Читать книгу Sondag - Irma Venter - Страница 16
2.
ОглавлениеDonderdag 8 Februarie, 18:07
Ek bel Ranna toe ek by die Stables uitry. “Is jy nog steeds by Sarah?”
“Ja.”
My maag draai van die honger. “Het jy al iets geëet?”
“Ons is besig. Pizza. Wil jy hê?”
“Asseblief.”
“Ons los vir jou.” ’n Deur slaan toe. “Hoe was die onderhoud?”
“Minder bullshit as wat ek verwag het.”
“Dis goeie nuus.”
“Kaptein Williams stuur groete,” terg ek.
“Is jy ernstig?”
“Sal ek vir jou jok?”
“Wat het jy gesê?”
“Dat ons getroud is, met drie honde, ’n hamster en ’n kwaai skoonma.”
“Jy onderskat jouself. Jy jok heel goed.” Stilte. “Is jy ernstig? Is dit wat jy gesê het?”
“Nee. Ek het gesê daar is ’n nuwe vrou in my lewe.”
“Het sy jou geglo?”
“Wie weet? Ek’s nou daar. Vra solank vir Sarah of sy haar rekenaar aan die gang kan kry.”
“Hoekom?”
“Ek wil hê sy moet iets vir my soek. Dink jy sy sal?”
“Sy sal enigiets vir jou doen, jy weet mos.”
Ons groet en ek bel vir Jasmine, NewsNow se nuusredakteur. Sy is ’n vrou met ’n groot vrees vir klein spasies en ’n obsessie met Madonna en die Britse koningshuis.
“Jy ’n storie vir my?” vra sy.
“Ja.”
“Great! Ek het niks om môre op die sites mee te lead nie, geen kak en drama nie. Selfs die blerrie howe is doodstil. Wat sê die cop?”
“Nie veel nie, sy het die saak pas oorgeneem. Daar’s geen nuwe leidrade nie.”
“Net sy?”
“Nee, daar was ’n vrou van forensies ook by die huis. Lyk of kaptein Williams ’n span het, maar ’n veel kleiner een as vroeër. En net dat jy weet: ek mag haar nie aanhaal nie.”
“Fok hierdie mense. Hulle het hierdie onderhoud gereël.”
“Ek het ten minste uitgevind hoekom. Hulle soek hulp. Willem van Zyl was uit daai aand tussen nege en een en niemand weet waar hy was nie.”
“Die seun? Dis interessant. Skryf jou storie. As jy roer, kry ons dalk plek op die voorblad.”