Читать книгу Kalmte in die malle gejaag - Johannes Bertus de Villiers - Страница 11
ОглавлениеTIENUUR DIE AAND van my eerste dag op retraîte het Rodney my voorgekeer waar ek na die voordeur mik om te ontsnap.
“En nou?” het hy gevra.
“Uhm,” het ek geantwoord. “Ek dink nie dit werk regtig vir my nie.”
Wat ek eintlik wou sê was: “Goeie donder! Ek dink ek raak mal.”
The Dharma Centre, Heila en Rodney Downey se plek, is ’n Victoriaanse gebou wat van buite net soos enige ander woonhuis in die straat lyk. Maar as jy eers binne is, kom jy gou agter hier is iets anders aan die gang. Omdat hulle albei onder ’n Koreaanse Zen-meester studeer het, is groot dele van die sentrum volgens temas uit die Verre Ooste ingeruim. Daar is ’n Zen-tuin van gruis wat mense af en toe stadig hark. Daar is ’n klein Japannese teehuisie (een van daai met die dun mure wat soos papier lyk) waar jy privaatgesprekke met ’n instrukteur kan hê oor hoe dit met jou meditasie gaan. En daar is ’n enorme groentetuin waar retraîte-gangers soms in stilte die spinasie, tamaties, beet en appelkose bewerk wat vir die gemeenskaplike etes aangeplant is.
Maar die belangrikste plek is ’n groot saal eenkant op die erf. In dié saal vind jy rye ronde swart pofkussings waarop mense aldag en heeldag sit en mediteer. Beginnende kort ná vyfuur soggens sit hulle ’n halfuur op ’n slag kruisbeen sonder om te roer. As jy al die halfure van stilsit bymekaar tel, beloop dit so tussen ses en sewe uur se meditasie per dag.
En selfs as jy nie in die meditasiesaal is nie, handhaaf almal op die retraîte ’n gees van diepe aandagtigheid. Die retraîte-gangers bestaan uit uiteenlopende mense – jong meisies wat na studente lyk, middeljarige mans wat waarskynlik by die huis tandartse of ouditeurs is, afgetredenes uit nabygeleë dorpies, en wat nog. Jy sal nie weet wat enige van dié mense se eintlike storie is nie, want almal loop met hul oë pal op die grond voor hulle en sê nie ’n woord nie. Kos word gemaak, badkamers word geskrop en keer op keer vind almal hul weg na die meditasiesaal sonder dat enigiemand iets sê.
“Kyk,” wou ek eintlik vir Rodney sê, “’n halfuur se meditasie elke Donderdagaand in Londen was oukei. Maar hierdie is ’n perd van ’n ander kleur. My knieë en bene is lam. Ek voel of die gedagtes in my kop beserk geraak het. Een oomblik wil ek almal om my vloek, die volgende oomblik wil ek aan die slaap raak. En boonop weet ek vir ’n feit my vriend Jan hou vanaand ’n partytjie langs die Eersterivier en as ek nou ry kan ek nog voor middernag daar wees wanneer die verrigtinge net begin opwarm.”
Maar mens is mos te ordentlik om reguit te praat, so al wat ek kon uitkry, was: “Dit werk nie so goed vir my nie.”
Terugskouend besef ek Rodney was wys. Hy het nie ’n drama van my ontsnappingspoging gemaak nie, net mooi verduidelik die pad tussen Robertson en Worcester is gevaarlik so laat op ’n Saterdagaand, so hoekom gaan slaap ek nie, druk die laaste paar ure deur en ry dan die volgende middag terug nie? So is ek maar terug na my matrassie op die solder waar ek tussen al die ander manlike retraîte-gangers geslaap het.
Toe ek die oggend wakker word, was ek effens kalmer en het ek besluit om tot ná middagete deur te druk om die retraîte enduit te sien.
