Читать книгу Kalmte in die malle gejaag - Johannes Bertus de Villiers - Страница 5

INLEIDING

Оглавление

EEN VAN my vroegste herinneringe is van ’n wintersoggend byna 40 jaar gelede toe ek as ’n seuntjie op die vloer van ons woonkamer in Beaufort-Wes gespeel het. Ek was so twee of drie jaar oud, en soos enige herinnering uit daardie vroeë jare, is hierdie een effens deurmekaar. Ek kan nie heeltemal sê hoeveel daarvan waar is en hoeveel ek oor die jare bygedroom het nie. Maar een ding waaroor ek seker is, is dat dit ’n wintersoggend was. Die sonlig het met sagte, goue strale deur die venster op die mat geval soos dit net vroeg op ’n wintersoggend doen. En oral in die dik staaf lig wat van die venster tot by die vloer gehang het, het honderde stof­spikkeltjies gesweef wat soos goudstof geblink het.

As mens so klein is en alles in die wêreld is nuut, kan jy jou mos ure lank aan ’n kat verkyk, of aan die patrone op ’n houtdeur, of aan die simmetrie van ’n gehekelde tafeldoek. Ek onthou dat ek daardie dag heeltemal gefassineer was deur die ontelbare goue spikkeltjies wat in die helder lig by die venster rondgesweef het. Van die veerligte stofkorreltjies het op die lugstrome in die vertrek stadig grond toe gedaal, terwyl ander weer opgesweef het in die dak se rigting.

“Mamma, wat is daai?” het ek vir my ma geroep, en omdat sy waarskynlik besig was om te stryk of Huisgenoot te lees, het sy nie te veel aandag gegee nie; sy het gedink ek vra wat is die lig wat by die venster inskyn. “Dis sonstraaltjies,” het sy geantwoord.

Jare lank daarna was ek dus oortuig “sonstraaltjies” is die naam van die goue spikkeltjies wat vroeg soggens in die lug by vensters draal. Omdat ek al die woord “sonstraal” iewers in ’n liedjie by die Kinderkrans gehoor het, het dit vir my een of ander geestelike konnotasie gehad, en ek het begin vermoed die stof­spikkeltjies is iets hemels, soos mikroskopiese engeltjies wat op wintersoggende deur ons venster daal om in ons woonkamer te kom kuier. In die Kinderbybel was daar ’n prentjie van Jakob wat met sy kop op ’n klip slaap terwyl ’n breë goue leer bokant hom na die hemel strek en skitterende engele daarlangs op en af klim. Dit het my laat dink aan die spikkeltjies wat so in hul goue baan op en af tussen die hemel en ons woonkamer reis.

Later het ek opgelet mens kom hulle oral teë. By Ouma en Oupa se huis in die Paarl kon jy soggens sonstraaltjies voor die hoë sonkamervenster met ’n uitsig op die agterplaas en die perskeboord sien. Op die mat by die speelskool, as jou aandag tydens storietyd dwaal en jy in die venster se rigting loer, was hulle daar. Jy kon omtrent nie wegkom van die piepklein engeltjies wat in hul honderde deur al wat ’n venster is val en rondom jou kom speel nie.

Ek weet nie wanneer ek opgehou het om na dié klein wonder­werkies op te let nie. Iewers het ek seker uit ander mense se gesprekke afgelei die woord “sonstraal” verwys eintlik na die stroom warm lig wat van die son af aarde toe skyn. Die goue engeltjies is eintlik stof wat op die mat beland het sedert daar laas gestofsuig is en wat so klein is dat hulle deur lugstrome opgeskep word en voor die venster rondsweef. Nie naastenby so interessant soos engeltjies nie.

As iemand my vandag sou vra of daar nog steeds op winters­oggende goue spikkeltjies voor vensters rondsweef, weet ek nie. Ek het jare laas die moeite gedoen om te kyk. Ek beweeg meestal in huise rond waar die vloere geteël of gelamineer is, en in daardie huise word alle potensiële engeltjies elke week met ’n mop en One Step uit die weg geruim.

