Читать книгу Kalmte in die malle gejaag - Johannes Bertus de Villiers - Страница 13
ОглавлениеNÁDAT EK ’n naweek lank by die Downeys gemediteer het, was ek effens dikbek dat dinge nie uitgewerk het soos ek wou nie, maar tog het ek nog nie heeltemal moed verloor nie – ek het steeds onthou hoe ek in Londen iets belewe het wat my meer teenwoordig in my eie lewe laat voel.
Dus het ek my kussing af en toe saans op die stoep uitgesleep en daar, heel snoesig toegewikkel in ’n poncho, gesit en mediteer. Mettertyd het dit meer draaglik geraak. Aanvanklik net 15 minute op ’n keer. Later het ek begin agterkom ek het ’n toleransie vir ’n bietjie pyn en ongerief, en ek het begin om 20 minute lank te sit. Nog later was dit 25 minute, en uiteindelik ’n halfuur.
Soos ek daar gesit het, het ek dinge begin hoor wat ek nooit voorheen in my die buurt opgemerk het nie. Byvoorbeeld hoe baie honde blaf, asof hulle mekaar oor die heinings heen geselskap hou. Dis daar wat ek die eerste keer agtergekom het dat daar patrone aan hul blaffery is. Hulle begin stadig en sit een-een stem by, en soms hou almal eensklaps gelyk op. Op daardie stil aande het ek ook begin sien hoe dieselfde gedagtes oor en oor in my kop opduik – “Wat as my buurman my nou sien?”, “Wat het D bedoel met daai kortaf stelling by die werk vandag?”, “Sjoe, ek rook te veel.” Ek het verstaan dat elkeen van dié gedagtes belangrik was, maar dit het nie vir my sin gemaak dat hulle oor en oor in my kop opduik lank nadat ek elkeen reeds 30 keer deurdink het nie. En hoekom was dit oorwegend dinge waaroor ek my bekommer eerder as dinge wat my gelukkig maak?
Ek was 25 jaar oud en het begin besef hoeveel van my eksistensiële angs deur die geraas in my kop veroorsaak word, en hoe moeilik dit is om beheer oor daai geraas te kry.
STAPPIES EN die rosyntjie-meditasie is uitstekende maniere om op te warm vir ’n formele meditasiedissipline, maar jy wil uiteindelik by die hart van die tradisie uitkom. Daarvoor is daar twee onontbeerlike tegnieke: asem-meditasie en stap-meditasie. Ek hoop dat jy, nadat jy dié boek gelees het, dit sal oorweeg om dié twee tegnieke deel van jou lewe te maak.
Asem-meditasie
As jy al ooit ’n bietjie meditasie geleer het, is die kanse nege uit tien dat dit asem-meditasie was. Dit is hoe meditasie sedert die vroegste eeue onderrig is, dis waarvan sielkundiges en neuroloë gewoonlik praat as hulle meditasie bespreek, dis wat jy gaan leer as jy saam met my en my instrukteurs op retraîte kom – en dit werk soos ’n bom.
Dis ook die eenvoudigste ding wat jy jou kan indink.
Elkeen van ons haal sowat 22 000 keer per dag asem. Al wat asem-meditasie behels, is om daarvan bewus te word. Dalk dink jy dat jy klaar van jou asemhaling bewus is. Maar is jy regtig? Was jou laaste asemhaling diep of vlak? Was dit lank of kort? Het jy tot in jou maag asemgehaal of net in jou longe? Het jy warm of koue lug ingeasem? Dié vrae laat jou waarskynlik nou meer aandag gee aan jou asemhaling, maar wat van ’n minuut gelede? Was jy toe hoegenaamd bewus daarvan?
Meditasie leer jou om dieselfde aandag na jou asemhaling te bring wat jy in die vorige oefening na die rosyntjie gebring het. Gebruik soveel sintuie as moontlik: Wat voel jy? Hoor jy? Ruik jy?