Dit was op pad uit die volgende middag dat ek die eerste keer regtig met Heila gesels het. Sy is in ’n meer senior instrukteursposisie as Rodney gekwalifiseer en was die eintlike leier van die retraîtes, maar ek het nooit die kans gekry om met haar self te praat nie. Sy het naby die voordeur agter haar lessenaar gesit en toe ek verbystap, het sy met ’n vonkel in haar oog opgekyk. “Ek hoor jy het probeer wegloop.”
Ek vertel haar toe ek wil nog mediteer, maar ek is nie seker of dit die plek vir my is nie. Sy het gelag en gesê daar is ’n paar ander plekke in Kaapstad wat ek kon uittoets. En so is ek daar weg, vas oortuig dat ek die Downeys nooit weer sou sien nie.
Hoe kan mens dit verklaar? Drie maande later was ek weer voor hul deur om nog ’n retraîte te probeer. Vandag, 16 jaar later, is Heila Downey steeds my persoonlike instrukteur. En die eerste belangrike les wat sy my geleer het, het ek al in my eerste naweek by hulle opgetel: Meditasie is nie maklik nie.
EK WIL niemand afskrik nie. Maar ek weet wel baie mense pak meditasie deesdae aan in die hoop dat dit altyd lekker en ontspannend gaan wees. Dié wanopvatting word dikwels in sjampoe-advertensies en gesondheidstydskrifte versterk. Wanneer daar iewers ’n artikel oor meditasie verskyn, is daar gewoonlik ’n prentjie by van ’n sexy jong dame wat kruisbeen op ’n strand of ’n jetty sit, geklee in ’n swembroek of leotard, met ’n salige glimlag op haar gesig. Tik maar die woord meditation in Google Images in en jy sal sien wat ek bedoel.
Die werklikheid, daarenteen, is heeltemal anders. Meditasie behels dat jy lang tye roerloos sit, of jy lus is of nie. Jou lyf raak soms seer en jou gedagtes loop mal draaie met jou. Dit kan geweldig ongemaklik raak. Maar dit is juis as mens deur daardie ongemak bly sit dat meditasie jou help leer om iets moois in die mees onverwagte plekke te vind.
In Tibet is daar ’n legende oor ’n ou wyse man wie se studente hom gevra het om hulle die toppunt van sy wysheid te leer. Hulle was oortuig hy kan hulle iets van die geheime van die kosmos vertel, maar al wat hy gedoen het, was om te buk, sy kleed op te tel en sy agterwêreld vir hulle te wys. Sy geplooide boude was vol eelte van letterlik jare se sit op sy meditasiekussing. Sy boodskap was duidelik: As jy wys wil word, sit stil op jou alie en kyk wat gebeur.
Die tyd het nou aangebreek om prakties te raak. Hierdie en die volgende hoofstuk bevat dus aanwysings oor hoe om te mediteer. (As jy die raad mooi volg, gaan jy dit hopelik kan doen sonder om met eelte op jou boude op te eindig.) Ek weet maar te goed hoe mense boeke soos dié lees. Almal hou van die staaltjies en die interessante inligting oor breinwetenskappe, maar as dit by die paragrawe kom wat jou vra om ’n oefening te doen, slaan die meeste mense dit gewoonlik oor. Ek weet, want dis wat ek doen.
Tog wil ek opreg vra dat jy dit oorweeg om van die tegnieke op die proef te stel. Die geringste tikkie bewustelikheid in jou dag is waardevol, maar ’n meditasiepraktyk sit jou bewustelikheid op steroïede. Daar is geen beter manier om jou brein wakker en jou oë oop te maak nie. Ek het die laaste twee dekades baie wyse mense leer ken en loshande die meeste van hulle stem saam as jy bewustelikheid wil kweek, gaan jy een of ander tyd moet leer om te mediteer.
Daar is verskeie vorme van meditasie, ingesluit metodes waar jy eksotiese dinge visualiseer en snaakse ligte sien, maar dis nie die tipe meditasie wat ons gaan doen nie. As jy mediteer soos wat ek verduidelik, gaan jy nie van jou sitplek opstyg nie, jy gaan nie visioene sien nie en jy gaan nie spookstemme hoor nie. Jy gaan net leer om jou wonderlike lewe helderder waar te neem.
