Читать книгу Die grammatika van liefhê - J.C. Steyn - Страница 6
II. HOËVELD
ОглавлениеOnverbiddelik
verbitter jy
my biddery
vanweë jou verbete droogtes,
my weerlose lydsaamheid
slag vir slag met elke opgedraaide mielieblaar
velde onvermurfbaar gaargebak, -gebraai, -gekook, verteer;
seisoen
op bitterlike seisoen kies my
jou verwerping: as ek baard moet kry en kop
raak ek verstoppel, geleidelik verstok
wanneer jy oop voor my lê en kaal
vries ongenaakbaar jou drif in die sloot
bloeityd ryp jy vrugteloos my dood
voor ek saadskiet, geel in die aar kom
kom jou stroper die soet hoop finaal
teen bid en dank in die modder hael
weer verweer jy my al weer ek my.
’n Donderdagmiddag met son verskyn
die jy van vanmelewe
fonteine ná landsreëns
blommende êrtappels (mooi outyds soos “jou kappie het my beet”)
geelwortels in natgeleide beddings;
jy ontroof ou wonde: rou, teer;
ontsmet gou! verhoed bloedvergiftiging met pekel.
Nee, jy’s ingeja
in my bloed onvermydelik in
in weerwil van myself/jouself
ingedryf onder my vel in: jy teer
in vel en been,
herkou ’n slag die harde bene,
slag maer af nog ’n slag maar
sout in, sny breed, brei my
Riemland my Riemland.