Читать книгу Sondag - Irma Venter - Страница 19
AJ 1.
ОглавлениеDonderdag 8 Februarie, 19:33
Straatlig val yl deur die gordyne in Willem van Zyl se kamer. Ek gaan sit op sy bed. Agterop die deur is ’n foto van 1995 se Springbok-Wêreldbekerrugbyspan agter sy kamerjas weggesteek. Teen die mure hang ’n Fast & Furious-fliekplakkaat en die foto van een of ander blonde filmster. Sy staan in ’n bikini met haar sitvlak uitgestoot, wysvinger in die mond asof sy ses en honger is.
Die seun sal nog leer geen vrou staan regtig ooit só nie. En as sy dit doen, gaan sy jou ry, boetie, en nie op ’n lekker manier nie.
Als voel reg hier in Willem se kamer, soos dit moet wees. En tog ook nie. Dis amper té tipies ryk eerstejaarstudent wat verlede jaar in sy pa se BMW rondgery en vir Tuks se eerste rugbyspan gespeel het, met die Blou Bulle wat hom blykbaar binnekort sou naderhark om vir hulle Curriebekerspan uit te draf.
Talentvolle familie.
Wat as hulle geheime net so groot soos hulle talente is?
Ek meet die lig wat deur die dun gordyne val. Die straatlampe maak dat jy steeds die buitelyne van amper als in die kamer kan sien sonder dat ’n lig hier binne brand.
Ek gaan staan in die deur van die kamer, soek na die bed waar dit lyk asof iemand lê en slaap. Jip, nie nodig om in te kom en te kyk of Willem in sy bed is nie.
Maar hoekom uitsluip as jy twintig is? Dis nes Alex Derksen gesê het. Is kom en gaan dan nie lankal reeds jou eie besigheid nie?
Ek maak Willem se kas oop. Vuil oefenklere lê op ’n deurmekaar ry skoene. Ek vou die hemp oop. Dit ruik na ou sweet en te veel naskeermiddel, asof Willem ná die oefening iemand ontmoet het, maar nie tyd gehad het om te stort nie. Iewers in die bondel klere skuil daar ook die vae spore van ’n soet, swaar parfuum.
Onder die klere staan drafskoene met ’n verdwaalde pers jakarandablom vasgevang in een van die sole. Blykbaar het Willem gaan draf ná elke gymsessie – aldus sy pelle. ’n Goeie tien, vyftien kilometer op ’n slag.
Sover Sydney kon vasstel, het Willem die Sondagoggend voor die rooftog gaan gym. Hy het op pad na Planet Fitness vir Cath afgelaai by die dansstudio waar sy balletlesse kry. Sy het ’n sleutel gehad en het alleen gaan oefen. Blykbaar het sy dit gereeld gedoen. Ná gym het Willem saam met sy vriende ’n bier gaan drink terwyl hy gewag het dat sy klaarmaak.
Ek maak die kas toe. Gaan sit agter die lessenaar. Hier is ook niks snaaks nie. Handboeke vir rekeningkunde, ekonomie en besigheidsbestuur, penne, notaboeke.
Waarheen is jy daai aand, Willem? wonder ek weer. Het jy en jou pa vasgesit? Jou uitslae sê jy het een vak gepluk. Lafras sou nie gelukkig gewees het nie, veral nie in sy huidige finansiële posisie nie, want hy moet vir jou studies betaal.
Nee, besef ek, daai fight sou lankal gebeur het. Toe die eksamenuitslae verskyn het, nie op Oukersdag nie.
Willem se skootrekenaar en iPad het nie veel opgelewer nie. Sy e-posse is min en almal onskuldig. Blykbaar was hy meer aktief op sosiale media, en dié het nog geen beweging getoon sedert sy verdwyning nie. Daar was wel webskakels in sy rekenaargeskiedenis na pornografiese video’s. Dit verduidelik dalk die feit dat net twee dae se geskiedenis op sy rekenaar reflekteer, asof hy dit gereeld uitgevee het, maar die laaste keer nie daarby uitgekom het nie.
Die enkele pornografiese video wat hy afgelaai het, het hy weggesteek in ’n lêer met die naam Rekeningkunde 101, onder Batebestuur. Ek het reeds daarna én na die video’s op die webskakels gekyk. ’n Paar daarvan is taamlik gewelddadig, maar gelukkig is hulle ver in die minderheid. Die video’s is ook nie ’n verrassing nie. Baie mans kyk pornografie. Sommige vroue ook.
Ek kyk op, dak se kant toe. Ek het nie vir Alex gelieg oor die kameras nie, maar ek was ook nie heeltemal eerlik nie. Die een in Willem se kamer is ’n nuttelose stuk plastiek, nes die kameras in die res van die huis. Net die een in Cath se kamer is ’n regte kamera. Die maatskappy wat die installasie gedoen het, sê die beelde word in 24-uur-loops opgeneem en na Katerien se foon en rekenaar gestuur.
Willem en Cath se vriende sê die kameras het verlede jaar verskyn – aldus Sydney se notas. Dis kamtig deel van ’n nuwe alarmstelsel wat hulle ouers laat installeer het. Willem se pelle sê hy’t geweet syne is vals. Cath was baie ontsteld oor die kamera in haar kamer, al het haar ma blykbaar gejok en gesê dit werk net as die gesin uitstedig is en die alarm aangesit word.
