Читать книгу Hond se gedagte - Kerneels Breytenbach - Страница 24

4.

Оглавление

’n Verpleër neem Fleur na haar ma se kamer. Sy is al gewoond aan Huis Avondrus se lang gange, en die klank van televisiestelle wat iewers skel in die sitkamertjies waar die mense hul dae deurbring. ’n Eindelose herhaling van sepies vir mense wat geen draad meer kan volg nie.

Haar ma wou vandag nie sitkamer toe gaan nie, lig die verpleër haar in. Niks uitsonderliks nie. Soms voel die oumensies nie lus vir ’n gedrang nie.

Triestig, só triestig.

Sy vind haar ma voor haar wasbak, besig om hande te was.

“Moeder?”

“Wie vra?”

“Fleur.”

“Fleur?”

“Jou dogter.”

“O.”

Die nuwe ritueel in haar lewe.

Ontkenning, verduideliking. Onwillige aanvaarding.

Dis ’n klein vertrek: bed, bedkassie, leunstoel, kas, en tafeltjie waarby sy kan sit en lees. Of wat iemand wat nie meer kan lees en skryf nie ook al by ’n tafel doen. ’n Deur lei na ’n bad, wasbak en toilet. Wat Siena de Villiers nog gebruik, op haar eie. Soms met hulp.

Fleur sit in die gemakstoel en kyk hoe haar ma hande was. In ’n winterspakkie, met haar kamerjapon oor haar skouers.

“Sal ek Moeder help met die naels?”

Siena vee haar hande droog, kyk na die naels.

Dan draai sy die kraan weer oop, maak haar hande nat en seep hulle in.

Fleur staan op, help haar ma om haar hande af te droog, lei haar na die gemakstoel.

“Jy kan my Ma noem as jy wil.”

Fleur voel hoe haar skouers swaar word. Sy gaan sit op haar ma se bed.

“Goed. Ma.”

Hoeveel keer, wonder sy, is sy in haar kinderjare gestraf omdat sy nie haar ouers op die korrekte manier aangespreek het nie? Moeder en Vader? Die korrekte manier van dinge doen, het Siena altyd met haar ysigste stem verklaar, is die enigste manier om dinge te doen. “Toon respek, Fleur. Ons is jou ouers. As jy ons nie behoorlik ag nie, hoekom sal die mense in die gemeente dit doen?”

In die jare ná haar pa die sending verlaat het en weer ’n wit gemeente gehad het, het Siena toegeslaan. Siena de Villiers is ’n etiket-nazi. Dit het Fleur op skool al skaam gemaak vir haar ma, veral weens die handleiding Die Regte Manier Om Te Lewe wat Siena geskryf en verpligte leesstof onder die gemeentelede gemaak het. Tydens Fleur se universiteitsjare het die handleiding die fisieke manifestasie geword van alles wat Fleur van haar ouerhuis weggedryf het. Fleur is hiperbewus van die redes vir haar rebelse gees. Sy, haar ouers se laatlamdogter, moes hulle as Vader en Moeder aanspreek. Sy het hulle ge-u, tot satwordens toe. Eers ná haar mondigwording het Siena haar toegelaat om die hoflikheidsvorm te verruil vir ’n meer gemoedelike Ma en Pa. Maar toe was dit vir Fleur onmoontlik om die gewoonte van die hoflikheidsvorm af te leer. Rokkies altyd tot by die knieë. Bobby socks tot in standerd vyf gedra. Die enigste kind in die skool wat die outydse mode moes verduur. Sy kon haar vlegsel eers in standerd ses afknip. Siena se reëls vir die gepaste manier om teenoor seuns op te tree was legendaries in die gemeentes.

“Die meeste mense noem my sommer Siena.”

“Werklik?”

“Dis lekkerder so.”

Die ou nuwe ma.

Fleur vertrek ná ’n halfuur. Die gesels het opgedroog. Sy het gehelp om die kamertjie aan die kant te maak, haar ma se hare gekam. Meer kon sy nie doen nie.

In die motor dink sy nie aan haar ma nie. Sy dink aan Teacher. Hannes “Teacher” Gerber. Een van die stutte, sy kan nie onthou presies watter kant nie. Fleur het ’n teorie oor rugbyspelers. Hulle móét spanmense wees, maar elkeen het ’n eie fantasie oor homself, oor hoe hy anders is as almal. Haar gesprek met Teacher het haar van die geldigheid van haar siening oortuig.

Sy het in Hotel Bonheur se sitkamer met hom gesels. Die moeilikste van al die onderhoude oor Katstert.

Teacher praat nie. Of liewer, hy praat nie sinne nie.

Sy het koffie laat kom, wat hy van die hand gewys het.

“Water?”

Die kelner het teruggekeer met ’n groot karaffie vol water.

Fleur het vir haar koffie geskink uit die silwerpot.

“Sê my,” het sy die ys probeer breek, “hoekom noem hulle jou Teacher?”

“Kekkelbek,” het hy geantwoord.

“Altyd?”

“Veld. Wedstryde.”

“Met wie praat jy?”

“Die vyand.”

“Hoekom?”

Teacher het gebloos. So groot soos hy daar sit, al 130 kilogram van hom.

“Katstert. Instruksies.”

“Ek begryp nie.”

“Fisieke kontak. Water. Olie.”

Hy het sy glas vol water geskink, en dit met een lang sluk geledig.

“Maar is rugby nie ’n kontaksport nie?”

“Definitief.”

Teacher het nog ’n glas met water gevul. Hy het dit afgesluk, en vir ’n oomblik was sy tong los.

“Katstert sê ek moet praat, sodat ek vergeet van mense wat aan my raak.”

Hy het teruggesit.

Fleur het aantekeninge gemaak, en toe sy weer opkyk, sien sy hoe Teacher wegstap.

Sy het Katstert daarvan vertel.

“Een van die groot sportraaisels,” het hy geantwoord. “Die intelligentste man in die span. Maar hy haat fisieke kontak. Hoe verklaar mens dit? Ek weet nie. Hoekom speel hy rugby? Vir die geld, sekerlik, ja. Maar hy is só gespanne. En wanneer hy in die skrum sak, is dit asof hy bomenslike krag iewers vandaan kry. Hy sê hy probeer die skrum so gou as moontlik agter die rug kry. En jy moet dophou wanneer hy iemand tackle. Dis asof hy opspring om weg te kom agterna. Wat ideaal is.”

“Waar het jy die idee gekry om hom te laat praat?”

“Die skeidsregters was nogal ontsteld daaroor. Maar dit lei sy aandag weg. En gelukkig praat hy Afrikaans, so almal kan sien hy is ernstig, maar hulle weet nie waaroor nie. Die skeidsregters is meer geïrriteerd met die klankbesoedeling.”

“Werk dit?”

“Ons tjop nie in die skrums af nie.”

“Wat sal gebeur as hy Engels sou praat?”

“Hy sal nie. Maar ek kan jou sê, al die voories verstaan hom. Teacher is die man wat van hulle vegters maak. Ek staan ver weg van die skrums en lynstane. Teacher is ’n babbelende professor. Wie dink jy hits Solman aan om mense af te maai?”

“En sy bynaam?”

“Dit pla hom nie. Hy sê dis sy skuiling. Net solank sy ma en pa hom Hannes noem.”

“Dis alles, nè?”

“Nee, definitief. Jy weet mos, Fleur, hoe mens voel as mense naby aan jou jou naam saggies uitspreek.”

Hond se gedagte

Подняться наверх