Читать книгу Die verevrou - Jan van Tonder - Страница 7

4

Оглавление

1948, Finisterre

Al wat sy van oom Moshe het, is die gesmokkelde eier wat saam met elf ander in ’n nes lê en wag op die volstruise om hulle sit daarop te kry. Sy is elke dag minstens ’n uur op haar skoppelmaai, van waar sy die broeikamp dophou. Buiten die vlerk- en stertvere aan die toue is daar nou ook gekleurde lyfveertjies aan die sitplank se onderkant vasgemaak. Die skoppelmaai is haar veilige plek. Sy sit kruisbeen daarop, haar voete weg van die grond af omdat sy nie op dieselfde stuk aarde as Maman wil wees nie; dis háár skuld dat oom Moshe so gou weg is.

Die volstruiswyfie kom na die nes toe aangestap. Liora hou asem op en wens die sonbesies wil ook stil raak. Die groot voël gaan sit. Sy lyk ongemaklik. Haar stertvere lig en haar agterwêreld bult uit. ’n Eier se punt verskyn. Die bult word langer, soos ’n stuk derm, en al meer van die eier steek uit. Die wyfie ril. Sy skud haar agterlyf. Die eier glip uit. Sy staan vinnig op en stap weg.

Trane maak dat Liora net ’n wit waas sien waar die nes is, soos ’n opgeefsel in die woestyn. Sy glip van die skoppelmaai af en draf huis toe.

Maman sit en lees by die groot tafel, waarop ’n oopgevoude landkaart en verskeie boeke lê. “Dis goed jy is hier, Liora,” sê sy sonder om op te kyk. “Dis lankal lestyd.”

Liora gaan sit.

Maman kyk op. “Hoekom lyk jy so hartseer, my kind?”

“Die wyfie het nóg ’n eier gelê.”

“Moet dit nie sê nie – hoeveel is daar nou al?”

“Twaalf, plus die een waarin Struzzo is.”

“Ag wat, dan is dit darem amper tyd dat hulle begin broei – veel meer sal sy nie lê nie, dalk twee of drie.”

“Dit beteken vier of ses ekstra dae. Sê nou net Struzzo kom iets oor?”

“Oom Moshe kén volstruiseiers, hy sou gesorg het. Kom sit hier by my, toe.”

Liora skud haar kop, laat haar oë sak. Dis nou al hoeveel dae ná oom Moshe so haastig hier weg is, en kort-kort probeer Maman by haar flikflooi, maar sy het vas besluit om nie in te gee voor die volstruise op die eiers sit nie, want dán eers sal sy weet oom Moshe se geskenk is op pad. Dalk. As daar nie fout gekom het nie.

Maman kyk na haar, sy kan dit vóél.

“Lioratjie, ek weet jy verlang na oom Moshe, nes ek en tante Alessa.”

“Sê nou hy kom nooit terug nie?”

Maman lag. “Nee wat, oor ’n paar maande slaan hy weer hier uit, jy sal sien. Maar daar is iets wat ek jou moet vra. Kyk vir my.”

Liora veeg ’n sliert hare voor haar gesig weg.

“Ek verwag Papa enige dag. Dalk nog ’n week, maar nie twee nie.”

“Hoe weet Maman dit?”

“Ek raai.”

“Wat wou Maman my gevra het?”

“Ek is spyt ek moet, maar dit kan nie anders nie. Jy moet asseblief nooit ooit vir Papa sê van die eier-geskenk nie. Sal jy my dit kan belowe?”

Dit duur ’n rukkie voor Liora antwoord. “Hoekom hou hy nie van oom Moshe nie, Maman?”

Eintlik moes hy nog hier gewees het op haar verjaarsdag, oom Moshe. Maar om nou die horison dop te hou en te hoop hy sal aangery kom, sal net so min help as om die volstruise met ’n doringtak na die nes aan te jaag en te verwag hulle sal begin broei. Noudat sy kans gehad het om daaroor te dink, besef sy hy sal wel terugkom, want tante Alessa se pluimery kan nie sonder vere klaarkom nie. Maar alles sal anders wees as Maman en oom Moshe kwaaivriende is. Hy sal seker net sy vere aflaai en sy geld vat en weer die woestyn inry sonder om oor te slaap, soos die kere wanneer hy en Papa gelyk hier is.

