Читать книгу Sondag - Irma Venter - Страница 12

2.

Оглавление

Donderdag 8 Februarie, 15:16

Ek wink Alex nader. Kudos vir hom dat hy niks oor die storm sê nie. Hy weet om nie sy bronne te byt nie.

Hy haal ’n notaboek, pen en opnemer uit sy baadjie se sakke. Blaai die notaboek oop, ’n leerarmband om sy regtergewrig.

Genade, die man skryf lelik. Seker twee linkerhande. Mooi, sterk boerseungesig, though, nes ek hom onthou, ten spyte van daai winkelhaaklitteken onder sy oog. Die klammigheid van die reën sit nog in die bruin hare wat krul in sy nek.

“Aikona.” Ek beduie hy moet als weer bêre. “Ons wys jou eers wat aangaan en dan besluit ek wat ons gaan sê. Dis die deal. En laat ons dit sommer van die begin af straight kry: jy haal my nie aan nie. Jy sê ‘ ’n betroubare polisiebron’, dis al.”

Hy dink bietjie, maar bêre dan die notaboek en opnemer, haak die pen voor by sy groen hemp in. “Okay. Deal.”

Ek wonder of die huiwering om my onthalwe was, om vir my te wys hy gaan nie sommer net doen wat ek sê nie. In die motor kon ek sien hy was verras oor my oë se twee kleure, maar hy het dit gou weggesteek.

Ek wonder of hy ’n goeie pokerspeler is.

Ek is.

“As jy iets skryf wat off the record is, énigiets, praat ek en kolonel Ndlovu en die ganse polisiediens nooit weer met jou nie.”

Hy knik. “Ek verstaan.”

“Verstaan jy regtig?”

“Eenhonderd persent.”

“Wel, noudat dít uitgesort is …” Farr, wat die gesprek soos ’n tennistoeskouer dopgehou het, beduie ons deur die oopplan-sit-eetkamer na die kombuis.

Die vertrek is groot genoeg dat jy ’n trouonthaal daar kan hou. Die styl herinner aan die Franse platteland: vuilwit, blou en terracotta. ’n Agtsitplektafel met die ryk donker grein van stinkhout staan gedek vir vyf mense se ontbyt, papborde en silwerpaplepels gereed.

“Kom ons begin by die begin,” sê Farr.

Sy kyk na my en ek knik instemmend.

Sy wys na die agterdeur. “Die mans het hier ingekom.”

Alex draai op sy hakke om die vertrek in te neem. “Hoe het hulle oor die grensmuur gekom?”

“Daar’s niks wat sê hoe hulle by die kompleks ingekom het nie.” Farr staan in die middel van die kombuis, tussen die enkele bloedkolle, soos geroeste verf, wat sy omlyn het omdat ek gevra het. Niemand moet daarop trap nie. Ek wil als vir so lank as moontlik in plek hou.

“Niks nie?” vra Alex ongelowig.

Farr knik. “Daar was geen merke teen die grensmuur nie. Geen alarms nie. Die elektriese heining is nie beskadig nie en dit was nooit afgeskakel nie. Daar was ook geen verdagte mense of aflewerings by die Stables daardie dag nie. Almal wat in is, is weer uit volgens die hekwagte, die toegang-logs en die CCTV-kameras.”

“Is daar orals CCTV?” vra hy.

“Nee,” spring ek in, “net by die hek en op die grensmure. Die mense hier hou van hulle privaatheid. Jy kan die kameras bôl as jy rêrig wil.”

Sy wenkbroue lig. “ ’n Plek soos dié … het die sekuriteitspatrollies niks gesien nie?”

“Uh-uh.” Ek skud my kop. “Twee gewapende wagte loop elke uur hier verby, binne die landgoed en buiteom. Kaptein Mthembu het hulle gelooi, maar nie een van hulle lyk skuldig nie.”

“Élke uur, ook op die Sondag van die aanval? Die nag van die 24ste Desember?”

“Wel, nee,” gee ek toe. “Omdat dit Oukersaand was en daar letterlik net drie of vier gesinne by die huis was, het die wagte elke twee ure verbygekom. Hulle het op twee derdes van hulle staf gewerk.”

Hy frons. “Dis nie goed nie.”

Presies. Maar ek sê dit nie.

Hy beduie in die rigting van die agterdeur. “Kon die CCTV op die grensmuur nie eers iets van die ouens by die agterdeur sien nie?”

“Nee,” raak Farr ongeduldig, “ons sê mos. Die kamera kyk af met die muur – buitetoe. Daar wys nie eers ’n sentimeter van die erf nie.”

