Читать книгу Sondag - Irma Venter - Страница 22
ALEX 1.
ОглавлениеDonderdag 8 Februarie, 23:31
“Sal jy omgee om dit te doen?” praat ek mooi.
Sarah haal die bloedrooi suigstokkie uit haar mond, vryf oor die ses platinumoorbelle in haar regteroor, een vir elke lid van haar gesin. ’n Ma, drie broers, ’n suster en ’n oorlede pa.
“Hoekom wil jy nou in hierdie gemors gaan staan en rondkrap, Alex?”
“Want ek wil weet wat aangaan. En dalk kan ons dié mense help.”
“Dis ’n storie. Julle is agter ’n storie aan.” Sy vee deur haar kort, deurmekaar rooi hare, tik met drie vingers ’n geïrriteerde deuntjie op haar bobeen uit. Haar twee Dobermanns kyk op van waar hulle in die hoek van die sitkamer lê en aan iets seningrigs kou, weeg my vir ’n oomblik op, kou dan verder.
“Natuurlik,” gee ek toe, “maar ek wil ook weet wat met die Van Zyls gebeur het.”
“En nou wil jy hê ek moet hulle fone trace.” Sy blaai deur die lys inligting. “En in hulle bankrekeninge en karre se navigasiestelsels en trackers rondkrap.”
“Ja.”
Die suigstokkie gaan terug mond toe. Sarah moet baie lus wees vir rook vandag.
“Niks wat júlle doen is onwettig nie.” Haar groen oë trek op skrefies.
“As jy nie wil nie, is dit okay. Maar dis al ses weke en hierdie mense is nog steeds weg. En Cath van Zyl is net twaalf jaar oud. Glo dit of nie, dis meer as ’n storie.”
“Guh.” Sy staan op. Haar swart leerstewels raas oor die teëls soos sy kombuis toe loop.
Die amper middernag en Sarah Fourie is wakker. En verveeld. Ek kan dit sommer sien. Sy het nou net teruggekom van waar sy ook al op haar motorfiets rondgejaag het.
Sy wip op die kombuistoonbank waar Ranna wag vir die ketel om te kook. Sy haat dit om langs Ranna te staan omdat dié haar nog korter laat lyk.
“Tee?” vra Ranna.
Sarah skud haar kop. “Coke.”
Ranna leun oor yskas toe, haal ’n blikkie uit en gee dit aan. Sy maak die boek toe wat sy staan en lees het. Physics for Beginners. Sy sit twee sakkies in die teepot, buk af en soek na koppies.
Ons al twee sukkel om te slaap. Martina smokkel met Ranna se kop, die Van Zyls met myne. Die raaisel rondom Willem. Cath se netjiese, presiese kamer. Die feit dat netjiese, presiese kinders meestal deur hierdie wêreld se chaos verteer word.
Ranna kom orent, koppies in die hand. “Jy moet help, Sarah. Met die ander meisie ook. Asseblief.”
Die hacker leun terug, kruis haar bene. Ek wonder of die camo-broek die spanning kan vat.
Haar wenkbroue lig. “Jy sê nooit asseblief vir my nie.”
Ranna trek haar skouers op. “Hierdie vroue … meisies. Iets is nie reg nie. En die polisie gee nie om nie.”
“Hmm.” Sarah maak die blikkie oop en vat ’n sluk.
Ranna rek haar oë vir my asof sy wil sê dat ons argumente oortuiging kort.
“Jy het die tyd,” probeer ek weer. “Nie waar nie?”
Die hacker frons. “Seker. Bietjie.”
Ranna skink kookwater in die pot, gooi dan heuning in elke koppie. “Jy kan net so wel help, anders gaan jy binnekort droogmaak.”
Sarah kyk skerp na haar.
“Daai blitspatrollie-ou saam met wie jy snags so rondjaag. ’n Polisieman … jy? Wat gaan jy doen as julle moeg gespeel is, hom huis toe nooi?”
Ranna beduie na die woonstel om ons. Die drieverdiepinggebou het net een inwoner: Sarah. Of eerder, Sarah, haar twee honde, ’n versameling vinnige wiele en ’n superrekenaar op die eerste vloer. Ek het geen idee wat op die grondvloer aangaan nie.
Sarah snork vies, brom iets onhoorbaars.
“Ek gaan lees terwyl julle werk.” Ranna tel haar tee en boek op en loop kamer toe.
“En?” vra Ranna toe ek langs haar in die bed klim.
“Sarah is besig met die selfone en die motors. Sy sê ek moet loop slaap en haar uitlos.”
“Loop slaap?”
“Ja, okay, haar woordkeuse was meer kleurvol.”
Ek skuif onder die laken in. Luister na die verkeersgeluide wat af en toe opklink deur die oop vensters, aangedra deur ’n koel bries wat deur die vertrek waai. Pretoria-Wes is rustig vannag.
“Dis goeie nuus. Dat sy help.” Sy blaai om.
“Ja.” Ek skuif die kussing reg agter my kop. Gaap. “Goeie boek?”
“Hmm-hm.”
“Werk dit? Jy al slaperig?”
Sy lag. “Nee. Dalk moet ek nog ’n koppie rooibostee drink.”
Ek kom orent op my elmboog. “Ek dink dis tyd vir ander raad.”
Sy kyk oor die rand van haar boek na my. “Soos wat?”
Ek neem die boek uit haar hande. “Fisika. Vir mense wat weet hoe.”