Читать книгу Die verevrou - Jan van Tonder - Страница 9

6

Оглавление

Daar lê beesmis in De Rust se hoofstraat. ’n Trekker met ’n sleepwa vol droëvoerbale kom aangery. Die drywer lig sy hoed vir Candice. Sy waai terug en glimlag. Verskeie motors met vreemde registrasienommers is voor eetplekke en snuisterywinkeltjies geparkeer. Toeriste neem foto’s van Candice en van dorpshuise, donkiekarre, en hoenders wat op sypaadjies wei.

Candice is moeg van balans hou, uur ná uur, haar kop meer as drie meter bo grondvlak, altyd aan die afkyk na die dorpsmense, wat haar al gewoond is, na toeriste wat staar tot hul nekke seer word daarvan.

Nou en dan, darem, gaan sy na haar boom toe, waar sy die smousgoed bêre wat sy nie alles op een slag saam met haar wil dra nie, en waar die rugsak met haar rookgoed en middagkos en ’n bottel water en ’n koffiefles in ’n mik gewig is. Daar gaan sit sy op ’n dwarstak om haar voete en enkels rus te gee, om die stelte ’n paar minute lank te laat hang, en te rook sonder dat die walms iemand kan aanstoot gee en hom of haar dit ten laste lê om na die polisiekantoor toe oor te stap om ’n vermeende burgerlike plig na te kom. Sy weet om die wind dop te hou, hoe dit waai.

Wanneer sy uitgerus is, is dit weer straat toe in die hoop dat ’n toeris in een van haar produkte sin sal kry. Maar die karre wat vandag die dorp inkom, herken sy van ver af al as dié van boervroue van die omgewing. Dié koop selde iets by haar, al kyk party van hulle se mans na haar asof sý te koop is. Van deurreisigers kom daar nou en dan ’n minder welvoeglike aanbod, wat haar noop om met ’n spotlaggie ’n diskrete gebaar te maak, net vir die aanbieder se oë bedoel: ’n gebalde vuis langs haar been waaruit sy die middelvinger stadig laat sak.

Sy stap terug na die boom om haar goed te gaan haal, en toe sy rugsak oor die skouers weer onder die takke uit buk, streep ’n spannetjie kinders na haar toe aan. Hulle kwetter onder mekaar en dans om haar stelte, maar sorg dat hulle die lang bene nie aanraak nie. Dié wat te na aan haar kom, word blitsig op hul plek gesit deur Richard, ’n hardekwas klong wat homself as leier van die groep kinders aangestel het.

Die prosessie steek die stil straat oor. By die vlagpaal voor die polisiestasie gaan Candice staan, een arm om die paal, en woel met haar vry hand die leerband met smousgoed los. Daar is nie veel oor nie: ’n paar kortsteel-verestoffers,’n veerversierde handsakkie en ’n waaier. Laasgenoemde twee items word meestal deur oorsese toeriste gekoop, want dis heel duur.

Sy laat sak die smousgoed met ’n riem tot naby die grond. Richard kry dit beet en sit dit eenkant neer.

Terwyl sy die ellelange broek wat haar stelte bedek van haar heupe afstroop, kom ’n polisieman na haar toe aangeloop. ’n Lui stappie soos dié van ’n jakkals, dink sy altyd, een wat die lam wat hy in die oog het, nie wil verwilder nie. Sy trek die broek af, tot oor haar tekkies. Haar hemp sorg dat sy tot amper by haar knieë bedek bly.

“Candice.”

“Ja, Assie?”

Sy naam, rang en al, is kaptein Assie van Aswegen, bevelvoerder van De Rust se polisiekantoor. Hy kyk op na haar. “Jy weet jy mag dit nie doen nie.”

Sy hou aan die vlagpaal vas, maak die gespes los en skop die stelte liggies van haar af weg. Richard vang hulle voor hulle kan val.

Candice gly teen die paal af. Haar hemp waai op. “Ek mag wát nie, Assie – my kuite ontbloot?”

“Die vlagpaal, Candice, die vlagpaal.”

“Dit het jy gister ook gesê.”

“En eergister, ja. Én die dag voor dit. Jy gaan my nog in die moeilikheid laat beland.”

Sy gooi haar hare met ’n kopswaai oor haar skouer. “Ontspan, dis 1992, De Klerk het die noodtoestand voorverlede jaar al opgehef, binnekort sal mense hopelik minder behep wees met lappe wat aan pale hang – veral dié een.”

Sy vat haar stelte by die seun en knyp hulle onder een arm vas. “Kom, Richard,” sê sy en stap weg.

