Читать книгу Hond se gedagte - Kerneels Breytenbach - Страница 23

3.

Оглавление

Krystle en Jaap eet ontbyt saam met Kumalo op hul stoep. Die groot glasvensters en die ondervloerse verhitting hou die winter buite. Die vensters self is digitaal geaktiveer en vertoon ’n oggendtoneel langs die see, die satellietvoer deur Corpus Christi gefasiliteer, sodat die Schvantz-egpaar die rustigheid van die ongerepte natuur ten noorde van Ballito kan indrink, hulle selfs verbeel hulle hoor hoe die branders breek en die see klots.

In Maurice se hart woed ’n storm. Hy is beangs en gee nie om dat Jaap en Krystle hom in hierdie toestand sien nie. Vandaar sy irritasie met die kalmte waarmee albei hom oor hul muesli en jogurt betrag.

“Kan mens niemand vertrou nie?!” Maurice gooi sy servet langs sy koppie koffie neer. “Jissis.”

“Nou nie ’n woord wat ons in hierdie omgewing uit plek uit gebruik soos jy nie, Maurice.” Dit lyk of Krystle wil glimlag, maar sy kry haarself nie sover nie. Sy hou haar hande besig deur die koffiekoppie ligweg te streel, ingedagte, asof sy die skouer van ’n minnaar onder haar vingerpunte voel.

“Woorde! Wat maak dit saak. Daai twee slette gaan ons nog baie probleme verskaf!”

“Hulle kan nie meer praat nie.”

Krystle het al vroegoggend vir Schvantz op hoogte gebring met die stand van sake. ’n Noodwendige gevolg van ’n vertrouensbreuk tussen hulle en hul oppasser. Sy het so min as moontlik vir Schvantz gesê ná sy die oggend vroeg ’n oproep ontvang het. Hy hoef nie alles te weet nie.

Kumalo ook nie. Krystle hou haar kaarte dig teen haar bors.

“Wie het besluit om van die plan af te wyk?” Maurice is in sy gedagtes besig om inligting te versamel. Hy antisipeer baie vrae van die media. “Ek dag hulle sou nou in ’n vliegtuig op pad terug na Buenos Aires wees.”

“Dit was nie ’n besluit nie,” sê Jaap Schvantz, eintlik ’n preweling.

“Dit het seker net gebeur.” Krystle het hierdie gewoonte, laat Jaap nooit klaar praat nie. “Hulle wou seker die bal saamvat.”

“En as die polisie die twee met Slapogie verbind?” Maurice se histerie lig sy stem tot net onder ’n falsetto.

“Onvermydelik.”

“Kan ons nie iets doen nie …?”

“En die toepassing van die reg verydel?”

“Slapogie … Die arme kind.”

“Sy loopbaan sal ’n rukkie tot stilstand kom.” Jaap Schvantz glimlag.

“Maar dan sal hy kans kry om hom voor die volk op die grond neer te werp, en vergifnis te vra vir sy dwaling,” sê Krystle.

“’n Tragiese held,” Schvantz krap ’n kolletjie net regs van sy kroontjie, “sou mens kon sê.”

“’n Mens sou kon,” antwoord Krystle, “veral as hy weer span kry ná ’n dramatiese belydenis voor ’n vol Nuweland een Sondagmiddag wanneer die son reeds agter Tafelberg se rug gesak het …”

“Dramaties en oeroortuigend,” sê Schvantz. “Sy trane sigbaar op die groot skerm, in kykweer op kykweer.”

Maurice se skouers hang.

“Julle het dit reeds uitgewerk?”

Sy blus is uit. Maak nie saak hoe hard hy werk nie, Jaap en Krystle is hom altyd een voor.

Die egpaar glimlag albei goedig.

Buite in die tuin kom hul pou aangestap, sy vere bymekaargetrek agter hom.

Wanneer Kumalo wegdrentel, hoor hy Schvantz vra: “Weet jy wat presies gebeur het?”

Laat Krystle maar die ou Spook hanteer, dink Maurice. Net sy en die Here weet wat gebeur het.

Hond se gedagte

Подняться наверх