Een van die beste beskrywings wat ek al gehoor het van hoe bewustelikheidsmeditasie mens help, kom van Klasie Wessels, ’n Johannesburger wat in die veld van persoonlike en leierskapsontwikkeling werk. Hy vergelyk mens se raserige gedagtes met ’n wilde perd. Dit hardloop die wêreld vol en hoe meer jy dit onder beheer probeer bring, hoe wilder skop dit teë. Uiteindelik is daar twee fases in die proses om daai perd aan jou kant te kry. Eers moet jy hom kalmeer sodat jy sy leisels kan vashou. En tweedens, nadat jy die perd getem het, kan jy hom na bestemmings ry waar jy allerlei nuwe ervarings kan hê.
Ons gaan dus nou na ’n paar meditasietegnieke kyk waarmee jy die mal perd van jou gedagtes tot bedaring kan bring sodat jy sy leisels in jou hande kan neem. Dan sal ons in latere hoofstukke kyk hoe jy met daai perd na wonderlike nuwe plekke soos medelye, dankbaarheid, vrygewigheid en vrede kan reis.
Reg? Hier gaan ons.
Voordat jy gaan sit
Sommige mense kan sommer op ’n stoel of meditasiekussing neerplons en begin mediteer. Maar baie kan nie. Veral as jy iemand is wat baie in jou kop lewe of erg angstig is, raai ek jou aan om jou eerste meditasiesessie met sowat vyf dae uit te stel. Doen eers die volgende oefening een keer per dag, elke dag, voordat jy na die kussing skuif:
Gaan stap elke dag ’n entjie in jou buurt of iewers in die natuur. Dalk saam met die hond. Maar sonder enige mensegeselskap.
Miskien stap jy klaar elke dag. Hierdie is bietjie anders. Maak van jou wandeling ’n bewustelikheidsoefening. Kyk of jy jou gedagtes by die stap kan hou. ’n Goeie tegniek is om te kyk watter kleure jy kan sien. Jy kan selfs een kleur uitsonder – rooi werk gewoonlik goed. Terwyl jy ’n halfuur lank in stilte wandel, kyk met oop oë rond en let op waar jy oral rooi gewaar. Dalk ’n posbus, ’n motor se remlig, ’n blom, iemand se T-hemp, ’n padteken. As jou aandag dwaal, gaan jy iets mis. Bring dus jou aandag keer op keer terug na waarmee jy besig is. Moenie kwaad raak as jy sukkel om te konsentreer nie, dis bloot ’n oefening om jou bewus te maak van hoe gereeld jou aandag dwaal. As jy agterkom jou gedagtes is op hol, dan beteken dit die oefening werk. Geluk, jy mediteer.
Gebruik dié vyf dae om gewoond te raak daaraan om bietjie gehaltetyd saam met jou eie bewustelikheid deur te bring. Dalk wil jy dit sommer nou al gaan doen voordat jy verder lees.
Gaan sit
Die eerste ding wat jy nou moet doen, is om plat te gaan sit, stil te bly en nie te beweeg nie. Dit klink nie te erg nie, maar as jy dit kan regkry, is jy driekwart daar. Jy moet egter hou by die manier wat ek hier beskryf: Gaan sit op ’n kussing (of ’n stoel). Bly stil, selfs al pieng die foon om te sê daar is ’n boodskap. Moenie roer nie, selfs al voel jy krapperig of al raak jou voet aan die slaap of al is daar ’n jeukerigheid in jou linkerneusgat. Sit soos ’n berg. Kyk wat gebeur.
Daar is ’n mooi aanhaling van die skrywer Franz Kafka, wat dit nogal raak opsom: “Jy hoef nie die vertrek te verlaat nie. Sit net daar en luister. Of moenie eens luister nie, sit net daar en wag. Of moenie eens wag nie. Wees net stil en alleen. Uiteindelik gaan die wêreld hom vrylik aan jou bied. Dit het geen keuse nie. Dit gaan in ekstase aan jou voete kom baljaar.”