Gaan sit in jou meditasieposisie. Neem kennis van hoe jy voel en spreek met jouself af dat jy vir die volgende tien minute glad nie gaan beweeg nie. Dis regtig nie lank nie. Verskuif nou jou aandag na jou pens. (Dis die deel net onder jou naeltjie en word in Japannees jou hara genoem.) Kyk wat gebeur met daardie area wanneer jy asemhaal. Dit beweeg langsaam op en af, op en af. Kan jy jou aandag daar hou? Wat let jy op? Die spoed van jou asemhaling wissel. Soms is dit vinnig, soms stadig. Moenie die spoed probeer beheer nie, laat dit natuurlik gebeur. Neem net kennis.
Dit is nie ’n probleem as jy verkies om jou asem dop te hou soos dit by jou neusgate in en uit beweeg nie. Ek verkies my pens, maar dalk is jy ’n neus-mens.
Gaan nou oor na die volgende stap. Soos jy inasem en jou longe vol raak, tel geluidloos (in jou gedagtes) een. Laat die inaseming sy natuurlike verloop neem. Soos jy begin uitasem en jou longe leeg raak, tel twee. In: Drie. Uit: Vier. Hou so aan tot by tien. Kyk of jy die hele tyd jou aandag by jou asemhaling kan hou. As jy by vyf of ses kom en jou aandag begin dwaal, stop net daar en begin voor. Jy sal gou merk dat jou aandag dikwels dwaal. Sommige mense sukkel aanvanklik om drie te haal, maar dit maak nie saak nie. Daar wag nie ’n prys as jy tot by tien kom nie. Die tellery is net ’n manier om jou aandag by jou asemhaling te hou. Elke keer as dit dwaal, begin weer by een. Wanneer jy tien gehaal het (en dit gebeur nie sommer nie), begin weer by een. As jou aandag ’n duisend keer dwaal, bring jy dit ’n duisend keer terug na jou asemhaling toe. Dalk dwaal jou aandag na jou werk, of iemand wat met jou gestry het, of gisteraand se 7de Laan. Geen probleem. Keer net weer terug na een en gee aandag terwyl jy asemhaal.
MOENIE JOUSELF pak slae gee as jou aandag dwaal nie. Dis heeltemal normaal. Elke keer wanneer jou aandag dwaal, gee dit jou ’n wonderlike geleentheid om te oefen om dit terug te bring. Onthou jy neuroplastisiteit? Die deel van die brein wat jy so oefen, word sterker.
Boonop kan jy jouself op die skouer klop elke keer as jy hoegenaamd oplet dat jou gedagtes dwaal. Dit is klaar vordering op die pad na bewustelikheid. Dink net hoe dikwels in jou lewe jou gedagtes jou op sleeptou neem sonder dat jy dit eens besef.
Let op na die stemtoon waarmee jy jouself aanspreek as jou aandag afgedwaal het. Moenie soos ’n laerskoolonderwyser wees wat “Aandag!” skree nie. Wees vriendelik. Sê: “Haai, Johannes ou mater, jou aandag het gedwaal. Kom terug.” Onthou, jy is ook hier om te leer om vir jouself goed te wees. Daar is genoeg mense wat jou heeldag oordeel, jy hoef dit nie tydens meditasie ook nog aan jouself te doen nie.
Wat gaan jy in die proses leer? Jy gaan leer dat jou aandag baie meer dwaal as wat jy gedink het. Jy gaan ook sien dat baie van die gedagtes wat in jou kop opduik totale twak is, ’n gekla oor dinge wat lank verby is of ’n getob oor iets wat waarskynlik nie eens gaan gebeur nie. Een van my instrukteurs beskryf dié gedagtes as “jou brein wat poep”. Dis net ’n klomp nonsens wat afgeskei word en dit sal mal wees om daaraan vas te klou. Laat dit opduik, sien dit vir wat dit is en laat dit op ’n briesie wegwaai terwyl jy na jou asem terugkeer.
