Читать книгу Sondag - Irma Venter - Страница 20

2.

Оглавление

Donderdag 8 Februarie, 20:26

Dis ’n Apple iPhone, sweerlik beskerm met ’n wagwoord of ’n vingerafdruk. Ná ses weke in die geut is dit morsdood. Dis net ’n geluk dat dit dwars in die afvoerpyp vasgesteek het; ek moes Lafras se lang koletang by die braai gaan haal om dit uit te kry.

Dalk het Willem die foon verloor toe hy Oukersaand uitgeglip of gevlug het. Die rubberomhulsel – swart en hoekig – suggereer dat dit ’n man s’n kan wees. Ek kan nie dink hoe anders dit in die geut sou beland het nie.

Maar die ongeluk is net so groot soos die geluk. Moet dit nou ’n dêm iPhone wees? Dit gaan amper onmoontlik wees om die ding oop te sluit. Apple wil niks weet van saamwerk met die polisie nie, selfs nie eers as dit kom by terroriste wat die VSA wil opblaas nie.

Dalk ken Farr iemand wat kan help, maar ek twyfel. En ás hulle help, gaan die hof dit sekerlik uitgooi.

Ek wil nie eers dink aan die storms wat die laaste ruk uitgesak het nie. Hoeveel keer het die foon natgereën in die afgelope ses weke? Drie keer? Ses keer? As ek regtig gelukkig is, is daar ’n backup van die foon in die cloud – wat iemand ook vir my sal moet oopbreek.

Was dit nie die Israeli’s wat onlangs die FBI gehelp het om daai iPhone 5 oop te sluit nie? Daai terroris s’n?

Ek loop binnetoe en bêre die foon in ’n plastieksakkie vir Farr. Kyk op my horlosie. Halfnege. Môre het ek ’n spul onderhoude, onder meer met Annabel Kirkpatrick.

Is daar iets dringends wat ek by die huis moet gaan doen? Eet? Nee wat. En Mrs Darling sal vir Noag kos gee, daar’s seker nog drie blikkies katkos in haar kas.

Ek loop na Katerien se studeerkamer, skakel die CD-speler aan en gaan sit in haar rooi leunstoel. Ek ken nie die musiek nie. Dis ’n opruiende koor, mans wat klink asof hulle gaan oorlog maak.

Die vrou bly vir my bietjie van ’n raaisel. Ek tel die boek van die stoel se armleuning op. A World History of Carpets and Tapestries. Heel agter is ’n inkopielys, neergeskryf op die agterkant van ’n Pick n Pay-strokie.

Pick n Pay, nie Woolies of een of ander organiese mark waar ryk mense gewoonlik hulle inkopies doen nie.

Brood, vis, aartappels en melk. Dankie, Willem! staan onderaan die lysie.

Katerien wou hom seker winkel toe stuur. Die handskrif is hare; dit stem ooreen met notas in die dagboek op haar lessenaar.

Dis vreemd, dié lysie, meer nog as die papier wat Katerien gebruik het. Brood staan heel eerste agterop die winkelstrokie: In-store brown R7,95.

Wie weet nog presies hoeveel ’n brood kos? Watter vrou wat in ’n huis soos hierdie woon, ken tot op die sent die prys van ’n brood? Dis nie iets wat jy skielik leer as jou man se skuld ophoop nie. Om die prys van ’n brood te ken is iets waarmee jy grootgeword het.

Die pryse van al die items wat Willem moet koop, is mooi opgetel, met R190,25 omkring as die totaal.

Hoekom sou sy dit doen? Is Willem skelm, of is dit maar net hulle finansiële posisie wat aan Katerien vreet? Of is dit wie sy is? ’n Tot-op-die-sent-mens?

Lafras se geldsake was benard, en Katerien kon nie help nie. Sy het nie gewerk nie. Haar lewe was veel interessanter as die gewone kantoorroetine, haar stokperdjie – vryduik – peperduur.

Volgens Sydney se notas het Lafras ’n berg persoonlike skuld, met bitter min geld wat ingekom het. Bo en behalwe die dienste wat hy gestaak het, soos privaat sekuriteit, het hy gesukkel om die huislening en motors elke maand te betaal. Sy e-posse belowe sy skuldeisers dat ’n saketransaksie teen einde Mei als sal verander. Hy pleit by die banke om geduldig te wees.

