Читать книгу Die verevrou - Jan van Tonder - Страница 5

2

Оглавление

Daardie aand sit hulle by die groot etenstafel, Liora en Maman en oom Moshe en tante Alessa. Daar hang ’n kandelaber met flou elektriese ligte bo die tafel en daar is ’n klompie kerse in blakers op die blad. Liora speel met die sagte was van die kers naaste aan haar. Maman kyk kwaai na haar en trek die blaker weg.

“Los die kind tog,” sê tante Alessa.

Liora wag dat oom Moshe ook iets moet sê, maar hy hou hom met sy kos besig.

Sy dop die was af wat aan haar vingers klou en leun vorentoe om dit in die blaker te gooi. “Hoekom het oom Moshe nooit getrou nie?” vra sy.

“Dit sal ek self graag wil weet, my liewe Liora,” sê tante Alessa.

Oom Moshe leun na Liora oor. “Vra my enigiets anders, my engel, en ek sal jou die reine waarheid vertel.”

“Het oom Moshe ’n meisie?”

“Jy’s die enigste.”

“Rêrig?”

“Op my erewoord.”

“Daar het jy hom klaar aan die lieg, kind.”

“En kinders, oom Moshe?”

“Ôooo,” sê hy en tuit sy lippe soos ’n kameel.

Liora lag.

“Nou vra jy my ’n ding, my engel.” Hy tel op sy vingers af. “Daar is die enetjie in Kaapstad, twee in Parys en drie bloedjies in Rome.”

“Los nou die lawwigheid,” sê Maman.

Oom Moshe hou ’n wysvinger voor Liora se lippe. “Ja, kindlief, hou op, jy is besig om ’n gentleman se reputasie tot niet te maak.” Hy roep na Amid en sê iets in Arabies voor hy hom weer tot Liora wend. “Jy het seker gedink ek het dié keer niks vir jou gebring nie, nè? Erken dit maar, ek sien dit in jou ogies.”

“Maman het gesê as ek vra, sit sy my volgende jaar in Algiers in die skool.”

Oom Moshe en tante Alessa kyk albei kwaai na Maman, en sy sê: “Julle sal die kind nog in die afgrond in bederf.”

Amid kom aangestap met ’n silwerskinkbord bedek met ’n blink koepeldeksel. Hy sit dit met ’n uitdrukkinglose gesig voor Liora neer en gaan terug kombuis toe.

“My engeltjie het seker ook gedink ek het vergeet dit is volgende week haar sewende verjaarsdag?” sê oom Moshe en lig die deksel. Op die skinkbord, netjies op een punt gestut in ’n silwerraampie, staan ’n volstruiseier.

Tante Alessa leun vorentoe. “Dit is prágtig, Moshe,” sê sy.

Liora kyk na die eier. Dis nie wat sy vir haar verjaarsdag wou gehad het nie.

“Toe nou, Liora, wat sê jy?” vra Maman.

“Dankie, oom Moshe, maar ek eet nie volstruiseier nie, en ons het mos ons eie ook.”

Hy glimlag vir haar. “Jou present is nie vir die tafel bedoel nie, my engel, hy is bevrug en moet nes toe, dis hoekom ek hom nou al vir jou gee. As jy hom laat uitbroei, kan jy maar sê een van jou oupagrootjie Auguste Hardy se volstruise het ná al die jare huis toe gekom, presies soos dié wat hy destyds hier op Finisterre probeer teel het.”

Sy weet nie wat om te sê nie.

“Die dag voor ek uit Oudtshoorn weg is, het ek die eier – hoe sal ek nou sê … ? – bekóm, net ná hy uit die nes gehaal en ontsmet is.” Oom Moshe leun na haar toe oor en sê agter sy hand: “Ek het hom spesiaal vir jou op ’n plaas tussen Oudtshoorn en De Rust gesteel, en uit Suid-Afrika gesmokkel. As hulle my gevang het, was ek nou nog in die tronk.”

Liora slaan haar hande saam. “Gesteel én gesmokkel?”

“Sjuut,” sê oom Moshe, “nie ’n woord verder nie.”

Maman skud haar kop. “Ook maar goed die kind sien jou net enkele kere in die jaar, Moshe.”

“Watwou! Wat sy nodig het, is juis dat ek veel meer hier kom. My engelkind, môreoggend soek ons ’n nes met eiers, dan sit ons hierdie een daarin.”

“Het jy al gedink wat sal gebeur as die ding nie uitbroei nie, Moshe – hoe teleurgesteld party mense sal wees?” vra Maman.

“Dan bring ek weer een, en weer en weer, as dit moet. Maar ek het ’n goeie gevoel oor dié een. Ek het hom in ’n kissie houtskaafsels in my handbagasie gehou en hom elke dag twee keer gedraai. Nee wat, my liewe Charlotte, jy kan ontspan; vir dié geleentheid het ek tot in Kaïro gevlieg om seker te maak Liora se eier kom vinnig en ongeskonde hier aan.” Hy kyk na Liora. “Dink jy solank aan ’n naam vir die kuiken – môre gaan hierdie eier uit die Klein-Karoo nes toe.”