Die ekstase-deel gaan nie te gou gebeur nie. Ongerief en kriewelrigheid gaan eers by jou voete kom baljaar, maar kyk of jy in elk geval kan stilsit.
Deesdae is daar baie mense wat meditasie-onderrig gee en jou vertel die eerste prioriteit is om gemaklik te wees. Hulle praat dikwels in strelende, vertroostende stemme en sê dinge soos: “Wanneer jy ongemaklik begin raak, verander van posisie. Dis net wat in jou kop aangaan wat belangrik is.” My instrukteur is nie een van daai mense nie en ek ook nie. Die meeste van die geskuifel en gekrap en gerek en gestrek wat ons doen as ons moet stilsit, is maniere om ons aandag af te trek. Jy wil juis leer om aandag te gee, nie net wanneer dit lekker is nie, maar ook – veral ook – wanneer dit nie lekker is nie. Jy wil juis leer om die skoonheid in selfs die ongemaklike oomblikke te sien, en dit gaan nie gebeur as jy heeltyd vir ongemak weghardloop nie.
Heila se instrukteur, Seung Sahn, het ’n leuse gehad: “As jou lyf beweeg, beweeg jou kop.” Hy het ’n punt.
Prakties gesproke sou ek sê die meeste mense kan minstens ’n halfuur lank stilsit sonder om te roer. Maar moenie van die begin af so ambisieus wees nie. Probeer eers tien minute op ’n slag. As jy voel jy het dit onder die knie, kan jy dit tot vyftien minute strek. Gaan so aan totdat jy ’n halfuur lank kan stilsit. Jy kan probeer om dit selfs langer uit te rek, maar staan liewer ná 40 minute op sodat die bloed ’n bietjie in jou bene kan vloei. Min mense mediteer in elk geval aanvanklik langer as 30 minute.
Tweedens moet jy ’n geskikte plek oorweeg. Jy weet mos hoe dit voel as jy in ’n ou kerk of katedraal, of in ’n botaniese tuin, sit – die ruimte laat voel jou sommer dadelik rustig en oop. Neem dus in ag watter impak ’n plek op jou het. Moenie sommer net in jou deurmekaar bed regop sit nie. Oorweeg liewer iewers in die tuin of op die stoep. Party mense het ’n hoekie iewers in die huis wat hulle elke dag vir meditasie gebruik. As jy dit nie regtig kan mooimaak nie, kan jy minstens ’n foto van iets kosbaars of ’n blommetjie daar neersit wat jou herinner dat jy nou in ’n spesiale ruimte is. Sommige mense verkies ’n godsdienstige simbool.
Hoe moet jy sit?
Jy het dalk al prentjies van Oosterlinge gesien wat kruisbeen kiertsregop sit en mediteer. Dis baie nuttig as jy so kan sit, maar dikwels is dit vir Westerlinge moeilik omdat ons nie daaraan gewoond is om op die grond te sit nie. Jy mag dus op ’n stoel sit. Ek self sit op ’n lekker dik kussing op die vloer, maar dis nie verpligtend nie.
Twee dinge is belangrik. Jy moet regop sit om wakker te bly en jy moet stewig sit sodat jy nie omval nie.
Om regop te sit: Strek jou nek in die dak se rigting en moenie met jou rug teen iets leun nie. As jy op ’n stoel sit, skuif vorentoe op die sitplek sodat jou rug nie teen die leuning rus nie. Trek jou ken effentjies in na jou borskas toe om jou ruggraat te verleng, maar moenie moenie jou kop heeltemal vorentoe laat val nie. Jou kop moet steeds dak toe strek.
Om stabiel te bly: As jy plat op die grond wil sit, kruis jou bene sodat jy op meer as een plek op die grond geanker is. Sommige mense kan albei bene voor hulle vou en met die maermerries plat op die grond sit (die Birmese posisie) of met een been gebuig met die voet op die oorkanste binneboud (die halwe lotus). As dit jou nie beskore is nie, kan jy jou bene kruis soos met storietyd in die kindertuin. Lekker. Sit op ’n kussing sodat jou heupe effens gelig is en jy jou bobene kan oopmaak.