Liora kyk na die volstruiskamp waar die nes met haar eier is. Die broeipaar toon steeds geen teken dat hulle van plan is om ooit daarop te gaan sit nie.

Sy laat haar kop sak. Die skoppelmaai roer nie. Uit die hoek van haar oog sien sy ’n koggelmander haastig teen die tamarisk se stam af kom. Op die sand gaan hy staan. Hy kyk om hom rond voor hy wegskarrel en onder die skuur se deur inglip. In elke kamp loop die volstruise heen en weer. In die verste een gaan die kamele lê.

Liora is bang om verder as die grens van die werf te kyk, want dit is somer, wat beteken dat die sirokko soms vreeslik uit die suide aangestorm kom. Toe sy dit wel doen, ís daar geen horison nie, net ’n wolk stof en sand.

Die eerste ding waaraan sy dink, is om haar eier uit die nes te gaan haal, maar op pad na die broeikamp sien sy hoe die son verdof. Sy besef daar is nie genoeg tyd om die eier te red nie – die donkerte wat na Finisterre op pad is, maak haar bang – en sy swaai om en hardloop na die pluimery.

Tante Alessa skrik toe sy uitkyk. “Moeder van God,” sê sy en roep oor haar skouer na die werkers om te gaan toemaak wat moet toe en vasmaak wat moet vas. Amid hardloop saam met haar na buite. “Gaan briek die windpompe,” sê sy vir hom.

Liora hardloop huis toe. Die voordeur staan oop. Sy storm in en voel Maman se arms om haar toegaan.

“Moenie bang wees nie.”

“Wat van oom Moshe se eier, Maman?”

“Ek dink nie die storm gaan lank aanhou nie, my kind.”

Tante Alessa bring haar honde in en sê: “As dit nie vir jou was nie, Liora, het dié spul ons onverhoeds betrap. Kom, ons moet nog die hortjies gaan toemaak.”

Hulle kry Amid op die stoep. “Laat die vrouens hulle gemaklik maak in die pluimery,” sê tante Alessa vir hom. “Neem die mans by jou in die tent – dis veilig aan daardie kant van die gebou. Jy kan die mense huis toe neem sodra die storm bedaar. Laat Mashia en Jaseena intussen vir julle kos maak.” Die werksmense word elke dag van die naaste oase af aangery en saans teruggeneem, behalwe wanneer die weer só lyk.

Maar van bedaar is daar g’n sprake nie – uur ná uur, nagdeur hou dit aan, met die wind wat so erg aan die vensterhortjies en dakplate stamp en pluk dat dit klink of dit gaan losskeur en wegwaai. Klippers wat saam met die sand deur die wind opgetel en neergegooi word, klater teen die huis. As dit nie vir die hortjies was nie, sou dit die ruite gebreek het.

Die kragopwekker se diesel raak op en die enjin doef-doef nog ’n paar keer voor hy stil word. Die gloeilampe gaan dood.

“Dink Maman dit is oor die gesteelde eier?”

Maman hou Liora stywer vas. “Jy bedoel dat die storm dáároor gestuur is? Nee, Lioratjie.”

Tante Alessa steek ’n paar lampe op.

In die flakkerende lig lyk dit vir Liora asof oupa Hardy uit die foto op die buffet vir haar kyk. Sy draai haar kop, druk haar een oor toe en hou die ander teen Maman se bors, so styf dat sy net haar hartklop hoor. Sy tel die slae, en teen dagbreek word sy in Maman se arms wakker. Tante Alessa is nie meer in die vertrek nie.