Maman wys vir Liora vinger. “Jy bly uit die volstruiskampe, gehoor, al sê oom Moshe wát.”

Oom Moshe soen Liora en gee vir haar die eier aan. “Gaan slaap nou maar, jy moet uitgerus wees as ons daardie nes gaan uitsoek. Net die beste broeipaar sal goed genoeg wees. Sit hom op jou bedkassie. Nee, liewer in ’n laai tussen sagte klere.”

“Wat van mý kamer, Lioratjie?” sê tante Alessa. “Jy kan ’n slag daar slaap, dan maak ek jou môreoggend vroeg wakker.”

Liora trippel na haar tante se kamer en begrawe die eier in ’n laai tussen klere. Die vertrek lyk en ruik heel anders as Maman s’n. Sy klim op die bed en kruip tussen die lakens in. Sy hou baie daarvan as sy kans kry om by Maman of tante Alessa te slaap, al weet sy net vir ’n kort rukkie daarvan voor sy wegdommel. Maar tog, soms raak sy in die nag wakker, dan woel sy haar net stywer aan teen die warm lyf langs haar en hoef sy nie vir die donker bang te wees nie.

Sy word vóór tante Alessa wakker, staan op en gaan piepie voor sy terugkom om haar eier versigtig uit die laai te haal.

Toe sy by Maman in die kamer kom om vir haar môre te sê, lig dié haar laken en sê: “Kom lê ’n bietjie by my.”

Sy kruip in, hou die eier bakarm teen haar lyf vas. “Maman ruik anders,” sê sy.

“Anders as tante Alessa?”

“Nee, as gewoonlik.”

“Jy verbeel jou, Lioratjie. Toe-toe, gaan jy en oom Moshe nie ’n nes soek vir jou eier nie?”

Oom Moshe se kamerdeur staan halfoop. Liora gaan in. Hy staan in sy japon by die venster en uitkyk, sy rug na haar gedraai. Op die klein lessenaar langs hom lê ’n boekie en ’n pen en ’n opgefrommelde blaadjie.

“Oom Moshe …”

“Engeltjie!” Hy trek die lyfband van sy japon stywer vas en draai om.

“Het oom Moshe vergeet?”

“Natuurlik nie, ek wag juis dat jy wakker word,” sê hy en tel die bolletjie papier op. Hy druk dit nog kleiner en gooi dit in die snippermandjie langs die tafel. “Kom, ons het werk om te doen. Nee wag, kyk hoe lyk ek! Ek gaan gou stort.” Hy maak sy tas oop en haal ’n modetydskrif daaruit. “Vars uit Parys.” Hy wys na die datum. “Sien jy, Julie 1948 – en dit net twee weke gelede s’n,” sê hy en gee dit vir Liora.

“Le Petit Écho de la Mode,” lees sy hardop.

“Ek glo dit nie.” Hy staar haar met gróót oë aan.

“Wat, oom Moshe?”

“Dat jy al so goed kan lees, liewe deug! Laat ek liewer loop voor jy my dom laat voel.” Hy haal klere uit die hangkas, haak sy handdoek agter die deur af en stap badkamer toe.

Liora blaai deur die tydskrif tot sy die stort hoor loop. Toe haal sy die papierbolletjie uit die snippermandjie en gaan bêre dit in haar kamer.

Oom Moshe ruik lekker toe hy terugkom.

Sy gee die tydskrif vir hom terug.

“Nee,” sê hy, “dis joune. Kyk, ek het vir jou ma ook iets gebring om te lees.” Hy haal ’n boek uit sy tas en hou dit so dat sy die omslag kan sien. “Nie meer lank nie, dan sal ek vir jou ook dié man se boeke kan begin aandra.”

“La Peste, Albert Camus,” lees sy.

“Albert Camus inderdaad, ’n baie belangrike man, ’n Algeryn in murg en been. Moenie sy naam ooit vergeet nie, dit is maklik as jy onthou dat Camus ‘ou platneus’ beteken.” Hy sit sy vinger op die punt van haar neus en duik dit in. Sy lag en hy vryf haar hare deurmekaar.

“My volstruisie het ook al ’n naam,” sê sy.

Oom Moshe vou sy arms en sê: “Ek gaan nêrens heen voor jy my vertel wat dit is nie.”

“Struzzo,” antwoord sy.

“Struzzo? Waar kom jy daaraan?”

“Tante Alessa sê mense wat iets van volstruise af weet, sal dit self kan uitwerk.”

Hulle stap van kamp tot kamp. Die son is pas op.

“Dáár,” wys Liora ’n nes met eiers uit.

Maar oom Moshe loop verby die nes. “Struzzo,” sê hy weer. “A, ek weet: Struthio camelus. Baie skerp.”

“Én dis Italiaans vir volstruis.”

“Kom ons gaan terug na daardie eerste nes toe. ’n Meisie wat so ’n slim naam kan uitdink, weet genoeg van volstruise om ’n goeie broeipaar te kan uitkies.”

Sy kyk op na hom. “Tante Alessa het my darem ’n bietjie gehelp,” sê sy.

