Читать книгу Die verevrou - Jan van Tonder - Страница 11

8

Оглавление

1976, Klein-Karoo

“Kandas, hou daai twie kieriebiene van djou wyd oep of trek hulle onne djou boure in – ek praatie weerie.”

Candice probeer, maar laat sak haar bene weer. “Hulle is lankal te lank vir optrek,” sê sy. “Pappietjie moet vir my footrests aansit.”

“Ha! Miskien moet ek djou somme byrie hys los – meisiekinners hoort by hulle mammas.”

Aanvanklik het hy haar voor hom laat sit, wydsbeen op ’n kussing wat hy oor die fiets se frame gevou het. Sy het haar hande op die handlebars gesit en die klokkie gelui as daar ’n hond of ’n mens in die pad kom en dit was vir haar lekker, so met haar pa se arms weerskante van haar. Hy het na sweet geruik, want partykeer moes hulle ver ry onder die Klein-Karoo se skroeison. Na Boksertwak ook.

Op ’n dag het die kussing onder haar uitgeglip en sy het haar parratjie so hard teen die kale frame gestamp dat sy nie weer wou opklim nie. Pappietjie het haar getroos en haar hand gevat en die fiets gestoot. ’n Vér ent verder het hy ’n stuk baaltou langs die grondpad opgetel en die kussing daarmee oor die carrier vasgebind, toe sien sy weer kans vir ry, maar nooit weer op die frame nie.

Maar nou het sy te lank geword. As sy op die carrier staan, moet sy buk om aan haar pa se kop vas te hou, en as sy sit, hou hy haar voete in die truspieëltjies dop, ingeval hulle te na aan die speke kom, dan skel hy.

Dis nog vroegoggend. Hulle ry verby werksmense wat met kinders en oumas en aanhangsels op pad is dorp toe, op lorries en sleepwaens agter trekkers of op donkiekarre of met fietse of te voet. Dis Saterdag, en daar gaan shopping gedoen word. Candice waai in die verbyry vir iedereen en hulle wuif terug. “Djirre, ma dis ’n mooi klemeid daai,” hoor sy ’n antie met ’n helder stem sê.

Vir Pappietjie is Saterdae net nog ’n kans om iets te verdien, sê hy altyd, en met stukwerk bly hy sy eie baas en hoef hy hom nie te laat sê nie. Behalwe van háár, wanneer sy hom vra om te briek sodat sy ’n mooi veer kan optel.

Arnoldus Malan staan hulle hande agter die rug en inwag. Sy maag staan dáár en hy het ’n grys snor wat oor sy bolip hang. “Ek sien jy het weer vir Candice saamgebring, Lokman,” sê hy.

“Meneer moet maar praat as sy in die pad is.”

“Nee, nee. In die pad is sy nie. Môre, Candice.”

“Môre, meneer.” Pappietjie trek haar gatvelle af as hy haar ooit vir wie ook al hoor baas sê.

Meneer Malan steek sy hand uit asof hy aan haar kop gaan vat, maar hy trek dit terug. “Jy moet sien, Lokman, hoe oulik sy al is met werkies vir die mies. As sy so aanhou, is daar ’n goeie kans dat ek haar oor ’n paar jaar sal laat kom om pal hier te werk.”

Candice hoop nie haar pa sê nou weer iets wat die meneer sal kwaad maak nie.

“Ek maak haar nie vir ’n kombuismeid groot nie, meneer,” sê hy.

Arnoldus haal sy sakdoek uit en vee daarmee oor sy voorkop. Toe sê hy: “Nou ja, Lokman, kyk waar staan die son al, laat jy skouer aan die wiel sit. So nie wil mý volk kort voor lank ook middelmôre eers inval.”

Candice sien haar pa kyk nie na die son nie, net reguit in die meneer se oë. Dié keer sê hy nie ’n woord nie, maar sy kan sien hy wil. So maak hy ook as haar ma kwaai raak met hom: kyk haar net en loop dan by die huis uit en gaan ry ’n ent op sy bicycle.

“Meneer het nog nie gesê wat my te doen staan nie.”

Haar pa darem, dink Candice. Sy kan haar aan hom verluister as hy só praat, heel anderster as by die huis, of wanneer hy en sy alleen is.

“Dis ’n ding wat djy ma ka glo, Kandas; praat met een soos hý praat, anners kyk hy op djou af, veral ’n wit mens. Dis hoekom ek sewe dae ’n week werk, lat djy geleerdheid kan kry. Lat mense kan ópkyk na djou. Hóé moet mense na djou kyk, hè?”

“Hulle moet ópkyk na my toe, Pappietjie.”

“Onthou daai ding, nè, onthou hom.”

Pappietjie sê meneer Malan hou nie eintlik van hom nie, maar hy bly hom vra om te kom werk, al moet hy hom meer as duwwel soveel betaal as sy eie werksmense, want hy beteken tien keer meer, man vir man.

