Читать книгу Hond se gedagte - Kerneels Breytenbach - Страница 13

7.

Оглавление

Maurice Kumalo staan by die toonbank wanneer Fleur instap. Iewers op die agtergrond, in die binneruim van Popol Vuh, is die restaurant se musikale genant aan ’t musiek maak. Plas Johnson het, by die aanskoue van Maurice se grimas, besluit op die klankbaan van Heart of Glass, om redes wat net hy sal verstaan. Moontlik voel hy hipnose is al uitweg. Of dalk dat musiek die wolf van die deur sal hou. Fleur vind dit meestal moeilik om Plas se musiekkeuses te peil. En Shazam op haar foon kan nie eksterne konteks reflekteer nie.

Plas sit ’n G&T voor hom neer. Maurice gryp dadelik daarna – ’n regmaker vir noen. Van die gulhartigheid van ’n paar uur gelede is niks oor nie. Die wêreldbekertoernooi stel groot eise aan die gasheerland, maar die uitdrukking op Maurice se gesig laat haar eerder dink aan dié van haar vriendin Kay-Leigh nadat sy haar pa met haar suster in die bed betrap het.

“Wat gaan jy nou doen?”

Plas se vraag laat Maurice sy skouers ophaal.

“Wat ’n ramp!” kreun Maurice. “Al tien plae op een slag!”

Hy lawe homself met die laaste bietjie G&T.

Plas maak nog een.

“Vertel.” Fleur die journo. Sy weet rugbyspelers is ’n klomp drama queens, wat beuselagtighede opblaas tot apokaliptiese proporsies. Nou is die rugbystront buite verhouding belangrik gemaak deur die wedstryd wat oor twee weke gespeel moet word. Sy sal self besluit op watter skaal die ramp getakseer moet word. Moenie my vertel nie. Wys my.

“’n Absolute gemors. Waar gaan ons ’n heelagter kry?”

“Wat? Wat van Slapogie?”

Van al die spelers met wie Fleur onderhoude gevoer het vir die boek, is die eerste gesprek wat sy met Slapogie Losper gevoer het, die een wat sy die graagste wil vergeet. Die man staan haar nie aan nie.

“Sy regtergroottoon gebreek.”

Sy trek ’n gesig. Slapogie is een van die span se verskeie stelskoppers. Spesialiseer in die lang skoppe, verkieslik vanuit sy span se helfte. Glo die natuurlike opvolger van die raaiselagtige plaaskind, Francois Steyn. Sy onthou hoe trots hy sy skoene uitgetrek het, sommer daar in die sitkamer van die hotel waar die Bokke tuisgegaan het vir hul wedstryd in die Baai. Die breë voete, tone met spasie tussen mekaar. Lelike tone, naels wat eers in rugbytoks begin ingroei het.

“Ek het op grondvelde leer speel,” het hy gesê terwyl hy sy tone in alle rigtings van mekaar laat wriemel, “daar op Vanwyksvlei.”

“Daar’s mos nie gras in jou geweste nie,” het sy gewaag.

“Kyk, engel.” Hy was kreunend besig om sy voete weer in sy skoene terug te druk, het sommer een van die teelepels se steel as skoenhoring gebruik. “Het enigiemand jou al op Karoo-klipgrond getackle? Terwyl jy hardloop? Jy moet duidelik wees. Jy wil nie val nie. Die klippe is daar só hard mense teken daarop. Geweet niks sal dit breek nie. Ook nie iemand wat getackle word nie.”

“Wat het dit met jou oë te doen?”

“Die laaities van die Sharks reken ek loer dinge maar só. Soos ’n slap ogie …”

“Oogprobleme?” Fleur sukkel met die streektaal.

“Waar kruip jy uit? Slap, man, daai eenoog-gedierte wat styf in die pappot staan. Glibberig. Dis ekke daai. Laat nie aan my tackle nie.”

Hy het sy hand op Fleur se knie neergesit.

“Behalwe as dit jy is wat die tackle insit.”

Hy het vir haar geknik. “Jy weet mos.”

Fleur het nie sy hand weggeneem nie. Sy het vorentoe geleun en ’n groot glasbal met die hotel se logo van die tafel gelig.

“As jy nie nou jou hand van my been vat nie, bliksem ek jou voortande hiermee uit. Verstaan jy?”

Slapogie het sy hand weggeneem, en uitgebars van die lag. As sy nie so ernstig was nie, sou sy seker saam kon lag vir sy reeds uitgedunde gebit.

Maurice bring haar terug na die hede. Ledig die glas met twee slukke. ’n Lange en ’n korte.

“Hoe het die toon …?”

“Die noodlot. Ek sê jou. Niks anders nie as suiwer noodlot.”

“Jy weet hy het ’n ding aan die gang met die skoonheidskoningin?”

“Verlede tyd, dearie. Maar sy was in elk geval nie naby nie.” Maurice sug. Lank. Fleur het hom nog nooit só gesien nie. “Slapogie is úit.”

Fleur dink aan die groter konteks. Lektriek de Klerk, die span se afrigter, het groot moeite gedoen om haar te laat verstaan hoekom Katstert Nel iemand spesiaals is. En, soos sy verwag het, hoekom elkeen van die spelers presies pas in die skema van moontlikhede wat hy vir die span geskep het. Slapogie het ’n soort opvolger wat reeds lid is van die span se opleidingstruktuur: Socks Mulaudzi. Sy het afgelei, aan die manier waarop Lektriek se neus op ’n plooi trek toe hy die naam noem, dat Socks min steun van sy afrigter geniet. ’n Fenomenale verdediger vir die Sharks, vinniger as Lionel Wilson, maar stadiger as Hugh Reece-Edwards. Volgens Lektriek, en wie is sy om met hom te stry?

“Wat van Socks?” vra sy beleefd.

“Dis nie die punt nie,” mompel Maurice.

“Rugby is nie alles nie,” kom dit van Plas.

“Ag bol …” brom Fleur.

“Dis waar,” dring Plas aan. “Haal af jou oogklappe.”

“Slapogie sou die middelpunt wees van ons groot uitbreidingsprogram na die Noord-Kaap.” Maurice frons, staar verby haar skouer.

“Ons …?”

“Corpus Christi, my skat.”

“En sy voet gaan hom hoe verhinder om dit steeds te wees?”

Maurice antwoord nie. Hy sug en stap by Popol Vuh uit sonder om te groet. Fleur wil nog agterna, maar haar foon keer haar.

Geordie Saayman. Nuusredakteur van die NPA – die Nasionale Pers-Agentskap, laaste reste van die eens kerngesonde Nasionale Koerante.

“Was jy al vanoggend by die span?” Geordie neem die kortste moontlike aanloop.

“Hoekom?”

“Ek hoor stories oor die heelagter.”

“Ek wou vanmiddag na Ellispark gaan. Hoor hoe hulle getuig.”

“Die heelagter, Fleur.”

“Geordie. Jy weet van die kontrak wat ek moes teken. Vir die boek oor Katstert Nel? Hoekom moet ek jou weer herinner dat dit ’n vertroulikheidsklousule het?”

“Ag fok, man.”

“Al hoor ek iets, kan ek dit nie vir jou sê nie.”

Aan die ander kant van die toonbank staan Plas vir haar en glimlag. Filosofies.

Joune ook, dink sy.

Hond se gedagte

Подняться наверх