Dit is windstil. Sonlig skyn tussen die hortjies in. Liora wil opstaan, maar in haar slaap druk Maman haar vas. Elke keer wanneer sy haar wil loswoel, word sy teruggetrek.

Sy wikkel haar tóg uit Maman se greep. Sy staan vinnig op, en omdat sy nog die vorige dag se klere aanhet, kan sy reguit buitentoe gaan.

Alles is rustig. Sand lê teen mure en voertuie en kamele opgewaai. Waar die nes eiers was, sien sy net ’n hoop sand. Sy hardloop daarheen, haar hart in haar keel. Eers toe sy naby is, lig die volstruismannetjie sy kop. Hy staan op en skud die sand uit sy vlerke. Waar hy gelê het, blink die eiers in die son, roomwit en glad. Die wyfie kom nader, trap vir haar pote plek oop en sak op die nes neer, en Liora weet die nuwe gewag het begin.

Sy hardloop terug huis toe om vir Maman te gaan sê sy kan die dag maar op die almanak merk.

Papa loop hand aan hand met Liora tussen die rye palms. “Dis vir my altyd lekker om weer hier te wees,” sê hy. “By jou en jou ma en die volstruise.”

“Hoekom gaan jy dan so baie weg?”

“Want Bella Montagna het baie aandag nodig. Oom Lorenzo stel nie juis in boerdery belang nie, en ek moet na my belange daar omsien.”

Sy kyk op na hom. “Hoekom kan Eugenio dit nie doen nie?”

Hy glimlag vir haar. “Eugenio sal eendag ’n manjifieke boer wees, maar hy is nou eers tien!”

“Hy hou nie van my nie. Toe ek en Maman laas somer saam is Korsika toe, was ek verveeld, want Eugenio moet altyd kamtig gaan help ploeg of gif spuit of waterlei of iets, net om van my ontslae te raak. Papa moet hom nooi om hier te kom kuier, dan kan ek met hóm lelik wees.”

“Dit gaan nie oor jou nie, Liora, hy is net skaam. Jy moet sien hoe hy wegkruip as jou niggie Isabelle daar is. Maar sê my, wat het jy alles gedoen terwyl ek weg was?”

Sy los sy hand en draf ’n entjie vooruit. “Net gewone goed, Papa – speel, swaai, lees, kameelry, skoolwerk,” sê sy en gaan staan. “Én ek het na die volstruise gekyk toe hulle begin broei het. Meer na die wyfie, want snags is dit die mannetjie se beurt en dan moet ek mos in die huis wees.”

“Praat jy van die spannetjie in die kamp langs die groot tamarisk?”

“Ja, het Papa gesien hoe oulik is hulle?”

Dit lyk nie vir haar of hy in haar opgewondenheid deel nie. “Die kuikens is almal oulik as hulle klein is, dit weet jy mos,” sê hy. “Maar nou ja, ’n mens kan altyd hoop – ek het daardie twee voëls bymekaargesit omdat hulle verreweg die bestes op die boerdery is. Dalk is hulle nageslag die begin van iets goeds.”

“Ek dink hierdies sál wees, Papa,” sê Liora.

“En van wanneer af stel jy so in volstruise belang?”

“Vandat …” wil sy verduidelik, maar bedink haar.

“Ja?”

Sy skud haar kop, haal haar skouers op en trek haar mond soos iemand wat wil beduie dat daar nie goeie rede is vir wat sy wou sê nie, en sy hoop hy sal nie agterkom sy steek iets vir hom weg nie. Net ingeval voeg sy by: “Ek is partymaal verveeld, dan dink ek aan iets nuuts om my mee besig te hou.”

“En Moshe Habib, het hy weer vere gebring?”

“Hy het.”

“Hoe lank het hy gebly?”

“Net een nag, toe’s hy weg. Vóór my verjaarsdag. En Papa was te laat.”

“Ek het my vergis met die datum – jammer.”

Sy gaan staan en kyk kordaat na hom op. “Maar jy hét vir my ’n geskenk gebring, nè?”

