Читать книгу Hond se gedagte - Kerneels Breytenbach - Страница 19
13.
ОглавлениеSlapogie se twee Argentynse gelukkies praat in fluisterstemme agter in die motor. Hip Spaans, nie bedoel vir die man agter die stuurwiel nie. Hy luister met gespitste ore, ingestem op hul tongval en toon, snap geen snars van die betekenis van hul gesprek nie. As hy onrustig is, laat hy dit nie blyk nie.
Naby die lughawe voel hy hoe hulle hom op die skouer tik.
Hy kyk in sy truspieëltjie, verstel dit met die linkerhand sodat hy hulle in beeld kry.
Hulle praat tegelyk. Spaans.
Funky DD sien die padteken vir die afdraai na OR Tambo-lughawe. Hy besluit op die ingewing van die oomblik, hou reguit aan na Benoni.
Die twee op die agterste sitplek kraai van die lag. Val terug in hul sitplek, tande wat in die spieëltjie flits.
Hulle dink hulle het hom uitoorlê. Sy moermeter slaan maksimum. Hy is tandknersend die blou bliksem in.
Hulle wil nie vanaand al terug na Buenos Aires nie? Goed dan. Hulle wil aanhou rinkink? Nee maar reg.
Hy sou kon afklim van die snelweg na een van die paaie wat hom by Edenvale en weer by die lughawe sal uitbring. Maar dis nie meer ’n opsie nie. Hy laat nie op hom lag nie.
Hy sal hulle anderkant Springs gaan stilmaak, en môre die klere in hul tasse vir Armsorg laat aflewer. Dalk kan hy nog hul deo gebruik.
“Funky DD hou van dans,” sing hy sag by homself. “Maar waar’s my vonk in die nag …”