Читать книгу Kalmte in die malle gejaag - Johannes Bertus de Villiers - Страница 9

Оглавление

DIS ’N SONDAGOGGEND in die vroeë 1960’s. Die distrik Lich­t­enburg in die destydse Wes-Transvaal. Die Van Schalkwyks se plaas. Pa het sy das aan, ma haar deftige klere vir die oggend­d­iens in die Hervormde Kerk. Boet en sus mik al in die motor se rigting. Maar dan merk iemand op klein Johann is nog nie daar nie.

Dis niks ongewoon nie; dit gebeur elke Sondagoggend en die Van Schalkwyks weet al waar om hom te soek. Soos baie families destyds het hulle ’n deftige sitkamer gehad waar omtrent niemand ooit gekom het nie, buiten wanneer die predikant op huisbesoek was. Dit was ’n amper heilige ruimte met ’n dik tapyt, swaar gordyne en familieportrette. En daar lê Johann elke Sondagoggend voor kerk, salig op sy rug op die mat, sy oë toe. Besig om sy “kop skoon te maak”.

“My familie het al geweet waar om na my te kom soek. Hulle het seker gewonder wat de hel gaan aan,” lag Johann nou, meer as 50 jaar later, as hy daaraan terugdink.

Mens kry deesdae allerlei plekke waar hulle jou derduisende rande gaan vra vir ’n kursus om jou bewustelikheid en meditasie te leer. Van die kursusse is baie goed. Maar jy hoef nie regtig ’n sent uit te gee om wakker te word nie. Vra maar vir Johann.

As jy in die laaste drie dekades of langer tussen Suid-Afrika se meditasiepioniers beweeg het, lank voordat dié dinge wyd onder sielkundiges aandag begin trek het, is die kans goed dat jou paaie iewers met Johann s’n sou gekruis het. Deesdae werk hy as ’n boekhouer in Johannesburg, maar in die negentigerjare het hy in ’n stadium by dieselfde retraîte-sentrum in die Drakensberge ingewoon waar Heila en Rodney Downey op meditasie verlief geraak het. Hy het ná 2000 ’n sentrum naby Mooinooi in Noordwes op die been help bring, en by dié sentrums het hy oor die jare tientalle mense geleer hoe om bewustelikheid met behulp van meditasie te kweek. Maar self het Johann die wonder van bewustelikheid besef lank voordat hy sy voete in enige meditasiesentrum gesit het.

“Meditasie is iets wat ek gedoen het vandat ek ’n kannetjie was,” vertel hy my onlangs. “Ek het elke Sondag voor kerk in die sitkamer op ’n mat gaan lê en die gedagtes in my kop afgesluit. Die Vader weet waar ek daaraan gekom het, maar ek het dit elke week gedoen.”

Iets aan dié gewoonte het ’n sterk indruk op hom gemaak, sodanig dat hy dit dadelik herken het toe hy jare later as Tukkie-student in ’n tydskrif ’n artikel oor meditasie gelees het. “Ek het dit weer begin doen. Dit het net reg gevoel. Ek weet nie hoekom ek soveel aanklank daarby gevind het nie. Dalk omdat ek maar altyd so ’n rustige ou was.”

Oor die jare het hy talle formele vorme van meditasie aan­geleer, maar die een tegniek waarna hy gereeld terugkeer, is die een wat hy self as jong knapie ontdek het. “Ek maak net my gedagtes skoon van die stories wat ons onsself vertel. Daar is geen opspraakwekkende, heldersiende oomblikke nie. Soms doen ek dit terwyl ek op die bed lê. Of selfs in die bad.”

Op die ouderdom van 62 oefen hy nou al meer as ’n halfeeu om by die geraas in sy kop verby te lewe. En as jy met hom gesels moet jy toegee, hy is een van daardie mense wie se rustigheid jou meteens erg bewus maak van hoe onnodig dol en gejaagd die res van die lewe om jou is. As jy hom uitvra oor die impak van jare se bewustelikheidspraktyke op sy lewe, sê hy dieselfde dinge wat jy by baie ervare mediteerders hoor – hoe hy minder by onnodige stryery betrokke raak, nie so maklik geïrriteerd raak nie, meer deernis vir ander mense voel.

Hy glimlag. “Party mense vra: ‘Is daar enigiets waaroor jy worry?’ Dan sê ek: ‘Hmn, nie veel nie.’”

TWINTIG JAAR terug was daar in Suid-Afrika net ’n paar mediteerders wat jou sou kon sê wat die woord mindfulness beteken. Deesdae kan jy dit nie vermy nie. Feitlik elke selfhelp- en selfverwesenlikingsprogram het een of ander element daarvan. Sielkundiges se oë vonkel as hulle daaroor gesels. Daar was al artikels daaroor in als vanaf Time en The New York Times tot Huisgenoot en Die Burger. Op winkelrakke sien jy boeke oor mindfulness en stres, mindful maniere om jou kinders groot te maak, mindfulness vir sportlui, mindfulness as hulpmiddel teen ver­slawing, selfs mindful verslankingsdiëte.

