Читать книгу Hond se gedagte - Kerneels Breytenbach - Страница 30

3.

Оглавление

Die afgelope klompie maande het Fleur baie rugbyoefeninge bygewoon. Net in die begin van die week – dis juis een van haar groot irritasies. Later in die week het hulle haar om redes van strategie nie toegelaat nie. Maar oefeninge as verskynsel verveel haar tot op die rand van ’n skilferstorm. Dit herinner haar aan skoolsport, en die een somerkamp wat sy saam met haar skool se netbalspan bygewoon het. Dis nie haar soort lewe nie. Sy hou nie daarvan nie. Al hierdie supergesonde mense. En sy wat kyk, asof sy presies weet wat die implikasie daarvan is as Lektriek die senters ’n sekere beweging twintig keer saam met die skrumskakel, losskakel en losvoorspelers laat herhaal. Dis soos in breindood.

Die joernalistiek het Fleur aangestaan omdat sy nuuskierig is oor mense. En hul dinge. Niks is vir haar lekkerder nie as om te krap aan ’n storie tot sy agterkom presies wat dit is wat mense wil wegsteek. Maar om te kyk na Lektriek wat probeer om ’n reeks bewegings by rugbyspelers in te prent, dít is ligjare verwyder van die joernalistieke impuls. Hierdie mense probeer ook dinge wegsteek, uiteraard. Is dit dan nie die uitgangspunt van alle rugby nie? Hoe om só op te tree dat niemand jou bewegings kan antisipeer nie? Omdat sy sien hoe hulle die bewegings oefen, is alle raaiselagtigheid opgehef, en sukkel sy om belangstelling te behou.

Vanoggend is dit wel effens anders as gewoonlik, beginnende met die spanpraatjie op die halflyn, so halfpad tussen die afskopkolletjie en die kantlyn.

Lektriek de Klerk met sy bofbalpetjie op, omring deur sy ondersteuningspersoneel en die Springbokke. Drie assistentafrigters, en die fiksheidsnazi Padmakar Mishra. Dokter Alphonzo Castro sien om na enige insidentele skete, tesame met drie fisioterapeute en, uiteraard, Maurice die skakelghoeroe.

Lektriek is dik in ’n jas toegewikkel om die Hoëveldse windjie van sy gebeente weg te hou. Coach, noem almal hom.

“Boys.” In oomblikke van erns én lighartigheid val Lektriek altyd terug op saaklikheid. “Ons dink nie nou aan volgende week nie. Nóú Saterdagmiddag op Loftus. Die grootste oomblik van ons lewens. Ons gaan veld toe as ’n span. Een span. Ons is nie beginspelers en impakspelers nie. Ons is dié Springbokspan. Punt! Ons fokus is op ons krag. Punt! Ons neem ons beste dinge veld toe. Ons los die res by die huis. Ons gaan nie om die Engelse se planne vir hulle uit te voer nie. Ons gaan om ons beste game te speel. Elkeen van ons. Hierdie is ons droom. Kom ons maak dit rêrig.”

“Halleluja!” roep Katstert uit.

“Amen,” antwoord die Springbokspan.

Lektriek draai weg, na sy plek langs die veld. Sy paradegrond.

Naby die kantlyn kyk hy op, sien die hordes joernaliste voor hom. Dan draai hy vinnig om na die groep by die middelkolletjie. “Voories en agterlyn apart vir eers.”

Op en af langs die veld stap Lektriek, skree nou en dan iets aan Frans-Jacques Fourie, wat besig is om die twee groepe om die beurt oor verdedigingstrategie touwys te maak.

Soms stop die spelers om na Lektriek te luister, totdat Dawk se geblaf hul aandag terugdwing na die oefening.

Fleur hou Lektriek dop. Sy weet nie of dit haar agterdog is wat die spesmaas aanvuur nie, maar die vermoede groei in haar gedagtes. Kan dit wees dat die meeste van die dink- en praatwerk van die veld af gedoen word, agter geslote deure? Wel, Fleurige Babe, sê sy saggies aan haarself, hoe anders? Wat op die veld gebeur, selfs die oefenveld, begin seker iewers as ’n gedagte wat tussen ’n paar mense gedeel word.

Of klop haar kop aan?

Op die veld doen die Bokke eers ’n paar gekonsentreerde strekoefeninge, draf ’n klomp kere in die lengte van die veld op en af, ’n halfdosyn balle wat tussen die spelers aangegee word. Hulle is joviaal dog gefokus. Dan paar hulle af, groepies wat gechoreografeerde bewegings uitvoer. Sy sien hoe ’n paar van die buitelandse joernaliste aantekeninge maak.

Fleur staan tussen die persfotograwe, so lank as wat sy dit kan uithou. Sy het ’n groot renons in die Australiërs onder hulle. Sy luister na hul geskerts, wie kan nie ’n grap waardeer nie? Sy ignoreer alle toenadering.

Ná ’n halfuur maak Maurice hulle bymekaar, saam met die joernaliste wat een ná die ander ’n paar woordjies met Katstert kon wissel. Sy verwonder haar aan Maurice se natuurlike aanleg as klandestiene herder – ’n skaaphond wat die ooie hek toe aanpor.

“Nie jy nie, Fleur.” Maurice die Grynser. “Jy kan aanbly vir die hele oefening.” Daarmee verdwyn hy, Fleur skielik stoksielalleen langs die veld, met net Lektriek wat haar geselskap hou.

Sy staan nader. Dalk praat die man sin wanneer hy ’n gehoor van net een het.

“Julle gereed vir Engeland?”

Lektriek kyk weg na die wolkekrabbers van Sandton.

“Ons sou nie hier gewees het as ons gedink het aan verloor nie.”

Dis nie wat ek gevra het nie, dink Fleur.

“Is Katstert gemotiveerd vir die wedstryd?”

“Hoekom vra jy hom nie self nie?”

Lektriek draai weg van haar, stap hande in die sakke kleedkamer toe, sy oë op die grond. Sy rug op sy span gekeer.

Sy hele ou moer, besluit Fleur.

Hond se gedagte

Подняться наверх