Ek wens ek kon beter onthou hoe dit gevoel het om drie jaar oud te wees. Om elke oggend in jou bed orent te sit en met ’n bonsende hart te wonder wat gaan vandag gebeur wat ek nog nooit voorheen beleef het nie? Dalk wag daar engeltjies in die woonkamer of dalk wag daar ’n spook agter die kas. Deesdae raak jy meestal wakker van ’n wekker se geskree. Jy is dankbaar as jy een oomblik van stilte in jou gemoed kan beleef voordat gedagtes oor die dag se skedule jou kop binnestroom. Jy steier na die stort, knyp jou oë dig toe sodat die sjampoe hulle nie brand nie, vloek as jy besef jy het gister vergeet om suiker te koop en gaan nie vandag die granola kan eet wat jy die afgelope vyf jaar elke oggend eet nie, en haas jou na ’n werk wat, selfs al is dit hoe lekker, nie heeltemal so lekker is soos wat dit sou wees om langer te slaap nie.

En as daar iewers in jou huis ’n ligkolom vol dansende hemelwesentjies tussen die gordyne deurval, het jy jare – selfs dekades – laas op pad na die deur stilgestaan om daaraan aandag te gee.

EK WAS al in my laat dertigs toe my vriend John my gehelp het om weer dié liggies raak te sien. John was ’n Amerikaner van geboorte. As jong man het hy ’n graad in evolusionêre biologie behaal en toe by ’n projek aangesluit wat jong gegradueerdes na ander dele van die wêreld stuur om welsynswerk te doen. John en sy verloofde, Sonya, het albei na Zimbabwe gekom. Nadat hy ’n jaar of wat vir kinders in landelike skole natuurwetenskappe geleer het, is die twee weer terug na Amerika, waar hulle die knoop deurgehak, twee seuns gekry en in die stad Philadelphia nesgeskop het.

Enigeen wat al so bietjie geleef het, sal jou kan vertel ’n lewe wat uitwaarts perfek lyk, kan nogtans na ’n effense teleurstelling voel. Teen sy vroeë dertigs het John als behaal wat mens van ’n jong kêrel kan vra. ’n Sjarmante professionele vrou met twee gesonde seuns. ’n Werk by ’n spoggerige en peperduur privaatskool waar hy sy eie biologielaboratorium kon bedryf en klas kon gee in ’n vak waaroor hy geesdriftig was. En tog het iets geknaag. Sy vrou het begin kla hy fokus te veel op sy werk en skeep sy gesin af. Sy werksprojekte het so baie en oorweldigend geraak dat hulle hom al minder vreugde gegee het. Hy het gedurig sy jong seuns gekritiseer – “Jy weet mos jy kan beter doen, hoekom neem jy altyd so lank?”

Kortom, hy het al sy doelwitte bereik, maar daar was nie meer baie magic in sy lewe nie.

Ten minste het sy baas nie gekla nie. John het lang ure gewerk en was ’n ambisieuse onderwyser wat gedurig nuwe klasuit­stappies en spesiale projekte vir sy leerlinge uitgedink het. Elke lente is John na ’n ander deel van die land om ’n plek in die ongerepte natuur te gaan soek waarheen hy sy leerlinge die daaropvolgende somer vir ’n opvoedkundige uitstappie kon neem. Soos die keer sowat tien jaar gelede toe hy na die deelstaat Nieu-Mexiko is om ’n plek vir daardie jaar se kamp te soek. As toegewing aan druk van Sonya en die kinders dat hulle meer van hom wil sien, het John sy jongste seun, Julian, saamgeneem – hulle sou mekaar in die natuur bietjie beter kon leer ken.