Dit kom ’n lang pad aan. Meer as 2 500 jaar voordat dit die Weste op hol geneem het, is meditasie en bewustelikheids­praktyke in antieke Indië tot ’n kuns verfyn. Ek is altyd effens benoud om antieke Indië in ’n gesprek soos hierdie te noem, want ek weet dit maak sommige mense skrik. Vir hulle wil ek hier uit die diepte van my hart die versekering gee: Niemand gaan van jou verwag om by ’n Oosterse geloof aan te sluit, spikkels op jou voorkop te verf of op ’n spykerbed te slaap as jy meditasie en bewustelikheid begin verken nie. Die Indiërs was bloot die eerste mense wat noukeurig rekord gehou het van hul ondersoeke na wat binne-in hul koppe aangaan. Sedertdien is soortgelyke ondersoeke op allerlei maniere in ander wêrelddele en kulture gedoen – en soos die verhaal van Johann van Schalkwyk wys, kan selfs ’n Her­vormde seuntjie in die Mielie­driehoek dit op eie stoom doen.

Die destydse Indiërs het hierdie verkenning van hul gedag­tewêreld en aandagvermoëns joga genoem. In die moderne Weste dink ons aan joga as ’n stel baie gesonde bewegings en posisies wat mens in ’n oefenateljee doen, maar vir die antieke jogi’s het dit iets anders beteken. Een van die bekendstes onder hulle was ’n man genaamd Patanjali, wat ’n teks genaamd die Joga-soetras geskryf het. Die naam beteken eintlik maar net “die Joga-geskrif” en dit begin met die volgende woorde: “Kom ons bestudeer nou joga. Joga is wanneer die lawaai in jou gedagtes tot bedaring kom. As jy dan kyk, sal jy die werklikheid sien.”

Soos jy sal merk, is daar niks vreeslik volksvreemd of omstrede aan wat hy daar sê nie. Hy herhaal maar net wat ons in die vorige hoofstuk gesien het. Daar is ’n geraas in jou kop en as jy dit sou stilmaak, sal jy die regte wêreld om jou helderder waar­neem. Maar Patanjali voeg ook iets by. Hy sê daar is ’n metode om die blaffende honde in jou kop stil te maak. Hy noem dié tegniek joga en volgens hom behels dit om stil op jou bas te sit en kyk of jy kan agterkom hoe die geraas in jou kop werk. Geen strekoefeninge nodig nie.

Eeue later het Christenmonnike in die Weste met soortgelyke tegnieke vorendag gekom en dit “kontemplatiewe gebed” noem. Toe sielkundiges in Amerika so 40 jaar gelede begin om die Indiese tegnieke van destyds op te diep en in te span, het hulle dit die naam mindfulness gegee. In Afrikaans stry mense nog oor wat die mees gepaste vertaling is. Voorstelle wissel van “aandagtigheid” tot “bedagsaamheid” en is nie een vreeslik inspirerend nie. Die maklikste term is eintlik sommer net “bewustelikheid”, en ek gaan dit vorentoe meestal gebruik. Die woord maak nie regtig saak nie. Die sleutelelement waaroor almal saamstem is dit: As jy aandag gee aan jou gedagtes en die wêreld om jou, kan dit jou saai en stresvolle wêreld behoorlik omtower.

AS JOGI’S en monnike te hippierig vir jou smaak klink, is daar goeie nuus. Ook breinwetenskaplikes het die laaste paar dekades met toenemende entoesiasme die uitwerking van volgehoue aandag op mense se brein en gemoed bestudeer.

Dis nie iets waarvan mens naastenby genoeg in koerante lees nie, maar die breinwetenskappe is in die onlangse verlede deur ’n omwenteling. Nie te lank gelede nie het mense nog geglo die brein is ’n orgaan wat aanhou ontwikkel totdat mens iewers in jou laat tienerjare of vroeë twintigerjare volwassenheid bereik, waarna dit ophou groei. Ja, jy kan op 30 of 40 nog klein veranderinkies in jou brein aanbring, soos wanneer jy nuwe herinneringe vorm, maar die regtig belangrike goed, jou persoonlikheid, jou talente en jou geluksvlakke, word om en by 25 vasgegiet en gaan nie sommer weer verander nie. As jy dus ’n beneukte vrou of ’n droefgeestige man is, moet jy maar vrede maak daarmee, want dis die persoonlikheid waarmee jy eendag gaan sterf.