Stap-meditasie
Hierdie tipe meditasie het jy moontlik reeds gesien in een van daardie dokumentêre films van National Geographic waarin mense in Sri Lanka of Thailand stadig-stadig soos ’n trapsuutjie heen en weer drentel terwyl hulle stip na die grond voor hulle kyk.
Ook in ons kultuur stap mense op en af wanneer hulle angstig of op hul senuwees is. Baie tieners doen dit op hoërskool terwyl hulle die antwoorde op langvrae memoriseer. Dis asof ons instinktief weet dat heen en weer stap jou so ’n bietjie tot bedaring bring. Die probleem is egter dat ons dit gewoonlik vreeslik gejaag doen met ons skouers op ’n knop getrek. Stap-meditasie is daarenteen ’n manier om jou knaende gedagtes tot bedaring te bring en meer bewus te word.
As jy mooi kyk, sal jy sien elke tree bestaan uit vier aksies:
•Tel jou voet op.
•Beweeg jou voet vorentoe.
•Sit jou voet neer.
•Verplaas jou gewig van die agtervoet na die voorvoet.
Nes asemhaling is stap gewoonlik nie iets waaraan jy in die loop van die dag aandag gee nie. Maar wat sou gebeur as jy van elke deel van die aksie bewus raak? Doen dit so: Kies ’n stukkie grond van sowat tien meter lank. Gaan staan aan die een kant. Hou jou hande agter jou rug of voor jou vas. Jou arms moenie los swaai nie. Staan orent soos ’n soldaat en maak seker dat jou kop nie vooroor hang nie.
Lig dan jou regtervoet op en voel dit.
Beweeg die voet vorentoe en voel dit.
Sit die voet neer en voel dit.
Verskuif jou gewig van jou linker- na jou regtervoet.
Herhaal die proses met jou linkervoet.
Doen dit baie stadig. Dit is nie ’n resies nie. Neem so lank jy wil om die ander kant van jou looparea te bereik. Wanneer jy dit bereik, draai rustig om en stap terug. Heen en weer.
Jy kan aandag gee aan hoe die spiere in jou bene voel of hoe jou voetsole op die grond voel. Die belangrike ding is dat jy aanhou om jou aandag telkens na die stap-aksie terug te bring wanneer jou gedagtes dwaal. Skop jou skoene uit as jy kan. Dit werk beter as jy kaalvoet is omdat jou voetsole baie gevoelig is. Die Viëtnamese meditasiemeester Thich Nhat Hahn het ’n pragtige wenk vir stap-meditasie: “Loop asof jou voetsole die aarde soen.”
Wanneer jy begin om langer te mediteer, is stap-meditasie ’n nuttige tegniek. Op retraîtes wissel mense dikwels sit- en stap-meditasie met mekaar af.
Stap-meditasie word aanbeveel vir mense met baie besige koppe of wanneer jy so angstig, senuagtig of kwaad is dat jy net nie kan stilsit nie. Dis oukei, staan op en doen stap-meditasie. Dis ook iets wat jy bedags in die openbaar kan doen sonder dat mense dink jy is mal. Dalk by die werk tussen die kantoor en die waterverkoeler, of langs die krieketveld as jou kind ’n wedstryd speel, of in die inkopiesentrum.
IS DIT al? Ja, dit is.
Soos enige mediteerder jou kan sê, dit is die maklikste sowel as die moeilikste ding wat jy nog ooit gedoen het.
