Читать книгу Die verevrou - Jan van Tonder - Страница 4

1

Оглавление

1948, Finisterre, Algerië

Liora kyk stip na die lang, reguit gruispad wat deur die woestyn sny, haar hande styf om die toue van die skoppelmaai geklem. In die verte slaan stof op. ’n Warrelwind? Nee, dit kom te reguit nader, soos ’n ryding. Laat dit asseblief tog ’n lorrie wees, een van dié wat oom Moshe altyd naby die kasbah in Algiers gaan huur wanneer sy volstruisvere by die hawe afgelaai word. En laat hom asseblief tog dié keer ’n bietjie langer as gewoonlik bly, tot sy oor ’n paar dae sewe word.

Sy vergeet om haarself te maak swaai, en elke swaaislag word kleiner totdat sy skaars nog beweeg en die gewarrel van die volstruispluime wat sy aan die skoppelmaai se toue vasgemaak het, tot bedaring kom. Nou is al wat saak maak die ryding. Finisterre se groot huis en die pluimery, die skuur en die ander buitegeboue met die watertenks op hul plat dakke, die drie windpompe, die volstruisbroeikampe, die handjievol kamele wat lê en herkou, die Jeep en die ou Citroën-lorrie, en die rye en rye dadelpalms waarvan die blare ruis as die wind waai – al hierdie dinge, alles wat gewoonlik vir haar belangrik is, vervaag.

Sy wil haar tante gaan roep, maar sy bly kyk tot sy seker is dis hý, oom Moshe. Dan eers spring sy van haar skoppelmaai af en hardloop oor die skroeiende sand van die werf na die pluimery waarheen oom Moshe met ’n vrag volstruisvere op pad is.

Toe sy weer buite kom, het sy haar tante op sleeptou. Dié skreef haar oë teen die lig. “Is jy seker dit is hy?”

Liora trippel. “Dit móét hy wees, tante Alessa.”

“Nou ja, gaan roep jou ma, sê vir haar Moshe Habib is hier. Maar gaan haal eers jou hoed, anders kry jy weer moeilikheid.”

Die hoed is in Liora se pad as sy swaai, sy sit dit altyd eenkant neer. Maman gee nie régtig om nie, want die ou tamariskboom waaraan die swaai hang, maak goed skaduwee. Hoed op die kop sit sy af na die woonhuis, skaars twintig meter van die pluimery af. Hier skuil Maman dié tyd van die dag boek in die hand teen die ergste hitte, met die hele eetkamer vol van die musiek wat uit die groot kelk van haar grammofoon stroom. Dié is soos altyd op die tafel, na genoeg aan haar dat sy net die slinger kan draai wanneer die masjien afgewen raak.

Tante Alessa sê Maman sal doodgaan sonder die grammofoon, want dit is nes ’n naelstring wat haar aan Europa verbind, aan die tale en klanke van lande noord van die Middellandse See, van Spanje tot by Griekeland. Liora weet wat ’n naelstring is, sy het tog op ’n plaas grootgeword. En boonop, so sê haar pa, moet sy van sulke dinge leer, want sy gaan eendag dokter word.

Sy bly met ’n breë glimlag staan en wag dat Maman haar moet sien, en toe dié sê: “Moenie vir my sê hy’s al hier nie, kind,” wip sy uitbundig op en af. “Hy ís, Maman, oom Moshe het gekom.”

“Maar hy’t laat weet hy gaan eers laatmiddag …” Maman haal ’n brief, klein opgevou, uit die uitswaailaaitjie waarin die grammofoon se ekstra naalde gehou word, maak dit oop en lees vlugtig. “Nes ek gedink het, kyk, hier sê hy láátmiddag.”

Liora swaai in haar spore om.

“Nee, wag!” Maman lig die naald van die plaat af, en in die skielike stilte hoor hulle nou die gedreun en geratel en gepiep van die lorrie bo die geblaf van Maxim en Frou-frou. “Luister, Liora-lief, hou jy en tante Alessa oom Moshe besig, ek gaan gou bad.”