Tipies van die eksperimente wat dié opvattings oor die brein versterk het, was een deur die navorsers Philip Brickman en Dan Coates van Northwestern University in Amerika in die 1970’s. Hulle het twee groepe geneem: ’n groep mense wat kort vantevore die plaaslike staatslotery (met wenbedrae van tot $1 miljoen) gewen het, en ’n groep wat kort vantevore die gebruik van hul bene in ’n ongeluk verloor het. Die navorsers het vraelyste en onderhoude gebruik om albei groepe se geluksvlakke te meet en, soos jy kan verwag, was die loterywenners in die wolke terwyl die nuwe parapleë erg neerslagtig was.

Maar dit was nie waar die studie geëindig het nie. Minder as ses maande later het Brickman en Coates weer almal se geluksvlakke gemeet en tot hul verstomming agtergekom almal is omtrent net so gelukkig soos hulle was voordat hulle die lotery gewen of in die ongeluk was. Die vreugde van ’n lotery-boerpot en die hartseer daarvan om verlam te wees, waai blykbaar verbasend vinnig oor. Brickman en Coates se gevolgtrekking was dat elke mens ’n “standaardvlak van geluk” het waarna jy telkens terugkeer, ongeag wat gebeur.

Dis amper soos ’n selfregulerende termometer wat homself telkens aanpas om weer by dieselfde temperatuur op te eindig. As jy na geluk neig, is dit die gemoedstoestand waarna jy altyd gaan terugkeer. As jou brein na swartgalligheid neig, dan is dit iets waarmee jy maar moet leer saamleef. Ons weet uit eie ervaring daar is mense wat blymoedig is ondanks wat met hulle gebeur en ander wat net nooit ophou mor nie. Onthou daardie frase, dit gaan nou-nou weer belangrik raak: jou “standaardvlak van geluk”.

Die uitstekende nuus is dat dié verstaan van die brein die laaste jare nogal op sy kop gekeer is. Dalk het jy al die woord “neuroplastisiteit” gehoor. Dink aan “neuro”, wat brein beteken, en “plastisiteit”, wat so bietjie klink na iets wat gerek, gestrek en gebuig kan word. Die jongste navorsing toon ons breine het ’n merkwaardige vermoë om tot op ons oudag te verander en allerlei nuwe vermoëns aan te leer. As jy een deel van jou brein gereeld oefen, raak dit soos ’n spier al sterker en kan jy later al meer nuwe dinge daarmee doen. Die sielkundige Donald Hebb het ’n slagspreuk vir neuroplastisiteit uitgedink wat mens deesdae wyd teëkom: “Neurons that fire together, wire together.”

Een van die bekendste voorbeelde van dié verskynsel is Londen se taxibestuurders. As jy al ooit in die Britse hoofstad was, sal jy weet daar ry oral sulke effens outydse pikswart taxi’s rond. As jy in een klim, kan jy maar enige straat of buurt in daardie enorme stad noem en die taxibestuurder ry reguit soontoe. Dikwels sonder ’n GPS. Om as ’n taxibestuurder in Londen te registreer, moet jy ’n volle 25 000 strate uit jou kop ken en 20 000 landmerke kan vind. Toe navorsers die breine van Londense taxibestuurders bestudeer het, het hulle gesien daardie deel van die brein wat mens help om rigting te vind, is baie meer ontwikkel as by die res van ons. Nes ’n spier wat mens dikwels in die gim oefen, het die deel van hul breine wat hulle baie gebruik, aangehou en aangehou ontwikkel.

Soortgelyke toetse het getoon dat die deel van die brein wat jou linkervingers beheer by violiste buitengewoon sterk ontwikkel is. Studies van blinde en dowe mense toon dat hul breine hulself ingrypend aanpas om op te maak vir die funksies wat hulle verloor het.

Jy kan jou brein voorstel as ’n lappie grond iewers in die Bosveld. As ’n paar bokke en vlakvarke elke dag met dieselfde roete na die watergat loop, trap hulle mettertyd ’n paadjie uit. As hulle dié paadjie genoeg kere uitgetrap het, gaan dit ander diere nader lok wat dieselfde paadjie gaan gebruik omdat daar nou minder gras en doringbosse is wat weerstand bied. Dié diere gaan op hul beurt die paadjie nog dieper uittrap. En kort voor lank gaan daar ’n supersnelweg deur die Bosveld lê. Die brein werk net so – dink dieselfde tipe gedagtes oor en oor, en die roete waarlangs daai gedagtes in jou brein loop, word al dieper en dieper uitgetrap totdat gedagtes baie makliker daarlangs kan vloei en dit mettertyd ’n gewoonte of selfs ’n gevestigde deel van jou persoonlikheid raak.