Ons het nie in Suid-Afrika plekke soos Nieu-Mexiko nie, maar probeer jou dit voorstel. Die vlaktes lyk baie soos die Karoo, dor, stowwerig en vol vetplante, maar in van die berge is daar woude vol hoë, welige bome. In die winter, en selfs in die vroeë lente toe John en Julian daar aangekom het, is dié bergwoude toe onder ’n sneeukombers. Hy het sy seun in ’n stewige viertrekvoertuig gelaai en hulle het vroeg een oggend koers gekies in een van dié berge se sneeubedekte klowe op. Jy moet jou storie ken as jy op die sneeu wil bestuur; jou motor kan maklik gly of vasval. Maar John was verantwoordelik. So ver hy gery het, het hy seker gemaak hy sien oral ’n stel motorspore, ’n bewys dat minstens een voertuig kort vantevore dieselfde pad gebruik het. Dieper en dieper die berg in. Wat kon moontlik verkeerd gaan?

Nadat hy so ’n uur of wat al met die kloof langs die berg in gery het, het hy begin vermoed die sneeu raak selfs vir hul viertrek­voertuig te diep. Hulle sou binnekort moes terugdraai. Hy het vir Julian, wat maar pas vyf geword het, vertel hulle gaan aanhou ry totdat hulle op ’n plek kom waar die smal bergpaadjie wyer raak sodat hy kan omdraai sonder om van die pad af te ry. Maar die kilometers het verbygerol en die pad het nêrens wyer geraak nie. “Dit lyk nou miskien bietjie eienaardig,” het John uiteindelik vir Julian gesê, “maar ek dink nie ons gaan kan omdraai nie. Ek gaan net hier stilhou, die voertuig in trurat sit en dan gaan ons agteruit ry tot by ’n plek waar ons kan omswaai.” Hy het rem getrap, die hefboom geskuif, sy voet op die petrolpedaal getrap – en toe gebeur die ding wat John se perfekte lewe tot ’n einde sou bring. Die agterwiele draai, maar die voertuig beweeg nie.

Hy het uitgeklim, agterom die voertuig geloop en met ’n sinkende hart besef wat gebeur het. Terwyl hy gedink het hulle ry op vlak sneeu, was hulle al etlike kilometers ver op ’n dun lagie ys wat yl oor sneeu van minstens een meter diep gelê het. Die vroegoggendson het die ys gaandeweg sag laat word. Toe John agteruit probeer ry het, het sy wiele deur die ys gebreek. Hoe meer die wiele gedraai het, hoe dieper het hulle vasgeval.

Ek kan jou een ding oor John vertel: Hy was ’n ou wat altyd aan ’n praktiese oplossing probeer dink het voordat hy moed verloor het. Hy is die woud in om hout en klippe bymekaar te maak wat hy onder die motor se wiele gepak het om hulle traksie te gee. Maar met elke draai, het die wiele dieper gesink. Teen laatmiddag was hy papnat van die sweet. Sy hande was vol snye. En hy was heeltemal ontwater. (Hulle het geen water saam­geneem nie omdat hy gemeen het hulle sal binne ’n uur of twee terug wees – en om sneeu te drink is nie ’n opsie nie, dit ontwater jou net verder.) Die son het nog nie eens begin sak nie toe die temperatuur begin tuimel. Minus 26 grade Celsius.

Daar sit John en klein Julian toe die nag in hul voertuig in die donker sneeubedekte woud. Geen selfoonsein. Niemand wat weet waarheen hulle is nie. Geen ekstra klere buiten die kortbroeke, hemde en baadjies wat hulle vir die dagrit gepak het nie. John het elke uur die enjin so tien minute lank aangeskakel sodat hulle weer warm kon raak. Die batterylesing het al laer gedaal.

Toe die son die volgende oggend opkom, het Julian begin opgooi. John was so ontwater dat hy floutes gekry het. Hy het uit die motor gestrompel en die woorde SOS op die sneeu naby hul motor gepak. Maar die bome was dig en dit was onwaarskynlik dat iemand dit uit die lug sou sien.

Wat kon hulle doen? Hulle was seker so 30 of 40 kilometer van die naaste bewoonde gebied. Kon hy Julian optel en soontoe loop? Nee, hy sou waarskynlik ná 10 kilometer omkap en in die sneeu verkluim.