As jy op ’n stoel sit, behoort jy stewig te voel. As dit ’n baie hoë stoel is, kan jy ’n baksteen of dik boek onder elke voet sit as jy wil. Eksperimenteer en kyk in watter posisie jy ’n rukkie sal kan stilsit.
Hou jou oë oop. Dis nie slaaptyd nie, dis tyd om wakker te word. As jy jou oë toemaak, gaan jy te maklik begin droom. Onthou, ons mediteer om te leer hoe om aan die wêreld om ons aandag gee, nie om in te sluimer nie.
Hier is ’n goeie wenk wat ek by die meditasie-instrukteur Mervyn Croft van die Emoyeni-sentrum in Noordwes opgetel het: Voordat jy enigiets doen, sê eers vir jouself hallo. Jy het waarskynlik die hele dag rondgehardloop met jou gedagtes op ander plekke en was nie een oomblik vir jouself teenwoordig nie. Sit ’n oomblik, kyk wie dit is wat op jou meditasiestoel opgedaag het. Is dit ’n besige persoon, ’n haastige persoon, ’n rustige persoon, ’n kwaai persoon? Wie dit ook al is, groet daardie persoon vriendelik en moet hom of haar nie oordeel nie. Wees gaaf; dis die persoon in wie se geselskap jy die volgende halfuur gaan deurbring.
Rosyntjie-meditasie
McGregor is ’n Bolandse dorpie bekend vir sy appelkoosboorde. Hester van der Walt en Lies Hoogendoorn, twee dames wat ’n paar jaar gelede daar afgetree het, vertel hulle het onlangs gehoor van ’n sielkundige wat ’n agt weke lange kursus oor mindfulness daar kom aanbied het. Hulle het ingeskryf, want hulle maak al geruime tyd werk daarvan om ’n meditasiedissipline aan te kweek. Soggens sit hulle, met hul hond langs hulle, in die oggendsonnetjie op die stoep en mediteer. Hulle het gehoop die sielkundige, ’n Brit genaamd Rob Leipner, sou hulle meer kon leer.
Maar wat Rob toe in die eerste sessie doen, was heel anders as wat hulle verwag het. “Hy het elkeen van ons ons hand laat uitsteek en met ’n teelepel ’n objek in ons palm geplaas,” vertel Hester. “Niemand het geweet wat dit is nie. Ons kon dit net bekyk. Eers later kon ons dit met ons vingers verken. Almal het gewonder wat dit is.”
“Ek het gedink dis ’n stukkie hout,” voeg Lies by. “Maar toe raak ek daaraan en voel dis sag. Toe sê Rob ons kan dit in ons mond sit en met ons tong verken. Ons moes dit als vreeslik stadig doen. En toe sê hy ons kan dit middeldeur byt. En meteens trek die smaak deur jou mond!”
Hester val weer in: “Hy het ook gesê let op wat jou tong doen terwyl jy dit eet en kou. Jy let vir die eerste keer in jou lewe op hoe jou kos in jou mond beweeg. Jy raak bewus van ’n hele nuwe wêreld van dinge wat andersins outomaties gebeur.”
DIE EERSTE been van meditasie (om die wilde perd te tem) behels om te leer om jou aandag op een ding te fokus. In wese beteken dit jy kies om keer op keer jou aandag na dieselfde ding terug te bring wanneer dit dwaal. In die klassieke Indiese meditasie-handleiding, die Satipatthana-soetta, word ’n hele rits dinge voorgestel wat jy as fokuspunt kan gebruik vir jou aandag. Dit sluit in vuur, die kleure blou, geel of rooi; die dood, ’n lyk, ’n geraamte, vrede, eindelose ruimte en niks. Maar vir eers gaan ons nie so uitheems wees nie. Die eerste ding waarop ons gaan fokus, is ’n rosyntjie. Daai geplooide, gedroogde ou druiwekorreltjie waaraan niemand ooit veel aandag skenk nie, al tref jy dit hoe gereeld in nageregte, in beskuit en in Paasbolletjies aan.