Liora hardloop uit na waar die lorrie op die werf stilhou, naby aan die groot deur waarop Les Plumes du Sahara geskryf staan, en spring op die treeplank. Sy druk haar gesig teen oom Moshe se skouer en voel die materiaal van sy baadjie teen haar wang en onthou sy reuk. Hy lyk soos altyd: sy snor en bruin oë, en daarbo die swart baret waarsonder mens hom amper nooit sien nie.

Hy steek sy arm by die venster uit en skuif haar hoed af oor haar oë. Toe hy wegtrek om by die pluimery in te ry, sit hy sy hand op haar rug en druk haar teen die lorrie se deur aan. Binne staan tante Alessa en wag, haar hande op die koppe van haar twee jaaroue honde – opregte Azawakhs.

“Af is jy,” sê oom Moshe en skakel die lorrie af. Hy klim uit, vat Liora se hand en kyk na die muur wat laas nie hier was nie. “En dié dan nou, Alessandra?”

“Ek het hom laat bou om die stof en stront wat jy elke keer met die een of ander wrak hier inry uit die res van my pluimery te hou. Wie weet waar die lorries oral was en watse vrag hulle gery het?”

Oom Moshe kyk om hom rond, asof hy wil sien wie almal hoor wat hy sê. “Dis die veiligste om by die regte mense te huur, ’n mens weet nooit. Daar is al hoe meer opstandigheid in die land. Buitendien, jy hoef nie jou neus so op te trek nie, die lorrietjie is halaal.”

“Juis,” antwoord sy.

“Nou klink jy nes die mense oor wie jy altyd kla.” Hy haal sy baret af, slaan die stof daaruit, sit dit terug op sy kop. “Kry ek dan nie eens ’n drukkie vandag nie?”

“Natuurlik,” sê sy terwyl sy terugtree. “Sodra jy gebad het en skoon aangetrek is.”

Die honde knor. Maxim wys tande. “Kom,” sê tante Alessa vir hulle en loop die pluimery binne, seker om hulle in haar kantoor te gaan toemaak.

Toe die honde weg is, kom vier mans met kopdoeke nader. Hulle groet oom Moshe, en nadat hulle die seil losgemaak het, begin hulle die kratte van die lorrie aflaai.

Liora kruip agter ’n krat weg en loer bo-oor na die gewoel.

“Haal die leës ook af, Amid, en vat dit binnetoe,” sê oom Moshe. Hy praat Arabies met die werkers wanneer hy alleen by hulle is, andersins Frans, soos nou.

Dit lyk nooit of Amid hoor wat vir hom gesê word nie, maar hy doen alles wat hy aangesê word om te doen.

Tante Alessa kom sonder die Azawakhs terug. “Moenie dat die vrouens inpak voor ek terug is by hulle nie,” sê sy vir Amid.

Dit wat gepak moet word, weet Liora, is duur verewaaiers en wyerandhoedens vir ’n Amerikaanse film, gemaak van die beste pluime uit die Klein-Karoo.

Oom Moshe steek die gesplete punt van ’n klouyster onder een van die kratdeksels in. Hy trek versigtig aan die ander punt sodat die plank lig. Die spykers kerm met die uitkomslag.

“Maak gou, Moshe!”

Maar dit gaan steeds te stadig na Alessandra se sin en sy stoei die yster uit sy hande, breek ’n klompie planke los. Haar lang vlegsel swaai heen en weer.

Oom Moshe skud sy kop. “Elke keer dieselfde storie: ek kom heelhuids hier aan, probeer my kratte sagkens oopmaak sodat hulle ook heel moet bly, maar dan word ek en my kosbare vrag aangeval.”

Alessandra gee die yster prys, lig ’n bondel vere uit. Haar bewegings is nou stadiger, en sy vou die ligte, dun papier versigtig oop. Blinkswart pluime gaan soos ’n groot blom oop. Die krullerige George White-vere roer in haar hand. Vir Liora lyk dit altyd of tante Alessa ’n geskenk gekry het wanneer sy die eerste pakkie oopmaak.

Oom Moshe staan ook na haar en kyk. “Net die mooiste vere vir die beste meesterpluimbereider in Afrika,” sê hy.