Hy glimlag. “Natuurlik. Ek het dit klaar in jou bankrekening gesit.”

Liora stap teleurgesteld verder.

“Genoeg geld sodat jy vir jou en jou ma kan betaal om op Korsika te kom kuier wanneer ek weer soontoe moet gaan,” voeg hy by.

Sy gooi haar hare oor haar skouer. “Ek gaan nie weer soontoe nie.”

“Dis jammer,” sê Papa, “want dié keer sou julle kon vlieg.”

Sy steek in haar spore vas, want sy het nog nooit gevlieg nie; dis altyd net die boot, en elke keer is sy ’n bietjie seesiek, die hele dag en nag lank, tot sy weer haar voete op vaste grond sit. “Soontoe én terug?” vra sy.

“Natuurlik.”

Sy storm op hom af en hy raap haar op. “Dankie, Papa!” Sy soen hom op sy neus en wange en voorkop.

“Soos ek die ding sien, het jy en Maman ewe min te doen hier wanneer ek weg is. Dalk moet ek weer probeer om julle te oortuig dat dit beter sal wees as ons Korsika toe trek – Bella Montagna is soveel mooier as Finisterre, en daar sal jy minstens ’n maatjie hê.”

“Praat Papa van Eugenio?”

Hy glimlag en swaai sy vinger. “Kyk maar, as julle ’n bietjie ouer is, sal julle beter oor die weg kom, veral as julle mekaar elke dag sien.”

Liora skud haar kop. “Tante Alessa sal nooit gaan nie, want klammigheid is sleg vir die vere.”

“Dan moet sy maar in die woestyn agterbly en hier met haar pluime pronk – met ’n spul Arabiere en haar brakke vir geselskap.”

“Ek dink nie Maman sal sonder haar gaan nie. Dit sal vir my ook swaar wees, nog méér vandat sy my leer hoe om vere te knoop.”

“Nogal?” sê Papa. Hy tel ’n handvol droë kameeldrolle op en skiet dit soos albasters een vir een met sy duim na die pluimery. Dit tik teen die muur en spring weg, maar een verdwyn by ’n oop venster in. “Oeps, dis mos jou tante se kantoor!” Hy gryp haar hand en hulle hardloop om die gebou. Dis vir haar lekker, maar ’n bietjie vreemd ook, want Papa speel byna nooit met haar nie.

Die volstruiskuikens met die groot oë se lyfies is nog pure krimpvark, met swart kolletjies op hul nekke en koppe. Liora weet sy sal eers oor ’n maand of wat kan raai watter een háre is. Nogtans is sy knaend daar by die kamp rond.

“Jy weet goed mens hoef ’n volstruiskuiken net skeef aan te kyk, dan gaan sit die dingetjie, en as hy eers sit, vrek hy,” sê Maman. “Buitendien, jy is besig om jou skoolwerk af te skeep. As dit so aangaan, is dit koshuis toe met jou.”

Maar daar is iets wat soos ’n wolk bo Liora se kop bly hang: die enkele eier wat tussen die gebreekte doppe in die nes agtergebly het. Sy is bang dis die gesteelde een.

Smôrens vroeg sleep sy Maman en tante Alessa met haar saam om seker te maak daar het nie in die nag fout gekom by die kuikens nie. En telkens kyk sy na die heel eier sonder om iets daaroor te sê, banger vir die wéét as vir die onsekerheid. Soms as hulle so by die kamp se draad staan, verbeel sy haar Maman-hulle kyk ook na die eier, soos vanmôre weer.

“Daar is ’n olifant in die vertrek,” sê Maman.

Liora kyk na haar op. “Maman?”

“Dis net ’n uitdrukking,” sê tante Alessa. “Dit beteken daar is ’n groot of belangrike ding waaroor almal te bang is om te praat, dan maak hulle maar of dit nie daar is nie. Verstaan jy?”

“Ek dink so, tante Alessa.”

“Goed – wat is die olifant waarvan jou ma praat?”

Liora steek haar hand deur die draad en mik met haar wysvinger na die nes.