“Okay.” Alex vee ’n verdwaalde reëndruppel uit sy nek.

Farr maak die agterdeur oop. Ek bly staan in die middel van die kombuis, waar die weerlig nie kan bykom nie.

“Ons dink die rowers het die agterdeur gebruik omdat die gesin dit soms vir hulle hond oopgelos het as hulle TV kyk,” sê ek. “Aldus Katerien van Zyl se suster, Annabel Kirkpatrick.”

Alex draai na my. “Weet julle hoeveel aanvallers daar was?”

“Ons vermoed drie. Ons het drie bloedmonsters gekry wat nie aan die Van Zyls behoort nie.”

“Hierdie bloed?” Hy wys na die vlekke op die vloer.

“Onder andere. Lafras van Zyl het baklei … en ek bedoel bakléi.” Ek meet Alex se lyf. “Hy’s langer as jy. En baie fiks, al is hy 45. Jy weet seker hy’t vroeër allerhande vreemde ekspedisies gedoen, saam met sy pa reeds. Loop tot by die Suidpool, klim Kilimandjaro, ry fiets om Afrika, allerhande mal goed. Hy was groot en sterk.”

“En toe begin sy maatskappy geld maak.”

“Ja. Invest+. Hy kon goeie deals ’n myl weg spot. Sê almal.” Ek leun teen die kombuistafel. “Wat weet jy nog?”

“Net wat die koerante sê. Hy en Katerien Kirkpatrick is ’n jaar ná universiteit getroud. Sy was op UCT en hy op Stellenbosch. Hulle het mekaar op Lafras se familieplaas ontmoet toe sy as derdejaar daar saam met vriende gaan wyn proe het. ’n Paar jaar later het Invest+ op die Johannesburgse Effektebeurs gelys en hulle het Pretoria toe getrek. ’n Bietjie meer as twee jaar gelede is Lafras as CEO afgedank.”

Alex vryf oor sy voorkop asof hy die feite probeer lostorring. “Blykbaar het hy te rojaal op die maatskappy se kredietkaart geleef. Hy’t ook ’n maatskappy in Nigerië oorgeneem net voor die olieprys en dié land se ekonomie gevou het. Hy’t gestry dat Invest+ sý firma was, dat hy dit van niks af opgebou het, maar die aandeelhouers wou niks weet nie.”

Die man het sy huiswerk gedoen. Maar weet hy van Lafras van Zyl se skuld?

Indien wel, wys hy nie sy hand nie. Hy kyk afwagtend na ons.

Farr vra stom of ons klaar gepraat het. Ek knik, en sy beduie dat ons haar moet volg. Ons loop uit die kombuis en draai onmiddellik links in ’n gang.

“Die TV in die sitkamer het gespeel toe die polisie hier opgedaag het, so ons is nie seker waar Lafras was toe die aanvallers ingekom het nie,” verduidelik Farr. “Ek vermoed hy het tussen die sitkamer en sy studeerkamer beweeg.”

Die ruim studeerkamer aan die einde van die gang het ’n lessenaar so groot mens kan tafeltennis daarop speel, twee boekrakke vol National Geographic-DVD’s en besigheidsboeke, en ’n hele paar duur tuisgim-apparate. Die vertrek het dik matte en ondervloerse verhitting. Die oefenmasjiene staan op pasgemaakte rubbermatte.

Alex loop na die bench press. “Hy moet die borskas van ’n bees hê.”

“Hy het,” sê ek. “En in die garage staan twee duur bergfietse, goed gebruik. Syne en hare.”

Hy voel aan die gewigte asof hy dit wil optel. Wat is dit met mans? Ek wil nie eers vir hom sê hoeveel polisiemanne al probeer het om daai gewigte te lig nie. Die poel is R370 vir die eerste een wat dit regkry.

Farr gaan staan agter die lessenaar, beduie na die leë oppervlak. “Sy rekenaar was aan, en hier het ’n paar vakansiebrosjures gelê. Lyk my hy was besig om trips vir die gesin te boek. Daar was ’n sokkerwedstryd aan op die TV, wat my laat vermoed dat hy tussen die twee vertrekke beweeg het.”

“So sy rekenaar was nog hier?” vra Alex. “Dis nie gesteel nie?”

Farr kyk na my. Ek weet hoekom. Sydney het die saak vir so lank moontlik na ’n rooftog laat klink.

“Nee, dis nie gesteel nie,” gee ek toe, “dis by die cyber unit. Ons vermis twee iPads, Katerien en Cath se skootrekenaars en Cath en Willem se fone. Weer eens, dis wat Katerien van Zyl se suster sê.”

“Dis al?”