Dit werk as volg: Gaan sit in jou meditasieposisie en onderneem om die volgende paar minute nie onnodig rond te skuif nie.
Vat nou ’n rosyntjie en sit dit op jou oop handpalm. Vat sommer baie tyd, ’n paar minute, en voel die rosyntjie soos dit daar op jou palm lê. Kan jy die gewig hoegenaamd voel? Is die vel waarop die rosyntjie rus meer sensitief as die res van jou hand? Kan jy iets omtrent die rosyntjie se tekstuur agterkom sonder om dit te beweeg?
Stap twee: Kyk nou van naderby na die rosyntjie. Moet dit nie op jou hand rondrol nie; laat dit net daar lê en kyk daarna asof dit die eerste rosyntjie is wat jy in jou lewe teëgekom het. Allerlei rimpels en klofies. Kan jy sien hoe dit kol-kol ligter of donkerder is? Kan jy die pitte sien? As jy dink jy het alles gesien, kyk weer van nog nader. Kyk daarna soos die mense na prof. Deikman se vaas gekyk het. Draai die rosyntjie ná ’n paar minute om en bekyk die ander kant op dieselfde manier.
Stap drie: Rol die rosyntjie nou liggies tussen jou vingerpunte rond. Hoe voel die tekstuur? Is dit ’n sagte of harde rosyntjie? Hoe voel die voue en ongelykhede op die rosyntjie se oppervlak? Doen dit ’n paar minute lank.
Nou kan jy die rosyntjie onder jou neus hou. Ruik daaraan. Hoe ruik ’n rosyntjie? Moenie te gou opgee en net sê jy ruik niks nie. Probeer weer. As jy werklik niks ruik nie, verken ’n oomblik hoe ruik niks.
Sit nou die rosyntjie in jou mond. Moenie dit kou nie. Laat dit net op jou ondertande rus. Wat gebeur? Jou mond gaan waarskynlik begin speeksel afskei. Dalk voel jy hoe die spiere in jou kaak saamtrek soos hulle hul voorberei om te kou. Dalk kom jy agter dat jy in jou gedagtes fantaseer oor hoe daai rosyntjie gaan smaak.
Nou: Nadat jy die rosyntjie sowat drie minute lank daar laat lê het, bring jou bokaak stadig af en byt deur die rosyntjie. Voel hoe skeur die vel. Voel hoe stroom die smaak deur jou mond. Voel hoe word die smaakkliere op verskillende plekke in jou mond geaktiveer: agter op jou tong, boaan die binnekant van jou kieste. Rol die stukkies rosyntjie stadig in jou mond rond en kou dit langsaam. Nes jy voel jy is reg om te sluk, stop, en kou dit verder, so stadig as jy kan.
Wanneer jy uiteindelik sluk, laat die rosyntjiestukkies stadig in jou keel af beweeg en voel hoe ver jy dit met jou aandag kan volg. Kan jy die rosyntjie nog voel as dit in jou maag land? Kan jy voel hoe die smaak nog lank nadat jy gesluk het in jou keel en mond draal? Dalk is daar nog ’n stukkie iewers tussen jou tande wat jy kan loswikkel, suig en sluk.
As jy dit als baie bewustelik doen, kan dit jou tot 15 minute neem.
Magtig, daai was nou ’n lekker rosyntjie.
Nou vra ek jou, hoe eet jy gewoonlik rosyntjies? Meestal terwyl jy rugby kyk. Die rosyntjies is met grondboontjies gemeng. Jy vat hulle so by die hand vol, gooi hulle in jou mond en sluk hulle af sonder om eers daaraan te dink. As daar soveel betowering in een rosyntjie opgesluit is, dink net wat jy alles mis as jy 50 rosyntjies afsluk sonder om aan een aandag te gee.
Besin ’n oomblik oor hoe bewustelikheid jou belewenis van ’n enkele rosyntjie heeltemal op sy kop gekeer het.
Bewustelikheid kan dieselfde met enige ander ervaring doen.