Sy draai die vere toe. “Op die oomblik seker die énigste in Afrika, of is daar al iemand in jou geliefde Oudtshoorn wat dit doen?”

“G’n kompetisie daar nie, dis hoekom ek steeds die beste vere vir jou kan uitsoek – solank jy maar weet die prys gaan nie áf nie. En ek hoop jou skaal is ordentlik geyk.”

Tante Alessa trek haar mondhoeke af. “Ek sou nie sê hierdie spulletjie kan juis as uitsoekvere beskryf word nie. Beslis swakker as die voriges wat jy gebring het.”

Hy vat haar hand en soen dit voor sy kan wegruk. “Skaam jy jou nie om so blatant te staan en lieg nie, Alessandra, net om ’n paar frank te spaar, en dit voor ’n ontvanklike kind?” Hy kyk om hom rond. “Van haar gepraat, waar sou sy wees?”

Liora sak agter ’n krat weg, steek dan twee pluime in die lug en swaai hulle.

“Aha,” sê oom Moshe, “is dit engelvlerke wat ek sien?”

Sy vlieg op en hardloop deur die binnedeur in die pluimery in. Oor haar skouer sien sy dat oom Moshe haar agternasit.

“Bring terug daardie vere, Liora, jy kan nie sulke vere sommer net vát nie!” roep tante Alessa. “En jy, Moshe Habib, uit daar met jou stofgat!”

Liora hardloop koes-koes tussen vroue deur wat besig is om te sorteer, verby ander met stokke waarmee hulle vere onder die kleursel indruk en roer, en ’n aantal wat nat vere teen hul handpalms slaan om die water daaruit en die lewe daarin terug te kry.

Toe sy haar in ’n doodloopgang bevind, lig ’n jong vrou by ’n kleurselbad haar voorskoot en laat dit oor haar sak.

“Sjoekran, Jaseena,” sê Liora. Dis een van die min Arabiese woorde wat sy ken: dankie.

Sy hoor oom Moshe aankom en iets in Arabies sê – al wat sy daarvan kan uitmaak, is haar naam. Sy giggel, want sy weet dat sy veilig is – oom Moshe sal nooit aan ’n Moslemvrou raak nie.

Sy vlieg onder Jaseena se voorskoot uit en oom Moshe gryp haar vas. Sy gil en probeer wegkom, maar hy skiet haar in die lug op, hou haar met albei hande om haar middel bo sy kop en draf met haar tussen die vrouens deur. Sy strek haar lyf en flap die pluime soos vlerke.

“Eendag sal jy bo ons klomp gewone mense sweef, my engel,” sê oom Moshe en sit haar neer. “Gaan speel nou, ek en jou tante moet besigheid praat.”

Sy onthou dat Maman gaan bad het en hardloop terug huis toe. Dis vir haar lekker om te kyk as Maman aantrek, veral op spesiale dae, soos wanneer haar pa lank weg was en op pad terug is, of as oom Moshe vir tante Alessa vere bring.

Sy sit haar hoed op die bedtafeltjie neer, trek haar skoene uit en maak seker dat haar voete skoon lyk voor sy op die groot bed gaan lê. Die son skyn deur die skrefies tussen die vensterhortjies. Fyn stof dwarrel traag in die strepe lig. Sy swaai ’n kussing voor haar en kyk hoe die stofdeeltjies wild in die sleurstroom daarvan kolk. Van êrens af word die rafel van ’n volstruisveer ook opgewaai. Dit maak ’n klompie oordadige draaie, tot hoog bo die vier style van die bed, en kom uiteindelik tot rus op die swart onderklere wat Maman uitgesit het.

“En nou, as jy nie by oom Moshe is nie?”

“Hy en tante Alessa praat besigheid.”

Maman het ’n badkeps en ’n japon en pantoffels aan. Sy trek die keps van haar hare af en skud haar kop. Blonde krulle swaai los en sak oor haar skouers neer terwyl sy die strik van haar lyfband lostrek en die japon voor laat oopval. Liora kyk na haar gladde vel, na haar tieties wat kleiner is as tante Alessa s’n, en na die driehoek ligte hare ’n entjie onder haar naeltjie.