Die seun tel haar smousgoed op en stap voor haar uit. ’n Klompie dogtertjies kom nader gehol en stoei onder mekaar vir die voorreg om haar hand vas te hou.

Waar Candice van die hoofpad in háár straat afdraai, gee die seun haar smousgoed terug.

“Dankie, Richard,” sê sy, en voeg soos elke ander dag by: “Reguit huis toe met julle, gehoor?”

Verder as dié punt laat sy die kleingoed nie met haar saamloop nie.

Candice kyk by haar voordeur uit na die oop vuur wat buite brand. ’n Geselskapvuur. ’n Vertroueling. Daarnaas staan ’n klein tafeltjie gedek met ’n rooi doek, ’n ysbak met ’n bottel witwyn daarin, en ’n enkele kristalglas.

Sy vat die fles insekweerder en gaan sit dit ook buite op die tafel neer. Sy trek die kurkprop uit, gaan sit, trek haar wit romp hoog op en smeer die muskietgoed aan haar bene. Daarna haar arms en nek en wange, versigtig om nie die goed aan haar geel flenniehemp te laat kom nie. Tuisgemaakte olie – haar eie laventelblomme in ’n verseëlde bottel op vodka getrek – want sy glo die winkelgoed doen meer as net die muskiete kwaad aan.

Sy druk die glashouer se prop terug en asem die geur van laventel in wat om haar hang. Laventel en ’n beduidenis van alkohol.

Haar huisie staan met sy rug na aan ’n loodregte krans, die voet van ’n steil koppie. Dis ’n baie ou geboutjie, maar goed gerestoureer, nes die waenhuis langsaan, met ’n wasgoeddraad tussen hulle. ’n Groot watertenk is aan die geut van elk van die geboue gekoppel. Wanneer dit reën, lê sy na die druppels op die sinkdak en luister.

Die werf is ’n kaal stukkie aarde, omring van fynbos. Daar is ook ’n groot soetdoringboom wat Desembers oortrek staan met geurende geel poeierkwassies, en ’n vyeboom waarvan die bobbejane baie meer vrugte oes as sy. Die enigste aanplanting wat sy nodig geag het, was ’n ry laventelplante links en regs van die huis. Buite die agterdeur is ’n hoop hout en ’n dik stomp wat as kapblok dien.

Van die voordeur af loop ’n tuinpaadjie tot by die kleinhekkie, wat sy nie saam met die draadheining laat verwyder het nie. ’n Mens móét ’n tuinhekkie hê, want as húlle een gehad het, destyds, het haar pa nog gelewe.

Die Huisrivier skei haar van die dorp, dus is sy eintlik adresloos, en moes sy, mej. C. Amat, haar briewe maande lank poste restante ontvang, tot die poskantoor verplig was om kosteloos ’n posbus tot haar beskikking te stel. ’n Telefoon- en kraglyn wat buite sig van die huis agter bome oor die rivier gespan is, is die enigste teken dat sy tóg in verbinding met die res van die wêreld is.

Vyftien tree weg, half verskuil agter ’n groot spekbos, staan ’n kleinhuisie waaroor die munisipaliteit aanvanklik veel te sê gehad het. Sy het kennisgewing gekry van die raad dat sy ’n spoeltoilet moet installeer, waarop sy die stadsbeplanner laat weet het dat haar eiendom eintlik plaasgrond is waaroor die munisipaliteit nie ’n sê het nie, maar dat die raad dit met liefde kán hê as hulle wil, en dan sal sy saam met die ander belastingbetalers spoel as die raad na behore dienste op haar erf lewer. Geen soortgelyke aanmaning is weer aan haar bestel nie.

Die kleinhuisie is vir haar ’n plek van herinneringe, en sy hou van die rus en geborgenheid wat die beperkte ruimte haar bied: die skemerte daarbinne, die ligstraal wat laatmiddag deur die klawervormige gat in die deur skyn, die vet geitjie wat uit ’n hoek na haar sit en afkyk, die geroep van bottergatte en vinke en waterfiskale.

Snags, as daar nood is, gebruik sy die pot. Drinkwater kry sy uit die reëntenk; water vir bad en wasgoed en die natgooi van die paar plante wat aangewese is op háár, eerder as die goeie Vader se regstreekse versorging, dra sy uit die rivier aan. Ná die eerste behoorlike reën kan g’n voertuig deur die rivier kom nie en bly haar bakkie diékant van die rivier in die waenhuis. Dan bly sy tuis, of ryloop Oudtshoorn toe as sy in Bridgton by haar ma gaan kuier.