Nou ja, dalk wonder jy wat dit als met meditasie en bewustelikheid te doen het. Kortliks, ’n paar jaar gelede het die neurowetenskaplike Richard Davidson van die Universiteit van Wisconsin-Madison in die VSA besluit om ’n klomp Boeddhistiese monnike, wat almal al meer as 10 000 uur se meditasie agter die blad het, na sy laboratorium te nooi sodat hy hul breine kon bestudeer. Davidson het hulle meditasie- en aandagoefeninge laat doen terwyl hy hul breine met behulp van FMRI- en EEG-masjiene ontleed het. Sy gevolgtrekking? Omdat dié ouens oor jare heen so baie gemediteer het, is hul prefrontale korteks (wat positiewe emosies soos vreugde, altruïsme en tevredenheid reguleer) heelwat versterk. Daar was ook minder aktiwiteit in die dele wat stres en aggressie aanvuur. Trouens, in die brein van een monnik, ’n Fransman genaamd Matthieu Ricard, wat al 25 jaar lank gemediteer het, was die gammagolwe (wat op diepe ontspanning dui) die sterkste wat nog ooit aangeteken was. Die media het hom amptelik die “gelukkigste man op aarde” genoem.

Dit bring ons terug by daardie “standaardvlak van geluk” waaroor ek ’n paar paragrawe vroeër geskryf het. Davidson en ander se werk het bewys mens het inderdaad so ’n standaardvlak, maar dat jy met jare se meditasie en bewustelikheid jou brein kan aanpas om daardie standaardvlak te skuif sodat jy die vermoë kan ontwikkel om op die lang termyn volhoubaar geluk­­kiger te wees.

Dink net watter enorme ontdekking dit is: Soos ’n voël takkies gebruik om nes te bou, kan jy meditasie gebruik om ’n brein te bou wat jy wil hê; een wat die vermoë het om volhoubaar gelukkiger te wees en minder stres te ervaar.

Hoe doen mens dit? Die antwoord is bewustelikheid en meditasie.

NÁ DIE EERSTE meditasie-aand in Bethnal Green, Londen, het ek ’n punt daarvan gemaak om elke week daar te gaan mediteer. Elke byeenkoms het bestaan uit twee korterige meditasiesessies, ’n koppie pepermenttee en ’n koekie. Ek en die ander mediteerders het nie juis met mekaar gesels nie, en ek het dit so verkies. Ek kon ’n slag bietjie stilte en alleenheid geniet. Ek het soms tydens die sessies onverklaarbaar treurig begin voel, en as ek ná die tyd op die rooi dubbeldoorbus huis toe gery het, was daar dikwels ’n knop in my keel terwyl ek deur die venster gekyk het na al die mense wat op die sypaadjie soos miere heen en weer skarrel. Ek het seker diep in my hart begin besef ek gaan moet terugkeer na Suid-Afrika, ’n werk kry en ’n grootmenslewe begin.

Hierdie is nie ’n boek met kitsantwoorde nie. Meditasie het nie oornag my probleme opgelos nie. Toe ek so ses maande later terug is na Suid-Afrika, was ek steeds ’n dronkie sonder rigting. Ek het vir my ’n werk in Kaapstad gekry, ’n sosiale lewe in die stad probeer aanknoop en in ’n kothuis in Stellenbosch ingetrek. Maar iewers in my agterkop het ek bly terugdink aan Donder­dagaande in Bethnal Green.

Ek het ’n vriendin van my meditasie-ervarings vertel en sy het my vertel daar is ’n plek in Robertson waar die mense meditasie en bewustelikheid onderrig. Hoekom gaan loer ek nie daar in en hoor wat hulle alles doen nie?

Die volgende keer dat ek dus deur Robertson, ’n dorp sowat twee uur van Kaapstad, gery het, het ek stilgehou voor die huis waarvan sy my vertel het. Daar was ’n man met grys hare besig om iets in sy motor se kattebak te laai. Ek het nader gestaan en myself voorgestel.

Hy was Rodney Downey. Die eens suksesvolle maatskap­py­direkteur en sy vrou, Heila, het ’n paar jaar vantevore op Robertson, ook bekend as “die dorp van wyn en rose”, kom aftree. Ná jare se studie onder ’n Koreaanse Zen-meester genaamd Seung Sahn, het hulle besluit om hul voltyds aan die studie en onderrig van meditasie en bewustelikheid te wy. Ek het verwag Rodney sou my net iets vertel oor hul klastye en dan weer koebaai sê, maar hy het my ingenooi en die saal gewys waar hulle mediteer.

“Kan ek nie een of ander tyd saam kom mediteer nie?” het ek gevra.

“Ja,” was sy antwoord. “Hoekom kom doen jy nie sommer volgende naweek saam die stilte-retraîte nie?”

En toe bespreek ek vir my ’n plek.

Kalmte in die malle gejaag

Подняться наверх