Maman trap die pantoffels van haar voete af en toe sy die japon van haar skouers laat afgly, kyk sy na Liora. Liora kyk nie weg nie. Maman skep met haar voorvingers room uit ’n potjie en smeer dit oor haar hele lyf, trek haar broekie en kousgordel aan en gaan sit by die spieëltafel. Sy woel ’n sykous oor haar duime, steek die tone van haar een voet in die holtetjie en trek die kous versigtig oor haar hak en dan opper, tot by haar bobeen. Toe sy die ander kous ook aanhet, staan sy op, kyk oor haar skouer in die lang hangkasspieël en trek die nate reguit voor sy die kousbandjies aan die dikker donker bokante van die kouse vasknip. Dit lyk vir Liora of sy van haar vergeet het.

“Jy is mooi, Maman,” sê sy.

“Dankie, liefie.” Maman draai in die rondte, bekyk haarself in die spieël.

Liora giggel agter haar hand. “Ek wonder wat oom Moshe sal maak as hy Maman so sien.”

Maman glimlag terwyl sy ’n onderrok oor haar kop trek. “Hy sal hom wat verbeel,” sê sy en buk oor Liora om haar te kielie.

Hulle rol ’n rukkie op die bed rond, en toe Maman orent kom, haar onderrok glad stryk en seker maak dat haar kousnate nog reg lê, is Liora spyt dat die pret so gou oor is.

“Hoekom gaan speel jy nie ’n bietjie buite nie, Liora, of in die pluimery? Kyk of jy van daardie mooi gekleurde lyfveertjies in die hande kan kry vir jou skoppelmaai. Ek sal solank vir ons tee maak en koekies regsit, dan roep ek jou en tante Alessa en oom Moshe sodra ek klaar is.”

Liora klim van die bed af.

“Jou skoene,” sê Maman, en voeg die gewone waarskuwing by: “Jy sal nog so kaalvoet loop, dan steek ’n skerpioen jou.”

Die swartes met die dik stert en die geles met strepies op die rug, dis húlle wat Maman bedoel. ’n Paar keer al het sy gesien hoe oom Moshe hulle aan die stert vang en in ’n boksie sit om later êrens in die woestyn vry te laat. Hy sê hy waag nie ’n kans met so ’n gevaarlike ding op die werf waar sy engeltjie speel nie. Sy gril by die gedagte aan die diertjie met sy krom, skerp stert, en voor sy haar skoene aantrek, stamp sy die agterkante teen die vloer, ingeval een daar ingekruip het.

“Wat van jou hoed?”

Maman sorg dat ’n mens niks vergeet nie.

In die verestoor sien sy tante Alessa is steeds besig by die lang sorteertafel, van die vere wat oom Moshe gebring het daarop uitgelê, en haar honde nie ver van haar af nie.

Liora raai dat oom Moshe in die pluimery aan die gesels is met die klompie mans wat daar werk. Tante Alessa hou nie daarvan as hy dit doen nie. “Dis Arabiere, Moshe – Móslems – jy moet hulle nie staan en mak maak nie.”

Wanneer sy so iets oor die werkers sê, swaai oom Moshe sy vinger. “Hulle is ménse ook, nie waar nie? In elk geval, hulle weet waar hulle met my staan.”

Liora sluip die stoor binne om haar pluime weer uit hul wegsteekplek te gaan haal: prime whites. Sy weet haar tante vertrou net haarself en haar beste pluimbereiders met dié soort vere – van húlle word spesiale klere en waaiers en tooisels gemaak. Maar sy is versigtig wanneer sy daarmee speel.

Sy gaan na die skoppelmaai toe, en stáán haarself en maak – knieë gebuig, reguit, gebuig – elke swaaislag hoër, met haar rokspante wat haar bene streel, dán voor, dán agter. Maman sê meisietjies en vrouens lyk mooier in rokke, en nie sy of Maman hét eens ’n langbroek nie; héél anders as tante Alessa, wat niks anders as langbroeke dra nie, met hemde daarby, en ’n vilthoed op die kop wanneer sy buitentoe gaan.

