Читать книгу Die verevrou - Jan van Tonder - Страница 13

10

Оглавление

Wanneer Candice naweke inkopies gaan doen of ná donker deur De Rust se strate loop, soos nou, laat sy haar stelte by die huis. Haar hare is onder ’n slaprandhoed opgebind. Sy het ’n los langbroek en ’n manshemp aan.

Hande in die sakke loop sy tot by Maja se voordeur en klop aan. Daar is nie antwoord nie. Sy draai die knop – dié huis se deure is byna nooit gesluit nie. Binne roep sy Maja se naam teen die luide musiek in wat na haar aangestorm kom. Die gang is lank. Halfdonker. Lig skyn in ’n groot vertrek waar die muur tussen twee kamers uitgeslaan is om ’n ateljee te vorm. Verskeie esels dra onvoltooide skilderye. In ’n hoek, soos ’n kind wat gestraf word, staan ’n skildery met sy rug na die vertrek.

Sy spoor Maja in die kombuis op, ’n vertrek met vensters aan drie kante. ’n Uitsig oor die dorp, en die berge waar die rotse oopmaak om Meiringspoort te word en waarop die maan nou skyn.

Maja is vrugte aan’t inlê. Haar lang hare hang in ’n poniestert agter haar rug. Sy het ’n lap oor haar skouer waarmee sy sweet afvee om dit uit haar oë en die suikerstroop te hou. Vier diep kastrolle is op die stoof aan die prut.

Candice draai die musiek sagter.

Maja kyk op, lyk bly om haar te sien. “Sit waar jy plek kry,” sê sy en gaan voort met haar werk.

Candice hou haar sonder ’n woord dop. Sy dink aan hoe Maja met ’n lyf soos hare met soveel grasie kan beweeg wanneer sy met volmaan by die waterval in Meiringspoort swem.

“Wat het jou vanaand op loop?” vra Maja.

“Niks.” Candice kyk by die venster uit. “Ek sien Jaco se lig is nog aan.”

“Ek kan hom gaan sê jy is hier – hy sal bly wees om jou te sien.”

“Nee, moenie hom pla nie.”

Maja kyk ook nou uit. “Jinne,” sug sy, “priester of nie priester nie, ék sou hom elke aand gaan pla het as ek daarmee kon wegkom.”

“Dis nie oor hóm wat ek kom praat het nie, Maja.”

“Nou ja, maak dan vir ons tee. En onthou tog dat ek vir jou ’n fles korrelkonfyt saamgee – ek het gisteraand ook gekook.”

Candice kyk of daar genoeg water in die ketel is en gaan sit weer. “Ek wil weet of jy in die noodlot glo.”

Maja veeg die lap oor haar gesig. “Waar val jy nou uit met so ’n filosofiese vraag?”

“Antwoord net – glo jy daarin?”

“Ek weet nie van die noodlot nie, maar ek het wel ’n vermoede dat nie alle toevallighede so aan die toeval te danke of te wyte is as wat mens dink nie. Hoekom vra jy?”

“Daar was ’n vrou op die boonste dek van een van die toerbusse. Nou die dag. Ek bly aan haar dink, dis hoekom ek vra. Ongewone voorkoms, vreemde hare. En sy ken die taal van die verewaaier.” Candice beduie met sierlike handbewegings.

Maja lag tergerig. “Wat beteken dat jy en sy ’n lotsbestemming deel?”

“Minder dramaties as dit. Ek het net die gevoel dat dit nie die laaste sien van haar was nie.”

“Dit sal seker afhang van wat julle waaiers vir mekaar te sê gehad het.”

“Spot maar, jy sal nog sien. En terloops, ek het vir haar gesê ons moet vriende wees.”

“Met die vere?”

“Ek het gewoon my waaier toegemaak en laat val.”

“Toe storm sy by die trap af en by die bus uit en tel dit vir jou op?”

Candice sug. “Natuurlik nie, hy is aan ’n toutjie vas! Dink jy ek sal my kosbare waaier op die grond laat val?”

Maja roer die warm stroop. “Pleks gaan smyt jy die ding voor Wálter neer – as jy opreg in die noodlot geglo het, het jy dit twee jaar gelede al gedoen toe jy teruggekom het uit die buiteland.”

“Daar is ’n wêreld se verskil tussen laat val en gooi, liewe Maja. Laasgenoemde sê ‘ek haat jou’, en sover dit Walter betref: dít sal allermins die waarheid wees.”

Maja loer onderlangs na Candice. “Nee, die waarheid is dat jy in die wolke wegkruip eerder as om jou met Walter te versoen. Kom van daai stelte af en doen wat reg is.”

“Wil jy nou weer ou koeie uit die sloot grawe?”

“Dalk is dit tyd vir so iets, vóór daar ’n paar jong versies op die toneel verskyn.”

Candice staan op. “Nee wat,” sê sy, “ek het na die verkeerde plek toe gekom met my vraag. Nag.” Sy loop by die kombuis uit, haar fles druiwekonfyt vergete op die kombuistafel.

Halfpad voordeur toe kom Maja se stem agter haar aan: “Laat weet my wanneer die vreemde vrou weer haar opwagting maak.”

Die verevrou

Подняться наверх