John het besef hy het geen beheer meer oor die situasie nie. Wat sou gebeur as hy bewussyn verloor? Sou Julian met sy kort beentjies gelyk die voertuig kon aanskakel en die petrolpedaal kon trap? Hoogs onwaarskynlik. Hy het briewe vir Sonya en sy ander seun, Haydn, geskryf, en kort daarna gevoel in sy hande verloor.

En toe was dit weer nag. John was so ontwater en so koud dat hy begin hallusineer het. Ligte in die woud. Geluide van ’n vliegtuig in die lug bokant hulle. Hy het gewonder of die vliegtuig se passassiers op daardie oomblik vis en bief bedien word, salig onbewus van die twee mense wat onder hulle sterf.

Toe die son weer opkom, het John besef hul laaste dag het aangebreek. Hy het gewag vir ’n oomblik toe hulle albei redelik helder was en na Julian gedraai. Ja, dit is moeilik, het hy vir sy seuntjie gesê, maar dit is ook ’n troos dat ons saam is en mekaar deur die moeilike einde van ons lewens kan bystaan. Julian het geknik, dit was onmoontlik om te sê of hy nog enigiets kon verstaan.

En toe het John sy oë gesluit om te sterf.

EK HET John Gruber eintlik eers ’n paar jaar ná dié voorval ontmoet.

Ek was op daardie stadium – en is steeds – ’n groot aanhanger van ’n Zen-meester genaamd Jules Shuzen Harris. Shuzen is ’n swart Amerikaner wat besluit het hy wil sy Afrika-wortels verken en het in 2008 Kaap toe gevlieg om hier ’n paar lesings en ’n retraîte (soos inwonende meditasiekursusse bekend staan) aan te bied. Ek het behoort aan die organisasie wat Shuzen in Suid-Afrika onthaal het, en so kry ek toe die voorreg om drie dae lank vir ’n Zen-meester chauffeur te speel. Wat ’n koddige karakter. Hy was ’n bejaarde omie met ’n grys baard wat in sy vrye tyd Japannese swaardkuns bestudeer het. Wanneer hy lesings aangebied het en mense hom tydens vraetyd oor die een en ander pols, het hy enigmatiese antwoorde gegee wat hulle meer verwar as ingelig het. Een persoon wou ná ’n praatjie weet wat is die sin van die lewe. “Jy is te slim om te verstaan,” was Shuzen se antwoord. ’n Ander ou het hom gevra hoe dit moontlik is dat hy gelyk die vreedsame kuns van meditasie én iets so gewelddadig soos swaardkuns kon beoefen. “Ek is ’n ou omie,” het Shuzen gesê. “Ek is te oud om mense te moer, nou moet ek hulle maar steek.” Elke keer ná so antwoord het hy geduldig vir die volgende vraag gesit en wag asof hy heeltemal tevrede was dat hy die mense na wense geantwoord het. Ek was mal oor hom.

Ek het met Shuzen en van sy studente in kontak gebly, en toe ek so vyf jaar later New York besoek het, het ek vir hom geskryf en gevra of ek hom in sy tuisstad, Philadelphia, kon besoek. En wil jy nou meer, dit blyk toe Shuzen hou oor daardie selfde tydperk ’n meditasie-retraîte in ’n tehuis vir Katolieke nonne en ek kan my by hulle kom aansluit. En so is ek Philadelphia toe. By die retraîte aangekom, het ek gehoor ek deel ’n kamer met ’n maer blonde man genaamd John. Shuzen het gedink ons sou goed oor die weg kom omdat ek van Suid-Afrika was en John ’n paar jaar in Zimbabwe gewoon het.

Amerikaners is vreeslike ekstroverte. Jy het hulle pas ontmoet of hulle noem jou “vriend” en nooi jou om by hulle aan huis te kom kuier. Hulle gesels dat die spoeg spat. Elke keer as jy jou mond oopmaak om vir hulle iets te vertel, rek hulle hul oë en sê “wow!” asof jy die interessantste ou is wat hulle ooit ontmoet het. John was selfs meer so as ander Amerikaners. Hy het gedurig geborrel, kon nie ophou om te vertel hoe bly hy is om my te ontmoet nie en het aan my lippe gehang as ek sy vrae oor my huis en werk beantwoord. Ons Suid-Afrikaners is effens meer sinies. En tog kon ek nie anders nie – John se sjarme en lewenslus het my omgeboul.

