Читать книгу Hond se gedagte - Kerneels Breytenbach - Страница 25
5.
ОглавлениеFleur de Villiers woon alle funksies by wat Maurice vir die Springbokke en hul afrigter reël. Met ’n renons groter as die een wat sy koester vir mans met aknee op hul rûe. Veral die mediakonferensies. Soos gebruiklik net ná middagete, wanneer niemand op hul skerpste is nie.
’n Foltering van die suiwerste soort.
Vandag sit sy weer daar, tussen die bleskoppe van die radio, die verloopte sportsterre van TV en die vrydenkers van die koerante. Die ouens wat die sport soveel beter as sy ken. Almal rasend jaloers op die entree wat sy die afgelope maande tot die span gehad het.
Waar is Felix Jordaan? wonder sy. Mediakonferensies nie vir hom interessant nie? Of snuffel hy elders vir ’n exposé van ’n sangeres se skandknaap?
Die lokaal wat by Hotel Bonheur ingeruim is vir die perskonferensie, ken sy goed. Dit is maar net een van hoeveel soortgelyke vertrekke in hotels dwarsoor die land. ’n Tafel met groen velt beklee, glase vir water en karaffies vol water. Geen skryfblokkies en penne en plakette met die Hotel Bonheur se naam prominent nie. Daardie dae is verby. Almal gebruik die hotel se wi-fi, wat tyd-en-plek-stempels by alle kommunikasie aanbring. ’n Digitale reklamefees, ook teen die muur agter die tafel, waar ’n groot skerm om die beurt Corpus Christi en die hotel se reklamevideo’s vertoon. Teen die ander binnemure is daar TV-skerms waar skilderye van Suid-Afrika se voorste kunstenaars roteer, met Pieter van der Westhuizen een van die herkenbare bydraers. Niks baie helder nie, maar alles lyk só goed. Die media sit op rye stoele, hul skootrekenaars en tablette op hul skote gebalanseer, onsigbaar verbind aan die gratis wi-fi wat Corpus Christi verskaf. Die enigste konstante in ’n land waar elektrisiteit en water nie altyd ’n noodwendige gegewe is soos in Europa nie.
Almal gereed vir die groot oomblik van illuminasie rondom die onderwerp van die dag.
Wat aanbreek met die aankoms van die Bokafrigter, Lektriek de Klerk, en kort op sy hakke Maurice en Katstert Nel, die Bokkaptein.
Lektriek gaan sit by die gerf mikrofone wat die media op die tafel neergesit het. Katstert se hond, Dawk, kom ook ingeslenter. Hy gaan lê voor die tafel op die mat, staar die persmanne aan met oë wat al alles gesien het wat ’n hond kán sien en glad nie beïndruk is deur die nuwe vlaag van visuele stimuli nie.
Maurice Kumalo is ’n soort seremoniemeester, as hy die geringste kans kry. Hy hou daarvan om mense te lei. In sy rol as skakelhoof staan hy meestal terug, sodat Lektriek en Katstert die leiersrolle kan neem, die “gesigte” van die Springbokspan word. Dit verhinder hom nie om op ander maniere die aandag op hom te vestig nie. Lektriek en die spelers is almal in die Springbokke se amptelike gemaksdrag geklee, oorwegend in kleure van groen, geel en wit. Maurice het teruggegryp na die ontwerpe wat Eric Crabtree in die sestigs gemaak het vir die Staatspresidentswag se step-outs, maar wat nie deur die Weermag aanvaar is nie omdat die gevoel was dat dit té uitspattig is. ’n Wit langbroek, ’n groen baadjie wat lyk asof dit ’n mengsel is van militêre drag en sweetpaktop, met geel sakke en epoulette. Die geel sakke het geen groot embleem of borglogo’s nie, maar as mens naby hom staan, sien jy simmetriese rye van klein goue stiksels, almal in die vorm van die bekende springbokkie.
Mens sien Maurice raak, al hoor jy hom nie. En wanneer hy praat, luister almal. Fleur verwonder haar opnuut aan die stil gesag waarmee haar vriend situasies domineer.
Hy doen die pligplegings met ’n mate van joie de vivre en gee dan dadelik oor aan Lektriek.
“Dis moeilik, nè,” begin die afrigter, “om tot verhaal te kom ná ’n oorwinning soos dié wat ons Saterdag oor die Australianers gehad het.”