“Ja.”

Alex haal die pen voor uit sy hemp, asof hy brand om iets neer te skryf. “Dink julle dan werklik dat dit ’n rooftog was?”

Dis duidelik dat hierdie sy eerste brokkie nuus vir die dag is. Maar ek wil niks erken nie.

“Dalk. Dalk nie. Miskien het die ouens koue voete gekry ná hulle Lafras teëgekom het.” Ek hou my stem so neutraal moontlik. “Jy moet onthou, die Van Zyls was nie veronderstel om by die huis te wees nie. Hulle sou Oukersaand na hulle vakansiehuis gery het. Dit beteken ons kan nie regtig die moontlikheid van ’n blote inbraak elimineer nie.”

“Ons dink Pote het begin blaf toe hy die inbrekers sien.” Farr beduie ongeduldig oor haar skouer. “Lafras het agterdeur toe geloop.”

Ons volg haar terug tot in die gang.

“Die hond moes hulle ’n moerse surprise gegee het,” sê sy, “nes die oop agterdeur. Dis soos AJ sê. Die Van Zyls én die hond sou die aand Hermanus toe gery het. Lafras het blykbaar altyd almal en alles ingelaai en deur die nag gery.”

“So hoekom was hulle dan nog steeds hier?” vra Alex.

Ek weet Farr gaan nie antwoord nie. “Ons het geen idee nie.”

“En as jy moet raai?”

Ek trek my skouers op. “Dit lyk asof iemand siek geword het … naar was. Daar lê ’n oop pakkie Valoids langs die wasbak in die badkamer.”

Alex rol die pen heen en weer in sy hand. “Die ouers of die kinders se badkamer?”

Slim. ’n Plek soos dié sal ten minste twee badkamers hê. “Die kinders s’n.”

“So Cath of Willem was siek.” Die pen klik in en uit. “En julle weet die gesin moes nie daardie Sondagnag tuis gewees het nie, want dis wat Annabel Kirkpatrick gesê het.”

“Ja.”

“En dit was Oukersaand,” sê hy. “En soos jy sê, negentig persent van die huise in die landgoed was leeg. Die mense wat hier bly, het geld en huise in Duitsland, Mosambiek en wie weet waar nog. Ambassadepersoneel met euro’s en dollars. Mense met geld, soos Lafras.”

Ek luister hoe Alex hardop deur die feite in sy kop werk. Feite wat ek hoop hy regtig in die media versamel het en nie by een of ander grootbek-polisiekontak gekry het nie.

“Volgens Annabel was sy onbewus daarvan dat die Van Zyls nog hier was. Die laaste boodskap wat sy gekry het, het gesê hulle is op pad,” praat hy verder. “Sy het die middag van die 26ste kom inloer, soos sy belowe het om te doen terwyl die gesin weg sou wees. Sy kon nie vroeër oorkom nie, want sy het nie ’n verpleër oor Kersfees gehad nie. Sy was die een wat op Lafras afgekom het.”

“Nee,” keer ek.

Hy kyk vraend na my, besef dan sy fout.

“O ja, Annabel het nie op Lafras afgekom nie, haar nuwe assistent het. Razmik. Sy het buite gewag terwyl hy die deur oopgesluit het. Hy het ingegaan en toe weer uitgestorm. Twee sekuriteitswagte wat verbygeloop het, het die hekkie sien oopstaan en kom kyk wat aangaan. Hulle het vir Annabel gesê om die polisie en ’n ambulans te bel. Volgens Annabel was sy nie te bekommerd toe sy Katerien nie oor Kersfees in die hande kon kry nie, want dit het blykbaar gereeld gebeur dat Katerien, Lafras en die kinders hulle fone tydens vakansies afsit. Selfs oor die groot feesdae. Katerien het daarop aangedring.”

“Dis reg,” sê ek. “En die foonrekords beaam dit.” Ek toets waar hy sy inligting vandaan kry. “Rapport het ’n voorbladstorie oor Annabel geskryf.”

“Ja. En ook ’n diepteartikel oor die Kirkpatrick-familie wat ná die Eerste Wêreldoorlog na Suid-Afrika gekom het. Die susters se oupa- en oumagrootjie was bekende sendelinge. Annabel is … was ’n bekende balletdanseres, nie net hier nie, maar ook oorsee.”

“Korrek.” Ek beduie na waar Farr staan en wag, gesig op ’n vraagteken getrek, soos altyd as mens haar tyd mors. “Kom ons loop verder.”

Farr stap in die gang af. “So. Die hond blaf. Lafras beweeg agterdeur toe.”