Een van my instrukteurs, Jennifer Woodhull, raai beginners aan om ’n kontrak met hulself te sluit. Moenie sê jy gaan vir die res van jou lewe elke dag mediteer nie, dis te intimiderend. Sê net jy gaan vir die volgende maand elke dag mediteer. Dis nie so intimiderend nie. Tien minute per dag vir een maand. Party dae gaan jy nie lus voel nie, maar as jy ’n kontrak het en jy weet jy kan ná die maand herbesin, sal jy makliker deurdruk. As jy die dag régtig, régtig gatvol is (miskien het jy die vorige aand net vier uur geslaap of jou kinders irriteer jou of die bure raas), gaan sit net vir 30 sekondes in jou meditasieposisie. Solank jou agterwêreld met jou meditasiesitplek kontak gemaak het, het jy nie die roetine verbreek nie en kan jy die volgende dag weer probeer.
’n Ander uitstekende idee is om soms by ’n meditasiegroep in te loer. Vir party mense is dit ’n onontbeerlike deel van die proses en hulle erken dat hulle sonder die ondersteuning van ander mediteerders geweldig gaan sukkel. Sonder ’n instrukteur en medereisigers sou ek nie ver gevorder het nie. (Agterin die boek is ’n lysie met groepe. Daar is deesdae ook baie kerke, insluitend NG- en ander hoofstroom-gemeentes, wat stiltedienste hou met ’n vorm van meditasie. Kyk wat werk vir jou.)
As jy op Sannieshof of Strydenburg woon, is daar waarskynlik nie ’n meditasiegroep in jou omgewing nie. Moenie moed verloor nie. Soek bietjie op die internet rond vir geesgenote waarmee jy kan gesels. Daar is baie gespreksforums en ondersteuningsgroepe op sosiale media. In hoofstuk 12 vertel ek van ’n WhatsApp-groep wat deur my vriend Garvey Dixon gelei word.
Hier is nog ’n paar wenke wat kan help.
•Stel ’n wekker om jou te laat weet wanneer jou meditasietyd verstreke is. Dan hoef jy nie pal na jou horlosie te loer nie.
•Stel jou foon op airplane mode. Jy gaan jou vrek sukkel om stil te sit as jy dit heeltyd hoor pieng. Ek sweer daai goed is ontwerp om jou van jou meditasiekussing weg te lok. Of skakel dit sommer net af.
•Prioritiseer. Sê byvoorbeeld: “Ek sal nie aandete eet/die TV aanskakel/begin werk voordat ek gemediteer het nie.”
•Party mense hou daarvan om ’n motiverende stukkie, soos ’n gedig of Bybelteks, te lees voordat hulle begin. Ek doen dit nie, maar van my vriende meen dit verdiep hul meditasie baie.
•Hou jou brein gesond. Eet minder suiker; hoë bloeddruk is sleg vir jou grysstof. Vermy kos waarvoor jy allergies is; konstante inflammasie maak amok tot aan die binnekant van jou skedel. Oorweeg ’n vitamienaanvulling. Die brein hou spesifiek van omega-3-vetsure, yster en vitamien B.
Die klein jakkalsies
As jy tot hier gelees het en nog nie probeer mediteer het nie, wil ek jou aanmoedig om dit nou te doen. Ek gaan vorentoe gesels oor hindernisse en struikelblokke en dit sal meer sin maak as jy dit al self teëgekom het.
Wanneer mense ná hul eerste meditasiesessie hul oë oopmaak, is die eerste ding wat hulle sê dikwels ’n half verbaasde, half teleurgestelde: “Maar daar het dan niks gebeur nie.”
Dis natuurlik nie waar nie – daar het baie gebeur. Daar was heelwat aktiwiteit om hulle, in hul liggame en in hul koppe. Wat hulle eintlik bedoel is dat niks “bonatuurlik” gebeur het nie. Hulle het nie gevoel of hul gees hul liggaam verlaat of dat alles wit word, die heelal soos Een voel of alle stres uit hul liggame wegsmelt nie.