Ek staan op en loop na die venster, stoot die gordyne eenkant toe. Willem se kamer kyk uit op die garage se dak. Dit lê omtrent twee meter laer as die venster en kan met ’n taamlik maklike sprong bereik word – Sydney reken dis hoe Willem weggeglip het.
Ek stem saam. Willem spring tot op die dak, loop na die afdak waar sy BMW staan, seil by die staalpilaar af en gaan by die syhek uit. Kom later terug, skrik, moor – indien wel – en vlug.
Dis jammer ek kan nie met Sydney gesels nie. Sy kop is iewers anders, sy gedagtes op ’n plek waar sy vrou op ’n goeie dag net-net daaraan kan raak.
Nog inligting wat ek van Alex weerhou het, is dat ons taamlik seker is wanneer die rooftog plaasgevind het. Lafras se horlosie het tydens die aanval gebreek en op 12:53 gaan staan. Dit beteken Willem was wel terug by die huis tydens of kort ná die aanval. En dat hy gery het sonder om die ambulans of die polisie te bel.
Dit laat hom baie skuldig lyk.
Ek stoot die venster oop, luister na die geluide van mense wat nesskop vir die aand. Televisies wat raas, mense wat met hulle honde stap. Veraf klink die skote van ’n rekenaarspeletjie op, vervaag dan weer.
Is ons ooit reg oor hoe Willem daardie nag uitgeglip het?
Ek draai weg van die venster en haal ’n penflits uit my sportsak op die bed. Trek my skoene uit en swaai my een been oor die vensterbank. Hoe sou ek dit doen as ek Willem was? As ek ’n superfiks eerstespanslot was wat stil-stil wou uitsluip?
Ek swaai al twee bene by die venster uit. Waar trap ek vas? Staan ek op die vensterbank en spring?
Wag … daar is ’n lysie teen die muur waarop ek kan vastrap.
Ek klim terug in die kamer en klim weer uit, hierdie keer met my sitvlak straat se kant toe. Ek laat een voet sak. Soek-soek na die lysie tot ek dit kry. Ek kyk af, los, land raserig op die rooibruin dakteëls.
Iemand van Willem se lengte sou dit sekerlik stiller kon doen.
Ek draai om en loop vorentoe, in die rigting van die afdak.
Whoa!
My voete glip onder my uit en ek gly met die skuins dak af tot teen die huis se muur. Ek bly net daar lê, terug waar ek was, onder Willem se kamer. My linkersy gaan definitief môre blou wees.
Ek haal diep asem, draai op my rug. Wonder vir ’n oomblik oor die uitsig links van my. Groot plataanbome versper die bure se uitsig op die Van Zyl-huis en gesnoeide doringstruike beskerm hulle grensmuur doeltreffend teen enige onheil wat die Van Zyls mag bring.
Die bure sou niks sien as Willem uitglip nie. Maar Cath sou kon; haar kamervenster is net langs Willem s’n.
Dalk het sy geweet wat haar broer doen. Dalk het hy gereeld uitgeslip.
Wat as Lafras en Katerien die soort ouers is wat hulle kinders se lewens tot in die fynste detail bestuur? Wat as dit Willem rasend gemaak het? Verraai die kameras nie dat iets in hierdie huis nie lekker was nie?
En wat as Cath dalk soms saam met Willem uitgeglip het? Of het sy bloot net stilgebly, soos susters en broers soms maak? Almal sê die twee was goeie vriende, ouderdomsverskil ten spyt.
Nee, AJ, raas ek met myself. Vergeet van ander aande. Fokus op wat daardie Sondagaand gebeur het.
Ek kyk op na die enkele sterre wat blink begin uitslaan. Okay. Dis die nag van die 24ste Desember. Ek is Willem. Dis net voor een. Ek stap in by die Stables se hek. Ek hoop die ergste is verby. Dat my gesin dood is. Dat ek hier kan sit en lang trane huil oor ’n rooftog en hoe ek nie by die huis was om dit te keer nie. As ek gelukkig is, betaal die lewensversekering vinnig uit.
Maar dinge werk nie uit soos ek verwag het nie. My pa baklei soos ’n besetene. Die mans vat wat hulle kan kry. Hulle wil nie wag vir die geld van die lewensversekering nie. Hulle is gewond en bang en vertrou my nie. Hulle lê my voor om van my ook ontslae te raak. Ek moet vlug.
Ek draai op my maag, kom orent en hink weer in die afdak se rigting, oë soekend in die donker. Toe ek die einde van die teëls bereik, klim ek versigtig op die sink, loop tot op die rand van die afdak. Ek gaan lê plat, penflits in die mond. Swaai my een been oor, my voet wat blindelings teen die staalpilaar trap.
Die flitslig swaai heen en weer soos ek raakskopplek soek.
Wag ’n bietjie …
Ek trek my been moeisaam terug, kom orent. Die lig het nou net iets blinks gevang … Daar, diep in die geut, wat is dit?
Ek soek in die donker bek van die aflooppyp. Sien net blare en takkies. Seker my verbeel- … Nee.
Dis ’n … foon? Ek sweer dis ’n foon.