Ná net twee dae was ek spyt om hom te groet.

Toe ek terug was in Suid-Afrika het ons gekorrespondeer. Hy het my vertel van ’n gesin in Zimbabwe wat hy finansieel bystaan en my hulp gevra om ’n skootrekenaar by hulle uit te kry. Hy het my ook genooi om by hom en sy gesin te kom oorbly as ek ooit weer Amerika besoek.

EN SO, ’n jaar later, toe ek weer oorvlieg om onder meer by Shuzen oor meditasie te gaan leer, beland ek tas in die hand voor John en Sonya se deur in Lansdowne, ’n boomryke voorstad van Philadelphia. John het sy werk ’n dag lank net so laat staan en met my in die stad rondgery – eers na sy skool om my ’n klomp historiese brandglasvensters te wys, toe na ’n botaniese tuin. Om met John tussen ’n klomp inheemse plante van die Amerikaanse noordooste rond te loop, is ’n ervaring wat jou kop laat draai; hy pluk elke nou en dan ’n blaar of blom nader en verduidelik presies waar dié plant in die ekosisteem inpas. Of hy hoor ’n geluid van iewers, so sag dat niemand anders se oor dit kan optel nie, en laat jou ’n paar oomblikke stilstaan en – wraggies – daar kom een of ander Noord-Amerikaanse knaagdier uit die bosse voor julle geskarrel.

Dis toe ons die aand op John se voorstoep sit, dat hy my vertel het van die dag toe hy en Julian in die sneeu in Nieu-Mexiko vasgesit het. Hy het reeds van die lewe en alles wat hy ken afskeid geneem, het hy my vertel, toe hy wakker word van ’n soekgeselskap se klop aan die voertuigruit. Dit het hom ’n paar oomblikke geneem om te besef hy is nie dood nie.

Hulle was altesame 40 uur vasgekeer.

“Ek het lank aan post-traumatiese stres gely,” vertel hy. “As ek my oë toegemaak het, was ek agter die stuurwiel, in die sneeu. Ek het ’n onbeheerste vrees gehad dat ek van ’n droom gaan ontwaak en besef ons sit nog in daai berg vas, ons sterf steeds in die wildernis. Ek kon nêrens meer ry sonder om die kattebak vol water en proviand te prop nie.

“Ek het ook besef ek skuld die lewe iets groots. Elke uur van elke dag wat ek sedertdien leef, was ’n geskenk wat ek nie verdien het nie. Ons is almal net tydelik hier op aarde, ons almal weet ons gaan doodgaan, maar daar is min dinge wat jou so wakker skud soos om van aangesig tot aangesig te kom met die wete dat jy álles gaan verloor wat vir jou waardevol is.”

Om ons het dit skemer geraak. “Hierdie oomblik – wat ’n geskenk!” het John gesê in ’n stem wat vonkel. “Wat het ek gedoen om dit te verdien?”

Hy wou nooit weer soos ’n slaapwandelaar deur sy lewe beweeg nie. Hy het ’n meditasie-instrukteur gesoek en op Shuzen afgekom. Shuzen se raad aan hom: “Leer om elke dag stil te sit, gee aandag aan die wêreld rondom jou en jy sal stadig leer om weer van die wonderwerk van die lewe bewus te wees. En gaandeweg het dié instruksies my gehelp om my oë oop te hou. Om volkome lewendig te wees.

“Dis regtig goed vir my gesin. Dit was nie vir hulle goed om te lewe saam met iemand wat heeltyd krities was nie. Hoe kon ek hulle ooit gevra het om dinge anders te doen? Hulle ís hul manier van dinge doen. En ek is vir hulle lief. Wat maak dit saak as hulle dinge anders as ek doen?”