Dis verstommend hoe diep die gedagte in ons onderbewussyn ingeprent is dat meditasie jou in die een of ander gewysigde bewussynstoestand moet plaas. Vandag nog is daar mense wat meen meditasie “maak jou oop vir geeste” of gee jou bonatuurlike ervarings. Helaas moet ek daai borrel bars. Ek mediteer al jare lank en het tientalle, selfs honderde, mediteerders leer ken wat saam dekades se meditasie-ure agter die rug het. Ek het nog nie een gesien wat deur ’n gees oorgeneem is of in die lug opgestyg het nie. Dit werk nie so nie.
Meditasie is die normaalste ding op aarde. Dit maak jou bewus van hoe jou normale gedagtes werk, hoe dit voel om in jou normale lyf en in jou normale omstandighede tuis te kom. Dit help jou sien dat al hierdie normale dinge vol skoonheid is as jy net weet hoe om dit raak te sien. Hou op om ’n vuurwerkvertoning te verwag.
Sommige mense kla soms dat meditasie hulle aanvanklik ’n bietjie meer gestres maak. Hulle voel angstig as hulle na die geraas in hul koppe en hul asemhaling kyk. Die antwoord vir dié mense is nie ’n maklike een nie, maar laat ek eerlik wees: Op die kort termyn kan meditasie inderdaad stresvol wees. Dit maak jou bewus van allerlei dinge wat jy nie voorheen opgelet het nie, allerlei probleme in jou denkpatrone en in jou lewe. Maar om daarvan bewus te raak, stel jou in staat om iets daaromtrent te doen.
Op die lang termyn laat meditasie wel jou stres afneem. Breinstudies bevestig dat langtermynmediteerders die vermoë ontwikkel om hul breingolfpatrone van die gebruiklike alfa- of beta-golwe na veel stadiger theta- of delta-golwe om te skakel. Bewustelikheid maak dus jou stres minder, maar nie dadelik nie.
As jy intussen werklik iets aan jou stres wil doen, kan jy ’n paar dinge aan jou leefstyl verander. Drink byvoorbeeld minder koffie. Dis verstommend hoe baie mense kla oor stres, maar dan pomp hulle hul liggame heeldag vol kafeïen. Wat verwag hulle?
AS DIT enige troos is, jy is nie die eerste persoon wat sukkel om te mediteer nie. Meer as twee millennia gelede is daar in Indië handleidings opgestel met raad vir spesifieke hindernisse. Hulle het vyf uitgesonder: begeertes, afkeer, luiheid, kriewelrigheid en twyfel. Kom ons kyk vinnig na elk van dié vyf voordat ek vertel watter kure werk die beste vir my en die mediteerders wat ek ken:
1.Begeertes
Moenie jou meditasie laat bederf deur jou begeerte oor hoe dit moet wees nie. Daar is artikels en boeke oor mediteerders wat allerlei hemelse ervarings het; hulle kry ’n warm gevoel in hul hart en raak bomenslik gelukkig. So ’n ervaring kan baie lekker wees, maar is ook ’n groot slagyster, want dit veroorsaak dat jy met jou volgende meditasie gaan probeer om daardie gevoel te herhaal. Dan gaan jy al die ander ervarings miskyk wat wel in jou lewe opduik.
My eerste naweek by die Downeys in Robertson is effens in die wiele gery omdat ek verwag het om weer die betowerende oomblikke te beleef wat ek in Bethnal Green in Londen ervaar het. Die gevolg was dat ek die hele naweek van my eerste retraîte spyt en geïrriteerd was. Die doel met meditasie is juis om wat ook al in die oomblik gebeur bewustelik te beleef, nie om dit teen die een of ander verwagting op te weeg nie.
2.Afkeer
Net so is daar ook dinge in meditasie wat mens kan afskrik. Dis dikwels ongemaklik. Dis dikwels vervelig. Vir my was die truuk om dié “slegte” ervarings as deel van die meditasie self te sien eerder as dinge wat in die meditasie se pad staan. In die volgende hoofstuk sê ek meer hieroor.
