Читать книгу Hond se gedagte - Kerneels Breytenbach - Страница 21

1.

Оглавление

Fleur voel só bevoorreg. Hoeveel keer word sy nie wakker en dít is die eerste gedagte wat in haar kop vorm nie? Fleur strek haar uit in haar dubbelbed, versigtig om nie haar tone onder die duvet te laat uitglip nie. Sy maak haar oë nie oop nie. Sy wil nie hê die wilde lig moet die moegheid terugsleep in haar oë nie. Maar dan, wanneer sy hulle oopmaak, soos twee viooltjies in die somer, is sy die Goue Kind van die Daeraad, en die gloed sal dag lank duur …

Die Hoëveldse winter lê in die groot vertrek van haar kothuis. Bevoorreg: Hierdie plek is deur Herbert Baker ontwerp, iewers tydens die veertien jaar wat hy van 1909 af in Johannesburg geboue ontwerp het. Dit was in ’n stadium die blyplek van die swart werkers van ’n enorme koloniale herehuis wat hy op die suidelikste rantjie van Houghton neergesit het. In daardie herehuis het die folksangers Des en Dawn Lindberg jare gebly. Fleur vermoed dit was hulle wat die kothuis laat uitpleister het, ’n badkamer en kombuis bygevoeg het, en ’n muur by die groot vensterdeur gebou het om ’n binnehof te skep. Om te dink sy lê en slaap kwalik vyftig tree van waar “The Seagull’s Name Was Nelson” gekomponeer is!

Sy hoor min stadsgeluide. Nou en dan die roepstemme van die seuns van King Edward VII School, oorkant St. Patrickweg van haar kothuis af. Die alma mater van Bryan Habana. Maar geen gedruis vanaf Joe Slovo-rylaan nie. Net die salige stilte van ’n baie groot tuin.

Haar selfoon pieng langs die bed.

Die klank wat deel geword het van die mensdom se kollektiewe bewussyn. ’n Skerp geluid wat opklink om almal wat dit hoor daaraan te herinner dat ons almal in dieselfde draadwerk verstrengel is, onsigbaar weliswaar, maar tog dáár, die groot spinnerak van die digitale mensdom.

Geordie: <Twee chicks se lyke tussen Delmas en Springs gekry. Rumour: Slapogie se last-night stand>

<Dis nuus.>

<Jy iets gehoor?>

<Geordie!>

<OK, OK>

Sy slinger die foon langs haar op die bed.

Maar sy bel, soos hy sekerlik verwag het.

Maurice antwoord nie. Die nommer wat sy geskakel het, is nie beskikbaar nie.

Sy parkeer die gedagte.

Haar ma.

Fleur raap haarself uit die bed. Vinnig haar joernaal op datum bring, en dan: Huis Avondrus en haar moeder.

Hond se gedagte

Подняться наверх