Maar nou, hoogsomer, is die driffie begaanbaar, en die lig bly draal tot vroegaand toe sag op die werf.

Anderkant die riviertjie kom ’n man aangedraf. Hy het die bene van ’n atleet.

“Stadig oor die klippe, Jaco,” sê Candice toe hy deur die driffie loop.

“Ek ruik jou al van dóér af – ene doppies-bar,” hyg hy met die naderkom.

“Dit lieg jy.”

Sonder om te groet maak hy die tuinhekkie oop, stap deur, maak dit agter hom toe en stap by haar verby. Hy vee sy voete aan die deurmatjie af, gaan die huis binne, kom met ’n kombuisstoel en ’n glas water uit. Hy haal ’n paar stukke ys langs die wynbottel uit, laat dit in sy glas plons en gaan sit.

Candice beduie na die bottel met die wit etiket waarop sy Muskiet se moer geskryf het.

“Selle resep?” vra hy.

“Jip.” Sy mik om die bottel vir hom aan te gee, maar hy hou sy hande afwerend voor hom.

“Nee, dankie. Laas toe ek dit gebruik het, het een deel van die gemeente vies windop van my gaan staan en die ander kwylend windaf. Lyk my nie almal is ewe erg oor die reuk van laventel nie.”

Candice glimlag.

Sy kyk na die sonsondergang, luister na die boompaddatjies in die riete, die stem van ’n janfrederik. Sy sit met haar eie gedagtes, maar is bewus van Jaco se teenwoordigheid, van die vredigheid wat dit bring. ’n Klompie hadidas vlieg oor die huis, doodstil, op pad na hul slaapplek êrens langs die rivier. “Ek het vandag ’n interessante vrou gesien,” sê sy oplaas. “Maar dalk is ontmóét nader aan die waarheid.”

“Nou het jy my nuuskierig.”

“Ek weet nie, dalk dink jy ek verbeel my. Ek weet nie eintlik mooi hoe en waar om te begin nie.”

Jaco kyk op sy horlosie en vlieg op. “Kyk hoe laat is dit, en ek het nog nie eens my rok aan nie! Jy sal my anderdag moet vertel.”

Sy lag. “Naand, vader,” sê sy. “Moenie vergeet om vir my te bid nie.”

Hy waai vir haar. “Jy sorg dat ek voortdurend op my knieë bly, my dogter.”

Sy wag tot hy by die hekkie uit is, deur die driffie en buite sig, voor sy onder die tafelblad in reik en ’n sigaret daar uithaal. Dié se punt is toegedraai om te verhinder dat die inhoud uitval. Sy steek dit met ’n brandende takkie uit die vuur aan en trek die rook diep in. Toe sy dit ná ’n rukkie uitblaas, meng die reuk van dagga met dié van die wildepruimvuur.

Sy leun terug in haar stoel en maak haar oë toe. Dit het heel goed gegaan vandag, dink sy. Nie wonderlik nie, maar sy het ’n geldjie verdien. Veel meer as dit begeer sy ook nie, net genoeg om te betaal vir haar rookgoed en wyn en kos en klere. En iets om vir haar oudag weg te sit. Haar blyplek en die lap grond waarop dit staan, dit het sy byna afbetaal.

Eintlik wou sy nooit ’n huis gehad het nie – eiendom neem besit van jou. Maar hierdie een het sy al begeer toe sy nog op skool was, en sy wou hom hê, sonder huurkontrak wat iemand die kans sou gee om die plek onder haar uit te verkoop en haar so te dwing om te trek.

Dit is nog iets wat sy nie kan verduur nie: om voorgesê te word. Kleintyd al. ’n Nuk wat sy by haar pa geërf het.

Sy suig weer aan die sigaret en wonder waarom dit haar meestal nie laat sweef of giggel of knabbel nie. Altyd net die beeld van haar pa buite die venster: Pappietjie op pad uit haar lewe uit, én sy eie.

Sy laat die rook stadig uit haar longe vry.

Vir die wyn het sy nie meer lus nie. Die vuur, nou reeds laag gebrand, gooi sy met die ysbak se water dood. Nadat sy die voordeur agter haar toegemaak het, skakel sy haar leeslamp aan, sagte lig wat haar vertroos as sy voel soos nou. Toe sy by die venster staan om na die halfdonker buite te kyk, sien sy vaagweg ook haar eie weerkaatsing in die glas.

Die verevrou

Подняться наверх