3.Luiheid
Ek ken nie ’n enkele mediteerder wat nie soms tydens meditasie aan die slaap raak nie. Dis niks lekker nie, veral as jy regop sit, want soms tiep jy vooroor en skrik met ’n ruk wakker.
In die ou dae in Japan was daar op meditasie-retraîtes ouens wat met stokke tussen die mediteerders rondgeloop het en wanneer hulle gesien het iemand is op die punt daarvan om in te dommel, het hulle hom hard met die stok oor die skouerblaaie geslaan. Die Japannese het ook die volgende raad vir jong mediteerders gegee: As jy bang is jy raak aan die slaap, gaan mediteer op die rand van ’n diep afgrond. Kyk of jy dan nog slaperig voel.
Deesdae neem ons nie meer sulke drastiese stappe nie. Hier is ’n veel eenvoudiger wenk: As jy altyd tydens meditasie vaak voel, is dit waarskynlik jou liggaam se manier om vir jou te sê jy slaap nie genoeg nie. So kry meer nagrus. Duh! Dis goed vir jou immuunstelsel, jou bloeddruk, jou breinfunksionering en jou geestesgesondheid. En jy gaan beter mediteer.
Maar ek besef ook dit is soms ontmoontlik. Jou baba huil heelnag. Of jou baas stel onmoontlike eise. Of jy het ’n sosiale naglewe wat vir jou belangrik is. Oukei. Werk dan met wat jy het. Hier is ’n paar maniere om te keer dat jy tydens meditasie aan die slaap raak.
•Mediteer voor ete. Ná ete is mens altyd ’n uur of twee lank goed lomerig. Op ’n honger maag bly jy makliker skerp.
•Sit in ’n goed beligte vertrek. Baie mense dink dis romanties om in die donker by kerslig te mediteer. Hulle is reg. Maar dit maak jou vaak. As jy weet jy is moeg, skakel die daklig aan.
•Was jou gesig met ’n nat waslap.
•Doen stap-meditasie.
Soms voel jy so lui en gatvol dat jy ’n dag of twee meditasie wil oorslaan. Druk eerder deur en mediteer nogtans elke dag, al is dit net vir 30 sekondes. As jy werklik nie kon nie of nie kans gesien het nie en ’n dag oorgeslaan het, wees gaaf en vergewe jouself. Probeer die volgende dag weer. Maar as jy twee weke lank nie gemediteer het nie, moet jy strenger met jouself wees. Dis ’n fyn lyn, maar as jy jouself op ’n dag betrap dat jy nooit meer mediteer nie, dan weet jy dat jy jou aan die verkeerde kant van die lyn bevind.
4.Kriewelrigheid
Party mense sit daar op hul meditasiekussing en wens die tyd om sodat hulle belangriker dinge kan gaan doen. Nee, nee, nee. Mens mediteer nie so nie. Sê vir jouself jou meditasie is op daardie oomblik die belangrikste ding in die wêreld. Verbeel jou 30 minute lank dis belangriker as wêreldvrede of die uitwissing van hongersnood. Ek is ernstig. Kyk of jy net vir daardie tydjie jouself kan flous en dit glo. Verbeel jou jy sink in jou meditasie in soos ’n klip wat deur die water afsak tot op die rivierbodem. Daar lê jy onder die woelende strome. Doodstil. Op pad na absoluut nêrens.
Dis nie net jou gedagtes wat kriewelrig raak nie. Mens se liggaam kan tydens meditasie eienaardig reageer. Party mense se ooglid begin spring. Ander begin onbeheersd kwyl. Ander se maag knor verskriklik. Moenie jou te veel daaroor kwel nie, die meeste van ons gaan daardeur. Dis net nog iets waarvan jy bewus kan wees. Dit waai oor sodra jy ophou om jou daaroor te verknies. (In party Asiese lande gaan baie ou mans kliphard aan die poep terwyl hulle mediteer. Gelukkig het ek dit nog nooit onder Suid-Afrikaanse mediteerders teëgekom nie.)