Alex volg haar, gaan staan. Haak die pen voor by sy hemp in. “Dit maak nie sin nie.”

“Wat’s nou fout?” knor Farr.

“Sal ’n man soos Lafras van Zyl nie ’n vuurwapen hê nie?”

Farr knik kortaf. “Dit was bo in die hoofslaapkamer in ’n kluis. Ons dink hy was op pad boontoe toe hy oorval is. Nog iets?”

Alex glimlag warm. “Jammer. Wonder net.”

Farr loop sitkamer toe. Die ongeduld hap aan haar hakke. Haar treë raak al hoe korter en daai frons bly sit op haar voorkop.

Sy wys op met die trappe. “Lafras probeer boontoe hardloop. Die ouens tackle hom. Hulle baklei. Die rifrug baklei saam, maar kry ’n skop teen die gorrel. Hy word ook drie keer met ’n mes gesteek. Dood.”

Farr beduie na die bloedspatsels teen die muur. Sy maak ’n vuis met haar een hand, beduie met die ander na die kneukels. “Lafras het hulle gefoeter. Sy vuiste was rou baklei. Sien jy hierdie groot vlek? Ons dink hy het een ou se kop teen die muur gemoker. Maar hy’t self sleg daarvan afgekom, sy hele lyf was gekneus. Hy’s nege keer gesteek. Dis ’n absolute miracle hy leef nog.”

“En hy’s steeds in ’n koma?” vra Alex.

“Ja,” antwoord ek.

“Het die inbrekers net messe gehad? Geen vuurwapens nie?”

“Nie waarvan ons weet nie. Dalk wou hulle nie vuurwapens gebruik nie. Skote sou aandag trek.”

“En die DNS? Enige sukses?”

“Niks nie. Nie een van die aanvallers is op ons databasis nie.”

Hy lag skeef. “Dit sou te maklik wees, nè?”

Hy draai om, wys buitetoe, na waar die reën steeds neergiet. “Kon julle die bloed iewers heen volg? Het daar ’n motor in die straat gewag?”

Ek skud my kop. “Die swaar reën op Kersdag het als vernietig, indien daar iets was om mee te begin. En ás daar ’n kar was, is dit nie by die Stables se hek uit nie.”

Ons loop met die trappe op na die boonste verdieping. Ek maak die eerste deur oop.

“Cath van Zyl se kamer. Sy’s twaalf. ’n Ou twaalf, klaarblyklik.” Ek bedink my oor die naam. “Cath is haar nuwe naam, haar noemnaam was altyd Maria. Haar volle naam is Catherine Mary, soos haar ma en ouma s’n. Sy’t glo op haar twaalfde verjaarsdag besluit sy wil Cath genoem word, want Maria is te outyds, te cheesy en uit die Bybel … volgens ’n vriendin van haar.”

Alex skuur verby my, die kamer binne, en gaan staan stil, asof hy dit moeilik vind om die ruimte te verteer.

Ek verstaan sy reaksie. Cath van Zyl is ’n rasende perfeksionis. Alles is netjies, op hulle plek in presiese hoeke op mekaar en langs mekaar gepak. Net die bed is deurmekaar, asof sy daarin geslaap het en toe vinnig opgestaan het. Wit lakens, swart blindings.

“Mag ek kyk?” Alex beduie na die kas.

Farr knik onwillig.

Hy maak die deur met sy wysvinger oop, staar na die netjiese rye skoolklere, balletklere en jeans, soort by soort gehang, kleur by kleur. “Was sy … is sy … ?”

Ek het dieselfde probleem gehad, tot ek en Farr besluit het om van Katerien, Willem en Cath te praat asof hulle nog lewe.

Is. Nie was nie.

“Lyk nie soos ’n gewone tiener nie,” sê hy uiteindelik.

“Beslis nie,” stem ek saam. “Mal oor ballet. Bogemiddeld slim. Reeds in graad sewe. Haastige kind. Sy wil matriek maak en Juilliard toe gaan, die dansskool in New York.”

“Ek neem aan daar’s nog geen spoor van haar nie.”

“Nee. Al wat ons weet, is dat geen van die bloed in die huis aan haar behoort nie.”

“Dis seker goeie nuus.”

Ons volg Farr uit gang toe, na die volgende deur. Willem, die oudste kind, se kamer.

Farr maak die deur oop. Alex wil inloop, maar ek roep hom terug. “Wag.”

Hy draai om.

“Wat jy daar binne gaan sien, is een van die dinge wat ons van die media af weggehou het.”

“Ek sal niks skryf nie,” belowe hy. “Nes ons afgespreek het.”

Sondag

Подняться наверх