Met drie vingers van elke hand hou sy die skoppelmaaitoue vas, die veerskagte tussen haar duime en voorvingers geknyp. Toe tante Alessa by die skuur uitkom, roep sy: “Kyk, tante!”

“Nie so hoog nie, Liora!”

Net voor die hoogtepunt van die deurswaai laat Liora die toue los. Sy word weggeskiet en trek deur die lug.

Voor sy met ’n slag op haar maag land en winduit bly lê, hoor sy haar tante gil. Nou weet sy nie meer of dit haar ore is wat so sing van die val, of die sonbesies in die takke van die tamarisk bo haar nie.

Sy lig haar lyf sodat sy hande-viervoet staan. Maxim en Frou-frou is by haar, snuif aan haar gesig.

“Het jy seergekry?” Tante Alessa kom uitasem van die skrik aan.

Liora skud haar kop, maar sy voel trane oor haar wange loop, en sy sukkel om haar wind terug te kry.

Tante Alessa help haar op en stap hand aan hand met haar terug na die pluimery, maar oom Moshe is nie daar nie. Die vrouens maak troosgeluide.

Op pad huis toe moet Liora draf om by te hou, by die voordeur in en gangaf na oom Moshe se kamer. Die deur staan halfoop.

Sonder om te klop stap tante Alessa in. Oom Moshe sit by ’n lessenaar by die venster en Maman bene gekruis op die bed. Hulle kyk verskrik na Liora. Sy snuif en vee haar neus met die agterkant van haar hand af.

“My kind!” sê Maman en kom hurk by haar, vee haar gesig skoon.

Die skagte van die pluime wat sy vashou, is albei gebreek.

“Ontspan, Charlotte, die kind makeer niks,” sê tante Alessa. Sy stoot Liora effens vorentoe sodat sy voor oom Moshe staan. “Het jý vir haar gesê sy kan vlieg?”

“Jong, dit hang seker af hoe ’n mens daarna kyk.” Hy lyk skuldig. “Tegnies sou ’n mens kon sê nee, maar as ek eerlik moet wees, vir alle praktiese doeleindes: ja, ek het.”

“Besef jy nie wat jý sê, is vir haar wet nie!”

“Het jy baie seergekry, my engeltjie?”

“Jy kan jou sterre dank sy het nie,” antwoord tante Alessa. “Maar jy skuld my ’n paar prime whites, daardie twee was seker die bestes wat ek gehad het.”

Oom Moshe neem die vere by Liora en bestudeer hulle. “Die kind ken ’n prima pluim as sy hom sien. Sy aard na haar tante.”

Maman tel Liora op haar heup. “Aard of nie aard nie, my kind sal haar eie pad loop.”

“Eie pad se voet,” sê tante Alessa. “Jy en jou man wil hê sy moet maak soos júlle sê.”

Liora woel om neergesit te word. Sy hol buitentoe en gaan sit op haar skoppelmaai oor die woestyn en uitkyk.

Sy hoop oom Moshe sal haar volg, en sy brand om oor haar skouer te loer, maar sy doen dit nie.

Ná ’n ruk kom sy voetstappe tóg nader, byna onhoorbaar op die sand, en sy voel hoe hy die skoppelmaai se sitplek ver agtertoe trek en dit laat los.

Elke keer wanneer sy tot by hom terugswaai en hy haar hoër stoot, fluister hy iets by haar oor.

“Jy kan dokter word …

“… of sakevrou …

“… of pluimbereider …

“… nét wat jy wil.”

“Regtig, oom Moshe – énigiets?” vra sy met die wegswaai, arms gestrek en kop agteroor sodat haar hare vlugtig oor die sand sleep en sy hom onderstebo sien staan.

“Sit regop, Liora!” Sy arm vou om haar middel en hy bring haar tot stilstand.

“En as ek jou kind wil wees?”

“Waarvan praat jy nou?”

“Jy het gesê énigiets. Het jy vir my gejok, oom Moshe?”

“Nee, my engelkind, vir myself.” Hy stoot haar liggies van hom af weg.

Elke keer as sy terugswaai na hom toe, weer en weer, voel sy sy hande op haar vlerkies.

Die verevrou

Подняться наверх