Читать книгу Hond se gedagte - Kerneels Breytenbach - Страница 31

4.

Оглавление

Die sjef by Corpus Christi se hoofkwartier het streng instruksies. Alle kos wat vir Krystle en Jaap Schvantz voorberei word, moet sag en maklik koubaar wees. Krystle hou nog so nou en dan van iets waarin sy haar tande goed kan vasslaan. Jaap is al in sy tagtigs, is aan die sjef gesê. Sowel sy gebit as sy maag rebelleer teen taai en harde spyse. Gelukkig het die sjef gou agtergekom dat Jaap ’n swak het vir gestoofde pruimedante en perskes, en die meeste spyskaarte bestaan uit ligte voor- en hoofgeregte, gevolg deur ’n gesonde bak van die gestoofde vrugte met tuisgemaakte vla. Dit hou Jaap se kunsgebit in sy mond en sy maag gereeld – twee van die pilare waarop die voormalige hoof van die Buro vir Staatsveiligheid sy lewe bou hier in die skemer van sy lewe.

Dit is juis só ’n bak van Mooiberge se beste produk waarna Jaap met liefde en afwagting sit en kyk wanneer Krystle oor die tafel aankondig dat sy Kumalo aangesê het om te sorg dat Fleur de Villiers vanoggend die Bokke se spanoefening kon bywoon.

Jaap sien nie meer die manifestasies van rykdom en swier rondom hom raak nie. Soos dit by hul huis in Saxonwold die geval is, is die meubels en stoffering en skilderye aan die wand vir hom net die gegewe. Sy gedagtes is by die dinge wat gebeur by die Bokspan en Corpus Christi se balansstaat. Mense en hul dinge, sê hy altyd aan Krystle, dis mense en hul dinge wat saak maak. Niks anders nie. Corpus Christi se syfers is sy dinge.

“Het sy enigiets wys geword?”

“Lektriek het gesorg dat hy uit haar pad bly. Hy kan tog so bedonnerd wees. Sy het ’n ruk gekyk hoe Katstert die spelers deur hul bewegings dril of wat hulle ook al doen op so ’n oggend, en toe padgegee.”

“Dawk sy kant gebring?”

“Natuurlik. Daai hond het meer verstand as die hele voorry saam.”

“Dis geen prestasie nie.”

Krystle begin lag. Sy stoot haar nagereg weg, halfgeëet. “Moet dit nie voor The Teacher sê nie!”

The Teacher is ’n stug legende. Die enigste Duxleerling wat die Adelaide Gimnasium nog opgelewer het wat ses onderskeidings in matriek gekry het én kaptein van die skool se boksspan was. ’n Man van min woorde van die veld af. Op die veld het hy babbelsiekte. Maak hy sy teenstanders heelwat wys voordat hy hulle laat gras eet.

Sy mees bedenklike prestasie op die veld is die geel kaart wat hy in ’n toets gekry het vir te veel met die ref praat.

The Teacher lyk dom, dit weet Jaap Schvantz. Hy besef ook dat dik oogbanke geen verband hou met dít wat binne die skedel aanwesig is nie. Hy het lankal opgehou om Krystle aan te spreek oor haar gewoonte om mense op hul baadjies te takseer. Sy sal self uit haar foute moet leer, mettertyd.

Schvantz laat sy blik sak na sy bord, waar ’n oranje perske halflyf uit die vla rys.

Mettertyd – dalk eers wanneer hy nie meer daar is nie. Salige gedagte.

“Ek wonder of ons nie vir Paul Kersey moet inroep nie.” Die gedagte kom so skielik dat Krystle voel hoe ’n mislikheid haar hele lyf tref.

“Jaap!

“As versekering, jy weet.” Schvantz sug. “Rugsteun, dink ek noem die kinders dit deesdae.”

Krystle gee hom haar ysterkyk. Sien hoe sy hande bewe wanneer hy sy koppie tee lippe toe bring.

“Jy vergeet dat Kersey lankal oorlede is?”

Hy draai na haar, sy oë waterig. Die jare het fisieke onsekerheid gebring, dit laat sy liggaam hom op daaglikse basis onthou. Wat hy nie kan verwerk nie, is die wasigheid in sy geheue. Hy weet dat hy verneem het van Kersey se dood. Hy is seker daarvan. Dis net dat hy nie kan onthou daarvan nie. Sy ou staatmaker leef nog voort, gereed om die gang van die geskiedenis te help bepaal, sou Schvantz hom vra om dit te doen.

“O.” Hy versink weer in sy gedagtes, dáár waar Krystle geen toegang het nie. Dan, gouer as wat sy verwag het: “Wie sien deesdae na ons belange om?”

Sy weet presies wat hy bedoel. Sy ou apartheidsgewoontes en strukture het weggeval, en toe trou hy met iemand wat strukture van haar eie het. Subtiele strukture, as jy haar sou vra.

“Funky DD,” sê sy.

“O, ja.”

Die Dansende Dood.

Hond se gedagte

Подняться наверх