werk.

Irmina noem hom Danny. Danny boy …

Alinda knyp haar oë toe en kners op haar tande, maar die beelde bly. Danie en Irmina kom die koffiekroeg ingestap, hand aan hand. Hulle kom die onthaalsaal van die koninklike paleis ingesweef in wit trouklere. Hulle stap so stadig, dit lyk of hulle nooit by die podium gaan uitkom nie.

Dis nie meer lekker hier in Riaad nie, dink Alinda. Regina gaan huis toe en Danie het sy prinses gekry. Herman het haar gewaarsku, laas keer toe sy by die huis was. Hy’t gesê sy moet huis toe kom terwyl dit nog goed gaan, nie nadat daar iets slegs met haar gebeur het nie. Die kanse daarvoor is goed in ’n land soos Saoedi-Arabië.

Alinda kyk hoe die koffie deur die perkoleerder se tregter in die kan drup.

Drup, drup, drup …

Sy dink na, diep na.

Wie luister na jou broer, wat vandat jy die dag jou verstand gekry het, jou lewe wil regeer en jou selde iets gun? Wat nou met haar gebeur, is nie so erg sleg nie. Regina het van die begin af gesê miskien bly sy net ’n jaar, en Danie – wie gee om vir Danie?

Erger dinge het haar aan die begin van haar verblyf getref. Sy het die wet twee keer oortree. Die eerste keer deur kar te bestuur in ’n land waar geen vrou eens agter ’n stuurwiel mag sit nie, maar sy’t nooit gedink hulle sal haar op die lang pad Jedda toe voorlê nie. Sy én die arme Mahmoud wat haar toegelaat het, is elkeen swaar beboet. Sy sal dit natuurlik nooit weer waag nie. Mahmoud ook nie.

Die tweede keer was dit die sluier en die abaja …

Nadat sy toeriste in gewone klere gesien het, het sy besluit dis nie nodig om haar so te versmoor nie, wie sal in elk geval weet sy werk hier? Skaars drie dae, toe agtervolg die matawwa haar tot voor die opehartafdeling se ICU. Sowat van ’n gedoente – ’n mens sou sweer sy was poedelkaal op straat. Dis die einde, het sy gedink, hulle sluit my in ’n kerker onder die Masmak-vesting op en ek sien nooit weer die daglig nie.

Hulle was toe genadig. Die hospitaal se hoofbestuurder het namens haar gepleit en haar daarna goed die leviete voorgelees. Sy het losgekom met ’n paar lelike sweephale oor haar bene, ’n boete en ’n ernstige waarskuwing. Twee keer mag onkunde wees, maar drie keer is opstand teen die orde. Sy kan gelukkig wees dis 2007 – op die plein voor die hof het hulle in die ou dae koppe afgekap.

Van toe af het sy seker gemaak dat sy nie weer met die gereg bots nie. In Rome moet jy maak soos die Romeine, in Riaad soos die Arabiere. Dit beteken fyntrap. As jy ’n vrou is, is jy minder werd as ’n bokooi, minder as ’n sak meel, minder as die moer wat in die koffieketel agterbly.

Alinda skink vir haar koffie in en trek ’n gesig. Ja, minder as die moer …

Selfs al is jy die koning se oudste dogter, is jy niks meer as ’n spesiale prys wat uitgeloof word aan die wenner van een of ander toernooi of wedstryd nie. Raai-raai-riepa, en die man wat reg raai, trou met … Irmina.

Toe glimlag Alinda. Haar lewe is deesdae dalk ’n bietjie vervelig en teleurstellend, maar dis oor die algemeen sekerlik makliker as Irmina s’n.

Sy drink haar koffie sonder melk en suiker klaar en gaan vat ’n koue stort. Hoe gaan daai deuntjie nou weer? Danny … Nee, sy het haarself genoeg gestraf. “I’m gonna wash that man right out of my hair!” sing sy en was dat die skuim so staan.