“Australiërs,” korrigeer Fleur hom saggies, vir niemand se ore bedoel nie. Haar taalliefde gee vir haar ’n lekker gevoel. Sy voel aangenaam verhewe bo die taalverminkers.
Dawk kyk op na haar, laat sak dan weer sy kop tot op sy voorpote.
“Ons het by ’n moeilike besluit gekom. Speeltyd was verby. Katstert kon kies. Tikskoppie, skrum – of pale toe. Moeilike besluit. Toe neem hy dit. Pale toe. En hy roep Slapogie. Die res is geskiedenis.”
Hy kyk selfvoldaan van gesig tot gesig. Die plaaslike joernaliste wat hom al jare lank irriteer. En die buitelandse spul. ’n Klomp hooghartige skoorsoekers. Hoe meer ’n mens die stront roer, hoe meer stink dit.
“En voordat julle my vra: Ek het nog nie besluit wie Slapogie se plek sal neem in die span vir Saterdag se semi-final nie.”
Maurice leun oor na die bank mikrofone, asof hy met iemand elders praat.
“Enige vrae?”
Maurice ken die coach. Sy stiltes. Lektriek is nie lus om verder te praat nie.
Die plaaslike joernaliste bestook hom met voorspelbare vrae. Nie ’n enkele vraag waaraan sy nie vooraf kon gedink het nie. Dit is ’n fees van selfverheerliking. Die plaaslike joernaliste baai saam met Lektriek in Slapogie se glorie. Nou, op hierdie oomblik, is die Springbokspan onuitwisbaar. Wat hulle betref.
Lektriek antwoord met die stuurse nonchalance van ’n skoolseun wat sy eerste vry gevry het, asof hy nie werklik belang stel in die vrae oor sy span nie.
Dan steek een van die Britte sy hand op, skuins voor Fleur. Gelukkig hoef sy nie na sy gesig te kyk nie. Sy het geen plesier aan neuse met brandewynspatare nie.
“Coach, kan jy kommentaar lewer op die stories dat Slapogie se besering gekom het ná ’n nag van dwelmmisbruik saam met twee Argentynse sekswerkers?”
Fleur sit regop. Sy probeer Lektriek se gesig lees.
Lektriek konsulteer agter sy hand met Maurice. Maar sy oë boor die Brit met die intensiteit van ’n ontvangsdame by ’n reisagentskap, opgelei in die verleiding van kliënte.
“Dis twak,” sê hy. “Slapogie het saam met die res van die span die oorwinning gevier, en is daarna hotel toe om te gaan slaap. Dit was ’n harde wedstryd en ’n vermoeiende dag.”
“Ons het ’n skoon span,” voeg Katstert Nel by.
Fleur kyk na die ry LED-liggies bokant Katstert en Lektriek se koppe. Sy sien geen stralekranse nie. Soms verwonder sy haar aan Katstert se pragmatisme.
“En dit sal skoon bly. Ons roem ons op ons spandissipline,” sê Lektriek.
“Dis nie wat ons hoor nie.”
Almal kyk om na die prater. Lirim Emini, een van die mediamanne uit Australië.
“Enige ander vrae?” Maurice kyk hoopvol na die plaaslike joernaliste.
“Ons hoor Slapogie het sy toon in die bed gebreek,” hou Emini vol. “Een van die Kama Sutra se ingewikkeldste posisies …”
“Probeer jy vir my vertel,” sê Lektriek, naakte verbasing wat sy gesig laat gloei asof hy bloos, “dat Slapogie sy toon gebreek het in ’n ingewikkelde seksposisie? Luister, pel, ek weet nie watse soorte mense julle daar in Australië is nie, maar ons gebruik ons tone vir ander dinge.”
Die plaaslike media begin dadelik vir Emini koggel.
“As dit dan al is …” Maurice maak sy dokumente, fone en tablet bymekaar.
“Ons hoor dat hy glad nie geslaap het Saterdagnag nie …”
Dawk gaap en staan op. Hy is op pad deur toe.
“Ons sien mekaar weer Woensdag,” sê Maurice, en staan ook op. Lektriek en Katstert volg sy voorbeeld, en stap soos ’n drilpeloton saam met hom by die vertrek uit. Agter Dawk aan.
Nou ja, dink Fleur, daar het Geordie dit.
Sy teks Geordie sommer uit die sitkamer van Hotel Bonheur.
<Rokie en vuurtjie. Lektriek schtum. Jy het dalk iets beet oor Slapogie se dade duister.>
Meer kan sy nie vir hom doen nie.