“Ek moet Oudtshoorn toe, Lokman, hou jy vir my ’n oog oor die sorteerdery, daar’s ’n moerse lot vere wat moet weggewerk word. En kyk tog na die tafels ook – ek het gister my beste voëls se vere eenkant gesit; klas hulle, ek sal kom check as ek terug is.”

Op pad na die skuur loop Candice en haar pa hand aan hand.

“Het djy vir djou ’n lap gebring?” vra hy.

Sy kyk op na hom, skud haar kop.

“Dan bly djy buite, daa gat baie veerdons in die lug is en dissie goed vir ’n mens se longe nie.”

“Maar Páppietjie bind nooit ’n lap om nie.”

“Oor ek deur my neus asemhaal.”

“Ek kan ook mos.”

Hy lig een van sy wenkbroue. “Djy wat djou mond g’n enkele stonde lank kan toehou nie?”

“Ek sal weer Pappietjie se sakdoek vat.”

Hy haal ’n verfrommelde, gevlekte sakdoek uit, hou dit voor sy neus, blaas daarin en hou dit na Candice uit.

Sy los sy hand en vlie eenkant toe.

Hy lag, haal ’n spierwit, gevoude sakdoek uit en bind dit oor haar mond en neus.

“Hy ruik na Bokser,” sê sy en raak so aan die nies dat sy byna die vere wat sy langs die pad opgetel het, laat val: tarentaal, korhaan, bosluisvoël, hoenderhaan, bokmakierie.

Die werksmense haal vere uit groot sakke wat van die plukkers af kom, besluit waar dit hoort en gooi dit op die hoop wat daarvoor bedoel is: op hierdie een die heel onbruikbares; daar anderkant dié waarvan stoffers gemaak kan word; en op doerie hoop al die pluime waaroor hulle wonder, vir Pappietjie se oog bedoel. Hy kyk na die flos en die dubbelflos en die breedte van die pluime en na hoe dun die skag is en hoe die kop hang en of daar dalk rale in die veer is wat die ander misgekyk het.

Pappietjie hou ’n pluim voor Candice. “Hierso is een wat uitgegooi moet gewees het – die mense se koppe is klaar by vanaand se gekuier. Kyk hoe lê die rale hier, soos óú littekens oor die veer.”

Hy het haar dit hoeveel kere al gewys, soos baie ander dinge, maar elke keer sê hy: “’n Mens kan nooit te veel wietie nie, Kandas, want op ’n dag kry djy dit dalkies norig. Dis soes met die wyse virgins innie Bybel wat olie in hulle lampe gehet het.”

“Wat is ’n virgin, Pappietjie?” het sy eenkeer gevra.

“Dis ’n klemeid wat hou wat sy het, dis wat.”

“O,” het sy gesê.

’n Rukkie lank sit sy mooi stil, soos Pappietjie wil hê, en kyk na die gewerskaf om haar. Maar later, verveeld met stilsit, vat sy haar veertjies en ’n paar lang rafels van ’n stuk bindtou en gaan sit onder ’n koelteboom daarmee en speel. Wat dit is wat sy maak, weet sy nie, maar toe sy die laaste veertjie aan die ander vasknoop, lyk dit vir haar na ’n engel. Sy bekyk dit uit elke hoek. Nee, dis ’n nuwe soort voël, een wat nie saam met Noag op die ark gewees het nie.

Haar oog val op die windpomp, ’n hele ent weg. Sy hou daarvan om by die sementdam te speel. Op pad soontoe tel sy nog vere op, enige soort, dit maak nie saak watter voël s’n dit is as mens seilbootjies van blare wil maak nie. Solank die veer net nie te groot vir die blaar is nie, want dan waai hulle om en almal op die boot verdrink.

Die dam is plat en blink en sy sien onderstebo bome en wit huisies op die water. Sy het ’n klompie blare bymekaar en druk die kaal skagpunte van die vere daardeur. As mens dit op die water neersit en saggies daaroor blaas, vaar dit van jou af weg.

Die speletjie hou haar aandag nie baie lank nie, want die bote is gou buite haar bereik, en daar is nie ’n briesie wat dit vir haar kant toe kan stoot nie.

Sy stap na die klein kampies waar die grootmakers in die skaduwee van doringbome en sinkafdakke by hulle volstruiskuikens sit, ou anties wat ma speel vir die troppies broeikaskuikens. Dis vir haar lekker om by hulle te sit, want hulle het niks anders om te doen as om te kyk dat die kuikens koelte en kos en water en geselskap het nie. Sodra die kuikens drie tot vier maande oud is, gaan hulle terug na die boer wat hulle uitgebroei het, en dan kry die oppassers ’n nuwe troppie om voor ma te speel.

“Môre, Candice,” groet die anties.

By elke kampie groet sy terug. “Môre, antie Saar. Môre, antie Trui. Môre, antie Ashley. Môre, antie Debra.”

Antie Debra sê vir haar: “Het djy gewiet Walter gat vemiddag konsert hou?”

“Nee, antie.”

“Tweeuur.”

“Rêrig, antie?”

“Net so, kjent, in die óú opstal – tog jammer lat so ’n mooie plek leeg moet staan.”