Ná die stort voel sy vars en vrolik en lus vir die dag. Inkopies! Hierdie keer gaan sy vir haar ma iets so besonders kry dat dit finaal sal opmaak vir al die kere dat sy ongehoorsaam, opstandig en dwars was. Vir al die bekommernis ook. Sy weet haar ma is bekommerd. Haar ouers glo vas hul dogter se voorland is die harem van ’n wrede sultan, of anders om in die woestyn te verdwaal en nooit weer gesien te word nie.

Dalk moet sy dit tog oorweeg om ook die einde van die jaar terug te gaan na Suid-Afrika. Sy het mos nou geld in die bank, minder ná al die boetes, maar genoeg. Niemand dwing haar om hier te bly nie. Sy hoef nie – beslis nie vir Danie en Irmina se troue nie.

Alinda kyk in die spieël, grimeer lig, ignoreer die uitdrukking in haar oë.

Wat wil sy vir haarself sê?

Jy is jaloers, Alinda, en dis doodnormaal.

Hoekom?

Moenie te veel dink nie, Alinda. Jy ontdek dalk goed oor jouself wat jy nie wil weet nie. En moenie ’n oomblik langer vertoef nie. Jou gunsteling-inkoopsentrum wag vir jou.

Alinda bel haar taxi-man. Gamal is ’n Egiptenaar. Hy is ’n bekwame bestuurder, beter as die meeste in hierdie land wat bekend staan as ’n gebied met die swakste motorbestuurders denkbaar. Dit spreek vanself met ongeveer 800 000 motorongelukke jaarliks, en dit in so ’n ylbevolkte wêrelddeel. Toegegee, dis dikwels nie die motorbestuurder se skuld nie. Desperate armes spring voor bewegende voertuie in en lê hul lewe af sodat hul familie bloedgeld van die bestuurder kan eis.

“I pay ruksha.” Gamal sorg dat hy verseker is teen sulke en soortgelyke ongelukke.

“Watse ruksha?” het Danie aan die begin gesê. “Ek sal kyk waar ek ry.”

“Dis soos derdeparty-versekering in Suid-Afrika. Betaal. Dis nie so hoog nie!” het Alinda uitgeroep. “Skaars ’n duisend rand per jaar.”

Hy het vasgeskop soos ’n steeks donkie. “Ek is verseker.”

“Ruksha is wet.”

“Ja, Alinda.”

Sy is nie seker of hy nou ruksha betaal nie – ruksha is nie net vir motorongelukke nie, enige leed wat jy iemand aandoen, kan met ruksha reggestel word. Maar of Danie ruksha betaal of nie, is sekerlik nie haar verantwoordelikheid nie. Hy is slim genoeg om self te besluit, die koppige mansmens.

Gamal is so spraaksaam soos gewoonlik. Sy seun studeer aan die Universiteit van Kaïro. Hy doen navorsing oor die standhoudendheid van die Nylrivier.

“My son say, too many dams.” Gamal trek sy asem in om uit te brei. “My son –”

Alinda sien nie kans vir nog ’n verhaal van ekologiese rampspoed nie. “How are your daughters?” val sy hom in die rede.

“My youngest, she study to be nurse, like you.”

“Is she coming to work in Saudi?”

“No, no more family work in Saudi. She go to London. Me also, end of year.”

Genade, gaan almal haar nou verlaat?

“So, you are going to be a famous London cabby?”

“What you say?”

“You want to be a taxi-driver in London?”

“No, want to take my car to Egypt. My son say, is no good. I must stay with him and wife. Stop working. Rest. Play with grandchildren.”

Wel, dis niks minder as reg nie – hy het sy seun se studie met sy taxi-geld help betaal.

Gamal laai haar voor die ingang van die Koninkryk-inkoopsentrum af. Sy spreek af om hom oor drie uur op die taxi-staanplek te ontmoet. Waar kry sy weer ’n ordentlike en betroubare bestuurder? Hulle is nie almal so vaderlik en beskermend soos Gamal nie. Haar eerste taxi-rit in Riaad was een van haar minder aangename Arabiese avonture. Noudat sy daaraan dink, die tweede een ook. Maar nommer drie was toe Gamal, goeie ou Gamal.

Wat gaan van haar word noudat almal haar wil verlaat – selfs haar getroue huurmotorbestuurder?

Helena Hugo Derde Keur

Подняться наверх