Party van sy leerlinge kom soms na hom vir lewensraad, het hy vertel. “Meneer Gruber,” sê hulle dan, “jy is die gelukkigste mens wat ons ken. Hoe kan ons so gelukkig soos jy wees?”

“Gelukkig is ’n vreemde woord,” antwoord hy dan. “Ek sou myself eerder as dankbaar beskryf.” En soms voeg hy by: “Het jy dit al oorweeg om te leer mediteer?”

Dit was donker op sy stoep. Rondom die groot boom in die tuin het iets begin beweeg. Klein goedjies wat soos Krismisliggies aan en af flikker, het al om die boom gedraai in ’n wolk wat al hel­derder gloei. “Wat op dees aarde?” het ek gevra.

“Kom kyk,” het John gesê en soontoe gestap.

Dit was die eerste keer dat ek Nieu-Engeland-vuurvliegies in lewende lywe sien. Klein gedroggies soos torre, maar met fosfor­spatsels op hul lyfies wat soos engelliggies gloei.

Sonstraaltjies in die donker.

EK WAS terug in Suid-Afrika toe John vir my ’n lang brief skryf.

“Liewe vriend en broer, hierdie lewe wat vir ons gegee is, is so waardevol, selfs meer as wat ons in ons wildste verbeelding kan raai. Dis baie onwaarskynlik dat ons in die eerste plek hier op aarde is, dat ons elke oggend kan wakker word, kan inasem, ons voete op die grond kan plaas, die wind in die boomtakke kan sien. Elkeen van dié oomblikke is bitter aangrypend, selfs al is dit alledaags.”

Hoe doen mens dit? Hoe maak jy soos John jou oë oop sodat jy opnuut die wonder van jou lewe raaksien?

Dalk is jy – jy wat nou hierdie boek lees – bewus daarvan dat jy ’n hoogs onwaarskynlike wonderwerk is. Dat jy bestaan omdat die heelal 14 biljoen jaar gelede ontplof het in die magtigste knal wat nog ooit gehoor is, so hard dat dit nou nog regdeur die ruimte weerklink; dat jou selle en bene en hare aanmekaar gesit is van atome wat gevorm is in die hart van sterre wat der miljoene jare gelede al ophou bestaan het; dat elke asemteug wat jou longe binnestroom ’n proses binne jou lyf aan die gang sit wat so kompleks is dat al die wetenskap in die wêreld dit nie kan nadoen nie.

Maar is jy ook bewus van die wonderwerk in die alledaagse dinge wat jy al begin miskyk het? Die stof wat jy soms op jou matte opskop? Die goggas in jou tuin? Die lyne op jou vriende en kollegas se gesigte? Die opregte bedoelings in jou brose hart?

Die meeste van ons weet dat daar opwindende dinge in die buitenste ruimte gebeur, maar het al vergeet hoe om die wonder van ons alledaagse lewe raak te sien. Dink byvoorbeeld aan iets soos ’n vaas – daai ou porselein- of glashouers wat in jou ma se sitkamer staan en wat mens gebruik om blomme in te sit. ’n Vaas is maar ’n saai ding. Al wat dit interessant maak, is die blomme wat mens daarin sit. Daarsonder gaan dit terug kas toe want dit beteken nie veel nie.

In die sestigs het ’n Amerikaanse sielkundige genaamd Arthur Deikman ’n studie gedoen waar hy mense aangesê het om ’n halfuur lank met hul volle aandag na ’n blou vaas te staar. As jou gedagtes dwaal, het hy vir die deelnemers gesê, bring dit weer terug na die vaas. Ná so twee minute gaan jy voel jy het nou regtig alles gesien wat daar aan die vaas te sien is. Kyk dan met selfs meer aandag of jy nog iets kan opmerk. As jy ná tien minute mal van verveling wil raak, kyk selfs nader. Let op na elke kraak en spikkel en kol. Kyk na die vaas asof dit die belangrikste ding op aarde is.

