Читать книгу Hond se gedagte - Kerneels Breytenbach - Страница 12

6.

Оглавление

Die Triumph neem haar terug huis toe terwyl Popol Vuh vol loop met honger, pratende mense. Die meeste van hulle, vermoed sy, sal in die volgende paar uur gister se kwarteindwedstryde herleef, bespreek en veroordeel. Slapogie se bomenslike strafskop. Fleur se lewe: Positiewe kontantvloei danksy die wêreldbekertoernooi, en die etterende renons jeens rugby in haar gedagtes. Die kudde-instink soos dit hier in al sy glorie oor borde kwasi-Italiaanse spyse gedy laat haar ongemaklik voel. Mens kan ook net soveel verduur as mense by ’n tafel iewers naby die deur die dreunsang van die Engelse Barmy Army begin. Haar huis is vir haar ’n toevlug. Dis hier waar sy soggens kan opstaan en die vierkantige spieël bokant die wasbak in die badkamer kan aandurf. Die paar donker oë daarin kan terugkyk. Die donker krulhare in ’n bob gesny kan regskud en -kyk. Die grys skynsel wat sigbaar word. Wat het sy verwag, hier in haar middel veertigs? Vir lief kan neem met haar oë wat so ver uitmekaar sit. Die lyn van haar neus. Die wye mond en vol lippe. Die sterk ken. Dis al wat sy sien en wil sien. Sy kyk nooit na haar vol lyf nie, die spieël sit té hoog om die borste, heupe en lang bene te kaats. Maar hoekom sou sy wou? Sy ken haarself mos.

Ná alles wat met haar gebeur het, vóór die toernooi nog, verbaas dit Fleur steeds hoe geborge sy tuis voel. Asof dit die koel mure is van die sandsteenkothuis wat haar gekneusde gemoed genees. Dit hou die probleem van haar ou nuwe ma op ’n afstand, laat haar van haar broers vergeet, en het haar gelig uit die donkerte van haar gedagtes.

Veral die probleem van haar ma dring aan op nadenke. Hoe anders? Die skryf van die Katstert-biografie is sleurwerk. Haar gedagtes dwaal. Reguit na haar ma se dementia. Gestroop van alles wat haar die onderwerp van soveel van Fleur se moerigheid gemaak het. Die vrou wat vir die susters van die gemeente ’n handleiding geskryf het oor maniere en etiket, sosiaal-kultureel gesproke regs van Emsie Schoeman se Goeie maniere & etiket, sý is nou gereinig van al daardie preutsheid. Die Regte Manier Om Te Lewe, het haar ma die produk van haar insigte genoem. A4-velle, met ’n krambinder aanmekaargesit, en versprei onder die susters en broers van haar pa se laaste gemeente, ná hy die sending gelos het. Katkisante en Sondagskoolkinders het hul afskrifte Sondae met die Bybel saamgedra. Hul reaksie daarop was vir haar ma bemoedigend. Veral nadat een van die leraars dit op die NG Kerk se Algemene Sinode voorgehou het as “die redding van ons volk”.

Siena het veroorsaak dat Fleur die lewe gesien het as ’n eindelose poging om aan al haar ma se voorskrifte te voldoen. Reg te lewe. Fleur onthou hoe skaam sy vir haar ma was. Hoe weerloos sy was teen die hoon en gespot van ander kinders. Dat sy op hoërskool begin rebelleer het teen al hierdie dinge, kon seker vir niemand ’n verrassing gewees het nie. Die benepenheid van haar ma se voorskrifte en sienings het Fleur laat aanneem dat die antitese van al hierdie dinge haar ware natuur sou wees. Fleur had dit in die meeste opsigte reg, maar daar was een leemte. Sy kon nooit haar ma se goedkeuring kry vir enigiets wat sy gedoen of besluit het nie.

Vandag is Die Regte Manier Om Te Lewe saam met feitlik alle ander herinneringe vir Siena vergete. Sy praat met die geëmansipeerde tong van ’n bevryde vrou. Waar was dié vrou toe Fleur jonk was? Toe Fleur ’n volwassene se begrip nodig gehad het?

Hier in Houghton nestel Fleur – in ’n groot tuin, met bome as groen skanse tussen haar en die geraas van die stadsomgewing. ’n Wegkomplek, waar dit net sy is wat saak maak. Sy is bewus van die ooreenkomste met haar ma se situasie. Albei afgesluit van die buitewêreld. Haar ma sal nooit weet van alles wat in die land verlangsaam het nie. Van die kosskaarstes en groot grense tussen ryk en arm nie.

Ná die aanval wou sy eers padgee uit Johannesburg. Herinneringe en assosiasies verbrysel, maar ná ’n paar weke het sy geweet dat sy moeilik sou padgee uit dié wonderlike huis – “Huisie,” sê Maurice altyd – wat Herbert Baker in die begin van die twintigste eeu ontwerp het as buitegebou, dalk selfs stalle, vir ’n herehuis aan St. Patrickweg, Upper Houghton. Vir Fleur is dit die ideale plek; sy het net ’n kombuis, badkamer-toilet en slaapkamer nodig. Die slaapvertrek is eintlik ’n klein saaltjie, met haar dubbelbed eenkant in ’n hoek, en die res is groot genoeg om ’n paar doughnuts met die Triumph te kan akkommodeer, sou sy wou. Die gedagte alleen laat haar haar tone in die dik volvloermat wegsink en saamtrek asof dit beskuitdeeg is wat sy knie. Nou nie eintlik suiwer Herbert Baker nie.

Haar selfoon gee kennis dat sy ’n prioriteitsboodskap het.

Dis Plas: <Kom terug. Moeilikheid>

Tatta rus en vrede.

Sy swaai haar been half in die stap oor die Triumph.

Iets het Plas laat skrik.

Sy wil nie rubber neersit in die oprit nie, maar doen dit, dik.

Hond se gedagte

Подняться наверх