“Maak nie saak nie, jy bly ’n slimkop. Kyk net hierdie nes van jou, klaar hóéveel eiers daarin – die voëls gaan een van die dae begin broei. En dit is na genoeg aan die hek ook; as ons ons roer, bly ons onder die mannetjie se pote uit.” Hy kyk om, huis se kant toe. “Jou ma sal dwarsdeur die skuur moet kan kyk om ons te sien.” Hy haal ’n handvol mieliepitte uit sy sak. “Hier,” sê hy, “ek het dié gister al uit die skuur gegaps.”

Sy hou haar hande bak.

“Gaan gooi dit aan die ander kant oor die draad – ek sal jou eier oppas.”

Toe sy by oom Moshe terugkom, pik die broeipaar reeds die mieliepitte op, en hy maak die hek oop. Hulle stap na die nes toe, waar hy vir haar die eier gee. “Sit hom mooi in die middel neer.”

Sy soen die harde wit dop. “Sien jou anderdag, Struzzo.” Sy wikkel die eier tussen die ander in.

“Ons moet aanstaltes maak, my engel, anders sal ons vinnig moet leer harp speel.”

Hy tel haar in sy arms op en hardloop vinniger as wat nodig is met haar hek toe, sodat sy skreeu van opwinding. Toe die volstruismannetjie by die hek aankom, is hulle al veilig buite die kamp. Die voël stap uitdagend en dreigend heen en weer langs die draad met swiepende swart-en-wit vlerke.

“Sodra daardie voëls op die nes gaan sit, my engel, kan jy die dae begin aftel.”

“Twee-en-veertig, nè, oom Moshe?”

“Lyk my daar is niks wat jy nié weet nie. Jou ma vaar beter met jou leerdery as ’n skool vol onderwysers.”

Sy wens hy kon altyd op Finisterre bly. “Vertel my van die Klein-Karoo, oom Moshe,” sê sy.

“Ek hét mos al.”

“Vertel nóg.”

“Anderdag. Maar belowe my dat jy eendag soontoe sal gaan, dan kan jy self sien waar Les Plumes du Sahara se pluime vandaan kom, en die eier waarin jou Struzzo is. Én om …”

“En wát, oom Moshe?”

“Om te gaan kyk hoe die wêreld lyk waar ék gebore is en grootgeword het en eendag wil doodgaan en begrawe word. Sal jy so maak?”

Sy sit haar arm om sy nek en druk haar kop teen syne. “Ek sal,” sê sy, “as jy belowe om nie dood te gaan nie.”

Hy sit haar neer en sê: “Ek sal jou inwag daar.”

Hulle stap hand aan hand terug huis se kant toe. Tante Alessa kom van voor af aan en vat haar ander hand, en sy en oom Moshe swaai haar tussen hulle. “Jy kan bly wees Charlotte het dié spulletjie nie aanskou nie, Moshe Habib,” sê sy.

“Ek is.”

“Hoekom bly jy nie nog ’n paar dae nie?”

“Jy weet ek is op pad?”

“Hoe dan anders, ek het flussies by Charlotte ingeloer – sy lê daar en staar na die uitspansel van haar hemelbed. Dink jy ek ken my suster nie?”

“Iets het ongesê gebly, Alessandra. Ek het dit agterna vir haar in ’n brief probeer uitlê, maar ek kon nie woorde vind nie.”

“Nou probeer jy wat dit ook al is in jou tas pak – is dit wys?”

Liora druk haar hakke in die grond. “Nee!” sê sy. “Jy gaan altyd te gou weg, en dié keer verjaar ek, onthou?”

“Ai, my engeltjie.”

“Ek is nié jou engeltjie nie.”

Hy tel haar op en druk haar styf teen hom aan, maar sy ruk haar los en gaan sit dikmond op die skoppelmaai. Sy hoop hy sal onthou dat hy besig was om iets te skryf, en dit eers klaarmaak. Dan word dit dalk te laat om Algiers toe te ry. Maman sal vir hom sê die donker gaan hom in die bergpas vang, en as hy nie oor ’n afgrond ry nie, sal struikrowers hom voorlê. Dis wat sy elke keer vir Papa sê wanneer hy die pad Korsika toe vat om te gaan kyk hoe dit op sy familie se boerdery daar gaan, soos nou die dag weer.

Maar ’n ruk later kom oom Moshe koffer in die hand by die voordeur uit. Dit lyk vir Liora of sy hart seer is, maar sy weet al hardloop sy nou agter hom aan en slaan haar arms om sy bene en sê sy is jammer dat sy met hom ongeskik was, sal hy nog steeds in die lorrie klim en wegry.

Sy bly sit. Kyk hom deur haar trane agterna. Hy waai vir haar. Sy vir hom. Die stofwolk agter hom word kleiner en kleiner, tot die stuk pad kaal tussen hulle lê, met net die plasse blinkigheid wat soos water lyk.

Lank bly sy daar voor sy van die skoppelmaai afklim en na haar kamer toe gaan, en toe haal sy oom Moshe se papierbolletjie onder haar kopkussing uit.

Die verevrou

Подняться наверх