Die resultaat was insiggewend. Ná ’n halfuur het mense liries oor die vaas begin gesels. Hulle het gesê dit voel asof die vaas ’n lewe van sy eie het, asof die vorm en patrone verander as mens lank genoeg daarna kyk. Hulle was nie een op dwelms nie en hulle was nie tot hallusinasies geneig nie. Hulle het bloot geleer dat aandag enigiets in ’n wonder kan omskep.

Deikman het sy bevindings as volg opgesom: Soos wat ons deur die lewe gaan, raak ons al meer gewoond aan die dinge om ons en gee ons nie regtig meer daaraan aandag nie. Dit geld vir vase, dit geld vir jou huweliksmaat, dit geld vir als. Jy dink ná ’n ruk jy het als gesien wat daar aan hulle te siene is, jy verstaan die lewe en jy sluit jou af vir die moontlikheid dat dit iets nuuts kan oplewer wat jou gaan verras. Ons gee ons aandag eerder aan die “belangriker gedagtes” wat heeldag deur ons kop maal. Die lewe buite ons koppe raak saai en vervelig.

Maar ons kan daai verveling op sy kop keer. Ons moet net leer om aandag te gee.

DALK HET jy al die Engelse woord mindfulness gehoor. Dis deesdae ’n gonswoord in die populêre sielkunde. Almal van dieetkundiges tot sake-ghoeroes belowe dat jy jou lewe met dié tegniek kan verander. Toe ek 18 jaar gelede die eerste keer begin mediteer het (die tegniek waarmee mens vir jouself mindfulness of “bewustelikheid” leer), was dit nie iets waaroor jy te veel kon praat nie. Mense sou dink jy het een of ander klap weg. Maar dis een van die opwindendste en mees belowende verwikkelings van die nuwe millennium dat mindfulness oor die afgelope twee dekades veld gewen het in die hoofstroomsielkunde, in opvoedkunde, in teologie, in die sakewêreld, in boeke en in flieks. Wetenskaplikes en breinkenners het die effek daarvan al aan die wêreld se toplaboratoriums bestudeer en die waarde daarvan word aan die voorste universiteite onderrig. Ek het oor die jare die voorreg gehad om met tientalle wyse mense oor hul reis met meditasie en bewustelikheid te praat en saam met hulle te mediteer – sielkundiges en dokters, dominees en Boeddhiste, huisvroue en sakeleiers, hippies en professore. Hulle het my toe­gelaat om saam met hulle te leer en hopelik klink ek nie te dweperig nie as ek sê dat dit my verander het van ’n redelik tok­siese, onbedagsame, afgestompte mens na iemand wat deesdae sy bes doen om minder skade aan te rig en saggies oor ons brose planeet te beweeg.

Rare goed gebeur as jy dié reis aanpak. Jy stap eendag deur die parkeerterrein by jou werk en meteens moet jy ’n oomblik stilstaan, die skoonheid rondom jou is so oorweldigend, die vreugde wat asof van nêrens in jou bors opwel, maak jou byna duiselig. Of jy staan langs die sterfbed van ’n geliefde en jy kan elke oomblik van die rouste hartseer met ’n oop hart vashou, jy kan die brandgevoel van trane in jou oë waardeer vir die warm bewys van liefde wat dit is. Jy begin al meer besef al gebeur wat ook al, al loop alles eendag skeef, diep onder die oppervlak is die wêreld verstommend mooi en sag.

Hierdie boek is ’n poging om van daai wysheid te deel. Ek is ongelukkig nie self ’n wyse meester nie, so ek gaan meestal ander mense se stories en wenke oorvertel. Tussendeur sal ek ook deel wat ek uit my eie foute geleer het. Moet dit asseblief nie as iets prekerig beskou nie; ek het erge voete van klei. Hierdie boek is ’n brief van een bedremmelde soeker aan ander bedremmeldes. Ons almal wil ’n bietjie helderder lewe. Ons almal wil uit ons sluimering ontwaak.

En dit kan gedoen word.

Kalmte in die malle gejaag

Подняться наверх