Читать книгу Sondag - Irma Venter - Страница 21

3.

Оглавление

Donderdag 8 Februarie, 23:30

Ek klop weer aan die voordeur, harder dié keer. “Komaan, dis die polisie, maak oop!”

Steeds bly die deur toe en die ligte af.

Ek staan terug, soek na lewe in die huis, twee erwe af in die straat van die Van Zyls se plek. Die ligte het aangegaan toe ek in Cath van Zyl se kamer sit en skree het, net om inderhaas afgeskakel te word toe ek kom klop het.

Die enigste klank uit die huis is die honde wat aanhou blaf, klein brakkies met skeermesstemme.

Sekuriteit het nie eers opgedaag ná my Oscarvertoning nie. Wys jou net. Al die geld in die wêreld help jou niks. ’n Vet beursie koop ruimte en veiligheid, maar dié twee is nie altyd versoenbaar nie.

Sydney en sy span kon geen ooggetuies in die Stables opspoor nie. Niemand het daardie nag iets gesien of gehoor nie. Ek weier om te glo dat al die Van Zyls se bure op Oukersaand weg was.

Weer klop ek aan die deur, nog harder. Watter hardkoppige bliksem bly hier?

Ek draai om, loop haastig weg, uit by die hekkie, skel hard en hoorbaar, draai regs op met die sypaadjie … dan weer regs, tot onder ’n struik van waar ek die voordeur kan dophou.

Wie ook al hier bly, het ’n plek met groot vensters en lae mure gekies, asof hulle graag wil weet wat in die buurt aangaan. Die diefwering voor die vensters verseker egter dat niemand aan die huis as ’n maklike teiken sal dink nie.

Ná ’n paar minute gaan die deur stadig oop, die huis steeds donker. Vier, vyf handevol hare bons buitetoe. Yorkies.

Ek tree vorentoe. Die grootste van die spul honde gaan staan. Grom.

Dis nou of nooit. Ek hol by die hekkie in, gryp die keffende brak. Roep vir die blou kamerjas wat daar staan: “Polisie!”

Die ander honde tjank en hol die huis binne. Die deur klap toe. Gaan dan op ’n skrefie oop. Een oog staar na die Yorkshire-terriër wat hyg in my arm.

“Gee my hond.” Die stem is oud, manlik. “Jy steel my hond. Ek gaan die polisie bel.”

“Ek ís die polisie.”

Stilte.

“My hond,” sê die stem.

Pleks van antwoord vis ek my identifikasie uit my sak. Wys dit vir hom.

Die voordeur gaan effe groter oop.

Ek sit die hond neer. “Meneer, ek wil graag weet …”

Die hond skarrel die huis binne. Die deur klap toe.

Wragtig!

“Hey!” Ek roep. Klop weer hard. “Wat de hel …”

Ek sal ’n ander plan moet maak om met hierdie idioot te gesels.

Sondag

Подняться наверх