Vir Candice maak dit nie saak hóé die opstal staan nie, solank sy uiteindelik ’n konsert van Walter kan sien. Maar sy is tóg ’n bietjie bang om alleen daar aan te kom. “Gaan Evelin ook daar wees, antie?” Evelin is saam met haar in die klas in Blomnek se laerskool.

“Wat praat djy nou, daai klemeid van my mis nooit ’n konsert nie.”

Candice trek met ’n spoed weg. In die hardloop roep sy oor haar skouer: “Dankie, antie Debra.”

Sy kom uitasem by haar pa uit. “Pappietjie,” hyg sy, “kan ek maar gaan kyk hoe Walter konsert hou?”

“Nou? Ma dis da ampers ietenstyd.”

“Nee, Pappietjie, dit begin tweeuur eerste.”

“Dan is dit reg.”

Die konsert word in die ou opstal se kombuis gehou. Daar skyn lig by die agterdeur en die venster in, en naby Walter brand ’n gaslamp. Die groter meisiekinders sit op die stoele, die seuns op die kombuistafel wat teen een muur staan, en die kleintjies sommer op die misvloer waarin perskepitte gelê is. Die pitte maak Candice se boude seer en sy is spyt sy het nie die kussing van die fiets-carrier afgehaal en saamgebring nie.

Sy het Walter nog nooit van so naby gesien nie. Op ’n afstand, met ’n hoed op, lyk dit of hy al uit die skool kan wees, maar Evelin sê hy is vanjaar in standerd agt. Hy het donker, krullerige hare.

Almal wag dat hy iets moet sê, maar hy is stil, sit hulle net en aankyk. Langs hom lê ’n klein swart tassie met ’n snaakse vorm. Candice weet wat daarin is: ’n viool, dis wat. Sy het al een gesien, op ’n prentjie, maar nog nooit iemand een sien speel nie.

“Vir wat sit hy net so?” fluister sy.

“Ek dink dis deel van die konsert,” antwoord Evelin.

Walter haal die viool uit en knyp een kant onder sy ken vas en saag met ’n stok oor die snare. Sy het al dieselfde geluide oor die draadloos ook gehoor, Sondae, en dit was nog nooit vir haar baie mooi nie. Maar Walter kan maar aanhou en aanhou, want hy glimlag terwyl hy elke kind ín die oë kyk. Vir haar ook. Sy sien die groter meisiekinders na mekaar toe leun en fluister en dan kyk hulle wie die wydste kan smile, behalwe dié wat hulle voortande gelaat trek het.

Toe Walter die viool neersit, vertel hy vir hulle ’n storie, maar nie soos dominies April of haar onderwysers nie; hý het ’n tas vol hoede en mooi doeke en snorre en klere, en terwyl hy vertel, verander hy in iemand anders. In ’n vrou ook, wanneer daar een in sy storie is, stem en al, en dan lag almal vreeslik as hy sponse of iets voor in sy hemp druk wat soos tiete lyk.

“Een ding moet julle altyd onthou: partykeer is ’n mens se lyf nie waar jy wil wees nie, maar in jou kop kan jy gaan waarnatoe jy ook al wil,” sê hy, en toe is die konsert verby.

Elkeen kry ’n lekker. Toe Walter by Candice kom staan, druk sy haar lippe styf opmekaar en laat haar kop van skaamgeit sak terwyl sy loer-loer na hom opkyk en sê: “Dankie, Walter,” soos almal, want as een vir hom kleinbaas sê, mag hulle nie weer kom konsert nie, behalwe as dit per ongeluk was.

“O, ja,” sê hy toe hy sy viool wil bêre. Hy haal iets uit die kissie en loop daarmee tussen die kinders deur. “Wie s’n is dit?”

Dis die voëltjie wat Candice gemaak en by die windpompdam vergeet het. Sy kyk af, bang dat Walter in haar oë sal kan sien sy is die skuldige.

“Niemand s’n nie?” vra hy.

Evelin steek haar hand op. “Ek dink dis Candice s’ne,” sê sy en wys met ’n vinger.

Dis nou doodstil in die ou huis. Candice hoor Walter se voetstappe nader kom. Sy sien sy skoene voor haar tot stilstand kom, en draai dan haar oë boontoe.

Walter hurk en hou die voëltjie voor haar. “So ’n mooi kunswerk mag nie verlore raak nie, Candice. Mag ek dit maar hou?”

Sy kan nie glo wat sy hoor nie. Sy knik.

“Dankie,” sê hy. “En dankie vir julle ander ook – julle was ’n goeie gehoor.”

Candice hardloop terug na waar haar pa werk en vir hom sê sy: “Dankie, Pappietjie, lat ek kan gegaan het.”

Terwyl hulle huis toe ry, vertel sy vir hom die storie wat Walter vir hulle gespeel het, en dat hy gehou het van die voëltjie wat sy gemaak het. En sy vra hom of hy môre die draadloos op ’n vioolstasie sal sit.

Die verevrou

Подняться наверх