Maman trek haar met een arm teen haar vas. “Hoe het jy geweet?”

“Oom Moshe sê ek is slim.”

“Nou ja,” sê Maman, “jou pa is vroegoggend op sy kameel hier weg, kom ons doen wat ons lank terug al moes gedoen het.” Sy roep na Amid en hy kom onmiddellik aangeloop.

“Ek weet nie hoe hy dit doen nie,” sê tante Alessa, “dis of hy oë rondom sy kop het.”

“Ja, madame?”

“Bring vir my die heel eier.” Tante Alessa wys na die nes.

Hy bring dit en breek die dop. Binne-in is ’n stinkende kuiken.

“Dankie, jy kan maar gaan.”

Liora kyk na die dooie kuiken. Sy is na aan trane. “Dink Maman dis Struzzo?”

“Ek hoop nie so nie, my kind, maar as dit is, moet jy onthou oom Moshe het gesê hy sal ’n nuwe een bring. Sies, hoe stink die ding.”

Tante Alessa tel ’n stuk van die dop op en streel met ’n vingerpunt daaroor. “Charlotte, vat daardie tak en kom saam met my. Liora, wag jy hier.”

Liora kyk hulle agterna. By die nes gaan sit tante Alessa plat op die grond terwyl sy een stuk eierdop ná die ander optel, dit bekyk en bevoel, tot sy met een daarvan orent kom en die doringtak by Maman vat. Hulle retireer hek toe, met die volstruismannetjie dreigend maar koes-koes vir die dorings op hul spoor.

“Liora,” sê tante Alessa toe hulle buite kom, “die vrot eier is een van óns s’n.”

“Regtig?”

“Ja, voel hoe glad is dit. Oom Moshe sê die eiers van Noord-Afrika se wilde volstruise is kleiner en gladder as dié van die suide. Kyk mooi na dié twee stukke. Watter een lyk soos die dop van die eier wat oom Moshe gebring het?”

“Dié ene, tante Alessa, met die duikies in.”

Tante Alessa glimlag en druk met ’n wysvinger en duim teen Liora se kuiltjies. “Ek sê vir jou, kind, een van die kuikens wat jy daar in die kamp sien loop, is so waar as wat ek leef oom Moshe s’n.”

Liora gaan staan vierkant voor tante Alessa. “Dis nie oom Moshe se kuiken nie, dis myne,” sê sy.

Maman hurk by haar. “Natuurlik is dit jou volstruisie, maar jy moet onthou wat jy my belowe het.”

“Ek onthou, Maman.”

Tante Alessa sak ook op haar knieë af. “En wat is dít nogal?”

“Ek mag nie vir Papa sê oom Moshe het die eier vir my gebring nie.”

“My liewe sus,” sê tante Alessa, “wil jy hê Emilio moet dink hý het die voël geteel?” Sy giggel. “Hy is so ydel, hy sal dit sowaar nog glo ook.”

“Wat beteken ydel, tante Alessa?”

Maman staan op en vat haar hand. “Dit beteken tante Alessandra dink sy is vreeslik slim, dis wat. Dalk het dit tyd geword dat ons daardie vlug Korsika toe reël sodat sy alleen hier op Finisterre oor haar sondes kan sit en nadink.”

’n Entjie weg rem Liora vir Maman tot stilstand en sleep haar terug na die volstruiskamp. “Wat help dit as een van die kuikens myne is, maar ons weet nie watter een nie?” vra sy.

Tante Alessa frons. “Dis nou vir jou ’n ding, nè? Ons sal oom Moshe moet vra wanneer hy weer kom. Ek verbeel my hy het eendag gesê die volstruise van die suide is kleiner as ons s’n. Maar dit sal ’n mens eers kan sien as dié spannetjie ouer is, dalk oor ’n jaar of so.”

“’n Jaar is te lank, ek sal oom Moshe vra of daar nie ’n ander manier is nie.”

Die verevrou

Подняться наверх