Читать книгу Sondag - Irma Venter - Страница 8
MARIA 1.
ОглавлениеDonderdag 8 Februarie, 12:02
Ek maak die tweede laaste blik boontjies oop. Nou is daar net een blik sousboontjies en twee blikkies tuna oor. Die waterbottel lê op een liter en die lemoensap is onder die halfpadmerk.
Dis genoeg kos en drinkgoed vir drie dae, dalk meer as ek versigtig is.
Hoe lank kan mens nou weer sonder water oorleef? Drie dae?
Ek gaan sit op die matras op die vloer. Die laken was skoon toe ek hier aangekom het, maar die wit is nou so ’n lelike roomkleur. Dit ruik ook anders. Van skoon na sweet en stink, na hierdie plek se klam mure, die sanderige pleister en nat rooi bakstene onder dit.
Wanneer gaan hy terugkom? Hy móét terugkom, want ek kan nêrens heen nie. Die deur is met ’n ketting en ’n groot slot gesluit.
Help nie ek dink nou weer daaraan nie.
Al om en om met die blikoopmaker. Dis nog die ou soort, daai met die skerp punt wat jy in die blik inkap en dan op en af wikkel om die metaal te sny. Teen dié tyd weet ek al hoe.
“Stadig, Maria! Moenie jouself seermaak nie. Ons moet jou mooi oppas.”
Ek haat dit om Maria genoem te word. Ek weet nie hoekom hy dit doen nie. Dit klink soos iets uit die Bybel. En ek haat hierdie vuil, stinkende plek. En ek is nie lus vir boontjies nie.
Ek wil huil, maar ek baklei teen die trane. Huil help niks.
Ek buig die los metaalflap versigtig oop en steek die teelepel in die rooi tamatiesous. Ek moet eet. ’n Mens weet nooit wat môre gebeur nie. Dis wat Ma altyd gesê het, voor sy …
Ek vee oor my wang, sluk aan die hartseer wat in my keel opstoot oor Ma. Oor Pa. Oor doodgaan. Oor als. Dan los ek dit en huil maar in elk geval. Hier is tog niemand wat kan sien nie.