Al betalings wat op datum is, is die kinders se studies, sakgeld en stokperdjies. Skool, universiteit, rugby en ballet. Wat my laat dink die kinders het nie geweet van Lafras se geldverknorsing nie.

Katerien het selfs ophou duik.

Ses jaar gelede het sy en Lafras na Ibiza gereis, waar hulle heel toevallig na die Wêreldvryduikkampioenskap gekyk het. Sy raak verlief op dié sport op die rype ouderdom van 42. Ontdek dis ’n sport waarvoor sy ’n absoluut natuurlike talent het – blykbaar het sy nog altyd ’n vreeslose liefde vir water gehad.

Teen die tyd dat sy verdwyn het, kon sy haar asem amper agt minute lank ophou en tot ’n diepte van 80 meter duik, sonder enige hulpmiddels.

Vryduik is so onbekend in Suid-Afrika dat niemand in die media regtig daarop ag geslaan het nie. Vir die koerante is dit ’n absurditeit wat hulle as ’n vreemde feit in ’n selfs vreemder misdaadverhaal aanbied.

Ek loop na die verste kas in die studeerkamer, maak dit oop. ’n Vryduiker het nie baie toerusting nodig nie: swempak, duikbril en vinne. Dis die reis en oefensessies wat so duur is.

Hoe voel dit om so diep te duik? Onder die see en die sout in?

Tagtig meter is diep. Vier-en-twintig verdiepings diep.

Ek loop venster toe. Die swembad se rustelose oppervlak breek die lig van die huis langsaan in skrams geel weerkaatsings op. Die water rimpel asof iemand nou net daar ingeduik het.

Ek bekyk die digte plantegroei, meet die afstand grond toe. Het Katerien en Cath dalk hier afgespring toe hulle Lafras onder in die huis hoor roep het?

Seker nie. Die plante lyk nie beskadig nie.

Die water trek my aan.

Ek loop met die trappe ondertoe en uit by die voordeur. Dis stil buite, die digte gras nog klam van vanmiddag se reën.

Ek trek my skoene uit en gaan sit op die rand van die swembad. Staar na die donker oppervlak. Wat lok iemand na diep, diep water? Om alleen daar in te glip, jou asem jou vyand? Die lug wat naderhand uit jou longe wil klim soos ’n mal, rasende dier, en al wat jy wil doen is om jou mond oop te maak en diep in te …

Ek speel met my hand in die lou water, laat drup dit op my langbroek. Ek staan op, trek uit, sak op my knieë neer en glip die water in.

Ek kan my asem vir 86 sekondes ophou.

Eers is daar vrede. Absoluut gewiglose, blou, grou stilte.

Dan kom die angs. Jou hande wat met rou paniek begin grawe deur die water tot bó, déúr die oppervlak, die naglug soet en vars en volmaak.

Ek lê op die rand van die swembad en hyg na asem. Hoes dat die chloor in my neus opstoot.

Ek weet watter tipe mens só diep duik. Jy moet vreesloos wees. In beheer. Jy mag nie bang word vir die stilte, vir die ruising van bloed in jou ore nie. Vir die klop van jou hart wat al hoe harder en vinniger word tot dit jou logika uitdoof en jy jou mond oopmaak om asem te soek nie.

Katerien van Zyl moet die kalmste mens wees wat ek van weet. En o, so in beheer.

Ek sit buite tot ek amper droog is, voor Farr met my raas dat ek met nat voete deur haar misdaadtoneel foeter. Ek sit die iPod se oorfone in, soek tot ek Depeche Mode kry.

Niks is beter as 1980’s-musiek nie. Die lirieke maak nog sin. Sê iets betekenisvols.

“Words like violence break the silence, come crashing in, into my little world,” sing ek saam.

Ek loop weer die huis binne. Dis reeds elfuur.

Ek loop boontoe, tot in Cath se kamer. Skuif die gordyne eenkant toe en wag tot die sekuriteitspatrollie twintig oor elf verbyloop, wakker en paraat, twee mans met flitse op soek na vreemdelinge in donker hoeke.

Bekende hoeke.

Ek sien ten minste twee plekke wat hulle miskyk. Twee struike wat dalk ’n jaar gelede kniehoogte gestaan het, maar wat nou goeie wegkruipplek bied.

Mens raak gewoond – dis die probleem. Jy pas nie jou denke aan terwyl die wêreld stilweg om jou verander nie.

Ek gaan sit op die spierwit bed.

Haal dan diep asem en skree so hard as wat ek kan.

Sondag

Подняться наверх